TAFELBERG GEMEENTE GALASIËRS-REEKS NO 15

Galasiërs 6: 11-28

Tema: Met groot letters

In ‘n paar slotsinnetjies, vat die apostel Paulus nou sy hele brief saam. Daarom herhaal hy enkele kerngedagtes.

Hy sê: “Ek skryf nou met my eie hand..” Waarom so ‘n eienaardige ding sê?

Onthou: Die apostel Paulus het sy briewe d.m.v. ‘n sekretaris geskryf. Hy het net voorgesê/dikteer en die sekretaris het geskryf wat hy sê. Maar, Paulus wou nie hê sy briewe moes vervals word nie. Almal moes weet dis eg. Daarom skryf hy die laaste sinnetjies self.

Hy sê ook die letters waarmee hy skryf is groot. Amper asof hy daarmee wil sê: “Wat ek nou gaan sê, is baie belangrik”. Asof hy wil sê: “Kyk net hoe hard druk ek op my pen..” Soos ons vandag iets, wat beklemtoon moet word, sal onderstreep of omkring.

‘n Mens moet dus nie so gou-gou bo-oor hierdie laaste paragrafie van Galasiërs-brief lees nie. Dis met groot letters geskryf. Dis belangrike inhoud. Hoor die dringendheid in Paulus se stem. Kyk met watter groot letters skryf hy.

Waarom is dit so erg belangrik? Wat benadruk die apostel hier? Wat skryf hy met groot letters? Hy beklemtoon iets van die essensie vd Christelike geloof. Iets wat niemand verkeerd mag verstaan nie.

Sal u en ek nie ook vanoggend noukeurig daarop let wanneer die Heilige Gees met ons in groot letters praat nie??

Daar is twee belangrike aspekte van die evangelieboodskap wat met groot letters beklemtoon word:

1 In die Christelike Geloof gaan dit eerstens oor die innerlike en nie die uiterlike nie.

2 In die Christelike Geloof gaan dit eerstens oor wat God doen – nie wat die mens doen nie.

Kom ons besin vir ‘n oomblik oor hierdie twee sake:

1 Die Christelike geloof gaan eerstens oor die innerlike en nie die uiterlike nie

‘n Mens moet mooi kyk wat die apostel hier skryf. Hy sê vir die Galasiërs: Die dwaalleraars wat so by julle daarop aandring dat julle jul moet laat besny, al wat hulle wil doen is, hulle wil net ‘n mooi uiterlike vertoning maak. Na búíte toe. Iets wat beïndruk. ‘n Uiterlike vertoon. Vers 12: “Uiterlik ‘n goeie indruk maak…”

Waarom? Hierdie dwaalleraars wou by hulle Joodse kollegas gaan spog oor die groot getal Galasiërs wat hulle – deur húlle be-arbeiding – laat besny het. Hierdie mense het verkies om populêr te wees by hulle Joodse vriende en nie omgegee of hulle die Kruisboodskap kompromiteer nie. Net die uiterlike besnydenis van die liggaam tel al die punte.

Onthou: Die Galasiërs was nie-Jode. Die dwaalleraars wou by die Jóde gaan roem oor hoeveel nie-Jode darem nou weer besny is en gehoorsaam geword het. “Kyk hoeveel nie-Jode is danksy óns prediking nou gehoorsaam aan die wet”. Fantastiese vrug!! Dan sou die Jode hulle gelukwens en op die skouer klop en sou hulle nie vervolg/gemartel word t.w.v. die kruisboodskap nie. Soos Paulus self vervolg was deur die Jode. Soveel so dat hy onskuldiglik in die tronk was. Waarom was Paulus vervolg? A.g.v. die boodskap vd kruis wat hy gepreek het. Die boodskap van God se genade in Christus Jesus. Dáároor het hy geen medalje en gelukwensing ontvang nie.

U sien: Die Kruisboodskap sê mos dat God die Vader deur Jesus se dood en opstanding ons harte van binne af kom nuut maak het. Van binne af lewend gemaak. Dit gaan nie oor al die uiterlike goed wat ons as mense eers sogenaamd uit gehoorsaamheid moet doen nie. Die religieuse sisteme van mensgemaakte godsdiens gaan altyd daaroor ja, maar die boodskap van die kruis sny dit by die wortel af.

