TAFELBERG GEMEENTE Reeks oor ESTER nr. 1
Tema: ’n Groot koning onbewustelik in diens van ’n groter Koning
Skriflesing: Ester 1
Hoe dikwels het ek nie al myself betrap dat ek ongeloofstaal praat nie. Sommer so in die alledaagse lewe. “Gelukkig” het dit of dat gebeur OF “toevallig”… Pleks daarvan om te erken/bely dat dit DIE HERE is wat beskik en werk in Sy voorsienigheid. Ook in alledaagse dingetjies. Moet ons nie baie meer daarop ingestel te wees om geloofstaal direk en prontuit te praat nie? En om raak te sien hoedat die HERE op die agtergrond werk in ons alledaagse lewens? Dink bv. aan Josef: Hoe maklik kon hy vir sy broers gesê het: “Wat op aarde het julle besiel om my te verkoop aan die Egiptenare? Wat het julle my nie aangedoen nie?” Maar wat sê hy? “Júlle het wel kwaad gedoen, maar GOD het daardeur goed gedoen! Nou is daar koring in die tyd van hongersnood”. Josef se broers hét kwaadgedoen, maar op die agtergrond was die HERE besig. In Sy voorsienigheid. “Voorsienigheid” beteken die Here is agter die stuurwiel – agter die skerms – en Hy stuur sake vir Sý doeleindes. Dit veroorsaak dat elke dag vir die gelowige ’n avontuur is. Dit maak dat ’n gelowige rustig kan bly, al loop dinge ook verkeerd. Met die wete: Die HERE heers.
Neem nou net Ester 1 as voorbeeld. Dit klink soos net maar ’n gewone wêreldse storietjie van ’n heidense koning wat baie mag het en baie ryk is. Hy regeer die hele destydse wêreld (Mede en Perse) en vertoon sy mag en rykdom tydens ’n kleinerige partytjie wat net so 180 dae duur. Toe hy goed dronk is, wil hy ook nog sy vrou se skoonheid aan almal vertoon. Sy weier en hy reël gou ’n egskeidinkie en kry ’n beter vrou. ’n Mens lees dit en jy wonder: Wat op aarde maak dit in die BYBEL? Dit geld eintlik vir die hele boek Ester. Wat maak dit in die Bybel? Die Naam van die Here word nie eens een enkele keer in die hele boek genoem nie. Wanneer ’n mens dit lees, is jy geneig om te dink alles is net toeval en geluk.
Kyk dit werk mos nou só: Toevallig wil die koning se vrou hom nie gehoorsaam nie. Toevallig word ’n Joodse meisie (Ester) in haar plek koningin. Toevallig red haar oom (Mordegai) die koning se lewe toe booswigte hom wou doodmaak. Toevallig stel die koning toe ’n bose man (Haman) aan in ’n posisie net onder die koning. Toevallig wil Mordegai egter nie eer aan hom bewys nie. Toe besluit Haman om al die Jode dood te maak. Hy bou ook ’n galg om Mordegai aan op te hang. Toevallig kon die koning een nag nie slaap nie en hy lees sy ou anale en hy lees daar van Mordegai wat sy lewe gered het, maar wat nog nooit beloon was nie. Toe moes Haman vir Mordegai beloon. Toe is hy eers kwaad vir die Jode. Gelukkig is Ester egter koningin en sy bewerk ’n plan om die Jode se lewe te spaar en op die ou end hang Haman aan sy eie galg. En so, deur al hierdie toevallige dinge, word die Jode gered van ondergang. Wat ’n geluk!! Niks anders nie as ’n bloot toevallige sameloop van omstandighede!!… Só sal enige ongelowige/onkundige, wat Ester lees, dit verstaan. “Geluk en toeval” – soos wat ook die meeste van óns ons daaglikse lewens sien!
Maar ís dit so? Ons mag ons nie laat flous deur die feit dat die Here se Naam nêrens genoem word nie – en dat dit maar lyk soos ’n gewone storietjie nie. Die feit dat die Here nêrens genoem word nie, is met doelbewuste opset. Want, dit gaan juis hier oor hoe die Here op die agtergrond werksaam is ter wille van Sy kerk/gemeente/volk. Dit gaan oor die Here Wie se hand verskuil sit AGTER oënskynlik “toevallige” alledaagse dinge. Soos ’n hand in ’n handskoen.
Maar dit is verder belangrik om raak te sien dat die Here stry vir Sy kerk. Ons mag dit nie miskyk dat dit hier oor die JODE gaan nie. Die Israeliete wat die Here se gemeente was in die OT. Die Here stry vir húlle. Maar NIE omdat hulle sulke oulike vrome Godvresendes was nie. Hulle sit juis waar hulle sit – naamlik in ballingskap in die land van Mede & Perse – omdat hulle so ongehoorsaam was. Hulle sit ver buite die beloofde land – tussen die heidene – onderworpe aan ’n heidense koning …. JUIS vanweë hulle goddeloosheid. Hulle het dit absoluut verdien dat Haman se bose plan sou slaag en hulle almal doodgemaak word…
Maar, ewe skielik begin die onsigbare hand van God die omstandighede reël sodat Sy volk NIE uitgewis word nie! Pleks van verdelg, RED Hy hulle. Hoe ongelooflik dit ookal mag wees – dit staan swart op wit in die boek Ester. En dit maak vir ons iets oop van die onmeetlike jammerhartigheid van die lewende Here. ’n Jammerhartigheid wat uiteindelik (600 jaar later) daartoe sou lei dat Hy Sy eie Seun van Sy bors sou afskeur en Hom laat kruisig – om skuldiges te red!
