Reeks oor ESTER nr. 2 Tema: Die Here oorheers Sy gemeente se sonde
Skriflesing: Ester 2
Ons het in hfst 1 gesien hoedat die heidense Persiese koning Ahasveros van sy koningin Vasti ontslae geraak het omdat sy hom nie wou gehoorsaam nie. Maar, blykbaar het hy later spyt gekry. Ongelukkig kon die wette van Mede & Perse nooit verander word nie: Vasti sou nooit weer kon terugkeer nie. Die koning se amptenare sien egter hoe eensaam en buierig hy is. Toe maak húlle die voorstel om ’n skoonheidskompetisie te hou en ’n klompie van die mooiste meisies in die Persiese Ryk bymekaar te kry, met slégs koning Ahasveros as beoordelaar. Dan kon hy vir hom ’n nuwe koningin aanskaf. Dit is hoe Ester in die prentjie kom. Haar oom Mordegai het gesorg dat sy een van die meisies is. Mordegai het haar as weeskind grootgemaak. Hulle was Israeliete (uit die Here se OT-kerk) wat a.g.v. die ballingskap in Persië gesit het. Hier het ons egter te make met ’n ander soort skoonheidskompetisie. Want die oomblik toe Hegai, wat die meisies moes versamel, vir Ester sien, het sy guns in sy oë gekry en het hy haar voorkeurbehandeling gegee. En toe sy uiteindelik by koning Ahasveros uitkom, het sy kop en skouers bó die ander meisies uitgestaan. Die koning het onmiddelik die kroon op haar kop geplaas. En op hierdie manier word ’n Israelitiese meisie – uit die volk/kerk van die HERE – koningin van Persië! En, soos ons later sal sien, was dit deur die Here se voorsienigheid – sodat Ester later die Jode van uitwissing kon red. Wanneer jy Ester lees, moet jy dit goed raaksien …. Dat die Here se voorsienigheid soos ’n goue draad loop. Hy bestier alles – terwyl Hy op die agtergrond werk. Ter wille van SY plan, SY trou aan SY belofte. Kyk mooi, dan sien u dit: Ester wat skielik Hegai se aandag trek. Die voorkeurbehandeling wat hy haar gee. Die guns wat sy by Ahasveros kry. Mordegai wat hoor van die twee poortwagte wat die koning wil doodmaak en dit – deur Ester – aan die koning bekend maak. Mordegai wat nie beloon word nie. Later speel hierdie insident ’n groot rol. Dan sien ’n mens dat die Here se voorsienigheid dit bewerk het. Dit is een van die redes waarom die Here se Naam nie in die boek Ester genoem word nie. Hy werk deur Sy voorsienigheid – op die agtergrond.
Maar, daar is ook ’n ander rede waarom die Here se Naam nie genoem word nie. Omdat Mordegai en Ester glad nie sulke toegewyde gelowiges was nie. Hulle was in naam deel van die kerk, ja. Deel van die verbondsvolk, ja. Maar, afvallig. Onthou: Hierdie episode speel af jare nadat die Here Sy volk laat terugkeer het uit die ballingskap na Jerusalem. Dit was Sy wil: Dat almal moes teruggaan. Slegs 60 000 het egter teruggekeer (Esra & Nehemia). Verreweg die grootste gedeelte van die volk het nie teruggegaan nie. Hulle was té ingeburger in die vreemde. Hulle het opgang & geld gemaak. In Jerusalem sou hulle weer van voor af moes begin. Maar onthou: Jerusalem & tempel was belangrik vanuit die Here se oogpunt! Dáár (in Jerusalem) moes die tempel herbou word. Dáár moes die Verlosser uit Israel gebore word! Dáár is die offers gebring en die versoening van sondes bewerk. Maar, vir die meeste Jode was dit glad nie so belangrik nie. Belangriker was die geld wat hulle in Persië gemaak het. Die Here, Sy belofte, Sy verbond, Sy kerk was van minder belang. Die Here se belofte en Sy wil het maar sleg afgesteek teen die fantastiese opgang wat die Jode in Persië gemaak het! Waarvoor sal hulle teruggaan na Jerusalem om ’n ou tempel te gaan herbou?? Mordegai en Ester was ook van díé wat nie wou terugkeer na Jerusalem nie.