Wat is die boodskap van die kruis? Toe die Verlosser Jesus Christus vir ons gebore is, gely het, gesterf het, opgestaan het, hét Hy ons met God as Vader versoen, ons verhouding met God heeltemal reggemaak en ons sondes totaal afgeskryf – sodat ons hier-en-nou met Hom kan lewe sonder ‘n druppel skuldgevoel en gewig wat ons neerdruk en aftrek. God het ons foute Jesus se foute gemaak. Hy het ons sondes Sy sondes gemaak. En Sy reg-wees ons reg-wees gemaak. Nou het ons die posisie van: daar is niks verkeerd nie. Daar is niks wat Sy onbehae oproep nie. Daarom is daar nou vrede. Daarom kan ek in die rus leef van: God is bly ek is Syne. Hy is bly Hy is myne. Ons is bevoorreg om onsself met híérdie geloof te beklee: “Die Skepper van hemel en aarde voel goed om mý God te wees. En Hy voel goed dat ék Sy kind is.”

Die dwaalleraars wat met religie deurdrenk is, sê: NEE! Die ware geloof is iets uiterliks. Besnydenis. Iets liggaamliks. Jý moet God goed laat voel. Jý moet so oorgegee wees dat jy Hom goed laat voel om jou God te wees. Jý moet Hom behaag. Jý moet Hom draai dat Hy ‘n welbehae in jou kry en ophou vir jou kwaad wees oor jou sondes. Jý moet Hom goed laat voel deur jou toegewydheid, jou grootdoop, jou onderhouding van dit en van dat, jou nakoming van hierdie reëls en daardie reëls…deur jou gebede en toewydings moet jy Hom omgedraai kry na jou kant toe..”

Die vraag is: Hoe kan ‘n uiterlike seremonie (soos besnydenis) jou ewige redding waarborg?? Daarom sê Paulus: Wat werklik saakmaak is dit wat in die hart plaasvind. Die besnydenis vd hart. Wat saakmaak is dat jy ‘n nuwe skepsel geword het (vers 15).

So lees ons byvoorbeeld ook in Jesaja 29:13 dat die Here vir Sy volk sê: “Julle kom na My toe met julle mond en eer My met julle lippe, maar julle hárt is ver van My af…” U sien: As jy nie met jou hart persoonlik glo dat Jesus se verlossingswerk op Golgota jou hart nuut gemaak het nie, dan beteken die uiterlike goed absoluut niks. En ag, hoe maklik is dit nie om jou dooie hart weg te steek agter allerlei uiterlike goed nie! Dit sit so in ons almal se natuur! Dit is maklik en gerieflik om agter uiterlike goed te skuil. Dink maar aan die Fariseërs: As hulle vas, maak hulle hulle gesigte bleek dat dit vir ander mense sigbaar is dat hulle bietjie honger ly..”

In geskiedenis sien ons dit ook : Telkens wanneer ‘n kerk verval, dan kom die uiterlike dinge weer na vore: Rituele, kerse, kleredragte, opvoerings, boetedoenings, biegstelsels. Dis altyd ‘n gewoel en gewerskaf. Dink byvoorbeeld aan ‘n godsdiens soos die Islam: Wit gewade, voorskrifte, seremonies, rituele, wassinge, dit mag jy eet en dat mag jy nie eet nie…

Telkens wanneer die kerk weer na die suiwere Evangelieboodskap terugkeer, kom daar weer eenvoud en soberheid. Dan word die boodskap van die kruis weer gehoor en geglo… en lewens word innerlik onherroeplik verander.

Natuurlik is dit so: As die hart verander het, sál dit na buitentoe sigbaar word. Maar: Dit gaan nie eerstens oor die uiterlike nie. Geen rituele, simbole, bekerings, sabbatte, dope, voorskrifte en mag&mag-nie’s kan ons binneste verander nie. Die verandering van ons hart is ‘n werk wat die Here op die kruis gedoen het en waaraan die Heilige Gees ons deur geloofsvertroue vasknoop – ‘n vertroue wat op die Bybel as Woord van God gebou is.

