Skriflesing: Efesiërs 1:1-14
EFESIËRS – REEKS NO 1 Tema:Geestelike seëninge
Die stad Efese was destyds die hoofstad van – wat vandag bekend staan as – Turkye. Die asemrowende tempel vir die godin Diana was daar – een van die 7 wonders van die destydse wêreld. Afgodery was aan die orde van die dag. Binne-in Efese, het die Here Jesus ‘n gemeentetjie tot stand gebring deur die arbeid van Priscilla & Akwilla, wie Paulus daar aangestel het op sy 2de sendingreis (Hand 18: 18-19). Op sy 3de sendingreis het Paulus sélf daar bedien vir byna 3 jaar (Hand 19) en ná hom, het Timoteus die bediening vir ‘n paar jaar behartig. Hierdie brief skryf Paulus in ongeveer 60nC vanuit die tronk in Rome om hulle geestelik op te bou met die Apostoliese leer. En dis geestelike vaste spyse, nie melkkossies nie. Vir die Korintiërs moes hy sê: “Julle is nog so vleeslik, dat ek julle net melk kan gee.” (1 Kor 3:1-2). Maar hier in Efese, te midde van die afgodery, is ‘n geestelik-aan-die brand gemeentetjie, vir wie die Apostel op vaste spyse kan voed. En dis wat ons in hierdie brief sal aantref: vaste geestelike kos. Opvallend dat die brief netjies in 2 dele verdeel is: Hfste 1-3: Dit wat ons moet weet wat God gedoen/gegee het. Hfste 4-6: Dit wat ons moet doen o.g.v wat God gegee het (hoe dít wat God doen, ons lewens raak). Dus: Vir die volgende 6 boodskappe (wat oor hfste 1-3 handel) sal ons min hoor oor wat ons as mense moet doen. Alles oor groot dade van God-drieënig. Dis altyd wonderlik om te sien hoe ánders die Skrif is as wat ons as mense sou dink/redeneer. Wie van ons sal (bv) aan onsself dink as “heiliges”? Wie van ons sou dink dat God – voordat Hy enigiets praat – Hy onmiddelik (vooraf) Sy genade (Sy guns wat glad nie verdien kan word nie) en vrede (shalom: geestelike voorspoed) aan Sy mense kom toesê. Sommer net so! Ons koppe werk net nie só nie. Tog is dit presies wat die Gees (deur Paulus se pen) in vv 1-2 doen. Hy noem álmal in Efese wat gelowiges in die Here Jesus is, HEILIGES. Dit beteken: skoongemaak deur Jesus se bloed en opsy gesit vir Hóm. Eenkant gesit. Élke kind vd Here ís heilig en word ‘n “heilige” genoem! En dan, voordat Hy enigiets verder sê, sê Hy Sy genade & vrede (sommer net so) aan hulle almal toe! “Dis julle s’n”. NIE: “MAG dit julle s’n wees” nie. Sonder voorwaardes: dis julle s’n. Sy guns & Sy geestelike voorspoed. Guns: Soos bloue hemelkoepel oor my & Shalom: soos stille diepe oseaan in my. Ook aangrypend in 1: 3-14: Sonder om vooraf navraag te doen oor die toestand van die Efesiërs se geestelike lewe, kom sê Paulus net eenvoudig vir hulle hóé ryk hulle in Christus is! “Julle lewe sal verander as julle besef wát God al klaar in julle geestelike bankrekeninge inbetaal het!” Net die feit dat jy ‘n kind vd Here IS, beteken dat jy alreeds ‘n geestelike banksaldo het. Besef dit, en jy sal verander! Soos Noot-vir-Noot se TV deelnemers die program begín met geld op hulle naam nog voordat hulle enigiets kon presteer. Die bank géé dit vooraf vir hulle. Hulle spring daarmee weg! Dieselde geld vir ‘n Christen-gelowige. Kyk na v 3> Kyk na die Drie-eenheid in aksie > Die lof kom toe aan “God die Vader van ons Here Jesus Christus” (Terloops: Dit is Sy NT naam. Hebreeuse name is onnodig) want Hý HET (verlede tyd) ons geseën (Grieks: “geseën met die vermoë om dit tot uitvoer te kan bring”) met alle (alle soorte) geestelike seëninge (nie aardse) van die HGees. Die oomblik wanneer ‘n mens ‘n kind vd Here word, verskyn jou pakket in rooi letters voor jou naam! Jy IS toebedeel met geestelike seëninge. Niks/niemand kan dit van jou wegvat nie. Jy kan net daarop voortbou. Láát dit jou verander/motiveer. Stel uself die volgende prentjie voor: Álle geredde mense staan by toonbankies soos die Noot-vir-Noot deelnemers op TV doen. Dit is letterlik miljoene toonbankies. Bitter baie mense. Kinders vd Here van alle eeue. Voor élkeen se naam staan daar in rooi letters die bedrag waarmee elkeen wegspring. Dis aan hulle gegéé. Hulle kan nie kind vd Here