OORVLOEDIGE LIEFDE

FIL.1:8-11

In die eerste hoofstuk van Filippense word die hart van die apostel geopenbaar.  Hy bid vir hulle omdat hy hulle liefhet. ‘n Mens kan nie anders as om Paulus se liefde vir die gemeente te sien nie.  Paulus het hierdie gemeente gestig op sy tweede sendingreis  Alhoewel Paulus min van hulle gehad het, is sy hart aan hulle verbind met onskeibare bande.  Hier sien ons iets van die herdershart van Paulus.  Paulus is bewus van sy veantwoordelikheid teenoor hierdie mense. Sy liefde het nie afgehang van hoeveel tyd hy met hulle deurgebring het nie. Die band wat daar was, was die feit dat hy hulle herder was en hulle sy kudde.

Paulus begin sy gebed deur die las van sy siel met hulle te deel v8.  “Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus.”  Die woord “verlang” beteken, “om ‘n persoon te ooreis om daarby uit te kom”. Dit is soos ‘n atleet wat oor-winning in die gesig staar en dan die voete van ‘n mede-atleet naby hom hoor. Hy beur met alle mag vorentoe en span elke spier in om die wedloop te wen. Wanneer hy oor die wenstreep gaan, word hy flou.  Hy het geen energie oor nie, omdat hy elke krieseltjie daarvan gebruik het om sy doel te bereik.

Hierdie liefde is nie natuurlike toegeneendheid nie. Hierdie band tussen die geestelike herder en sy kudde is nie verklaar met die natuurlike ver-stand nie.  Dit is die liefde van Christus, wat in Paulus geopenbaar word  “ek verlang na julle met die innige tederheid van Christus.”

God se liefde vir mense kom na hulle deur ‘n persoon. ‘n Sondaar weet niks van die liefde van God, tensy dit aan hom bewys word deur ‘n kind van God nie.  In Joh.13:35 sê Jesus  “Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”  Hierdie liefde het nie alleen die kinders van God bekend gemaak aan die wêreld nie, maar is ook die kanaal waardeur die liefde van God die wêreld kan bereik.

Paulus se liefde aan die Filippense het toegeneem.  Hy het hulle liefde met die liefde van God. Nadat hy sy liefde aan hulle bekend gemaak het, deel hy met hulle waarvoor hy vir hulle bid. Dit is een ding om vir ‘n persoon te sê dat jy vir hom bid en ‘n ander ding as jy vir ‘n persoon sê presies waarvoor jy vir hom bid.  Dit is wat Paulus gedoen het.  Hy wou hê dat hulle bewus sou raak van hierdie dinge in hulle binneste.  Dit laat hulle let op hulle lewens om te sien of sy gebede vir hulle beantwoord word.

Paulus bid eerstens vir oorvloedige liefde. Tweedens dat hulle sal kan onderskei en derdens dat hulle vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie.  As hy bid vir oorvloedige liefde is dit nie voorwerpe wat liefgehê moet word nie, maar dat in hulle karakter, God Sy liefde gestalte sal laat aanneem en dat dit oorvloedig sal word.

Hierdie liefde word eerstens geopenbaar in kennis en tweedens in oor-deel.  Die kennis is van wat Christu

s verwag van iemand wat Sy liefde openbaar. Die liefde waarvoor hy bid word gedreineer in die Woord van God, gebind deur die Woord van God en wat pas by die Woord van God Hierdie liefde is nie intellektueel, en veroordelend nie.  Soos ‘n persoon homself verdiep in die Woord van God, daardeur besef hy wat die Here verwag van iemand wat Hom lief het. Hy bring sy lewe in ooreenstem-ming met die liefde van God, soos geopenbaar in die Woord. Hy het lief wat God lief het en haat wat God haat.  Dit is liefde volgens kennis.

Die liefde in oordeel, het te doen met morele onderskeiding. Dit is die oordeel om te weet wat God liefhet en wat God haat, omdat Hy heilig is.  Hierdie liefde kom ooreen met die eise van die heilige karakter van God.  Paulus bid eerstens vir oorvloedige liefde.

Tweedens in vers 10 bid hy “om die dinge waar dit op aan kom te onderskei.”  Paulus wil hê dat hulle hulle kragte moet inspan vir dinge van eerste belang.  ‘n Persoon wie se lewe deur God gerig word, gee nie homself vir dinge van geen of geringe waarde nie. Hy doen die dinge van uiterste belang.