U sien dus hoe afvallig hulle was. Mordegai was uit die stam Benjamin, maar sy naam was na ’n afgod vernoem : Mardok. “Mordegai” beteken “aanbidder van Mardok”. Intussen het hy ’n invloedryke posisie beklee by Ahasveros se paleis – terwyl dit nie die Here se wil was dat hy daar moes wees nie —- hy moes in Jerusalem gewees het. Sien u hoe koud en afvallig was Mordegai & Ester? Geen wonder dat Mordegai vir Ester belet om haar Joodse afkoms bekend te maak. Onthou: Om jou Joodse afkoms bekend te maak, was sinoniem met jou godsdiens. Eintlik belet Mordegai vir Ester om haar geloof te bely teenoor die ongelowiges. Skaam en bang. Vrees: Dalk wys Ahasveros haar af. Verloën eerder die Here as om posisie te verloor. Só gaan dit wanneer ’n mens buite die Here se wil leef: Jy is erg swygsaam wanneer dit by geloofsake kom. Jy kan baie praat en babbel oor ánder dinge, maar wanneer die Here se belange ter sprake kom…. Soos Jona ook was. Het geen getuienis. Het min te sê. U sien: Die Here, Sy verbond, Sy belofte van komende Verlosser beteken vir hulle weinig. Daarom het Mordegai ook geen probleem dat Ester met ’n heiden trou nie. Terwyl die Here se wet dit verbied het. Dit was teen die Here se wil. Maar Ester trou goedsmoeds met ’n ongelowige. Dit gaan mos darem tog oor aansien. Sien u hoe koud was hierdie gemeentelede? Vervalle verbondsmense. Hulle het die beleid gevolg van verdraagsaamheid/ akkommodeer maar alles …
Verstaan u waarom die Naam van die Here nie genoem word nie? Dit is asof die Here ’n sluier wil trek oor hierdie mense. Dit is asof die Here nie saam met hulle gesien wil word nie. Daarom gee Hy ook geen verdere beloftes nie. Hy praat glad nie. Maar, Hy WERK wel, maar dan op die agtergrond, om Sy mense TOG te behou! Om hulle van uitwissing te red. Dit is wat van die boek Ester so absoluut merkwaardig is. Dit bevat verbysterende goeie nuus. ’n Vreugdeboodskap by uitnemendheid. ’n Boodskap wat ons logika geheel en al te bowe gaan. ’n Boodskap wat ons oë oorkruis laat kyk. Naamlik dat die HERE bo-oor hierdie mense se koudheid en afvalligheid en ongeloof TOG STEEDS triomfeer. En Sy kerk herstel. Al skaam Hy Hom só vir Sy mense, dat Hy nie eens Sy Naam wil koppel aan hulle nie, maak Hy planne om hulle te red!!
Kan u dit duidelik sien? In die boek Ester verlos die Here NIE Sy kerk in antwoord op húlle berou, bekering en geloof nie. Want daar was absoluut geen inkeer nie. Mordegai en Ester het nie ’n saak gehad met God & Sy verbond nie en nie ’n saak gehad met Jerusalem nie. Maar, waarom verlos die Here hulle dan? Hy doen dit omdat Hý ’n BELOFTE gemaak het aan Adam in Genesis 3. En omdat Hy getrou is. En omdat Hy van plan is om die belofte te vervul. Wátse belofte? Dat Hy ’n Man na die wêreld sal stuur wat die mens uit die sondeval sal red. En Hy sal nie toelaat dat Sy volk se afvalligheid die koms van hierdie Verlosser skipbreuk laat ly nie. Want Hy het aan Adam belowe dat uit die vrou ’n Saad (’n hy/hom) gaan kom. Abraham se saad (Gen 12). Juda se saad (Gen 49), Dawid se saad (2 Sam 7). Dáárom verlos Hy Sy volk. Daarom oorheers Hy hulle afvalligheid. Sodat Dawid se groter Seun kan kom in Betlehem. Want alhoewel Mordegai & Ester ongehoorsaam was, het hulle nie buite die Here se beheer & sorg geraak nie. Sy voorsienigheid lei hulle waar hulle nie gelei wil wees nie.
