GALASIËRS-REEKS NO 1

Tema: ‘n Evangelie nie uit die mens nie

 

Skrif: Galasiërs 1: 11-24

 

Gestel ons as mense het absoluut niks geweet van die Goeie Nuus vd Bybel nie en ons moes ‘n nuwe godsdiens gaan ontwerp. ‘n Klompie werksgroepe uit gemeente word getaak om dit te gaan doen.

 

Wat dink u sou die kernboodskap van so ‘n godsdiens, wat ons moes uitdink, wees? Wat is dit wat so tipies eie aan die mens is?

 

Sou ons nie ‘n godsdiens ontwerp het wat op die een of ander manier sê dat die mens op een of ander manier iets moet doen om in God se guns te kom & in Sy guns te bly nie? Dit is absoluut menslik om so te redeneer. Iets in die lyn van ‘n ruiltransaksie: God gee vir my iets mits ek vir Hom iets gee (geloof of lewensverbetering).

 

Kyk ons vandag na al die nie-Christelike godsdienste: sien ons presies dieselfde: Moslems, Hindoes, Boeddiste, New Agers, Jehowas, Mormone, Zen-Boediste ens. ens. Eintlik leer hulle almal presies dieselfde ding: die mens moet iets doen, dan sal God iets doen. Dit wys vir ons hoe die nie-Christelike godsdienste eintlik niks anders is as versinsels van die mens se deurmekaar-hart nie. MAAR: daar is ook talle mense binne die kerk wat ook op hierdie selfde manier oor die Bybel dink: Die mens moet ook ‘n eie aandeel vervul om ten volle deur God aanvaar te kan word. Die mens moet éérs iets doen voordat God iets sal doen. ‘n Groot segment van die Christendom is presies waar ander godsdienste is.

 

Voorbeeld: “Jesus het my nou wel op die kruis met God versoen, maar dit is my glo-in-Hom wat éíntlik die knoop deurhaak”. Dit is ‘n tipies menslike manier van dink oor godsdiens. Die kans is goed dat ‘n klompie van óns ook só oor die Evangelie dink. Want, dit is so eg mens..

 

Dit was presies die probleem met die gemeentes in Galate aan wie Paulus sy brief rig. Hulle was onder druk van vals leraars uit die Jodendom. Hierdie leraars het laat deurskemer: “Julle daar in Galate glo mos maar net in Christus, maar óns is nog besny ook. Ons het ‘n entjie verder gevorder…” Die Galasiërs het begin voel hulle kan nie 100% gered wees as hulle nie ook nog die besnydenis onderhou nie. Hulle het die gevoel gekry van: “Ons is besig om agter te raak. Sê nou maar net..”

 

Nou skryf Paulus aan hulle om vir hulle te wys dat hulle so ménslik oor die evangelieboodskap dink. En dit terwyl die Evangelie hoegenaamd nie uit die mens kom nie. Die boodskap vd Evangelie is glad nie soos wat die menslike hart ‘n godsdiens sou gaan ontwerp nie. Die evangelie druis juis in téén die gryn vd mens se natuur. Waarom? Want, die evangelie leer dat God, net omdat Hy so wou, die verlore mens sonder enige rede of oorsaak op eie houtjie met Homself versoen het deur Christus, sónder om enige voorwaardes aan die mens te stel en níks in ag te neem nie.

 

God die Vader het ons op eie houtjie met Homself versoen (ons saak met Hom reggemaak) sonder om besnydenis, wetsonderhouding, goeie voornemens, bes probeerdery – selfs geloof, énigsins in ag te neem. Al bydrae wat ons tot ons redding kon lewer was om die Seun v God te vermoor.

 

Nou kyk, dít val nie in die mens se smaak nie. Dit gaan dwars teen die mens se logika in. Die enigste manier hoe hierdie Blye Boodskap jou kan raak is wanneer die Here jou oë daarvoor oopmaak.

 

En, dit is presies wat Paulus nou vir die Galasiërs sê. Hy sê: “Kyk na my eie verhaal. Ek, wat Paulus is, was voorheen ‘n vegter vir ‘n valse godsdiens. Ek het gedink dat ek gered is omdat ek so godsdienstig is. Omdat ek so baie insit. Omdat ek besny is en ‘n Jood is uit die stam van Benjamin. Ek het die gelowiges, wat uit Christus se verdienste alleen geleef het, vervolg en laat doodmaak. Wie/wat kon my omkeer? Wie/wat kon my oë oopmaak vir die Waarheid”?