V10b “sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Jesus Christus.”  Dit het te doen met hulle elkedag lewe.  “Rein” – dit beteken dat hulle opreg moes wees en dat hulle lewens deursigtig moes wees wanneer dit in die sonlig gehou word.  In “opreg” verwys Paulus na my verhouding teenoor die Here.  My lewe is alleen reg as dit getoets kan word in die lig van die Woord van God en die God van die Woord.

As ‘n persoon homself beoordeel in die lig van die heiligheid van God, soos ons dit in die Woord van God vind, het hy ‘n onfeilbare toets of sy gedrag volgens die standaard van die Woord is of nie.

Die tweede uitdrukking waarin gedrag van belang is, is die gesindheid teenoor die mens. Nie alleen moes hierdie persone se lewens onberis-pelik wees t.o.v. die standaard van die Woord nie, maar moet ook sonder aanstoot wees in hul verhouding teenoor ander.  Ons wat Chris-tus as persoonlike Verlosser ken, moet ‘n voorbeeld stel vir ander.  As hulle, omdat hulle na ons lewens kyk, sondig, was ons lewens vir hulle ‘n struikelblok. 

Paulus bid dat hulle lewens so sal wees dat hulle ‘n afskynsel van God se heiligheid sal wees. Dit moet ‘n christen se lewe kenmerk tot op die dag van die wederkoms, wanneer hy weggevoer sal word saam met Christus en Sy bruid en by die regterstoel-oordeel beloon sal word vir sy lewe.

In vers 11, is Paulus besorg oor die vrug van geregtigheid in die gelowi-ge se lewe.  Hoe kan ons opreg wees voor God en sonder aanstoot lewe voor die mens?  Wat is die vrug van Paulus se gebed t.o.v. so ‘n karak-ter?  “Die vrug van geregtigheid”, is ‘n O.T. uitdrukking, wat te doen het met die vervulling van die verwagtinge van die wet. Die wet openbaar die geregtigheid en heiligheid van God.

Wat Paulus begeer in die lewe van die gelowiges is gelykvormigheid aan die standaarde van God se geopenbaarde heiligheid. Die geregtig-heid wat hy hier voor bid, is nie die geregtigheid van die wet nie.  Paulus sê in Rom.8:4  “sodat die reg (geregtigheid) van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie maar na die gees.”

Die vrug hiervan word deur ons voortgebring deur Jesus Christus.  Om te lewe is Christus. Christus is lewe.  Een wat lewe bied, en die lewe sal ook lewe skep in ander. Die vrug van geregtigheid is die produk van die lewe van Christus in die kind van God.  Hierdie geregtigheid is tot eer van God.  Matt.5:16 “Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader, wat in die hemel is, verheer-lik.”

Die vrug in ons lewens kom van God. Joh.15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;  want sonder My kan julle niks doen nie.” V8 “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; “Deur die vrugbare lewe van die kind van God, word die Vader verheerlik.

Paulus twyfel nie oor die redding van die gemeente se lede nie; hy is ook tevrede met hulle groei, hy is net bewus van die feit dat hulle nog nie alles verkry het waarvoor hulle geroep was nie. Dit is hoekom hy bid dat hulle lewens gekenmerk sal wees deur liefde en dat niks in hulle lewens aanstoot sal gee nie, sodat God in hulle verheerlik mag word.  Mag ons lewens die vrug van geregtigheid dra, tot eer van God, die Vader.

*********************************

GOEIE GEVOLGE VAN MOEILIKE OMSTANDIGHEDE.

FIL.1:12-21.

Paulus is baie bewus van die besorgdheid van die Filippense oor hom. Die laaste drie jaar van Paulus se lewe het hom deur geweldige loute-rende omstandighede geneem. As een lid van die liggaam ly, ly almal.  In verse 12-21 wys Paulus aan die gemeente dat die Here goeie dinge kan laat volg uit moeilike omstandighede. V12 “En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het,” Paulus is nie besorg oor die dinge wat hy moes ly nie, maar oor die gevolge van daardie dinge. 

Paulus het nie moed verloor oor die dinge wat hy moes ly nie, maar verbly hom oor die gevolge van sy lyding in sy eie lewe en in die lewe van ander.  In handelinge lees ons van die dinge wat Paulus moes ly.  Na sy derde sendingreis, terwyl hy op pad na Jerusalem was, het die Gees van God hom gewys wat nog vir hom wag.

Paulus het ‘n tyd in die gevangenis deurgebring.  Daar was Jode wat ge-sê het dat hulle sal eet of drink voordat Paulus nie dood is nie.  Daar was ‘n komplot om Paulus se lewe te neem.  Hy is deur 200 soldate en 70 ruiters en 200 liggewapende manne, in die nag, na Caesarea geneem.  Paulus het in die tronk geland en nog baie ontberinge gely.  Sy lewe kon gesien word as “gemors.”

