Reeks oor ESTER nr. 8 Tema: Heidendom tot diens van Gods gemeente
Skriflesing: Ester 8
Onder die moeilikste omstandighede, slaap die Here nie. Laat ons dit maar goed raaksien in die boek Ester. Wanneer dit gaan oor díé mense oor wie Sy Naam uitgeroep is, is die Here baie werksaam. Dit het ons presies só gesien in die eerste 7 hfste: Hoedat die satan (en sy helpers), in al sy sluheid & felheid, nie opgewasse is teen die lewende God nie. Tot in hfst 7: Haman sterf aan sy eie galg. Maar dáármee was die Here se volk nog nie bevry nie, want die Wet van Mede & Perse was steeds van krag. Die wet (wat Haman uitgedink het), wat bepaal het dat ál die Jode op 13 Adar uitgemoor sal word. Selfs die kóning mag geen Persiese wet herroep of verander het nie. Die heidene het hulle eie wette vergoddelik en sodoende ’n gevoel van veiligheid probeer vind. Maar, ons moet raaksien hoe die Here se beloftewoord sterker is as hierdie onbuigbare Persiese wette. Die Here het mos ’n Verlosser vir alle nasies belowe. Hy het beloof dat hierdie Verlosser uit Juda gebore sou word. Daarom het Hy ’n land aan hulle beloof. Indien die Israeliete uitgewis word, sou God se belofte sneuwel. M.a.w. indien hierdie wet van Mede & Perse seëvier, sou God se belofte sneuwel. En nou bewerk die Here ’n sagtheid & wysheid in hierdie koning Ahasveros se hart toe Ester weer eens by hom gaan pleit vir haar volk. Dit was nie vir die koning moontlik om die bose wetgewing te herroep nie, maar die Here gee aan die koning ’n stuk tegemoetkomendheid & wysheid. Die koning gee aan Ester en Mordegai toestemming om ’n ánder wet te skryf en met sy koninklike seëlring te verseël – ’n wet wat óók onherroeplik sou wees, maar ’n wet wat aan die Jode die reg gee om hulself voor te berei vir die aanslag op hulle lewens én hulle die reg sou gee om hulself te verdedig!
Is dit nie absoluut asemrowend hoe die Here net eenvoudig ’n goddelose heiden en heidense wette opraap en gebruik in diens van Sy kerk! Die onherroeplike wette van Persië versper ook nie Sy pad nie. Ons mag dit nie verbykyk nie. Ons moet probeer om hierdie Waarheid ons eie te maak. Die Waarheid wat vrymaak (Joh 8:32). En die Waarheid wat ons ons eie moet maak is die Waarheid dat die Here leef. Dat Hy nie slaap nie. Die Waarheid dat die Here werklik omgee vir díé mense oor wie Sy Naam uitgeroep is. Die Waarheid dat die moeites waarin gelowiges beland nie groter is as God nie! Die Waarheid dat die Here raad weet met ons moeites/sorge/bekommernisse.
Dalk sê U: “Ja, dit klink alles mooi & goed, maar die Here kan tog nie my finansiële skuldlas ligter maak nie. Die Bybel kan nie in my aardse behoeftes voorsien of my rekeninge betaal nie. Die Bybel kan nie my maag volmaak nie. Godsdiens is vir die siel bedoel, maar mý probleme is aards/fisies/stoflik.”
Maar, wys die boek Ester nie juis vir ons hoe die Here in Sy gemeente se stoflike moeites voorsien het nie?? Hoe die Here landswette gebruik het in diens van Sy gemeente? Die hele Persiese Ryk moet die Here se gemeente dien! ALLES werk mos ten goede mee vir dié wat Hom liefhet (Rom 8: 28). In die woestyn het die Israeliete ook gesê: “Hoe op aarde sal die Here aan ons almal vléís kan voorsien in die barre woestyn?” (Eks. 16). Groot was hulle verrassing! Sien u? Ons mag nie die Here en Sy Woord gaan inperk slegs tot ons sogenaamde “siele”-lewe (geestelike lewe) nie! Die Here het alles te doen met ons daaglikse stryde. ’n Gelowige se lewe is nie in kompartemente verdeel so asof daar ’n aparte geestelike/siele-lewe is waar die Here & Sy Woord ’n plek het – maar in die ander (aardse) kompartemente kan die Here nie soveel uitrig nie! Indien dit so was, sou die boek Ester geen betekenis hê nie – want in Ester stry die Here juis vir Sy gemeente op die vlak van die alledaagse lewe – ja op die vlak van OORLEWING.
Daar is egter iets meer wat ons goed moet raaksien: En dit is: Die Here gee nie aan Sy gemeente alles op een slag nie. Dikwels kom Sy uitkoms ná ’n tyd van beproewing. Haman se dood was in die eerste maand. Maar wanneer pleit Ester by die koning en gee die koning toestemming om ’n ander wet te skryf? Vers 9: Derde maand. Drie maande van geweldige spanning. Gedurende daardie 3 maande het Haman se bose wet deur die hele Persiese Ryk versprei en die Jode het geweet: “Al is Haman dood, die wet is steeds van krag. Dis klaar met ons.” Sien u: Die Here gee nie alles eensklaps nie. Die gemeente moes eers vir 3 maande lank beproef word sodat hulle kon leer dat hulle met hulle lewens by die Here moes leef en afsien van hulleself. Eers tóé skryf Mordegai die tweede wet, wat die slaankrag van die eerste wet sou kanselleer. En tóé kom die uitkoms!
