TAFELBERG GEMEENTE 
EFESIËRS – REEKS NO 4
Tema: Een nuwe mensheid Skrif
Efesiërs 2: 11-22

Die kans is nul dat ons ooit ‘n idee sal kan vorm van die verwydering wat daar was tussen Jode en Nie-Jode in die tyd toe ons Here Jesus op aarde was. Ondenkbare diskriminasie, haat & wantroue. Ons eie geskiedenis van rassediskriminasie is ‘n Sondagskoolpiekniek in vergelyking met die destydse stryd tussen Jode & Nie-Jode. Onthou: die destydse wêreld was letterlik verdeel in hierdie 2 groothede (“nasies”). Alle Nie-Jode (van watter nasie ookal) was saamgebondel in één groep téénoor die Jode, naamlik: Nie-Jode (Gentiles). Dis moeilik om die NT te verstaan sonder om dít te verstaan, want dit vorm die agtergrond van byna al die NT-geskrifte. Die sondige gevalle hart vd mens werk só dat, indien jy vermoed dat jy bó ander bevoorreg is & gawes ontvang het, verhef jy jou bó ander en sien op hulle neer. Daardie hoogmoed is die wortel van alle spanning/verdeeldheid tussen mensegroepe – tot vandag. En geen ménslike oplossing/inisiatief los dit ooit op nie. Soos ons in ons eie land kan sien. Wat was die stryd tussen Jode en Nie-Jode? Die Jode het die hele gees/atmosfeer/bedoeling vd OT verkeerd verstaan en gedink húlle is – as fisiese nasie – bo ander verhewe omdat hulle aan hulle liggame besny was en dié volk was met wie God unieke bande gehad het. Die Nie-Jode is die ónbesnedenes, die honde, die buitestanders. Die Jode het die verwagting van ‘n komende Verlosser gehad, maar die Nie-Jode was sonder hoop. God het Homself aan hulle as Jode geopenbaar en Sy Woorde aan hulle gegee, maar die Nie-Jode was in duisternis. Die Nie-Jode is die onbesnedenes/honde/sonder Christus/uitgesluit uit Israel/ver van God/geen deel in Gods beloftes/sonder hoop/sonder God. Die Nie-Jode is gesien as VER. Die Jode het hulself gesien as NABY. Daarom was daar geweldige vyandskap. Die Jode het neergesien op die Nie-Jode en die Nie-Jode was jaloers op die Jode se geestelike voorregte. Daar was letterlik ‘n onsigbare muur wat Jode en Nie-Jode verdeel het. Die groot ding wat hulle verdeel het, was die Joodse seremoniële wet (v 15). Nie die Wet, die “10 gebooie” nie, maar die 100de seremonies wat die Wet omhul het en wat voorafskaduwings was van die komende Here Jesus. Nadat die Here Jesus gekom het, is die sermonies heeltemal afgeskaf (“opgehef” v 15). Seremoniële Wet = Tempel, offers, kleredragte, wassinge, rituele. Sekere dae wat heiliger was bó ander. Reinheid & onreinheid. Vat jy aan iets verkeerd (bv ‘n lyk), is jy onrein en moes jy by die tempel reinigingsrituele deurgaan ensovoorts. Dit is die seremoniële wet. Juis hierdie seremonies het die Jode baie arrogant gemaak teenoor die Nie-Jode – wat by voorbaat as onrein gesien is. Dit het die skeidingsmuur tussen Jood en Nie-Jood versterk. Daarom het ‘n Jood nie ‘n Nie-Jood gegroet nie, nie gekuier nie, nie geëet nie, nie sy hand geskud nie. ‘n Mens kan jouself indink watter geweldige ding dit vir beide Jode en Nie-Jode moes wees om, ná die uitstorting vd HGees & ná hul bekering, in één gemeente saam te wees as broers & susters in Christus!! Ruimte maak vir mekaar. Mense wat jy voorheen verag het, te omhels in Christus. Die koms van Jesus, die uitstorting van die Gees en die lewensvernuwing vd wedergeboorte het letterlik ‘n rewolusie veroorsaak! En onthou: ná bekering, was Jood & Nie-Jood in één