Dit sou so maklik wees om met so ‘n lewe moed te verloor. Paulus se drie laaste jare was hy in die tronk, hy was verwerp, komplotte is teen hom beplan, tog het die apostel, oorwinning deur dit alles geken. (Ons vind dit in hoofstuk 1).

Hier is van die vrugbare gevolge van sy lyding: “En ek wil hê dat julle moet weet, broeders dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het, in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander,” vs 12 en 13.

In Hand.9 het die Gees van God, Paulus op die pad na Damaskus om-straal.  Ananias was na hom gestuur omdat Paulus blind geword het van die lig. Vv15 en 16 “Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.” Paulus moes nie alleen die evangelie bring aan die hei-dene nie, maar ook aan hooggeplaasdes.

In Hand.28:30 en 31 vind ons dat Paulus se gehuurde huis, waarin hy gebly het as gevangene, die vergaderplek was vir elite Romeine, waar Paulus die evangelie aan hulle moes bring en hulle onderrig.  Hulle was so beindruk deur Paulus se boodskap dat hulle dit deur die hele Rome versprei het. Paulus wou na Rome gaan, om die evangelie daar te ver-kondig, en God het die middele voorsien waardeur Paulus daar kon kom.  Wat Paulus oor gekom het het gely tot die bevordering van die evangelie.

Vers 14 “en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die Woord onbevrees te spreek.” Broeders in die geloof het vrymoedigheid geneem om die evangelie te verkondig, wat dit nooit voorheen sou doen nie. Die ver-antwoordelikheid rus op elke gelowige om die evangelie te verkondig, maar daar is sommige wat dit nalaat omdat hulle sien dat ‘n ander dit doen.

Dit was toe Paulus na Rome gegaan het dat die gelowiges gevoel het dat hulle ‘n verantwoordelikheid het om die evangelie uit te dra.  Dit is miskien vir ons vreemd dat die gelowiges, nadat hulle die gevolge van die verkondiging van die evangelie in Paulus se lewe gesien het, die evangelie, met groot vrymoedigheid verkondig het. Paulus se gesind-heid in wat hy gely het, het hulle aangespoor om die evangelie, met die koste daaraan verbonde te betaal.  Die gedagte van gevangenisskap het vir hulle geen vrees ingehou nie.

V15 en 16 “Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis maar ander ook uit welwilendheid:  die eerste verkondig Christus uit naywer, niemet suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie ver-drukking toe te voeg” Paulus het voortbeweeg, sonder om gestuit te word. Enige vrug wat voorkom uit die verkondiging van die evangelie is vrug van God. V17 “maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie.”

Paulus wil nie persone stil maak wat ook die evangelie verkondig nie, maar wys op die opregte motief, al dan nie, van die hart van die pre-dikers.  In vers 18 sê Paulus dat die verspreiding van die evangelie vir hom vreugde bring.

In verse 19-21 deel Paulus dit wat hy glo van die grootste gevolge van lyding is. “Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek, volgens my reik-halsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie;  maar dat Christus met alle vrymoedigheid soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam of dit deur die lewe of deur die dood is.” Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Paulus het a.g.v. sy lyding sy lewe geevalueer en besef watter dinge vir hom van meeste waarde is in die lewe.  Christus moet verheerlik word, in sy lewe en in sy dood. Paulus oordeel sy lewe nie van ‘n mens se kant af nie, maar in die lig van God. Sy lyding het hom by die punt gebring dat Jesus Christus die rede vir lewe is.

Paulus het, as gevangenis, sy vryheid verloor en het geleer dat Christus van baie meer belang is. Paulus het gebrek en oorvloed geken.  Hy weet wat dit is om van ander afhanklik te wees, selfs net vir iets om aan te trek.  Hy getuig dat Christus hierdie dinge in sy lewe gebring het, sodat hy kan sien wat in sy hart is en wat vir hom van belang was, eerder as die evangelie.  In die lig van die oordeel van God, waaraan wei ek my tyd, geld, belange en wat neem my aandag op. 

Paulus sê:  “Vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.”

***********************************

FILIPPENSE 2.