 

Paulus sê hy was besig om hom te vergryp aan die ware gemeente vir wie Christus Sy bloed gegee het. Wie/wat kon só ‘n man tot besinning ruk? Daar is net een antwoord: Slegs ‘n totale genadewonder van ‘n genadige God, kan dit doen. En, dit is presies wat daar op die Damaskuspad met Paulus, die vyand van die Waarheid, gebeur het. Die onverdiende liefde van God het hom voorgekeer. Paulus het dit nie gekies nie. Damaskuspad was nie Paulus se keuse vir Christus nie! Trouens, al wat hý gekies het, was om hom teë te sit teen die Heilige Gees. Dis die enigste bydrae wat hy tot sy redding gelewer het – om die Here teë te gaan! Nee, die Váder het besluit om Sy Seun in Paulus te openbaar. En, toe doen Hy dit sonder om vooraf Paulus se toestemming te vra.

 

Die opvallende is egter dat Paulus nie ‘n woord rep oor sy Damaskuspad-ondervinding nie! Nie ‘n dooie woord nie! Hoe dan? Dit was dan so ‘n wonderlike ervaring? Nee, Paulus se hart loop oor van iets wat nog méér wonderlik is, naamlik dat God hom voor sy geboorte reeds afgesonder het. Voor sy geboorte het God hom al losgesny van die aandeel wat hy – deur sy moeder – aan Adam se val gehad het!

 

Dis vir hom aangrypend watter droom voor die skepping reeds in God se hart geleef het (Efes 1:3). Tóé het God hom reeds geken en liefgehad. Nog voordat Paulus in Adam verlore gegaan het, het God hom reeds in Christus gevind! Geen wonder dat Hy hom sonder rede/oorsaak kom róép het nie!

 

Nog meer aangrypend is dat Jesus alreeds in hom was nog vóór die Damaskuspad-ondervinding, vóórdat hy tot geloof gekom het. Ja, u hoor reg. Kyk wat sê hy (vers 16 = Grieks): “In Sy goedheid het die Vader besluit om Sy Seun IN MY (Grieks: en emoi) bekend te maak sodat ek die blye boodskap aangaande Hom wat IN die heidennasies (Grieks: en tois ethnesin) is sou gaan verkondig.” Ingesluit by Christus.

 

Terwyl hy nog moord teen die gemeente aangeblaas het, was hy alreeds ingesluit in Christus (Christus in hom) en op ‘n gegewe moment het God besluit om hierdie realiteit aan hom bekend te maak. God het “Christus in Hom” aan hom bekendgemaak. NIE: Christus aan hom nie! God het die feit dat Christus alreeds in hom was, aan hom bekend gemaak – sy oë daarvoor oopgemaak!

 

En toe gaan preek hy vir die heidennasies presies dieselfde blye boodskap om ook aan húlle bekend te maak dat Christus in húlle is! Hy gaan maak aan hulle die “geheimenis” bekend! Dit wat nie aan hulle bekend was nie, gaan maak hy aan hulle bekend.

 

Geen wonder dat Paulus in Handelinge 17 vir barre heidene kon gaan sê: “In Hom lewe julle, beweeg julle en bestaan julle. Julle is Sy nageslag/kinders. Maar dit is nie aan julle bekend nie, daarom aanbid julle hierdie afgode.” (Hand 17:28). Dis presies dít wat God aan homself aangaande homself bekendgemaak het op Damaskuspad: dat Christus in hom is – dat hy ingesluit is. Daarom benader hy nie die heidene met ‘n boodskap van AFSTAND/VERWYDERING (dat hulle ver van Christus is) nie en dat hulle eers hulle afgode moet los en dan nader na Hom moet kom om uit die helse vuur uit te bly nie. Hy begin nie by AFSTAND nie. Hy begin by EENHEID. Is dit nie sielsaangrypend nie? Dís die Blye Tyding. Dís goeie nuus (evangelie)!

