Reeks oor ESTER nr. 5 Tema: Die Here flits die lig van Sy heerlikheid in die oë van Sy vyande
Skriflesing: Ester 5
Ons het gesien hoe die Here Sy OT-kerk in ’n noodsituasie gebring het. Die eeue-oue haat van die Amalakiete teen die OT-kerk het skielik herleef toe Haman – ‘n Amalakitiese afstammeling – dit regkry om ’n Wet van Mede & Perse uit te vaardig dat AL die Jode op een dag (13e Adar) uitgewis sou word. Te same met hierdie noodsituasie, was die Here egter ook besig om ’n genadige uitkoms voor te berei – o.a. deur vir Mordegai & Ester by Sy plan in te skakel – en dit terwyl Mordegai & Ester se lewe-met-die-Here maar in ’n treurige, patetiese toestand was. Dit is absoluut verbysterend om te sien hoe die Here se genade ’n mens drasties en dramaties verander: Gedrag, siening van die lewe, prioriteite. Skielik word Ester bereid om haar lewe te waag om na die koning te gaan om te gaan intree vir haar volk se behoud. Niemand kon sommer net na die koning gaan nie – ook nie eens die koningin nie. Daarom vra Ester dat al die Jode in die stad vir 3 dae moet vas. Sy noem niks van gebed nie. Sy praat glad nie van die HERE nie. Tóg herleef daar in haar hart iets van haar vroeëre geloofslewe. Haar siel ontwaak.
Die beste van alles: Die Here verhoor hierdie vas & verootmoediging van Sy afvallige kinders! Toe Ester na die koning gaan, sónder dat hý haar geroep het, werk die Gees in sy goddelose hart. Hy steek sy goue septer na haar uit. Dit beteken: Sy hoef nie te sterf nie. Wonderbaarlike verhoring van gebed. Maar, wie se gebed? Mense wat totaal veragter het in hulle lewe-met-die-Here. Maar, wanneer daar die geringste teken van terugkeer/verootmoediging is, dan weet die Here dit! Natuurlik is dit in elk geval Hý wat hierdie roering in die hart – van die begin af – bewerkstellig. En wanneer Sý inwerking-in-die-hart vrug produseer, dan beloon Hy nog daardie vrug/bekering. Ester (en haar mense) het nog nie eens ten volle tot die Here teruggekeer nie. Eintlik is dit net die nood van hulle situasie wat hulle noop om te vas. Eintlik is dit nog geen werklike toekeer tot die Here nie. En tog antwoord die Here hulle só wonderbaarlik!
’n Mens sien iets hiervan ook op ’n ander plek in die OT. Die geval van die goddelose koning Agab. 1 Konings 21. Min mense op aarde was so goddeloos soos Agab. Hy het hom 100% oorgegee aan sonde (v 25). Toe laat die Here die oordeel oor hom aankondig deur die mond van Elia. Toe Agab dit hoor, hang hy rouklere om en hy vas. Hy gaan slaap selfs met rouklere. Onmiddelik praat die Here met Elia: “Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig?”
Op dieselfde wyse verkry Ester ’n verrassende antwoord op gebed. Die koning is haar totaal goedgesind! Ag, wat sou die satan nie wou gee dat Ahasveros net daar vir Ester laat doodmaak nie! (Soos dit die gebruik was met iemand wat sommer by die koning inbars). Onthou: Ons het hier te make met ’n fyn berekende aanslag van die satan – om van die verbondsvolk ontslae te raak. ’n Wet van Mede en Perse: Alle Jode SAL sterf op 13 Adar. Maar, die Here skyn met ’n skerp flitslig in die duiwel se oë! Die lig van Sy heerlikheid en Sy vrye guns. Die Here openbaar Sy heerlikheid deurdat Hy vrymagtig in Mordegai & Ester se hart werk en ook in ál die Jode in Susan. Hulle verootmoedig hulle deur 3 dae vas. Die Here verhoor hulle deur die koning se hart week te maak en Ester se lewe te spaar. En nou het Ester die volle geleentheid om met Haman af te reken. Die koning se hart is absoluut in die hand van die Here – al is hy ‘n verstokte heiden. Spreuke 21:1.
Maar hfst 5 laat ons iets meer sien: Dit is duidelik dat die duiwel se oë regtig verblind was deur hierdie lig vd Here. Vir ’n oomblik besef satan dat hy grond verloor het. Nou kom hy met ’n tweede poging om sy posisie te versterk. Haman se familie raai hom aan om onmiddelik vir Mordegai aan ’n paal op te hang. Want kyk, Mordegai verseg om eerbied aan Haman te betoon. En Haman kan nie leef sonder ménse se eer nie. Álles tel só in Haman se guns. Dit is net hierdie simpele Mordegai wat hom elke dag irriteer. En wat doen ’n mens met iemand wat jou irriteer/ iemand wat jy nie kan verstaan nie/ iemand wat ánders is? Jy raak van hom ontslae, natuurlik! Net soos die Jode van Jesus ontslae geraak het – omdat hulle Hom nie kon verstaan nie.