gemeente saam. Geen sprake van aparte gemeentes vir aparte groepe nie! Wie gééstelik één was in Xp, was sigbaar één in een gemeente. Die hele NT getuig daarvan. As ons met hierdie agtergrondsinligting na Efes 2: 11-22 gaan kyk, verstaan ons onmiddelik waarvan die Apostel Paulus praat. Onthou net wat hy in hfst 2 wil sê: Hy wil hê sy lesers moet onthou wat hulle wás en wat hulle nou ís (dis ‘n opdrag in v 11). In 2:1-10: Wás dood in verlorenheid, nóú geestelik lewendgemaak (versoen met God). In 2:11-22: Wás afgesny van & uitgestoot uit die kring van die Godsvolk, maar nóú 100% deel van God se huisgesin (versoen met God se mense). Hou in gedagte dat die gelowiges in Efese álmal Nie-Jode was. Daar was feitlik geen bekeerde Jode tussen hulle nie. Hierdie Efesiese gelowiges het presies geweet wat dit beteken om “honde” te wees in die Jode se oë! Maar nou, in Christus, het alles verander. Saam met die bekeerde Jode, was die bekeerde Nie-Jode een nuwe mensheid. Alles wat hulle van mekaar geskei het, is afgebreek deur Jesus se kruisdood. Dít is wat Paulus se lesers moet onthou: wat hulle wás & wat hulle nou ís! Met hierdie agtergrond kan ‘n mens 2: 11-22 heel maklik verstaan. Jesus se liggaamlike kruisdood het alles verander tussen mens & mens. Ons is geneig om altyd vertikaal oor Jesus se kruisdood te dink (God & mens versoen). Maar nou trek Paulus ‘n horisontale lyn. As jy deur Christus met God versoen is, ís jy ook met jou bekeerde & geredde medemens versoen, maak nie saak wátter verdelingsfaktore voorheen tussen julle was nie! In Jesus se fisiese gebroke liggaam, is die vyandskap vernietig (v14). Hy gee nie net vrede nie, Hy is self die vrede tussen mens & mens (v14). Waar Piet & Sannie beide die Here Jesus ken, MAG/KAN hulle nie in vyandskap leef nie. Jesus se kruisdood het letterlik ‘n nuwe mensheid geskep (v15). Vroeër was die wêreld verdeel in 2 groepe: Jode & Nie-Jode. Nou is die wêreld verdeel in twee ander groepe: In Christus en buite Christus – maak nie saak watter volk/kultuur jy is nie. God neem nie ‘n paar goeie goedjies uit verskillende godsdienste en probeer “eenheid” skep nie. Nee, Hy verander harte en lewens. Hy breek alle vyandskap af in Jesus se gekruisigde liggaam en dan verbind Hy mense met Jesus en bring hulle bymekaar in ‘n nuwe mensheid! Is dit nie Goddelik wonderlik nie? Kyk maar na 2:11-22. Jesus se vergote bloed het: die valse verdeling wat die besnydenis gebring het, vernietig / het mense wat uitgesluit was, ingebring / mense wat ver was, naby gebring / mense in God se verbond en by Sy beloftes gebring / mense wat sonder God & hoop was, nou versoen met God met alle hoop / vyandskap afgebreek en vrede gebring / seremoniële OT wet opgehef en afgeskaf / mense wat voorheen van mekaar verwyderd was, EEN LIGGAAM GEMAAK / aan almal wat Hom ken, VRYE TOEGANG tot die Vader gegee / mense wat voorheen buite gestaan het, huisgenote van God gemaak. Die groot vraag is nou wat die betekenis van hierdie gedeelte vir óns, wat in 2010 leef, is. Ja, ons is Nie-Jode nes die Efesiërs was. Maar die hele stryd tussen Jode & Nie-Jode is vandag irrelevant. Dis 2000 jaar van ons verwyder. Hoe moet ons hierdie gedeelte na óns toe deurtrek en watter geestelike waarde het dit vir ons? 1) Mense van verskillende samelewingsgroepe/kulture – wat in Christus wedergebore is (nie alle mense nie!), ís één nuwe mensheid