 

Die punt is: hierdie heidene het nie die kennis van hulle insluiting in Christus gehad nie. Hulle verstaan niks daarvan nie. Daarom glo hulle nie. Daarom leef hulle uit ‘n leuen – die leuen van verwydering/afstand/geskei wees van God. En daarom is hulle lewens donker. En satan verblind die oë dat die mensdom om nie hierdie heerlikheid te kan sien nie (2 Kor 4:4). Hy verblind die mens se oë sodat die mens nie kan sien dat hy/sy tydens/deur Jesus se opstanding uit die dood wedergebore is nie (in die nuwe lewe ingesluit is) (1 Pet 1:3).

 

Dink ook maar aan 1 Kor 8:7: “Daar is een Here Jesus Christus deur Wie ons lewe. Maar nie almal het hierdie kennis nie..”

 

Geen wonder dat dieselfde Paulus aan die Kolossense skryf dat die geheimenis (dit wat nie bekend is nie) aangaande die nasies is: “Christus is in hulle – HOM verkondig ons deur mense te onderrig en te leer om sodoende elke mens as perfek in Christus te stel” (Kolos 1:27-28). Elke mens is alreeds perfek in Christus (ingesluit), maar deur my onderrig & lering STEL ek elkeen perfek. Ek maak dit aan hulle bekend (tot geloof), soos God dit aan my aangaande myself bekendgemaak het. En dit het Hy gedoen omdat Hy my voor die skepping in Christus gevind het nog voordat ek in Adam geval het!

 

Is dit nie asemrowend aangrypend dat – voordat tyd begin het – God ons bestem het om – d.m.v insluiting in Christus – Sy aangenome seuns/dogters te wees EN dat Hy met dáárdie doel in oog die skepping geskep het en Christus gestuur het om ons aanneming te verwesenlik nie! (Efes 1: 3-5). Dit is ons oorspronklike ontwerp/identiteit. Jesus het gekom om u oorspronklike identiteit te herstel en u daarin te stabiliseer.

 

Kan u verstaan waarom Paulus jarelank na Arabië moes gaan om daar te gaan afsonder? Hierdie bekendmakinge was so geweldig dat dit werklik baie tyd geneem het om in sy gemoed pos te vat en deel te word van sy totale sig op die werklikheid sodat hy dit effektief kon gaan bedien.

 

Daarom het hy nie kontak gehad met die ander apostels nie. Hy het nie eens Jerusalem toe gegaan nie, maar Arabië toe. Die ontsaglikheid van die openbaring wat hy ontvang het van wat genade sonder rede/oorsaak regtig beteken, het gemaak dat hy moes gaan afsonder.

 

Geen mens het vir Paulus die Blye Boodskap geleer nie. Hy het nie begin preek wat hy by ander mense gehoor het nie. En, wanneer hy preek, stel hy nie daarin belang om ménse te behaag nie. Wat beteken dit? Hierdie evangelieboodskap wat Paulus verkondig het, kom glad nie uit die méns nie. Dit kom van God alleen. Dis nie uitgedink deur Paulus, Petrus, Johannes, die kerk, sinodes, teoloë nie. Daarom was dít die evangelie waarheen die Galasiërs moes terugkeer. Daar was geen ander opsies nie. Niks!!

 

Gemeente, deur hierdie Woord kom maak die lewende Here ‘n aanspraak op my en elkeen van u. Deur hierdie Woord en deur Sy Gees, kom lê die Here beslag op ons. U en ek moet besef dat die Here op ons beslag kom lê deur Sy Skrifwoord. As ‘n mens hierdie boodskap afwys, wys jy jou eie bestaan af!

 

Gló ons werklik die enigste Evangelie wat vd Here kom, of het ons ook ‘n verkeerde idee van wat die Evangelieboodskap behels? Leef ons werklik uit Christus alleen of verkeer ons onder die idee dat ons eie werke ons darem in ‘n elite klas gelowiges plaas??

 

Martin Luther se sterfbedwoorde was: “Ons is bedelaars, dis waar..” ‘n Bedelaar lewe van ‘n ander se guns. M.a.w: Al het ons al hoe geweldig gegroei in ons geestelike lewe – Ons leef nog steeds net ONTVANGEND uit dit wat CHRISTUS ALLEEN vir ons gedoen het/is – Met leë bakhande… Ons groei nie deur ons eie inspanning nie. Ons groei deur weer&weer&weer&weer&weer&weer te leef uit dit wat Jesus Christus in ons lewens reeds is/ reeds doen/skenk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00