U sien: Satan wou (deur Haman) die Jode uitwis, om Christus se koms te verhinder. Om God se belofte tot niet te maak. ’n Mens moet die Jode VOOR CHRISTUS anders sien as die Jode NA CHRISTUS (tot vandag). In die tyd VOOR Christus se koms, was alle aanvalle op die volk Israel tegelyk ook direkte aanvalle op Christus se koms. Maar, toe Christus uiteindelik kóm, toe verwerp die Jode Hom. Maar God bereik deur Jesus Sý doel. Nou, ná Christus, word Jodevervolging iets anders. Hulle is nou net soos enige ander volk wat swaar kry. Haman se vervolging vd Jode was iets anders as Hitler se Jodehaat! Haman se vervolging van die Jode was ‘n direkte aanslag op Christus!
Ek hoop u kan raaksien dat die boek Ester (ook hele Bybel) NIE ’n openbaring is van die wonderlike vrome gelowiges Mordegai en Ester nie – en dat ons hulle voorbeeld moet probeer navolg nie. Nêrens in die Bybel sal u fantastiese geloofshelde vind nie. Dit is net nie die fokus van die Bybel nie. Dit is die moeilikheid met baie Kinderbybels: Die fokus is soms op wonderlike gelowiges (helde) wat nagevolg moet word. Maar, in die Evangelie gaan dit juis nie oor die mens nie. Ons moet juis nie Mordegai en Ester probeer navolg nie !!
Waaroor gaan dit dan? Indien die Bybel (boek Ester) dan nie ’n verslag is van wonderlike vrome gelowiges se werke nie, wat is dit dan?? Ester is ’n verslag van GOD se groot dade. Dit verkondig ’n vreugdeboodskap wat jou asem letterlik wegslaan. Naamlik van hoe GOD ten spyte van Sy eie kinders se heidense verval, steeds Sy werk voltooi het. Hy red selfs Sy volk van ’n gewisse dood terwyl daar by hulle geen berou of bekering was nie. Presies soos wat Hy ons van die ewige helse dood verlos het in Sy Seun se kruisdood toe ons nog absolute vyande van Hom was (Rom 5:10)! Op hierdie manier bring die boek Ester ALLE EER slégs aan die Here God (al word Sy Naam nie een keer genoem nie!).
Maar nou is daar tog nog ’n vraag wat oorbly. Beteken dit alles nou (vir ons, vandag) dat dit maar reg is dat die Here se kinders koud, lou en afvallig is? Dat die Here tóg maar sal triomfeer? Antwoord: Ondubbelsinnig NEE. Dit was ook in Ester se tyd nie reg nie. Dit is nooit “maar reg” nie. Ja, in Ester se tyd MOES Christus nog kom en die afvallige Jode mag dit nie verhinder het nie. Maar, toe Christus gekom HET, HET God in Hom volkome getriomfeer oor ons afvalligheid sodat óns, wat ná Pinkster leef, en wat Sy kerk is, JUIS NIE afvallig kan gaan leef nie. Noudat die Heilige Gees gekom het en ons aan die volheid van God kom deelgee het, is dit ’n baie ernstige saak wanneer gelowiges lou & flou & koud & lendelam is. Dit grens aan die sonde teen die Gees. Om vir eie gerief te leef, geen erg te hê aan die herstel van die kerk nie, geen erg te hê aan Sy verbond nie NADAT die Heilige Gees van heerlikheid uitgestort is, is so goed om God tot leuenaar te maak. Ons mag nooit Sy ontferming en barmhartigheid misbruik as ’n verskoning om afvallig te leef nie. Wie dit aanhou doen, maak hom/haar uiteindelik skuldig aan die sonde teen die Heilige Gees. Nee, laat ons eerder met stomme verbasing raaksien dat Hy ons – terwyl ons nog so goddeloos was – liefgehad het en ons verlos het in Christus. EN laat ons dan in oopmond-verwondering voluit vir Hom leef – in Jerusalem – in Sy kerk. Verkeerdelik dink ons dat, wanneer ‘n kind van die Here sondes in sy/haar lewe toelaat, die Here Sy rug draai. Byna soos ‘n drinkglas onder ‘n kraan en dan word die kraan toegedraai omdat daar vuilheid in die glas kom (God veroordeel, verdoem en verwerp). Nee, die kraan loop steeds voluit, maar die glas word omgedraai met sy boom na die stromende water gekeer! Dit is óns wat ons rug op Hom draai TERWYL Hy ons nog net so liefhet en steeds al Sy seëninge en vryspraak handhaaf (die lopende water)! Hoe eenvoudig is die oplossing nie: Draai om! 1 Johannes 1:9.