EINSTEIN EN EMMY.

Einstein het uit Duitsland gevlug na Amerika en vir hom ’n dubbelverdieping huis gekoop baie naby aan die Princeton Universiteit. Dit is by hierdie huis dat hy talle gesprekke gehad het met geleerdes oor talle sake.

Einstein het ook ’n ander besoeker gehad. Sy was verseker nie in die wêreld se oë ´n belangrike persoon  nie. Sy was tien jaar oud en haar naam was Emmy. Emmy het gehoor dat ’n baie aangename en vriendelike man , wat baie van wiskunde weet, naby hulle woon. Emmy het bietjie probleme gehad met haar Graad vyf wiskunde. Sy het besluit om na die man te gaan om te verneem of hy haar nie miskien kan help nie.

Einstein was meer as gewillig en het alles wat sy wou weet mooi, duidelik en volledig aan haar verduidelik. Hy het ook aan haar die uitnodiging gegee dat sy enige tyd as sy hulp nodig het na hom kan kom.

Dit was ’n paar weke later dat een van die bure vir Emmy se moeder vertel dat sy  gesien het dat Emmy gereeld na die man gaan. Dadelik het Emmy se moeder haar verbied om na Einstein te gaan omdat hy so ’n besige man is. Sy is toe ook dadelik na Einstein se huis om verskoning te vra dat Emmy hom so pla. Einstein het haar dadelik in die rede geval en gesê dat sy hom nie pla nie want hy is meer as gewillig om iemand te help wat wil leer. Hy het by Emmy se moeder gepleit dat sy haar nie moet verbied om te kom nie en bygevoeg dat Emmy meer as welkom is in sy huis.

Is dit nie vir ons ook so met God nie? Vanaf  die begin van die Bybel is ons welkom in Sy huis. God gee ons die liefde en uitnodiging om na Hom te kom. Hoe doen ons dit? Ons gaan na Sy huis en praat met Hom deur die gebed. Is dit nie ’n wonderlike voorreg nie?

KOL. 4:2  Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging;

MATT. 21:22  En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.

GEBED

Dankie Here dat ek enige tyd in U huis welkom is. Ek wil nooit my gebedstyd verwaarloos nie. AMEN

0:00
0:00