2 In die Christelike geloof gaan dit eerstens oor wat God doen en nie wat die mens doen nie

Dit is die tweede saak wat Paulus aanspreek. Gaan dit in die Christelike Godsdiens eerstens oor wat ons vir God doen OF gaan dit oor wat Hy vir ons gedoen het?

U sien: Wanneer ‘n mens se geestelike lewe by die uiterlike goed vashaak, dan loer die tweede dwaling om die hoek: EK, AS MENS, WAT DOEN.. Daarin voel ons so veilig. Ék het darem nie beheer verloor nie. Ek hou darem nog my hand op die saak. Dit gee ‘n gevoel van sekuriteit. Die Here sal my darem seker aanvaar as ‘n beloning vir die feit dat ek my bes probeer doen het.

Sien u die ingeboude menslike hoogmoed & arrogansie? Ai, as dit oor die uiterlike goed gaan wat ék alles kan doen sodat ék die groot doener in my godsdiens kan wees, dan word my ego so lekker gestreel!!

Paulus draai hierdie valse teologie onderstebo. Met die boodskap van die kruis doen Hy dit. God aanvaar en verlos ons nie as ‘n beloning vir ons probeerslae, berou, en ons “keuse vir Jesus” nie! Hy het ons eiehandig aan die kruis van Jesus aanvaar en verlos!! Daarom kom die Christelike Godsdiens eerstens uit God.

‘n Mens het nog geen benul van waaroor die Christelike Geloof gaan alvorens jy nie verstaan dat dit eerstens oor ‘n innerlike saak gaan EN tweedens oor ‘n verlossing wat God man-alleen uit genade bewerk het en waarby Hy die menslike ras teen hulle eie wil in ingesluit het nie.

Wat beteken die begrip “genade”? Dit beteken dat God só onnaspeurlik goed is en Hy die mens só ondeurgrondelik liefhet, dat Hy die sondaar ingesluit het by iets waarby die mens homself nooit kón insluit nie en iets waarin die mens glad nie belanggestel het om by ingesluit te wees nie. Dit kom SLEGS van God. genade = 100% van God en 0% van die mens. Sodra jy 0,001% by die mens sit, is genade daarmee heen!

Voordat dít nie vir ‘n mens oopgegaan het nie, verstaan jy nog nie die Evangelieboodskap nie. Dit is die BEGINSEL (vers 16) waarvolgens alle Christene lewe. Die ware Israel van God (vers 16) lewe volgens hierdie beginsel. Die ware Israel is nie die Joodse volk nie. Wat besny is nie. Dit is die universele kerk wat uit Jesus Christus se verlossing leef. Hierdie kerk leef volgens ‘n sekere beginsel: As Een vir almal gesterf het, dan hét almal gesterf (2 Kor 5:14). Die kerk leef nie uit wette/reëls/uiterlikhede nie. Die kerk leef uit ‘n beginsel. Die beginsel waaruit die ware kerk leef is God se onbegryplike roekelose diepgrypende vrye genade.

Nou kan ons sien waarom Paulus met sulke groot letters skryf. Waarom hy so hard op sy pen druk. Want, hierdie dinge is die essensie van alles. Misverstaan jy dit, mis jy alles.

Maar, u sien: dit kos dat ‘n mens jou moet verootmoedig voor die kruis. Soos ‘n kameel, jou knieë buig. En erken dat jy as mens dit alles slegs as ‘n geskenk kan ontvang. Dis ‘n groot terugslag vir ingeboude hoogmoed. Dit is ‘n vernedering. Om te begin glo dat God my gered het in Sy Seun toe ek nie gered wou wees nie, is ‘n geweldige vernedering, want daarmee sê ek eintlik: Ek kan myself nie red nie. Soos Josef se broers die geld vir die koring teruggekry het in hulle sakke. Hulle moes die koring uit genade (dit is: absoluut gratis) ontvang óf sterf van die honger.

Weet u, wanneer ‘n mens eers die essensie vd Evangelie gesnap het, gee jy nie meer om wat die religieuse wêreldsisteem van jou dink nie. Wat mense sê nie. Want jy is so heerlik vrygemaak.

