Tafelberg Gemeente Galasiërs-Reeks no 9
Tema: Van slaaf tot kind
Skrif: Galasiërs 4: 1-7
Hoe was die mense in die Ou Testamentiese tyd gered? Vra dit ‘n bietjie vir mense en kyk watse antwoorde kry jy.
Ons eerste gedagte is gewoonlik: “Natuurlik, deur die wet te probeer onderhou, hoe anders?”.. Besnydenis, meelewing by die tabernakel/tempel, diere-offers, rituele, voorskrifte van Moses. Hulle moes maar net probeer getrou wees in alles – en so moes hulle reggestel word met God. So dink ons en so sê mense meesal.
VERKEERD! Die mense van die OT was met God reggestel deur die belofte vd komende Verlosser in geloofsvertrou te omhels. Hulle was gered deur dit wat Jesus sóú kom doen – en vertroue dáárop.
VRAAG: Waarom was die wet dan daar? Met “wet” word bedoel die “ou verbond” naamlik: Die 10 gebooie, 100e voorskrifte v Moses, besnydenis, tabernakel, tempel, priesters, offers, feeste ens. Ja, dit was volmaakte instellings, want die HERE het dit gegee. Maar, waarom?
Die wet (hele ou verbond) was gegee om die Israelitiese samelewing prakties ánders te laat wees as die volke rondom hulle. Hulle moes lewe soos mense wat vir die Here afgesonder is. Dit was die volmaakte “hulpmiddel” om, tussen al die volkere vd destydse wêreld, ‘n volk af te sonder wat aan die HERE behoort. ‘n Volk wat totaal ánders is. Al die volkere moes weet: As jy aan die ware God wil behoort, moet jy deel word van hierdie volk wat só leef in hulle politiek, ekonomie, regstelsel, huwelike, kinderopvoeding, gesondheidsorg ens. Die wet het als gereguleer.
Tweedens moes die wet die mense laat besef hoe erg hulle sonde is sodat hulle kon vlug na die belofte vd komende Verlosser.
Derdens moes die wet op verskillende maniere, vir hulle ‘n prentjie teken vd komende Verlosser. Om hulle te help om makliker te glo. In die diere-offers kon hulle byvoorbeeld letterlik sien wat die komende Verlosser se sonde-offer sal beteken ens.
Maar, wat het die Israeliete met die wet (ou verbond as sulks) gaan doen? Hulle het die bedoeling wat die Here daarmee gegee het heeltemal gaan ombuig. Pleks van om die wet te gebruik om by die belofte vd komende Verlosser uit te kom en dít te glo, het die Jode vd belofte vergeet en van die wet self ‘n pad van redding gaan maak!! Die wet het die “verlosser” geword!! En, omdat die wet nie die mens kán red nie, omdat die mens te sondig is om die wet volmaak te gehoorsaam, het die Jode hulleself totaal vasgedraai. Hulle het van hulleself slawe gemaak. Terwyl hulle eintlik erfgename vd koninkryk was!! Erfgename wat slawe geword het. Skreiend! Mens kan jou kwalik iets slegter voorstel.
Toe word die Here Jesus Christus in Betlehem gebore – op presies die regte tyd wat God bepaal het. Hy word volledig onder die wet gebore en Hy gehoorsaam ook die wet 100% volmaak. Hy is die eerste persoon ná Adam wat dit weer 100% kon doen.
Maar, wat gebeur? Hy sterwe ‘n vloekdood asof Hy self ‘n oortreder vd wet was, terwyl Hy dit nié was nie!! Waarom? IN ONS PLEK. As Plaasvervanger.
Só maak Hy ons almal los vd verkeerde slawerny onder die wet sodat ons weer uit genade (dit is: uit dit wat ons reeds deur ons ingesluitwees-in-Hom is) kan leef.
Maar wat wou die Galasiërs doen? Hulle wou weer soos die Jode word. Hulle het begin dink dat Jesus se bloed nie 100% genoeg kán wees nie. Hulle het gedink hulle moet self ook nog ‘n ietsie bydoen. Hulle het hulleself weer onder die wet geplaas.