Maar, dit is nie die enigste rede waarom die Here hier (agter die skerms) vir Sy volk stry nie. Daar is ’n meer dieperliggende rede. En dit is: Die Here is hier steeds besig om getrou te bly aan Sy belofte wat Hy reeds in die Paradys gegee het. Onthou: Die hele Bybel handel oor een enkele BELOFTE. Die belofte wat die Here gegee het dat Hy die chaos en ellende van die sondeval gaan herstel deur ’n MAN wat sou kom en die slang se kop sal vermorsel – en sodoende mense red wat eintlik verdien om verlore te gaan. Dít was die enigste rede waarom Israel in elk geval Sy volk geword het. Want, deur húlle moes hierdie beloofde Man na die wêreld kom. Húlle moes aan Hom geboorte gee, maar indien Hamman hulle sou uitwis sou dit nie moontlik wees nie. Verstaan u waarom die Here hier stry vir Sy volk? Dit gaan oor Sý trou aan Sý belofte. Dit gaan ook oor u en my redding wat op Golgota moes plaasvind deur die Man wat moes kom. O, is hierdie Here nie Een aan Wie ons ons net oopmond kan vergaap nie?!?!
Nou kan ons presies verstaan wat in Ester 1 aangaan. Eintlik is hoofstuk 1 so komieklik. Gelaai met humor. Hier sien ons hierdie magtige groot koning Ahasveros (net ’n titel). Letterlik koning van die hele destydse wêreld. Hy is só magtig dat dit hom 180 dae neem om sy prag & praal ten toon te stel. Maar, sonder dat hy dit besef is hy in diens van ’n groter Koning. Hy dínk hy is die magtigste, maar al die tyd is daar ’n groter Koning wat onsigbaar besig is om sy omstandighede só te bestier dat ’n totaal ánder doel bereik kan word. Eintlik is die magtige Ahasveros maar net ’n marionet in die hand vd Here. Want die Here wil hê dat ’n Israelitiese meisie koningin moet word – met die oog op die latere redding van die Jode.
Maar, Ahasveros weet niks daarvan nie. In sy dronkenskap wil hy sy vrou, Vasti, se fisiese skoonheid aan almal vertoon. Hy wil haar uitstal soos ’n skouperd. Intussen het die Hére dit in sy hart gegee. En toe weier Vasti om te gehoorsaam. Ook dít het die Here bewerk. Vasti weier om haar liggaam uit te stal op ’n tydskrif se voorblad (in ons idioom gesê). Ewe skielik sit Ahasveros met ’n skandaal. Hy is só ’n magtige koning, maar hy kan nie eens sy eie vrou beheer nie! Ís hy dan ooit werklik so magtig? Dit lyk dan asof sy vrou sterker is as hy!! En, sê nou maar net die miljoene vrouens in sy koninkryk hoor dit en maak ook so met húlle mans!?
Eintlik kan ons vir Vasti admireer vir haar keuse. Maar, wat nou van Efes 5 wat sê dat die vrou aan haar man onderdanig moet wees? Ja, maar onthou dat Efes 5 dit vir gelowige mans & vroue binne die gemeente sê. Vasti & Ahasveros was heidene. In daardie tyd was die vrou ook niks meer as ’n gebruiksvoorwerp vir die man nie. Kyk maar mooi: Die vrouens het apart fees gehou. Hoort glad nie tussen mans nie. Maar nou, toe hy dronk is, wil die koning sy eie aansien nog verder verhoog deur sy vrou fisies uit te stal. Dít is hoegenaamd nie die onderdanigheid waarvan Efes 5 praat nie. Efes 5 sê: die gelowige man moet sy vrou liefhê SOOS Christus die kerk liefhet EN DAN volg die vrou hierdie man SOOS die kerk vir Christus volg! Efes 5 sê NIE dat die vrou haar aan haar man moet onderwerp indien hy ’n ongelowige is en hy haar minag nie. Soos Ahasveros met Vasti gedoen het!
Ons moet egter die eintlike punt raaksien: Hierdie keuse van Vasti, was deur die Here bewerkstellig. Al was sy ’n heiden. Die Here is mos Koning oor die ganse skepping, nie net oor die gelowiges nie. Sentraal binne-in hierdie magtige koning Ahasveros se koninkryk, is ’n ander Koning besig om Sý koninkryk op te rig! Hy is besig om Sy kinders in belangrike posisies te plaas. Die Here is met Vasti besig, want Hy wil ’n ander koningin daar hê – ’n Joodse meisie … wat ESTER sou wees. Met ’n baie groot doel voor oë: Sodat ISRAEL kon voortbestaan om JESUS aan die wêreld te gee sodat Tafelberg se mense die vreugdeboodskap kan hoor dat GOD red.
Kan u agterkom dat ons te make het met ’n HERE op Wie ’n mens jou kan verlaat? Veral ook wanneer omstandighede nie so rooskleurig lyk nie. Hy vestig Sy koninkryk IN ons aardse koninkrykies. Al werk Hy agter die skerms/onsigbaar. Hy stry vir Sy bloedgewaste kinders. Hy gee om vir Sy kerk/gemeente. Hoe opwindend is elke dag wat ’n mens met só ’n Here mag leef!