WEES EENSGESIND:  Fil.2:1-4

INLEIDING

Joh.13:35 “Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” ‘n Huis sonder liefde, het niks om te bied vir die huismense nie. Liefde bied sekuriteit. Hierdie waarheid sien ons in II Joh.4,5 “Ek was baie bly dat ek van u kinders gevind het wat in die waarheid wandel, soos ons ‘n gebod van die Vader ontvang het.  En nou bid ek u, uitverkore vrou, nie asof ek ‘n nuwe gebod skryf nie, maar een wat ons van die begin af gehad het: dat ons mekaar moet liefhê.”  Paulus sien homself as die geestelike vader van die gemeente en wat vir hom die wonderlikste is, is dat sy “kinders” in die waarheid wandel.  Hy stort sy hele hart uit vir die gemeente, omdat hulle sy liefde werd is.  As een kind van die familie, in liefde teenoor die ander wandel, verbly dit die hart van die vader. As een kind van God, in liefde voor ander kinders van God wandel, verbly dit die hart van ons Hemelse Vader. 

Toe Paulus die brief aan die Filippense begin skryf het, het hy geskryf van sy vreugde oor hulle “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap – oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe, omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.”

V1  “As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertoosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is …” Hierdie woorde bevestig dat al hierdie dinge wel daar is. Dit is geensins gestel om twyfel te wek nie.  Dit volg uit konflik in 1:27-30, dat hulle moet volhard in hulle navolging van Christus. Hulle word aangemoedig tot aksie. Dit wat hulle moet aanvuur is Christus; Hy is die lewe-gewende “Element”.   Die “troos” is ‘n meedeel van woorde van teerheid, wat tot die hart van die persoon, in smarte, spreek. Hierdie woord word onderskei van die woord “bemoediging”, en spruit voort uit christelike liefde.  Liefde heel die wonde van hulle wat smarte het.  Paulus herhinner hulle dat hy in die tronk in Rome is en vra hulle om ag te slaan op sy versoek.  Die “gemeenskap in die Gees”, is of die gawes van die Gees waarmee hulle mekaar bedien, of die onderlinge broeder-liefde, deur die Gees gewerk.  Die Heilige Gees vul die harte van hulle in wie Hy woon;  “innerlike tederheid”,  is empatie vir die wat in nood of in ellende is bv.  Paulus in die gevangenis.

 I Kor.1:10  “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”  Wanneer kinders van die Here mekaar vurig lief het, bring dit versagting in hulle lyding.  Hierdie onderlinge intimiteit is daar a.g.v. die werk van die Heilige Gees.

In v2 moedig hy hierdie gelowiges aan om lief te hê  “… maak dan my blydskap volkome …”  Paulus verlang om sy vreugde in hulle te vind, terwyl hy vir die uitspraak op sy vonnis wag.  “… deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.”   Werk in liefde en eenheid saam. Hulle harte moet op dieselfde plek wees.  Hulle moet een doel nastreef en dieselfde ambissie koester nl. die verheerliking van Christus. Die harmonie onder hulle moet intellektueel en emosioneel wees. Voltooi dit wat in julle begin is, wat soveel blydskap bring. Hy verlang dat hulle liefde so innig sal wees dat die liefde van Christus, in hulle, merkbaar sal wees. Die gemoed/”the mind of Christ” moet deur hulle weerspieël word.

Daar word na vier basiese dinge verwys, wat van belang is om hierdie liefde uit te leef:

1.         My  verhouding met die Here Jesus Christus.

In Fil.2:1-4 word (a) die basis eers gelê van die liefde, (b) dan word die liefde beskryf en (c) dan word riglyne gegee om te verhoed dat hulle afkoel in liefde.  V1 “As daar dan enige troos in Christus is,” Die basis vir liefde teenoor mede-gelowiges is in ons verhouding met Jesus Christus.  My verhouding met die Here Jesus, moet van so ‘n aard wees dat ander getrek sal word na Hom toe en die begeerte sal hê om by ander kinders van die Here wees en om te wees soos hulle is.  In II Kor.5:17 sê Paulus, “… die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”  Haat is ‘n karaktertrek van die god van hierdie wêreld.  As ons in Christus is en met Hom verenig lewe, sal ons Sy karaktertrekke uitleef.

2.  Ek moet Jesus Christus se liefde ontvang.

     “.. as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige innige tederheid en ontferming is …”  In II Kor.5:14 sê Paulus dat die liefde van Christus hom dring.  Omdat Christus my lief het, moet ek die kinders van God liefhê.  Liefde bemoedig ander.

3.  Die werklikheid van die Gees van God in die lewe van ‘n kind van God.

     “…as daar enige gemeenskap van die Gees,…”  Hier gaan dit om die werklikheid van die Gees van God, in die lewe van die kind van God.  I Kor.6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees …”  Die Heilige Gees word ‘n werklikheid in die kind van God se lewe, die oomblik wat Jesus in sy lewe inkom.  Van daardie oomblik af staan die mens in ‘n verhouding met Jesus en met die Gees van God.

