Reeks oor ESTER nr. 7 Tema: Van banket tot bloedbad
Skriflesing: Ester 7
Oppervlakkig gesien, verskil die verhaal van Ester dalk nie veel van die deursnee TV-storie nie. Naels-kou van spanning, maar gelukkig, teen die einde oorwin die held en die boosdoener ry aan die pen. Ester 7 klink amper ook so. Die fees-banket eindig in ’n bloedbad waar die boosdoener sterf – danksy die heldin (Ester) se dapper waagmoed. Eindig soos alle TV-stories … so wat is nou eintlik die punt? Die punt is dat – indien jy Ester só lees – jy die punt totaal mis! Dit is die punt! Onthou altyd die goue reël: ’n Mens mag nooit ’n Bybelgedeelte lees los van die konteks van die hele Bybel nie! Jy mag nie Ester as ’n losstaande verhaaltjie lees nie. Jy moet hom binne die raamwerk van die hele Bybel lees.
Doen ‘n mens dit, dan sien jy dat dit hier allermins gaan oor ’n heldin wat seëvier en ’n skurk wat aan die pen ry. Nee, jy kyk verder en jy sien ’n ánder maaltyd wat ook in ’n bloedbad geëindig het. Jy sien ’n Man wat een Donderdagaand saam met 12 van Sy volgelinge ’n ete hou. ’n Ete waar hulle die bevryding herdenk waarmee die Here hulle volk – baie eeue tevore – uit Egipte bevry het – droogvoets deur die Rooisee. Hulle herdenk dit met brood en wyn en ’n geofferde lam. Tydens hierdie ete vertel die Man aan die 12 dat Hysélf aan ’n houtpaal gaan sterf – sommer net kort ná die ete: die volgende dag. Die ete gaan in ’n bloedbad eindig – so voorspel Hy. “Nooit, dit kan nie gebeur nie!”, retireer hulle. “Ja, dit gaan” sê Hy, “en só sal God die Vader se wraak oor die sonde van júlle af na Mý toe oorgeplaas word. Dán sal die Vader sê: ‘Nou is Ek tevrede. Ek is tevrede dat hulle almal wat van nature boos is, nou gereinig is. Geen slawerny aan die sonde meer nie. Geen dood meer nie. Nou die ewige lewe.’” Dit alles – deur middel van die bloedbad ná die ete… Nie die boosdoener wat aan die pen ry nie, maar die Sondelose wat aan die pen ry om sodoende die boosdoeners te bevry – deur as Onskuldige aan ’n houtpaalgalg opgehang te word. Die bloedbad ná die fees-ete… sodat daar wéér ’n fees-ete op die bloedbad volg. Vir almal wat hulle saligheid in die bloedbad van Golgota vind, VOLG daar ’n fees. ’n Banket van verlossing – ja, tot by die bruilof van die Lam. En daaroor is nie twyfel nie, want kyk: hier is die brood en hier is die wyn….
Maar daar is iets meer: Lees ons Ester binne die raamwerk van die héle Bybel, sien ons geen sentimentele verhaaltjie waar die heldin seëvier en die skurk sterf nie. Ons sien ’n beeld van hoe ál God se vyande aan die pen gaan ry. Laaste hoofstukke van Openbaring. Onthou: Haman versinnebeeld die eeulange teenstand teen die evangelie – teen die koms van God se koninkryk. Ook die teenstand binne die kerk! Haman is nie maar net ’n bose misdadiger soos in TV stories nie. Dit gaan baie dieper as dit. Haman versinnebeeld die ONGELOOF van die mensdom wat buite Christus wil leef. Hy versinnebeeld die gees van die Antichris. Gaan lees die boek Daniël en Openbaring – dan sal u sien hoedat hierdie geweldige vyandskap en teenstand dit laat lyk/voel asof daar geen God is nie. Die ongeloof ontvang van God ’n sekere afgebakende tyd/ruimte om vrye speelruimte te hê. Maar, die Here sal die streep trek. En Hy doen dit op grond van die ánder bloedbad, waar die Onskuldige aan ’n houtpaal gesterf het. Die oorwinning is klaar behaal. Daarom weet die vyand dat hy min tyd het. En die mens wat aan sý kant staan dink/voel miskien vreeslik oulik, maar is eintlik beklaenswaardig. Hoeveel mense laat hulle nie mislei deur die