TAFELBERG GEMEENTE

Een minuut ná jou dood
Openbaring 20: 4-6

By Sy hemelvaart was dit nie Christus se intensie om alleen op die troon te gaan sit nie, maar Hy wou ook dat almal wat die Vader aan Hom gegee het, saam met Hom sal wees. Dit lyk na ‘n onbereikbare ideaal, want die dood lyk en voel so oppermagtig. Vir ons oë lyk die vooruitsigte maar hopeloos.

Maar, die geloofsoog sien die Wóórd, waar baie heerliker dinge waargeneem mag word. Want, in die Woord is dit duidelik dat, vir die gelowige, die dood geen afbreek is nie, maar opbou! Dit is nie die vernietiging van lewe nie, maar die deurgang na die ewige lewe. Tussen Jesus se hemelvaart en Sy wederkoms (die huidige tyd) word daar daagliks nuwe trone bestyg, elke sekonde wanneer gelowiges in Hom ontslaap – 100e elke minuut van die dag. Die tydperk tussen ‘n gelowige se sterwe en die opstanding is nie iets waaroor ons enigsins onseker & verward & onkundig hoef te wees nie. Dink aan Filippense 1:23. Ook 1 Thes. 4: 15, 2 Kor 5:8. Reeds in hierdie tydperk vóór Jesus se terugkoms, is die ontslape gelowige by Christus (vanaf ’n sekonde ná die dood) en oefen saam met Hom mag uit vanuit ‘n troon!

Dít is ’n totaal ánder soort taal as wat ’n mens hoor by mense wat glo aan goed soos reïnkarnasie of die vagevuur of die sieleslaap! Die idee van reïnkarnasie kom uit die Hindoe-godsdiens en word deesdae wyd en syd deur die New Age Beweging verkondig. Reïnkarnasie beteken dat ’n mens ná jou dood ’n ánder vorm van lewe aanneem – dit hang af van hoe veel jou goeie dade (karma) was – hetsy ’n ander mens van ’n ander nasie óf ’n soort dier. Jy kom uit ’n vorige lewe waar jy ’n IETS was en jy gaan weer na ’n volgende lewe waar jy ’n IETS sal wees. Jy kon in jou vorige lewe ’n ander geslag gehad het en in ’n ander wêrelddeel gewoon het. Jy kon ook ’n dier of voël gewees het. Dit beteken: Dood bestaan nie – dit is net ’n ewig-herhalende siklus van een lewensvorm na ’n ander. Sommige mense kry van bose geeste inligting oor hoe hulle “vorige lewe” was. Volgens die Bybel is dít egter ’n vorm van okkultisme. Sien Dt 18. Gruwel voor God. Ook Jes 8:19-20, Lev 19:31. Dit is demone wat die illusie skep dat ons met die dooies kan kommunikeer. Maar Deut 18: 11-12 verbied dit ten sterkste. Dit is die terrein van die bose.

Die vagevuur is ’n middeleeuse konsep wat veral in die Roomse Kerk posgevat het, naamlik dat gelowiges nie onmiddelik ná die dood by Christus is nie, maar eers vir korter of langer periodes gereinig word van hulle sondes in ’n plek wat byna net soos die hel is. Uiteindelik sal almal vanaf die vagevuur na die hemel oorgaan – al neem dit honderde jare van pyniging. Christus se kruisdood is dus nie genoegsaam om ons van ALLE sondeskuld vry te maak nie. Die vagevuur is boonop nodig.

Die idee van ’n sieleslaap impliseer presies dít wat die term aandui, naamlik dat ’n gelowige ná die dood onder ’n soort narkose verkeer – ’n slaaptoestand – totdat die wederkoms plaasvind. Onbewus van wat rondom jou aangaan. Dit is egter 100% in stryd met Openb 20: 4-6 en Filip 1:23.

Al drie hierdie sienswyses is in stryd met die duidelike leer van die Woord.