4.  Die werklikheid van liefde teenoor mede-gelowiges.

     “as daar enige innige tederheid en ontferming is”  “innig” in die Grieks verwys na die diepste vorm van emosie.  In die N.T. word na hierdie woord verwys om die kapasitiet en vermoë om lief te hê, uit te druk.  Liefde is om om te sien na die nood en behoeftes van die gelowiges.  As ‘n mede kind van God deur noutes en swaar tye gaan is die natuurlike drang daar om hulp aan te bied.   Die toename in liefde in die gemeente teenoor mekaar, bring blydskap in Paulus se hart.

Paulus gee uit vers 2 vier stellinge vir liefde onder die broeders.

1.  Eensgesindheid

     Eenheid in gedagte, een in doel, een in liefde, ens.  “maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees …”

2.  Wedersydse liefde

     “… dieselfde liefde te hê…” 

3.  Eenheid

     “… een van siel …”  Aangetrek na mekaar.

4.  Gemeenskaplikheid

    “…   een van sin.”  Gemeenskaplike doelstellings in die lewe.

Verse 1 en 2 kom ooreen.  Vers 1 ons is verenig met Christus en ons moet ook so gesind wees uit ons verhouding met Christus .  In v1 ontvang ons God se liefde, in v2 moet ons wedersydse liefde hê.  In v1 vind ons die werklikheid van die Heilige Gees in die kind van God se lewe, in v2 vind ons eenheid in liefde.  In v1 moet ons liefde vir ons mede-gelowiges hê, in v2 is daar gemeenskaplikheid.

In verse 3 en 4 gee Paulus vir ons sekere waarborge vir liefde.  Hy toon op ‘n negtiewe en positiewe manier hoe die liefde vir die broeders uitwerk in die lewe van die kind van God.  V3: moenie afsonderlik funksioneer nie, laat elkeen werk en ly vir die welstand van almal as geheel.

Negatief gestel  “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, “ v3.  Hier vind ons partyheid;  ‘n fraksie in die gemeente het hulle eie doelstellings en ambisies en stel dit teenoor die ander in die gemeente.  Die oomblik wat daar tweedrag kom, voer een groep stryd teen die ander vir mag en aansien.  Daarom volg die volgende vers “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, “  Selfsug is om ‘n persoon self aan te beveel.  So kan dit kom dat ‘n persoon ‘n aanhang vir homself kry.  Nie uit liefde vir die saak van die Here nie, maar om sy eie saak sterker te stel.  II John:9  “Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diotrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie.”  Diotrefes se teenstander was Johannes.  Sy motivering was nie die liefde vir die saak van God of liefde vir die broeders nie, maar ydele eer.  Deur sy optrede het hy baie skade aan die werk van die Here gedoen en die getuienis van die gemeente, teenoor die wêreld, uitgewis.

Nou beweeg Paulus na die positiewe kant, in kontras met die negatiewe vv3 en 4  “… maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”  ‘n Mens se eie belange is van belang, maar daar moet ook ruimte wees vir die belange van ander.  I Kor.10:24  “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander.”  Selfsug, oor die algemeen, stel die werk van die Here in gevaar.  Hier is aksie betrokke – dit wat gedoen moet word.  Liefde word bewys as die persoon wat as kanaal deur die Here gebruik word, iemand namens God lief het.  Elkeen moet die ander hoër ag as homself. Kol.3:12  “Beklee julle dan as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid …” Om om te sien na ‘n ander se belange is “omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare;  want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”  Liefde maak van elke persoon ‘n dienskneg, nie alleen van God nie, maar ook van elke mede kind van God.  So ‘n persoon word ‘n dienskneg in sy huis.  Hy het lief en dien die wat God lief het.  Paulus skryf in Rom.12:3  “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie;  maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.”

Om dit duideliker te stel skryf Paulus in vers 4  “Want julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”  “… in nederigheid …”  beteken in die Grieks ‘om te kruip’ en  ‘in een krimp’.  Die Grieke het goed gevoel oor die feit dat hulle hulself hoër en beter moet ag as ander.  ‘n Griek wat waarlik die Here vind is in totale kontras met wie hy gedink het hy is. Hy is nie meer self-gesentreerd nie, hy wil nie meer leiding neem nie, maar hy streef om een van gees te wees met die ander kinders van God; hy streef na diensbaarheid, eerder as om te dien.  Dit is in totale kontras met sy natuur, sy kultuur agtergrond en sy idees in die lewe.  Paulus wys daarop dat elkeen die ander se gawes moet erken en ook ruimte moet laat vir die uitleef daarvan.