wees daarsónder nie. Kom ons sien nou in verse 4-14 WAT daardie bedrag in rooi letters is. Wát het God op elke Christen se geestelike bankrekening gedeponeer? Wát is die geestelike seëninge waarmee élke wedergebore mens geseën IS – sonder enige teenprestasie – slegs uit pure guns alleen? Kyk na vv 4-14 en u sal sien hoe aktief die heilige Drie-Eenheid is in die uitdeel van hierdie seëninge. Sekere seëninge kom vd Vader, sommige van Christus, sommige van die Gees. Sommige seëninge het met die verlede te doen. Ander met die toekoms. Ander met die hede. Dalk moet ons dit só indeel: Seëninge van verlede, toekoms, hede raak. Dan sien ons wat presies is die pakket waarmee elke Christen wégspring. TOEKOMS > Ons moenie dink dat planeet aarde & sy bewoners ploeter maar net doelloos vorentoe en dat alles deur kragte van noodlot & toeval beheers word nie. Mense kyk na natuurrampe – soos die onlangse ramp in Haïti – en dink juis só. Maar dis ‘n groot fout. Ja, ná die sondeval het God die skepping aan ‘n vloek onderwerp – dit is so – en vandaar die versteurde weerpatrone (Gen 3:17-19; Rom 8:19-22). En vlgs Openbaring 8 & 16 gebruik Hy hierdie dinge om die mensdom te waarsku én te oordeel. MAAR: Daar staan ‘n ontsettende ding in Efes 1: 9-10,11,14: God het ‘n toekomsbedoeling met planeet aarde & sy mense. Op die tyd wat Hý bepaal het, gaan Hy dit tot uitvoer bring. Wat gaan Hy tot uitvoer bring? Wat is die plan waarheen alles werk? Hy gaan alles onder een Hoof verenig: Christus (v10). Dán sal Hy almal, wat nou reeds aan Hom behoort, VOLKOME verlos! (Vers 14) God werk gefokus. Hy werk vlgs ‘n voorneme/besluit (v9). Hy werk vlgs ‘n raadsbesluit (v11). Geen toevallighede. En daarvolgens het Sy wedergebore kinders ‘n rotsvaste toekoms, want hulle sal élkeen daar wees wanneer God alles onder Christus verenig! VERLEDE > Geestelike seën: die kind vd Here se verlossing staan baie vas, want dit rus nie op enigiets in die mens nie. Die kind vd Here is deur God uitverkies reeds voor die skepping!! (v 4). Dit beteken nie dat sommige mense sommer outomaties (van kleins af) in Christus ingesluit is nie. Verse 13 & 14 is daaroor duidelik. Hóé word ‘n mens in Christus ingesluit? Die blye boodskap van die feit dat Jesus jou op die kruis verlos het, word aan jou verkondig. Jy hoor dit. En jy kom tot geloof. (V14). Dit beteken jy kom tot rus met jou volle vertroue op Jesus Christus se reddingswerk. Dit gebeur nié outomaties nie. Jy het dit nie een oggend wanneer jy wakkerword nie. Dit is ‘n bewustelike bekering. Maar, dít is net die uitvloeisel van die feit dat God al klaar Sy oog op jou gehad het. ‘n Mens se bekering is net die uitvloeisel van die feit dat Hy jou voor die skepping reeds gekies het! Ja, by die oomblik van jou bekering VOEL dit vir jou asof alles van jóú afhang. Dis jý wat die Boodskap moet aangryp ens. Maar, later, wanneer jy terugkyk, besef jy dat alles van HOM afhang – van jou kant sou/wou jy Hom NOOIT kies nie. Voor die skepping het Hy jou reeds bestem om Sy kind te wees deur Christus (v5). En dis alles gegrond nét op Sy groot liefde, want wat móés Hy met u & my gedoen het? Hy moes ons gelos het op ons verlore pad wat ons gekies het. Onthou: die mens is ‘n rebel wat opsetlik teen die Here kies. Nie een enkele mens verdien om gered te word nie. Maar, pleks daarvan om almal te los op hulle selfgekose verlore pad, het God besluit om ‘n hele hemel vol mense te laat omdraai en Sy verlossing te ondervind. Alles is van A-Z gegrond op Sy liefde (v5). Daarom kan Hy net geprys word vir die genade wat Hy so vryelik op elke gelowige uitgestort het (v6). Maar, kan u die geestelike seën sien? Die verwondering van: “Wow, om te dink dat Hy mý raakgesien het! Om te dink dat my verlossing so vas & seker is in SY KEUSE vir my!” En tog laat hierdie sekerheid/verwondering/rus my nie laks & lui word nie. Kan ek nie nou maar leef soos ek wil nie? My verkiesing staan mos vas! Nee. Kyk na v 4: “voor die skepping het Hy ons verkies OM heilig & onberispelik