In Open 20: 4-6 openbaar die Gees wat die ware posisie van die ontslape gelowiges is gedurende die periode wat satan gebind is sodat hy nie die nasies vir oorlog teen Christus kan mobiliseer nie (die huidige tyd) (verlede week se boodskap). Wat gebeur in die hemele met diegene wat in die Here sterf vóór die wederkoms? Johannes sien “siele” op trone sit, dus mense sonder liggame. Dit is dus nie iets wat gebeur ná die opstanding nie, want dan het almal weer liggame ( 1 Kor 15). Hoe presies hulle lyk, beskryf die Gees nie. Twee dinge staan egter vas: a) hulle is daar en b) hulle lewe werklik! Op ’n manier het hulle ook ’n fisiese gestalte al het hulle nog nie hul opstandigsliggame nie, want Johannes SIEN hulle. Geen onsigbare spokerige geeste. Moenie begrip SIELE verkeerd verstaan nie. Werklike mense. Ná die dood, behou ’n gelowige dus op wonderbare wyse die eienskappe van die liggaam, sonder dat hy/sy ’n liggaam het. Kan praat. Kan gesien word. Behou alle menslike funksies. Moses en Elia het op die berg v verheerliking gepraat en was só sigbaar dat Petrus hulle herken het!

Hierdie mense bestaan uit twee groepe: diegene wat as martelare gesterf het en ook alle ander gelowiges wat op ander maniere gesterf het. Die martelare (letterlike Grieks: “wie met die byl gedood is.”) word apart genoem, waarskynlik omdat die eerste lesers soveel marteldode moes sterf. Hulle het egter getrou gebly aan die een ware geloof. Wat ‘n skrille kontras: die vreeslike van ‘n marteldood teenoor die heerlikheid van ‘n troon saam met Christus te mag beklee!!

Die ander groep is alle gelowiges wat nie die merk van die dier gehad het nie. Dit beteken: almal wat die Heilige Gees in hul lewens deur die geloof ontvang het (dus ALLE gelowiges) in teenstelling met die merk van die dier. Hier is dus NIE sprake van slegs ‘n deel van die gelowiges nie, maar álmal wat in Christus ontslaap het. Die hemel word dus voorgestel as ‘n groot troonsaal, waar alle gestorwe gelowiges werklik lewe en wagtend is op die opstanding. Sien Joh. 11:25.

Kom ons raak prakties: wanneer ‘n gelowige sterf, is hy/sy, sonder die aardse liggaam, onmiddelik by Christus en ontvang heerskappy saam met Hom MAAR besit tog alle liggaamlike funksies as mens, is sigbaar en is herkenbaar as die mens wat hy/sy op aarde was. Die liggaam en gees SKEI dus onmiddelik (Vrgl Stefanus – Hand 7). Johannes noem dit die “eerste opstanding.” Die eerste opstanding is ‘n geestelike opstanding wanneer God die gelowige ná sy/haar sterwe in Sy heerlikheid opneem. Vers 4: daar word nou “reg” aan hulle verskaf. Op aarde is hulle deur onreg verdruk, maar nou oefen hulle die reg uit. Dit is vir die gelowige so ‘n vernedering om te moet sterf en te ervaar hoe die aardse tentwoning afgebreek word. Wat ‘n vernedering is dit nie dat die aardse liggaam onder die grond begrawe word nie! Hoe onaansienlik. Tog is dit juis op daardie moment (geen tussenpose) wat die gelowige met heerlikheid gekroon word! Wat die oog nie gesien het nie en die oor nie gehoor het nie, juis dit het God voorberei vir wie Hom liefhet!