Sien u hoe verskriklik diep sit hierdie bose neiging in ons menslike wese? Ons verkies om eerder slawe te wees, nie kinders, wat erfgename is nie!! Dis die grootste domheid denkbaar!!
Stel uself die volgende situasie voor: ‘n Kind is volle erfgenaam van sy pa se plaas, maar sy pa sterf terwyl die kind nog minderjarig is. Nou word die erfdeel bestuur deur ander volwassenes totdat die kind oud genoeg is. M.a.w. hy besit alles, maar tog ook niks. Hy besit alles, maar ander mense het die sê. Eintlik is daardie kind in die posisie waar ‘n slaaf is. Al is hy die erfgenaam, besit hy nog niks en moet hy die moets-en-moenies gehoorsaam van die voog wat oor hom gestel is.
Paulus sê: Só was die Israeliete onder die Ou Verbond. Omdat hulle die wet verkeerd gebruik het en nie uit Christus wou leef nie, was hulle soos slawe onder moets-en-moenies terwyl hulle eintlik volledig erfgename vd Here was.
Maar, noudat Jesus gebore is, en Hy die wet vervul het, en ons losgekoop het vd wet se moets-en-moenies en die veroordeling wat volg wanneer jy nie daarin slaag om die moets-en-moenies volkome te gehoorsaam nie, hoe kan ons nou nog soos slawe lewe?? Hoe kan jy, as jy 5 plase geërf het, iewers in Kaapstad se strate sit en bedel vir ‘n stukkie brood?
Onthou: ‘n slaaf erf níks. O ja, hy werk vreeslik hard, hy verdien sy loon, maar hy verkry nooit die status van ‘n erfgenaam nie. Nooit die status van KIND in die huis nie. Nooit deel vd familie nie. Besit niks.
Die Woord vd Here wil vanoggend iets by ons kom tuisbring: die Woord wil ons laat sien wát ons regtig besit as ons ingesluit is in Christus Jesus en ons daarop vertrou. En, die Woord wil (daarmee saam) by ons kom pleit: Moenie dit verruil vir die lewe van ‘n slaaf nie! Moet dit nóóit doen nie.
Jesus het iets met ons gedóén toe Hy in Betlehem gebore is, toe Hy op aarde volmaak gehoorsaam was aan die wet, toe Hy gekruisig is, toe Hy opgestaan het, toe Hy opgevaar het, toe Hy Sy Gees uitgestort het. Dit is nie maar net geskiedenisfeite van 2000jr gelede nie. HY HET TOE IETS MET MY EN U GEDOEN!!
Wat? Deurdat ons ingesluit is by Sy geboorte in Betlehem, Sy gehoorsame lewe, Sy lyding, Sy kruisiging, Sy dood, Sy opstanding, Sy hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees – ís die kettings en bande van óns afgesny. Die slotte is oopgesluit. Nie net ‘n moontlikheid is geskep nie!! Dit het gebeur. Ons is deur Goddelike hande uitgetrek uit slawerny en oorgeplaas na die familie van die lewende God. Ons het kinders geword in die Vaderhuis. Ons het erfgename vd Here geword. Mondige erfgename. Nie minderjarige kindertjies wat onder ‘n voog se toesig aanploeter nie!! As jy ‘n kind is, dan ís jy mos ‘n erfgenaam.
Daarom het die Vader die Heilige Gees in ons harte gestuur. En Hy roep: VADER!! “Abba” beteken Vader/pappa.
Daarby is die Griekse woord vir “roep” ‘n sterk woord wat beteken Hy roep hard en duidelik. Niks onsekers. Ons hoef nie te sit en wag en kyk of die Gees ons wil laat deel in Sy rykdomme nie. Hy hou ook nie op met roep wanneer ek per ongeluk drooggemaak het nie.
Martin Luther: “As die sonde oor ons donder en die dood ons laat sidder en bewe en die duiwel op die aller gruwelikste wyse brul, dan begin die Gees in ons harte uitroep: ‘Abba, liewe Vader.’ En hierdie roep van die Gees is baie sterker as die geroep van die sonde, dood en duiwel. Die roep vd Gees breek en dring met alle mag deur wolke en hemel heen, en dit word deur God verhoor”
Aldus Martin Luther.
