TAFELBERG GEMEENTE
EFESIËRS – REEKS NO 3
Tema: Opgewek uit die dood
Skrif: Efesiërs 2: 1-10
In hfst 2 van sy brief aan die Efesiërs, kom die Apostel Paulus nou by ‘n beskrywing van die ommeswaai wat in elke Christen se lewe plaasgevind het. Geen mens is ‘n Christen van altyd af nie – inteendeel! Iets moes gebeur het, wat veroorsaak het dat jy ‘n kind vd Here geword het. In verse 1-10 sê Paulus dat die Christen eers dood was, maar nou lewendgemaak is en in verse 11-22 beskryf hy hoe die Christen eers ver was, maar nou naby gebring is. Vanoggend kyk ons na verse 1-10: Opgewek uit die dood! Kyk ons goed na hierdie 10 verse, sien ons hoe die Apostel uitspel wat ons WAS, wat ons nou IS en wat dit is wat die verskil te weeg gebring het. Ons gaan hierdie boodskap vlgs hierdie 3 vrae indeel: 1. WAT ONS WAS > Vv 1-3 > Niemand op aarde word as ‘n geredde kind vd Here gebore nie (Joh 1:13). Die toestand waarin élke mens wél gebore word, word in hierdie 3 verse uitgespel. Geen mens is enigsins geneë om hiermee saam te stem nie, Niemand wil dit van hom/haarself glo nie. Dit gee tewens geweldig aanstoot. Jy sal dit ook nêrens anders hoor as net hier in die Woord nie. En juis dit is waarvan die HGees jou oortuig. Jy sal nooit werklik jou toevlug tot die bloed/wonde/dood van die Here Jesus neem alvorens die Gees jou nie oortuig dat Efes 2: 1-3 jóú lewe skets nie. Niemand neem die toevlug tot ‘n Verlosser alvorens jy nie deeglik besef dat jy volkome verlore is nie – andersins bly jy maar net godsdienstig/kerklik, maar onwedergebore! Dit is die groot rede waarom mense so moeilik tot bekering kom: besef nie hoe verlore hul is nie. Alles begin by Efes 2: 1-3!! Die eerste ding waarvan die Gees jou oortuig, is jou verlorenheid (Joh 16:8). Wat beteken dit om verlore te wees? Wat is die geestelike toestand waarin ELKE mens gebore word? Jy kry ‘n mens, kom ons sê Piet Pompies: Hy is in die kerk vandat hy sy verstand het, hy het ‘n sonnige geaardheid, ‘n pragtige persoonlikheid, gaan uit sy pad om aan ander goed te doen, manjifieke musiektalent, kunstig, die man vir sy vrou waarvan enige vrou sou droom, die ideale ouderling ens. Sou ‘n mens van Piet Pompies kon sê dat hy geestelik morsdood is, dat sonde sy lewe kenmerk, dat hy volgens die patroon vd wêreld lewe, dat die geestelike vors vd onsigbare bose magte hom lei, dat sondige begeertes hom oorheers, dat hy doen/praat net wat in sy gedagtes opkom, dat hy onder God se toorn & wraak leef slegs a.g.v. sy sondige natuur (uitgesluit enige bewustelike sonde) en dat hy vir ewig gestraf moet word? PRESIES DIE LYS VAN 8 SAKE IN EFES 2: 1-10. Sou ‘n mens só iets van Piet kon sê? Watter regdenkende mens sal só ‘n profiel in verband kon bring met die pragtige voorbeeldige & goeie mens: Piet Pompies? En tog is hy presies dit. Want Efes 2:3 sê glashelder duidelik dat dit van ELKE MENS waar is. Die probleem is: niks of niemand sal óóit Piet se oë vir sy ware toestand kan oopmaak indien die HGees dit nie doen nie. En word sy oë nie oopgemaak nie, sal hy NOOIT wérklik die Here Jesus as Verlosser ontmoet nie. Want hy besef nie sy ware nood nie. Daarom het hy nie slapelose nagte & natgeswete lyf nie. Daarom hardloop hy nie sy beentjies stomp om by Golgota se kruis neer te val en tot volle oorgawe te kom nie. Daarom is & bly hy net ‘n goeie getroue kerkmens sónder wedergeboorte. Daarom sal hy uiteindelik, ás kerkman, die ewigheid in die verderf deurbring. En wat van Piet geld, geld vir ons almal. Élke mens wie oë blink vanweë die nuwe lewe en wat ‘n heldere getuienis van redding het en aan die brand is vir die Here HET ‘n getuienis dat die HGees hulle iewers langs die pad by Efes 2: 1-3 uitgebring het. Iewers langs die pad was jy só oortuig van jou diepe verlorenheid dat die gekruisigde Jesus jou enigste uitkoms was. Wat beteken hierdie verlorenheid? In jou verhouding tot die Here: morsdood. Soos ‘n lyk (v 1). ‘n Lyk sien niks, hoor niks, doen niks. Kan nie reageer. In jou verlorenheid het ware geestelike dinge vir jou weinig waarde/ geen aptyt daarvoor nie, hoor jy nie die