Vers 5: Die ander dode het nie herleef voordat die 1000 jaar (dit is die hele tydperk tussen Jesus se eerste en tweede koms) om was nie. Dit is al die ongelowiges wat geen “eerste opstanding” gehad het nie! Hulle het nie in Christus ontslaap nie. Hulle is nie by Christus ontvang ná hulle aardse dood nie. Hulle sal eers herleef by die opstanding van die dooies by die wederkoms. Hulle gaan die “tweede dood” tegemoet: die ewige helse straf. Ons mag géén onsekerheid daaroor hê nie: Die ongeredde mens wat sterf het géén tweede kans nie en sal NIE by Christus wees nie. Die ewige helse straf is ’n realiteit. Die skeiding tussen die twee ewighede is oombliklik en finaal (Vrgl die KLOOF tussen ryk man en Lasarus in Lukas 16: 26).

Wie egter ‘n “eerste opstanding” het ( ná die dood in heerlikheid opgeneem) hoef die “tweede dood” (ewige straf) glad nie te vrees nie, want die “tweede dood” het geen mag oor hulle nie! Niemand wat, ná sy/haar dood die troon bestyg het, sal deur die “tweede dood” getref word nie. Dit is totaal onmoontlik. Die “tweede dood” wag op almal wat geen “eerste opstanding” gehad het nie, wat dus nie “herleef” het ná hulle aardse dood nie. Dit is alle ongelowige (ongeredde) mense se ewige toekoms.

Dikwels dink ons die ware kerk is so klein en nietig in vergelyking met die reuse aantal mense wat in ongeloof ongered leef. Tog word die aantal trone in die hemel daagliks net meer & meer! Dit is nie ‘n lewe van “niksdoen” nie. Daar word “geheers.” Daar word hard gewerk en gestry. ’n Lewe van GROOT aktiwiteit. Net soos daar op aarde reeds gestry word, maar dán sonder enige trane en moeite!

Wanneer ons kyk na ’n gedeelte soos Lukas 16 (die ryk man en Lasarus wat beide gesterf het) sien ons watter eienskappe die mens ná die dood besit: 1) Sonder ’n tussenpose van 1 sekonde IS jy óf by Christus óf in die verlore doderyk {vgl Stefanus se woorde: “Here ontvang my gees” Hand 7:59 }. 2) Jou kennis en geheue gaan voort – Ryk man onthou van sy 5 broers wat nog op aarde is. Sal ook alle ander gelowiges herken, al het jy hulle op aarde nie geken nie. Petrus herken onmiddelik vir Moses & Elia. 3) Die liefde wat jy op aarde gehad het, gaan voort. Die ryk man gee steeds om vir sy broers wat ongered leef. 4) Behou jou geslag – alhoewel geen huwelike (Mat. 22:30). Definitiewe LIGGAAMLIKHEID. Ryk man se tong in pyn. Ervaar pyn. 5) Geen Bybelse getuienis dat diegene wat by Christus is, vir ons op aarde kan sien. Geen kommunikasie.

Ú kan/mag VANDAG reeds 100% sekerheid hê wáár u sal wees die oomblik ná u dood. Jesus se kruisdood en Sy geskrewe Woord IS u sekerheid. Gryp dit vas en hoop volkome SLEGS op die redding in Christus.

Ons is só geneig om BAIE tyd en aandag te spandeer aan voorbereiding vir dinge wat kortstondig & tydelik is: Beleggings / oorsese reis of vakansie in wildtuin / eksamens. Maar die verstandige mens berei hom/haar voor vir dit wat vir EWIG sal duur, wetende dat hierdie wêreld eersdaags deur vuur sal vergaan. Ons leef soms soos mense wat ’n lekker partytjie hou op die boonste verdieping van ’n hoë gebou, min wetende dat ’n vuur uitgebreek het ’n paar verdiepings onder hulle. Stel uself voor: ’n Maatband vanaf die aarde tot by die verste planeet. Sien die deursnee van een haartjie van u kop gemeet teen daardie maatband!! Dít is hoe die paar jaar van ons aardse lewe vergelyk met die ewigheid. Gelukkig is die mens wat dit betyds insien.

Dr. Chris Saayman

NG Gemeente Tafelberg, Buitenkantstraat 39 Kaapstad

Tel : 021 – 551 6704

saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00