en daardie eenheid moet sigbaar wees na buite – dit móét konkreet gemaak word. Sien in u geestesoog miljoene mense op aarde wat in die Here Jesus weergebore is, van alle nasies/tale/kulture. Hulle is één en hulle is die nuwe mensheid. En hierdie eenheid moet sigbare gestalte kry. Dit is nie net ‘n geestelike eenheid nie. In Handelinge sien ons bekeerde Jode en bekeerde Nie-Jode sáám in gemeentes vanaf die dag van Pinkster. Hierdie nuwe mensheid is soos ‘n geestelike gebou (v20), gebou op die fondament van die OT-profete en NT-Apostels (OT & NT) (v20). Die Waarheid wat die profete en apostels verkondig het (en nou op skrif staan in die Bybel), is die fondament waarop die nuwe geestelike tempel gebou is. Jesus is self die hoeksteen in wie die hele gebou saamgesluit is. Dít is die nuwe tempel waarin God woon (v 22). Hy woon hoegenaamd nie in geboue nie. Hy woon ook nie in elke mens nie. Hy woon in Sy geredde kinders van alle nasies & tale in ‘n eenheid saamgebou op een fondament en saamgesluit deur een hoeksteen. Geen wonder dat vers 18 so wonderlik sê dat álle kinders vd Here nou deur die Heilige Gees VRYE TOEGANG tot die Vader het nie! Kyk hoe funksioneer God-drieënig in hierdie een teksvers: In eenheid met Jesus, het ons deur die Heilige Gees vrye toegang tot God die Vader! Vrye toegang! 24 uur van elke dag. Hoe kan dit ander? Ons ís dan die nuwe tempel! 2) Mense wat in die Here Jesus weergebore is, moet ernstig daarteen waak dat mensgemaakte godsdienstige reëls nie verwydering tussen hulle bring nie. Hoe maklik gebeur dit nie dat tradisie of verskille oor sake wat op die buiterand lê, ware gelowiges van mekaar weghou – ‘n skeidingsmuur maak! Dit mag nie. 3) Die seremoniële OT wet is afgeskaf! Nie die “10 gebooie” nie, maar die seremoniële wet wat die voorafskaduwing van Jesus se koms was en ná Sy koms oorbodig geword het en afgeskaf is. Daar is deesdae weer ‘n neiging onder sommige Christengroepe om die Christelike Geloof te ver-joods. Duisende Christene gaan bv jaarliks na Jerusalem om die Loofhuttefees te vier. Dit is ‘n fees wat onder die seremoniële wet tuishoort en wat afgeskaf is deur Jesus se koms (v15). Ander voel ons moet vir Jesus op Sy Hebreeuse Naam (Jesua) noem. En God word Jahwe genoem. Om ‘n wáre Christen te wees, moet ons weer ons Joodse wortels opdiep en in ere hou. Ek dink hierdie hele tendens is in stryd met Efes 2: 11-22. 4) ‘n Mens kry geestelike woema/vitaliteit wanneer jy in gedagte hou wat jy sóú gewees het indien jy buite die Here Jesus sou gebly het. Daarom die bevel in vers 11: ONTHOU! HOU IN GEDAGTE wat julle wás…. Ons MOET onthou wat ons sou gewees het indien die Here Jesus se bloed nie gevloei het nie en ons buite Hom sou gebly het. Dink dááraan, en jy sal geestelike woema kry. Jy sou sonder Christus gewees het/ uitgesluit uit God se huishouding / ver van God / sonder deel aan Sy verbond / sonder deel aan Sy beloftes / sonder hoop / sonder God in die wêreld / sonder vrede / in vyandskap met ander groepe/nasies/kulture / volgens wettiese godsdienstige reëls geleef / geen toegang tot die Vader / buite Gods huisgesin / sonder fondament / geen inwoning van HGees. As jy in Christus is, kan jy elkeen van hierdie woorde positief draai. Jy is volkome verlos daarvan – deur die liggaam van Jesus wat op die kruis gebreek is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00