Here se stem nie, gee jy nie om nie, kies jy Hom nie. Jy kan Hom nie kies nie. Tewens jy gaan aan en aan in sondes & oortredings (v1) en dit pla jou nie so erg dat jy daarvan wil gek word nie. Benewens die doodsheid, beteken verlorenheid dat jy aktief ongehoorsaam leef (vv2-3). Jy lewe in ‘n bepaalde rigting .. en dit is die koers wat die wêreld aandui. Jy doen wat ander mense doen. Dink soos hulle dink. Praat soos hulle praat. Kyk in dieselfde rigting as die wêreldse mense. Die rede vir dit alles is dat jy beweeg word deur ‘n onsigbare geestelike mag. Sonder uitsondering word álle mense (voor hul redding) deur ‘n onsigbare bose mag beweeg (v 2). Sonder dat jy dit weet, word jy deur die bose beïnvloed. Daarom is die kern van jou lewe jou eie selfsugtige begeertes. Jy word regeer deur die vlees (gevalle menslike natuur). Die wêreld, die vlees en die bose vorm ‘n sisteem en élke mens word vanaf geboorte binne hierdie sisteem gevorm – sonder om eens daarvan bewus te wees – totdat die HGees jou oë oopmaak. Daarom is dit geen wonder dat élke mens – voor sy redding – onder God se toorn en wraak leef nie (v3). Dis die gevaarlikste posisie waarin ‘n mens kan verkeer. Om elke minuut van elke dag letterlik onder God se toorn te leef – slegs vanweë jou sondige natuur is jy alreeds onder God se toorn (v 3b). Sonder dat ‘n mens een sonde doen, is slegs die feit dat jy ‘n sondige natuur besit, genoeg rede om vir ewig verdoem te word. Só geweldig skitterwit heilig is God. Tussen hakies: Verbond & doop ruk jou nie outomaties hier uit nie: Mens kry soms die indruk dat mense dink dat ómdat ‘n kind gedoop is en onder die sambreel van Gods verbond grootword, die kind nie meer verlore is nie en Efes 2: 1-3 nie meer vir hom/haar geld nie. Die kind is nou weergebore. Wel, dis presies wat die RKK leer, maar nie die Skrif nie. Die Efesiese gelowiges was ingesluit by Gods verbond, maar Paulus skeer almal oor dieselfde kam in 2: 1-3. En die kinders in die gemeente is ook in sy visier, want in hfst 6 praat hy direk met hulle. Natuurlik geld die BELOFTE/WAARBORG van verlossing vir elkeen binne die verbond, maar dit moet juis daartoe lei dat élke gedoopte kind tot ‘n persoonlike geloofsaanvaarding van die verlossing & baie definitiewe bekering tot die Here kom. Die Here se verbond maak nie die bekering oorbodig nie, maar is juis die sterkste aansporing tot geloofsoorgawe! Dit net tussen hakies. 2. WAT ONS IS > Noudat jy die Here ken, wat is jy nou? Vv 4 ev. Duiselingwekkende kontras: Lewendgemaak. Opgewek uit die dood. Een met Christus. In Christus. Aanvaar deur God. Sit in hemelse plekke. Gered uit genade. Daar is goedheid aan ons bewys. Selfs al sal die huidige wêreld nie meer lank bestaan soos hy tans is nie, sal daar ‘n toekomstige wêreld wees waar hierdie goedheid wat Hy aan my bewys het, nog steeds vertoon sal word (v7). Indien ‘n mens die totale verlorenheid waarin jy van nature was, verstaan vlgs vv 1-3, dan maak die besef van dít wat jy nóú is, jou kop duiselig – so wonderlik is dit. Dat God – terwyl jy geestelik dood was en glad nie vir Hom kon/wou kies nie – jou gekies het en jou lewendgemaak het – terwyl Hy jou eintlik net so moes gelos het! Dat jy ‘n geestelike opstanding ondergaan het (v 5). Jy is bonatuurlik geestelik lewendgemaak: Ewe skielik hóór jy nou hoe die Woord persoonlik met jou praat. Jy sien nou die gevaar waarin jy verkeer as onbekeerde. Jy voel die las. Jy sien die glorie vd Here Jesus. Jou siel raak lewend. Daar kom beweging. Die eerste teken dat ‘n geestelike opstanding uit die dood plaasvind, is altyd dat daar haastige beweging kom ná die Here Jesus toe. Jy is nie meer dood nie!! Vers 5 > God het jou letterlik lewend gemaak sáám met Jesus se opstanding uit die dood. Hy het jou daarby ingereken. Letterlik staan daar in vers 5: TERWYL ons dood was in ons sondes, het God ons in Christus lewendgemaak. Hy het dit as’t ware agter jou rug gedoen, want Hy kon nie eers jou toestemming vra nie. Jy sou “nee” gesê het, want jy was dood teenoor Hom. God het dus letterlik al die uitverkorenes