Wanneer u weer met u gebedslewe sukkel en wonder of die Here ooit u stamelende woordjies hoor, dink dan aan die roep wat die Heilige Gees roep, wat baie kragtiger is as u eie stem. En, Hy word verhoor by die Vaderhart.
Van alle godsdienste op aarde is dit slégs ‘n Christen wat die Vader as “pappa” ken. Hy het jou lief soos jy is en nie soos jy veronderstel is om te wees nie. Jy het nie ‘n gees van vrees of slawerny ontvang nie, maar die gees van AANNEMING tot kindskap (vgl Rom 8:15). ‘n Werklike KIND. Daarom is jy vry van alle vrees. Want jy het die familiariteit, onwankelbare vertroue, intimiteit met jou Pappa wat ‘n kind het wat op sy/haar pappa se skoot sit. Jy vrees nie verwerping nie. Jy word aanvaar soos jy is. Jou primêre identiteit as mens is nie of jy man/vrou is, wat jou nasionaliteit en ras is, hoe ryk/arm jy is, waar jy woon en wat jy ry nie. Jou primêre identiteit is nie of jy ‘n huisvrou of prokureur of straatveër is nie. Jou primêre identiteit is dat jy deur Christus Pappa se kind en erfgenaam is. Só sien Hy jou. Dit is hoe ons dag en nag oor onsself moet dink. “Ek is ABBA se geliefde kind. Hy het my lief soos ek is en nie soos ek moet wees nie”. Oral waar ons is en kom kan ons ons hande oopmaak en bid: “Abba, Pappa, ek behoort aan U.” ‘n Gebed wat later soos asemhaling en jou hartritme word.
En as jy bid, sit ‘n leë stoel langs jou neer. Verbeel jou jou Abba-Vader sit daar. Gaan lê dan met jou kop op Sy skoot. Gaan lê daar mét ál jou sondes en tekortkominge en voel hoe Hy jou hare streel – mét jou sondes en al, dié goed wat jy in 30 jaar nie kon oorwin nie. En dan, aan die einde van jou aardse reis wanneer Hy jou kom roep, sal jy Sy stem hoor in die woorde van Hooglied 2:
“Staan op my liefling, my mooiste, kom na my toe. Kyk die winter is verby, die reën is oor. Daar is bloeisels in die veld. Dit het tyd geword om te sing saam met die duiwe wat koer. Die voorvye kom al uit, die wingerde bot en versprei hul geur. Staan op my liefling, my mooiste, kom na my toe.”
Lê met jou kop op Sy skoot en hoor dat jy Sy mooiste is.
Hoe op aarde kan ons dan weer gaan leef soos onmondige kinders? Soos slawe? Soos mense wat nie volledig deel is vd familie nie!?
Hoeveel mense sit nog en twyfel: “O, hoe weet ek dat ek ‘n erfgenaam vd Here is, want kyk hoe lyk my lewe nog!! – het ek ooit my deeltjie reg genoeg gedoen om toegelaat te word?”
Ons dink mos ons moet eers ‘n eksamen slaag voor die Here na ons kant toe sal kyk.
Maar, dit is slawementaliteit wat só redeneer. U dink u erfporsie word nog deur iemand anders bestuur. U tree op soos ‘n onmondige kind – wat nie veel van ‘n slaaf verskil nie. ‘n Slaaf het moets-en-moenies EN beloning-of-straf nodig om hom op koers te hou. Maar nie ‘n erfgenaam nie. Wat ‘n erfgenaam op koers hou is die sekerheid dát hy behoort, dát alles syne ís, dat hy onvoorwaardelik liefgehê word.
Kom vanoggend, en maak die groot ontdekking: Jesus se bloed aan die kruis bring my 100% in die regte verhouding met God. Net Jesus se bloed. Neem dit gelowig aan. En gló die goeie nuus dat U ‘n mondige erfgenaam van God geword het … omdat Hy so sê!!