Paulus kom nie tot rus nie, totdat Christus in sy “kinders” gestalte kry.  E moet nie meer die middelpunt van belange wees nie, maar die ander kinders van God.  As dit nog nie in ons lewens gebeur het nie, het ons nog nie Christus-gelykvormig geword nie.

My  verhouding met God word ‘n werklikheid, my liefde vir Hom, die inwoning van die Heilige Gees en die liefde vir die broeders.  Ons moet eensgesind wees.  Een van siel en een van sin.

***********************************************************

DIE  GODDELIKE GEMOED.

FILIPPENSE 2:5-8

Die Grieke het hulleself hoog aangeskryf.  Hulle het gedink dat hulle van gode afstam.  Vir baie jare was daar Griekse filosowe, wat die denke van die intellektuele wêreld gevorm het.  Hulle was trots oor wat hulle bereik het in die letterkundige wêreld.  

Teen die tyd dat Paulus die brief aan die Filippense geskryf het, was die Grieke reeds vir 200 jaar onder Romeinse beheer.  Die Romeine het nie ‘n kultuur van hul eie opgebou nie, hulle het die kultuur aangeneem van die mense wat hulle oorwin het.

As Paulus aan die Grieke skryf dat hulle “Christus-gesind” moet wees, het hy geskryf aan mense wat ‘kultuur’ agter hulle het.

Paulus stel in v5 “Een” voor, wat die lesers, voorgaan in volkome nederigheid.  “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”  Vir die Grieke is nederigheid veragtelik, in vergelyking met die rykdom uit hulle kultuurskat.  Paulus moes verduidelik wat hy bedoel met die nederigheid van Christus.  V6  “Hy, wat in die gestalte van God was …”   Jesus was van ewigheid af by God.  Hy is een met die Vader.  Die Seun is een in Natuur, een in Karakter, een in Wese met die Vader.  Christus is verhoog, maar Hy is ook verneder.  Hy was nederig, liefdevol, geduldig en hardwerkend.  Sy voedsel was om die wil van Sy Vader te doen.  Christus Jesus se voorbeeld was absoluut die teenoorgestelde van selfsugtigheid, wat die algemene boikot van eenheid is.

In 2:6b-8, maak Paulus sewe stellings omtrent die Seun, wat vir ons meer insig gee oor die gedagte, dat ons Sy gesindheid moet hê. “…het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie … “   M.a.w. Hy het nie aan hierdie “status” vasgehou nie.  In verse 6-8 vind ons opeenvolgende stappe van self-ontlediging en selfvernedering, in Jesus, wat as voorbeeld, die pad van die kruisdood, gestap het.

Verse 6 en 7 beskryf Sy stand en Sy oorgee daarvan by Sy vleeswording.  V8 beskryf Sy toestand en optrede tot en met Sy sterfdood.  Ons vind dus die Seun van God in 3 fases:  (a) Sy verheerlikte stand, by Sy Vader, voor Sy vleeswording, (b) as mens op aarde en (c) Sy dood aan die kruis.

V7  “maar het Homself ontledig …”   Hy het nie afstand gedoen van Sy Goddelikheid nie, maar dit agter ‘n veil verberg.  Die man op straat het nie geweet dat dit die Seun van God was nie.  Net soos almal in Rome, moes Hy belasting betaal aan die keiser.  Op die berg van verheerliking kon Petrus, Jakobus en Johannes die heerlikheid van Jesus Christus sien, soos wat dit was voor die skepping.  Joh.17:5b  “die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.”  Die kern van Sy wese het nie verander nie.  Christus het deurgans Sy Godheid behou.  Hy het alle dinge, deur Sy krag in stand gehou.  Hy is Heb.1:3  “die afskynsel van Sy heerlikheid …”  Daarvan het Hy Homself ontledig toe Hy mens geword het.  Hy is weer met daardie heerlikheid beklee na Sy hemelvaart.  Dit is ook hoe Hy weer terug gaan kom na hierdie aarde.

Jesus was, in uiterlike vorm, presies soos enige persoon in die menslike ras.  Heb.2:17  “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word … “… deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem …”  Toe Hy na hierdie aarde gekom het, was Sy blyplek gekenmerk deur armoede.  Sy posisie in hierdie lewe was om ‘n dienskneg te wees.  ‘n Dienskneg is nie soseer iemand op wie neergesien word nie, as iemand wat geen regte het nie.  ‘n Dienskneg is onderdanig aan die wil van sy heer.  Toe Christus in hierdie wêreld ingekom het, het Hy as ‘n persoon sonder regte gekom, om ondergeskik te wees aan die regte van ander.  Hy het gekies om te dien.    Dit was Sy keuse van die wieg tot die “graf”.  Hy wat, as Seun van God, alle reg gehad het, het nie daarop aanspraak gemaak nie.