Die Galasiërs wou so graag iets wees. “Ons was so gehoorsaam, ons het ons laat besny”… Paulus sê : Nee, die wêreld is vir my gekruisig en ek vir die wêreld (vers 14). Toe Jesus as my plaasvervanger gesterf het, was ek ingesluit by Sy kruisdood en daardeur is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Dis die ontdekking wat ek gemaak het, sê Paulus. Die kruisboodskap het my doodgemaak vir die wêreld se opinie en mening. So ver as wat dit die mens se religieuse idees en die applous van die wêreld aangaan, is ek soos ‘n dooie man – sê Paulus.

En, kyk net hoe het die wêreld met Paulus gewerk omdat hy die kruisboodskap verkondig het. Hy was vol littekens (vers 17). Baie vervolg en geslaan en gemartel. Dit was lidtekens wat vir hom van baie meer waarde was as die lidtekens van die besnydenis! Griekse woord = “stigmata”. Littekens. ‘n Stigma het aan die Apostel gekleef. Soos daar ook ‘n stigma aan Jesus gekleef het. Juis daardie littekens aan Jesus het óns vrygemaak van die sonde en die hel. Daarom maak dit nie ‘n flenter saak wat die wêreld dink of sê nie!!

Is u ook begeesterd vir die evangelie vd kruis? Ervaar/beleef u iets vd geweldige bevryding wat die kruis vir u persoonlik gebring het?? Soveel so dat dit na buite móét oorloop? Dit is baie normaal dat dit só sal wees. Dit sál na buite oorloop.

Wel, dan sal u u vasloop in baie mense wat dit nie verstaan nie. Mense wat dink dat die godsdiens hoofsaaklik iets uiterlik is en wat dink dat dit die méns is wat moet doen sodat God kan doen. 99% van die mense met wie u elke dag te doen kry, dink presies só! Dit is hoe aktueel hierdie boodskap van vanoggend is. U sal u in sulke mense vasloop en u sal littekens opdoen. Daar sal ‘n “stigmata” aan u kleef.

Maar weet dan: Deur dieselfde kruis waardeur u bevry is, het u ook gesterf vir die wêreld en sy opinies. Want u is ingesluit by die Christus se kruisdood – God het dit gedoen sonder u toestemming.

Weet verseker dat die Here Jesus se genade met u menslike gees sal wees.

Só groet Paulus vir oulaas die gemeente namens die Here – in Sy Naam. Met ‘n seën. Nie ‘n seënWENS nie. Nie: Dit sal julle moontlik te beurt val nie. Maar ‘n seën wat toegesê word. “Die genade van Jesus Christus SAL met jou menslike gees wees” (vers 18). Grieks: “die genade met julle gees”. Bedoelende: Die beginsel wat jou menslike gees sal beheers is die feit dat die genade van die kruisboodskap vir jou oopgegaan het. Jy verstaan dit nou. Jou menslike gees het helder insig in wat dit behels. Dit het jou innerlike mens vasgegryp en dit los jou nie. Dit stuur jou lewe. Dit is wat dit beteken as hy sê: “Die genade vd Here Jesus sal met jou gees wees.”

Dit is dieselfde seën waarmee die Here ons aan die einde van elke erediens die wêreld instuur. Dit is nie ‘n predikant se mooi woorde nie. Of net ‘n gepaste manier om die erediens af te sluit nie. Dit kom uit die Bybel.

Daarom mag die predikant ook nie die bewoording verander nie. Hy mag nie sê: “Mag” die genade by julle wees nie. Asof dit iets onsekers is of net ‘n goeie wens is nie. Hy moet die Skrifwoorde gebruik. Die genade sál by julle menslike gees wees wanneer julle daar buite begeesterd–vir-die-evangelie gaan lewe en dikwels littekens opdoen en daar ‘n stigma aan julle kleef..

En wat moet óns doen om die seën-toesegging te ontvang? Wel, dit is nie dan die tyd om u Bybel en Liedboek en handsak te soek nie. Ons kan dit op geen ander manier ontvang as om dit te glo nie. So eenvoudig soos dit.

Luister hoe eindig die brief aan die Galasiërs: “Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees..”  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00