by Jesus se opstanding ingesluit. Só het Hy hulle lewendgemaak. Hy het hulle mét Jesus se opstanding lewendgemaak. ‘n Mens kan byna sê dat wat Jesus deurgegaan het, het die gelowige saam met Hom deurgegaan. Saam met Hom opgestaan uit die dood. Vers 6 > Sit saam met Hom in hemelse plekke. God reken die gelowige ook in by Jesus waar Hy tans sit. In hemelse plekke. God reken dit wat met Jesus gebeur het die gelowige toe! Soveel so, dat die gelowige alreeds in die hemele sit, terwyl hy/sy nog hier op aarde leef. Daarom, wanneer die kind vd Here fisies sterf, gaan sy gees net oor na waar hy eintlik alreeds behoort het. Geen lang reis is eens nodig nie. In kort: Dit wat die kind vd Here NOU is: lewendgemaak & het ‘n toekoms! 3. WAT DIE VERSKIL GEMAAK HET > Eintlik moet ons sê WIE die verskil gemaak het. Kyk na daardie briljante vers 4: MAAR GOD…. Verse 1-3: Uiteensetting van hopelose & reddelose verlorenheid van élke mens. Indien daar ‘n punt moes wees ná vers 3, was daar geen hoop vir enige mens nie, want niemand kan homself geestelik uit die dood opwek nie! En dan vers 4: die blye boodskap: MAAR GOD… is ryk in barmhartigheid (jammerhartigheid) en het ons innig lief. Deur Sy groot liefde het Hy ons, wat dood was a.g.v. ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak..” Onthou: Hy was nie verplig om enigiemand uit die dood op te wek nie. Maar Hy het, want Hy is so jammerhartig. En omdat ons in sonde morsdood is en glad daarin belangstel om die Here se kind te wees nie, moes Hy agter ons rug met ons werk – sonder ons toedoen. Die manier hoe Hy dit gedoen het, was om ons in te sluit by Jesus se opstanding uit die dood. Van A-Z is alles aan Hom te danke. Daarom sê vers 10: “God het ons gemaak wat ons nou is! Hy het ons in Jesus geskep om ons lewe te wy aan goeie werke.” Ons neem nie die krediet vir enigiets nie. Dit is wat dit beteken om “uit genade gered” te wees soos vers 8 so kragtig sê. As Hý jou agter jou rug en sonder jou medewerking verlos het met Jesus se opstanding, is dit die suiwerste genade denkbaar, want dan KON ons nie enige handjie bysit nie. Daarom kan ons hoegenaamd nie roem in enigiets wat ons presteer het nie (v9). Alles vloei uit Sy barmhartigheid & genade. Barmhartigheid = om nie te kry wat jy verdien nie (oordeel en ewige verderf). Genade = om te kry wat jy nie verdien nie (aangenome kind van God/vergewe/verlos/gawes/toekomsbestemming. Die vraag is natuurlik hoe hierdie genade grondvat in my persoonlike lewe? As God my 2000 jaar gelede met Jesus se opstanding verlos het, maar ek vanaf geboorte as verlore sondaar leef (en nie as verloste), hoe word die opstandingsverlossing hier en nou in my lewe ‘n werklikheid? Moet ek wag vir iets? Een of ander gevoel of ervaring? Nee. Vers 8 sê: deur die geloof. Dit beteken: Jy hoor die Woord, die HGees maak jou bewus van jou verlore toestand, jy besef die doodsgevaar waarin jy verkeer, jy sien hoe God jou met Jesus se opstanding begenadig het, jy kry berou, jy wil omdraai na Hom toe, jy begeer dat Hy oor jou moet begin heers, jy plaas jou vertroue oor op Sy opstanding as jou enigste hoop, jy sê dit vir Hom met jou mond (Rom 10:9). Jy begin daadwerklik GLO. Jy begin Hóm vertrou vir jou redding. U sien, dis nie iets wat die Here doen nie. Dis iets wat u & ek doen. Dis óns wat tot geloof & bekering kom. Maar – dis steeds Sy gawe. Dis nie ons prestasietjie nie. Dis nie ons klein aandeeltjie in die verlossing nie. Ons ís maar geneig om te dink dat geloof die ontbrekende stukkie is wat ons moet bydra. Nee. Vers 8: Gawe van God. Deur Sy Woord SKEP God letterlik die geloof & bekering in ons hart. Hy gee selfs die toegewyde lewe, waarmee ‘n mens ná jou verlossing leef, as ‘n geskenk (v 10 – in die Grieks). Die goeie werke van ‘n gelowige, is soos klere wat God gemaak het, waarin Sy kind leef (letterlike vertaling van v 10). Is dit nie asemrowend nie? Om vv 1-10 op te som: Elke ware Christen kan van twee lewensfases getuig: ‘n vroeër (verlore-wees) en ‘n nou (lewendgemaak). Dit wat die verskil gemaak het, is van A-Z Gods vrye genade.