“… en aan die mense gelyk te word…”   Fisies het Hy die gestalte van ‘n

mens aangeneem.  Hierdie Mens was onderdanig aan die outoriteit van die Skepper.  Jesus het in hierdie wêreld ingekom, met die gesindheid, om die wil van Sy Vader te doen, soos in Getsemane – “nie My wil nie, maar U sin ..”  Heb.10:7  “… Ek kom – … om U wil te doen, o God.”  Nederigheid is om Sy wil, volkome ondergeskik aan Sy Vader sin, te stel.  Dit het vir Hom ingehou Sy sterfdood vir sondige mense.  Hy was ‘n lydende dienskneg in Sy dood aan die kruis.   Dit was so ‘n onnatuurlike dood dat in die O.T. ‘n vloek daarop geplaas was.  Net vir uitgeworpe kriminele was hierdie manier van sterf toegestaan.  Dit was verbied vir Romeine om so terreg te staan.  Paulus was hierdie dood geweier omdat hy ‘n Romeinse burger was.

Paulus wys vir die Romeine, Jesus Christus, die Verhoogde en wys hulle op hulle trots wat nie wil buig onder die outoriteit van ander nie.  Jesus Christus was in die gestalte van God, verhoog bo die ganse skepping, verhoog bo die engele, verhoog bo alles mense.  Hy het nie Sy regte gekoester nie, Hy het dit opgegee.  Sy gehoorsaamheid was volkome.  Dit is die selfloosheid van Jesus Christus.  Hy het net Sy Vader se wil in gedagte gehad en die van persone aan wie Hy Sy liefde kom toon het.  Paulus wil hierdie gedagte van gebreekte brood en gegote wyn, aan die gemeente oordra.

Mark.10:45  “Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie.”  In I Pet.2:21-24 kry ons ‘n voorbeeld van die gemoed van die Here Jesus Christus  “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle Sy voetstappe kan navolg;  Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;  wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie;  toe Hy gely het, nie gedreig het nie, mar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel,wat selfs ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe;  deur wie se wonde julle genees is.”

In Rom.12:3 lees ons dat Paulus van ‘n mens skryf  “… dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie …”  ‘n Persoon wat in Christus leef, stel graag sy regte op sy, vir die regte en voordeel van die ander.  ***************************************

DIE VERHOGING VAN CHRISTUS – FIL. 2:9-11.

Jesus, verwys Matt.19:28 na 12 trone waarop die dissipels sal sit, as Hy sê  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op Sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.”  In Matt.20:21 wil Jakobus en Johannes se ma, namens hulle, vir hulle ere-plekke, bo die ander 10 dissipels, probeer verkry deur, voor die ander, vir Jesus te vra of haar seuns een aan Sy regterhand en een aan Sy linkerhand kan sit, as Hy in Sy koninkryk kom.  Jesus het aan hulle gesê in 20:27 en 28  “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees;  net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

Die Here Jesus het, op die duidelikste moontlike manier vir Sy dissipels gesê dat die pad boontoe, eers ondertoe is.  ‘n Persoon wat vir hoë posisie werd is, is ‘n persoon wat eers gedien het.  Hierdie posisie is God se vergoeding vir die persoon wat bereid was om homself te verneder.  Om hierdie les vir hulle te leer, het die Here Jesus Homself as voorbeeld gebruik.  Hy wat Heerser is oor die ganse hemel en aarde, in Sy lengte en breedte, het a.g.v. Sy volkome onderdanigheid aan Sy Vader, in die gestalte van ‘n dienskneg, die voorbeeld gestel.  God self het Hom verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, in die hemel en op die aarde.  Ons moet die gestalte van ‘n dienskneg aanneem, voordat Hy deur ons hoogtes kan bereik.

Die dissipels in Matt.20, het nog nie Christus, as verheerlikte gesien nie, maar Paulus het.  In Fil.2 sien ons dat Christus, wat dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie, nie krampagtig vasgehou aan dit wat Sy eie was nie, maar ter wille van ons neergelê.  Hy het die gestalte van ‘n dienkneg aangeneem, wat geen regte het nie, behalwe om aan Sy heer gehoorsaam te wees nie.  Hy het in die gestalte van ‘n die menslike ras, as skepsel, onderdanig geword aan die Skepper.  Totaal, volledig en finaal het Hy Hom ondergeskik gestel aan Sy Vader, tot Sy dood aan die kruis.