Hierdie tweede wet was natuurlik ’n profesie van die werk wat Jesus op aarde sou kom doen toe Sy verlossingswerk op Golgota ’n “tweede wet” geword het wat die slaankrag van God se “eerste wet” kom breek het. God se wet wat sê: “Die siel wat sondig moet sterf”. Hiervolgens móét almal vir ewig na die verderf gaan, want almal het gesondig. God se wet kan ook nie herroep of verander word nie. Maar, toe tref die vloekdood van die wet vir Jesus (Gal 3:13). Só word Jesus die tweede wet wat die slaankrag van die eerste wet op ons lewens verbreek het – en ons verkry
deel daarin deur dit te glo! Sien u hoe lewensgroot staan die kruis in Ester 8 geplant?
Maar daar is nog meer: Vers 16: “Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en ’n gevoel van eie waarde” – maar onthou: die verlossing wat die tweede wet sou bring, was nog nie sigbaar nie. Hulle het dit nog nie ervaar nie. En tóg is hulle vol vreugde. Hulle hele selfbeeld word nuut. Hulle sien met die geloofsoog die toekoms in – hulle sien hoe hulle bevryding gaan kom en hoe hulle die dood gaan vryspring. Soos óns ook glo dat ons deur Jesus se dood & opstanding verlos IS van die vloek vd wet – die ewige dood, MAAR ons sien nie nou reeds die volheid hiervan nie. En tog verander ons lewens nou reeds. Nou reeds is ons vervul met blydskap en dankbaarheid – al sien & ervaar ons nie nou al die volheid nie.
Wat ’n magtige koninkryksbeginsel is dit nie? Om met danksegging van die Here te ontvang dit wat jy nog nie kan sien nie. Filip 4:6. Hoe dikwels bestaan ons gebede uit VRA, SUG & KLA, SMEEK. En dit is nie verkeerd nie. Vra/sug/kla/smeek het ‘n groot plek. Maar, moet ons nie dit meer kere waag om met danksegging te ontvang wat ons nog nie sien nie?? Baie keer aanvaar ons maar gelate alles wat in ons lewens gebeur en glo ons nie dat die Here dinge ánders kan/wil maak nie. En omdat ons dit nie glo nie, dánk ons Hom nie. En daarom gebeur daar ook weinig. Maar kyk na hierdie gemeente in die destydse Persië: Vóórdat hulle die uitkoms kon sien gebeur, is hulle vol vreugde en dankbaarheid.
En wat is die VRUG hiervan? Vers 17: Baie mense uit die ander bevolkingsgroepe het ook Jode geword. Die heidene het by die gemeente kom aansluit. ’n Geweldige stuk sendingwerk het plaasgevind sonder dat daar ’n sendeling uitgestuur was! Toe hierdie gemeente begin met ’n positiewe geloofs-lewensuitkyk (en dit terwyl hulle nog nie die bevryding van die Here kon SIEN nie) toe trek dit die mense van ander nasies na die kerk. Vers 17: Skrikbevange. ’n Mens sou kon dink dat hulle hulle by die Jode wou skaar omdat hulle bang geword het vir die Jode. Dit kan egter nie wees nie, want die Jode was ’n verre minderheid in die Persiese Ryk. Nie regtig ’n faktor. Hierdie “skrik” het veel eerder te make met die gesonde VREES vir die Here (die vrese van die Here) waarvan ons op talle ander plekke in die OT lees. Die heidene moes iets van wie die HERE is gesien het toe hulle na die Jode se positiewe lewensuitkyk kyk en hulle feesvieringe en lewensverandering sien. Hulle het gesien WIE die God van Israel is en dít het hulle nader getrek. Hulle het ontsag vir die Here gekry. Soos Ragab – die heidense prostituut – ontsag vir die Here gekry het toe sy die berigte hoor van hoe die Here Sy gemeente droogvoets deur die Rooisee gered het. En toe gaan voeg sy haar by die kerk. Dít is wat hier gebeur in Ester 8. Die bloedband/volksverband is nie die deurslaggewende vereiste vir lidmaatskap van die Here se gemeente nie, maar die geloofsband! Die Here se gemeente is nie gereserveer vir mense van enerse velkleur/taal/kultuur/nasionaliteit nie! Ons kan sendelinge uitstuur tot ons blou is (en ons moet dit ook doen), maar indien mense nie vanself aangetrek word na die gemeente omdat hulle iets van die Here in óns beleef nie, baat dit niks. Mense van ander kulture en selfs tale, behoort aangetrek te word na die gemeente, ook ten spyte van politieke oortuigings, omdat hulle iets van die lewende drie-enige God hier ervaar en sien. Want dit gaan in die kerk oor geloof in die enigste Evangelie en niks anders nie.