Nou raai Haman se familie hom aan om ’n galg te bou om vir Mordegai aan op te hang. Hier sien ons die tweede strategie van die satan. Eintlik: Nie ’n GALG, maar ’n PAAL. “Galg” is foutiewe vertaling. In daardie tyd het hulle mense doodstraf gegee deur ’n paal se punt skerp te maak en dan die persoon op sy maag op die skerp punt te laat lê en hom dan met ’n ander voorwerp vas te druk sodat die punt deur sy ingewande steek. Hoe erger die misdaad, hoe hoër die paal – sodat die persoon in die openbaar bespot kon word. Dit was heel waarskynlik só ’n paal wat Haman laat oprig het. 23 Meter hoog!!
Maar, nou moet u mooi sien hoedat die Here weer eens die lig van Sy heerlikheid in die vyand se oë laat skyn. Op die ou end gaan Haman self aan sy eie galgpaal hang. Maar, hoe gebeur dit? Dit gebeur deurdat die Here hom verblind met sy eie hoogmoed! Die Here maak hom totaal blind soos ’n mol – d.m.v. sy eie hoogmoed. Want hoogmoed kom mos net voor die val.
Kyk, die Here werk deur Ester om van Haman ontslae te raak. Ester werk met wysheid. Die koning het mos geweet dat daar ’n rede moes wees waarom sy haar lewe waag deur ongenooid by hom in te storm. Maar sy sê nie onmiddelik wat op haar hart is nie. Sy nooi eers die koning en Haman na ’n banket. En tydens daardie banket nooi sy hulle na ’n tweede banket. Sy wil eers hulle guns wen. Sy wil nie hê Haman moet agterdogtig word nie. Sy wil hom gevlei laat voel. Sodat sy hom ’n onverwagte uitklophou kan gee.
En Ester se strategie werk soos ‘n bom! Haman se ego is uitermate gestreel. “Dink net! Die koningin nooi NET VIR MY na haar banket”. Hy kon nie wag om by die huis te kom om by sy familie te gaan spog nie. Hy is totaal verblind deur sy eie eer. Sy hoogmoed maak hom só opgeblase dat hy totaal verblind word. Hy noem ook die lys van dinge waarop hy so trots is: Sy geld, sy kinders, sy posisie, sy loopbaan wat die hoogte in geskiet het, en veral dat die koningin hom so vereer het!! Dit is amper so asof sy geluk volmaak is. Byna 100%. Maar, dit raak nog nie aan die 100% nie. Want Mordegai lewe nog!! Indien Mordegai kan dood wees, sal sy geluk absoluut volmaak wees! Dit is al wat nog kortkom. Dit is die rede waarom sy familie hom aanraai om ’n galgpaal op te rig en vir Mordegai te laat ophang. Nog voordat Mordegai aangekla en verhoor en gevonnis kon word.
Maar ons moet raaksien hoe Haman se bose hart onderworpe is aan die hoë en heilige Raadsplan van God. Die Here gebruik Haman se hoogmoed om sy eie val te bewerkstellig. Want hy gaan aan sy eie galg sterf. En hy gaan álles verloor waaroor hy gespog het. En God se eie Seun – Jesus Christus – gaan jare later kom en aan ’n houtgalg sterf. Nie om alles te verloor nie, maar alles te WEN. 1 Petr 2: 24-25. En om AL die vyande van die Here finaal te vernietig. Kyk na Openbaring: Al Sy vyande sal voor Hóm die knie buig. Die finale flitslig van Sy heerlikheid, wat God in die vyand se oë skyn, is JESUS se koms – eerste én tweede koms.
Wat ’n geweldige bemoediging – om ook in óns lewens te mag weet dat die Here steeds met Sy heerlikheid in die vyand se oë skyn. Jesus van Nasaret is mos daardie heerlikheid. Moenie dink dat sonde, swakheid, feilbaarheid, boosheid van hart die Here onkant betrap nie! Moenie vir een oomblik dink die Here staan magteloos nie. Moenie dink dat omstandighede – waarteenoor ons magteloos voel – die Here skaakmat het nie. Maar juis daarom moet ons ontslae raak van alles wat ons nog vasbind en vasketting – en in vryheid begin leef! Raak ontslae van alle hindernisse!!
Ons mag ook nooit dink dat dit by Here sal verbygaan indien ons ons verootmoedig voor Hom nie. Ons mag nooit dink dat óns té gering is nie. Kyk maar wat het gebeur toe Ester-hulle gevas het. En hulle was nie eens toegewyde gelowiges nie! Wanneer die Here in ons die ootmoed bewerk, laat ons ons dan verootmoedig – met die sekere wete: Die Here slaap nie: AL Sy vyande SAL voor Hom die knie buig.
Is dit nie dalk hoogtyd dat ú op ‘n plek kom van ware gebrokenheid en ootmoed voor die Here nie? Hy bewerk dan die ootmoed, waarom dan hard bly? Wanneer laas het u werklik gereageer op die Gees se inwerking en voor Hom gebreek – dalk oor persoonlike sondes of dalk oor drukkende omstandighede? Miskien is dit juis wat meer dikwels in ons eredienste moet gebeur: Dat hier meer trane voor Sy aangesig vloei. Dat ons harte gesmelt word deur die Woord en Gees. Dat ons lewens daadwerklik vernuwe word deur Sy krag en ons daadwerklike gebedsverhorings begin sien.
Laat ons moed skep: Toe daar by Ester die geringste tekens van ootmoed sigbaar was, het die Here haar & haar volk se omstandighede kragdadiglik verander.