Fil.2:2-11 beskryf in die bes moontlike taal, die heerlikheid waartoe die Here Jesus verhoog is  “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”  Christus is verhoog tot die hoogste mate waarin dit moontlik was.  “elke tong”, verwys na indiviuele belydenis.  Die Seun moet geeer word soos die Vader.  Dit is alles tot eer van God die Vader.

Die verheerliking van Jesus was nie net dat Hy Sy stand in heerlikheid weer teruggeneem het nie, maar was die verhoging en verheerliking wat Sy Vader vir Hom bedoel het, na Sy vernedering hier op aarde.  “Daarom…” , a.g.v. en in die lig van Sy gehoorsaamheid en as resultaat van volkome oorgegewenheid, het God Hom uitermate verhoog.  Die rede vir hierdie gebeure was om ‘n beginsel by die mens tuis te bring nl. as hy homself verneder, hy verhoog sal word.  ‘n Persoon verneder homself sodat Hy ‘n bruikbaar kan wees in die koninkryk van God.  Luk.14:11 “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.”  Luk.18:14 sê dat “… dat die laaste een meer regverdig na sy huis gegaan het as die eerste een;  want elkeen wat homself verneder sal verhoog word, en hy wat homself verneder sal verhoog word.”

Die verheerliking van Jesus het o.a. ingehou wat ons in Ps.2:8 lees “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting…”.  Die volle erfporsies is aan die Seun gegee.  Alle mag en outoriteit is aan Hom gegee.  Matt.28:18 en 19 “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees;  en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”  Hy kon Sy dissipels na die einde van die aarde stuur, omdat dit alles aan Hom behoort.

In Ps.110:1-4 vind ons nog ‘n beskrywing van Jesus se verheerliking “Die Here het tot my Here gespreek:  Sit aan My regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank van u voete.  U magtige septer sal die Here uitstrek uit Sion en sê:  Heers te midde van u vyande.  U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag;  in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.  Die Here het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie;  U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisekek.”  Jesus is verheerlik en sit op ‘n troon aan die Regterhand van Sy Vader.  Aan Jesus is ‘n verheerlikte posisie gegee en ‘n verheerlikte Naam.  Fil.2:9  “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is …”  Hier word nie alleen verwys na ‘n fisiese naam-verandering nie, maar ook dit wat gekoppel is aan die Naam.  Sy verheerlikte posisie in die hemel. 

‘n Verhoogde Naam beteken dat iemand lof waardig is.  In die O.T. is die Naam van God geprys, gevrees en geseën, omdat dit alles ingehou het wat die persoon is.  God het aan Jesus ‘n Naam gegee wat bo elke Naam is sodat die mens Hom kan aanbid.

In vers 10 wys Paulus watter gevolge “die Naam” het  “sodat in die Naam van Jesus sou buig, elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is.”  Om ‘n mens se knieë te buig is ‘n teken van respek en ontsag vir die persoon voor wie ek buig.  Alles wat lewe sal erken dat alle outoriteit en mag aan Hom behoort.  Ook die gevalle engele en die verlore mense sal moet erken dat Hy die Waarheid was, wat hulle verwerp het.  Almal in hel sal erken dat Hy God is.  V11 sê ook dat “… elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”  “bely”, beteken hier, met dankbaarheid erken dat Hy die Here is.  Daar word gesê dat die knieë van die wat onder die aarde is, die persone in hades is, wat buig voor Hom, wat God verhoog het.

Open.5:11-14  “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge;  en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende;  en met ‘n groot stem het hulle gesê:  Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.  En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!  En die vier lewende wesens het gesê:  Amen!  En die vier-en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.”

Open.14:6 en 7  “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ‘n groot stem gesê:  Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Toe Paulus op die Damaskus-pad, die verheerlikte Here ontmoet het, het hy gesê:  “Here, wat wil U hê moet ek doen…” Hand.9:6.  Thomas het die verheerlikte Jesus gesien toe Hy in hulle midde verskyn het en hy gesê het  “my Here, en My God…”  Joh.20:28.  Persone wat op hulle aangesigte geval het, het dit nie gedoen omdat hulle gevoel het dat hulle moes nie, maar omdat hulle bewus geword het van die heerlikheid van God se teenwoordigheid, in teenstelling met hulle eie onwaardigheid.

Laat ons aan Hom die eer gee wat Hom toekom.  Matt.23:12  “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.”

***********************************************************

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00