skyn van mag en oorwinning wat die Antichris het nie! Dit lyk absoluut asof die ongeloof die wenner gaan wees. Moontlik ook vir sommige van u wat hier teenwoordig is. Ek doen ’n beroep op u: Kyk diep en goed na Ester 7 en sien waar die pad van die ongeloof gaan eindig. Dit is Hamman se pad. Die Here slaap nie en Hy laat nie toe dat daar met Sy vrye genade gespeel word nie. Hoor dit en hoor dit goed: Die mens wie se lewe wys dat hy/sy in ongeloof weier om te glo dat sy sondeskuld in die bloedbad van Golgota betaal is, sal vir ewig verlore gaan. En is die geestelike traagheid en lusteloosheid van sovele mense (ook kerkmense) nie ’n klinkklare bewys van blatante ongeloof nie? Wat help dit ‘n mens SÊ dat jy glo, maar jou LEWE trek ’n streep daardeur? Só ’n geloofsbelydenis is sonder meer dood (Jak. 2). Indien jy nie ’n lewenslus het vir die Woord en Evangelie nie en Christus nie opsigtelik die Here in jou lewe is nie – watter geloof is daar dan? Geloof in die Evangelie SAL mos vrug dra. Is baie van ons nie dalk besig om onsself te bedrieg nie? Wat gaan die uiteinde daarvan wees? Kyk na Haman en sien dit met u eie oë. Die lewende God sál klaarspeel met álmal wat in vyandskap geleef het teen Hom en Sy Christus. Gemeente, die mens wat nie sy saligheid vind in die bloedbad van Golgota nie en dan aansit by Gods feesbanket nie, gaan die gewisse bloedbad van die ewige verderf tegemoet en verbeur die fees-ete! Hoor dit! Dit is ’n saak van lewe en dood.
Maar Ester 7 gaan nog ’n entjie verder. Hy toon aan ons hoedat Ester nou van die Here dinge verwag wat bó haar gesonde verstand uitgaan. Hierdie Ester wat so ’n koud en afvallige en ongehoorsame kerklidmaat was. Kyk hoe waag sy nou om by die koning te gaan intree vir haar volk EN om Haman direk uit te wys as die boosdoener. Sy waag dit ook nou om haar Joodse identiteit openlik bekend te maak. Nie langer ’n geheime agent vir die koninkryk van God nie! En kyk hoe verneder die Here vir Haman voor Ester – die Jodin – die mense wie hy wou uitwis!
Hoor u wat skrywe die Heilige Gees in hierdie paragrawe EN hoor u wat sê die Gees vir ons? Kan u raaksien hoe die Gees ons aandag daarop wil vestig dat ons geloofsbelydenis van Sondae moet oorspoel na ons alledaagse lewe? Dat ons die Here mag vertrou, óók in sake wat ons logika en verstand te bowe gaan. Ons mag nie die Here inperk en Hom verklein sodat Hy binne ons verstand inpas nie. Ons mag groot dinge van Hom verwag en dit glo!
Daar is iets baie diepsinnig wat ons nie mag miskyk nie: Ons sien by Ester geen handevryf van lekkerkry dat Haman aan die pen sal ry nie. Ons sien ’n sekere soort stilte by Ester. Sy sê net (vir die koning) wat sy moet sê en daarna swyg sy. Sy soek nie verbete Haman se dood nie. Sy stel haar saak (gee die feite) en laat dan verder die saak verloop soos dit moet verloop. Sy weet die Here loop Sy eie pad. Sy wil hê dat REG moet geskied, maar sy wil nie EIE-geregtig wees nie. Sy neem nie sake in eie hande nie. Sien u hoe Ester geweet het dat die Here groter dinge kan doen as wat sý ooit van kon droom….
Neem net 1 minuut en dink net wat ’n verskil dit in ons lewensomstandighede sal veroorsaak indien ons nie net Sondae bely dat ons uit die genade van die Golgota-bloedbad leef nie én dat ons by die Here se fees-ete aansit nie, maar dit deursuur na ons hele lewe en dit ons daaglikse optrede, gedagtes, menseverhoudings, beïnvloed.
Laat ons vra vir die Here se sorg dat Hy sal gee dat die geloof wat ons Sondae hier bely, sal uitbreek uit hierdie kerkgebou en ons daaglikse lewens prakties verander.