voor Hom te wees.” Die mens wat régtig die troos & blydskap vd uitverkiesing ontdek het, wil JUIS heiliger/ernstiger & meer toegewyd aan die Here leef. Die rede WAAROM die Here my gekies het, is juis om meer & meer die sonde te haat en Hom te vrees. Sien Spr 8:13. Die vrye genade van God voed my op om NEE te sê vir die wêreld se gees en om met selfbeheersing Godvrugtig te lewe (Tit 2:11). HEDE > Daar is iets wat ‘n kind v God besit/ervaar waarvan ‘n ongeredde mens geen idee het nie: Volkome binne God se huishouding aanvaar/aangeneem en totaal verlos & vergewe. Sien vv 5-7. Dis seëninge wat ek NOU besit & beleef. Dit is wonderlik indien ‘n skuldige mens in ‘n hof vrygespreek kan word. Hy stap buite rond en kan nie glo dat dit waar is nie! Maar daar is iets wat nog meer wonderlik is. Indien die regter die ónskuldig-bevinde persoon na sy eie huis sou neem – t.s.v. wat hy in die verlede aangevang het – en hom laat aanneem as sy wettige kind en hom laat deel in ál die voordele van die huishouding – ja – selfs laat erf. Stel jouself so iets voor. ‘n Regter spreek ‘n skuldige vry, neem hom huistoe, behandel hom ten volle as kind, neem hom wettig aan as kind, laat hom deel in erfporsie. Nee, hy is hoegenaamd nie ‘n tweedeklas bediende nie. Hy is ‘n aangenome seun! Presies soos die wegloopseun in Luk 15, deur sy pa AS SEUN terugontvang & behandel is. Die warm verwelkomende arms van sy pa was ALTYD rondom hom. Juis dit, is die evangelieboodskap! Ek is ‘n aangenome seun binne die huishouding vd God van hemel en aarde – vrygespreek & vergewe! En ek is sy wettige erfgenaam! En dit is alles slégs moontlik o.g.v. die grudood wat die eintlike wettige Seun gesterf het – Jesus ons Here (v 7). Dat ek vrygespreek uit die hof stap en by die regter se huis intrek as sy aangenome seun – is net o.g.v. Jesus se bloed alleen. Dít is wat Jesus se bloed vermag/bekom het! Enorm, is dit nie!? En daarby het ek die Heilige Gees ontvang (vv 13-14). Dit is ook deel van die seëninge wat ek nou/in die hede beleef. Die Persoon van God die Heilige Gees by/in my – ervaarbaar betrokke – is die waarborg dat my lewe van eienaarskap verander het. En dit is ook die waarborg dat ek – wanneer die Here kom – die volledige saligheid sal beërf. Byna soos ‘n deposito wat betaal is, wat waarborg dat die volle bedrag weldra betaal sal word. Dit is seëninge wat ek nou reeds beleef. Ek beleef die nabyheid en inwoning van die Gees. Ek hoor Sy stem. Ek ervaar hoe Hy my lei. Ek beleef hoe Hy my ander begeertes/aptyte gee as wat ek voorheen gehad het. Ek beleef letterlik hoe Hy my dag-na-dag verander. En Sy teenwoordigheid & werking waarborg dat ek ‘n ware kind vd Here is. En dat ek eendag die volle verlossing sal beërf. Die HGees wat nou by my is, is die sekerheid/waarborg van wat ek DAN sal ontvang. Om saam te vat: ‘n Wedergebore mens kan vergelyk word met ‘n Noot-vir-noot deelnemer. Nog voordat hy/sy enigsins deelneem, BEGIN hy/sy met ‘n banksaldo wat geskenk is en nie weggeneem kan word nie. Paulus noem dit “hemelse seëninge”. As jy ‘n kind vd Here word, is dit outomaties deel van jou pakket. Die pakket lyk só: 1. Jy is nou reeds deel van God se toekomstige eindproduk met die wêreld: alles verenig onder Een Hoof. 2. Jy staan nie op die losse skroewe van jou toewyding nie, maar op die vaste rots van Sy keuse vir jou. 3. Van A-Z is jou verhouding met Hom (en hele lewe) gegrond op Sy vrye genade. 4. Jy is aanvaar/aangenome kind/ verlos/ vergewe – alles o.g.v. Jesus se bloed op die kruis gestort. 5. Die HG is ‘n werklikheid in jou lewe en Sy daar-wees is die waarborg dat jy ‘n ander eienaar het en dat jy eendag die volledige seën sal ontvang. Sê vir my: Indien ‘n mens enigsins iets van hierdie pakket-van-seën snap, kan jou lewe dieselfde bly? Indien jy ‘n lewendige elektriese draad vat, sal jy dieselfde bly en fluit-fluit wegstap? Of sal die elektrisiteit jou “verander”? Ek weet dis ‘n negatiewe beeld, maar dink aan die beginsel: God se krag – wat klaar ons deel is – verander ons.