Die lewe het nie 'n "rewind"-knoppie nie!
“Jy mag maar jou koffie slurp of in jou piering gooi.
Jy mag met vuil voete uit die komposhoop oor ons wit mat loop.
Jy mag jou naels byt, vals sing, swak groente huis toe bring,
Die badkamer omkrap, die Nat vloer opdroog met my waslap…
Jy mag maar snags hard snork, oor koue voete brom… As jy net terug kan kom”
So lees Hester Heese se bekende gedig. Ja, hoeveel van ons het al gewens dat die lewe ‘n “rewind” knoppie het. Dat ons kans kan kry om óór te leef: Om terug te gaan op ons spore en dinge ánders te doen. Dan kon ons dalk meer begrip toon, meer geduld hê en met groter deernis optree. Ons kon Dan meer aanvaar, minder kritiseer, meer luister, minder praat, meer omgee en minder ongenaakbaar wees…
Dan kon ons ons lewensspel oor speel, beter verhoudings bou en meer liefhê.
Maar nou weet ons: die lewe is toe nié ‘n kleedrepetisie nie. Ons is nóú reeds besig met die finale verhoogstuk van ons lewens. Dis ‘n wakker-skrik-gedagte wanneer ons besef dat ons ook in ons verhoudingslewe besig is met die finale spel. En vir ons almal is gister vir altyd verby… En môre ons dalk nie beskore nie. Tóg het
Ons vandág! Hierdie dag is aan ons gegee sodat ons positiewe deposito’s kan maak in die lewens van hulle wat aan ons geleen is. Daarom kan ons kies om – ongeag al ons onperfekte gisters – ‘n groter rol in die liefde tussen mense te speel. Ons kan dit doen deur:
* Minder te veroordeel en ander met groter onvoorwaardelikheid te aanvaar. Ja, ons kan dit doen deur lief te wees vir die ander vir wie en wat hulle ís. Nie vir wat ons nog van hulle wil máák nie;
* Minder krities te wees oor die kléín, onbelangrike dingetjies en meer ingestel te wees op die groot dinge wat wél reg, goed en bewonderingswaardig is;
* Minder selfsugtig en selfgesentreerd te wees en ander se belange hoër as ons eie te stel;
* Minder geïrriteerd en ongeduldig te wees en te bid vir ‘n hart
Vol sagmoedigheid, nederigheid en geduld; en
* Minder humeurig, opvlieënd en haatdraend te wees omdat ons diep onder die besef is van God se sagte liefde en onverdiende genade in óns lewens.
Onthou Albert Einstein se woorde dat nie alles wat getel kan word, Tel nie. En nie alles wat Tel, getel kan word nie. Gaan leef die maand vir die dinge wat regtig Tel…