ROMEINE 16:1-16
‘n Merkwaardige gemeente (5b-16) 1
IN HIERDIE VERSE STUUR PAULUS GROETE AAN MEER AS TWEE DOSYN BROERS EN SUSTERS. Vier-en-twintig van hulle noem hy by die naam.
Een van die fassinerende karaktertrekke van die liggaam van Christus is die eenheid en die verskeidenheid wat mens daarin aantref – selfs in elke plaaslike gemeente, soos hier. Maar veral, natuurlik, sien mens dit in die wêreldwye kerk. Die godsdienste van hierdie wêreld is almal tot ‘n mindere of meerdere mate streeksgebonde. So vind mens Islam veral in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, die Hinduïsme in Indië, ensovoorts. Maar die kerk van die Here bestaan waarlik uit mense van elke nasie, stam, volk en taal. En elke dag raak dit al hoe meer so. Reeds leef meer as twee-derdes van alle mense wat sê dat hulle Christene is in die sogenaamde derde wêreld. En tog, ten spyte van hierdie verbysterende verskeidenheid, beleef mens ‘n verstommende eenheid as jy kontak maak met ware gelowiges in ander dele van die wêreld.
VERSKEIDENHEID IN DIE KERK IN ROME
Rasse-, taal- en kultuurverskeidenheid
In hierdie gemeente het Jood en heiden, oftewel nie-Jood, saam aanbid. Ons weet reeds dat Akwila ‘n Joodse Christen was. Dan praat Paulus ook van Andronikus en Junias as stamgenote (7), asook van Herodion (11). Na alle waarskynlikheid was meer as een van die res ook Jode. Die meerderheid was sekerlik Romeine, Grieke en van ander nasies.
Watter taal het hulle gepraat? Dalk het die Jode soms Aramees met mekaar gepraat. En daar is seker dikwels Latyn gepraat. Maar die Lingua Franca van die Romeinse Ryk was Grieks, ook die taal waarin Paulus sy brief geskryf het. Op die dag van die Here het dit seker partymaal soos die toring van Babel geklink.
Statusverskeidenheid
Hier is ons meer op spekulatiewe grond.
Enersyds kan ons sê dat Ampliatus (8), Urbanus (9), Hermes (14), Filologus en Julias (15) algemene name onder die slawe was.
Andersyds word hier name genoem van mense wat moontlik in hoë kringe beweeg het. Party kommentatore reken dat Aristobulus (10) bes moontlik die kleinseun van Herodus en ‘n vriend van keiser Claudius was. En sommige dink dat Narsissus (11) die ryk en invloedryke een was wat baie inspraak in Claudius se lewe gehad het. Ons teks sê egter nie noodwendig dat hierdie twee mans Christene was nie. Die uitdrukking, “van die huis van”, kan óf beteken dat ‘n huisgemeente daar bymekaar gekom het, óf dat die mense wat genoem word slawe in daardie huishoudings was.
Dit mag wees dat Rufus (13) die seun van Simon van Sirene was, die man wat die Here Jesus se kruis help dra het Golgota toe (Mk 15:21). Markus, wie se evangelie óf in óf vir Rome geskryf is, is die enigste evangelis wat noem dat Simon twee seuns gehad het, Aleksander en Rufus. Hy doen dit op so ‘n wyse dat dit duidelik is dat hierdie twee seuns baie bekend was onder die Christene. Hy bied hulle nie soseer aan as Simon se seuns nie; eerder dat hulle ‘n pa gehad het – ene Simon. In elk geval, Paulus ken hierdie gesin goed, want hy noem Rufus se ma ook sý ma.
Geslagsverskeidenheid
Wat sommige van die name betref, is dit onseker of dit mans of vrouens is. Bes moontlik is 8 van die 24 mense wat Paulus in v.5-16 noem, vrouens. Kennelik het die apostel ‘n hoë dunk van hulle almal. Vier van hulle word uitgesonder as harde werkers vir die Here – Maria (7), Trifena, Trifosa en Persis (12). Elke keer gebruik hy ‘n sterk werkwoord (Gr. kopiao) wat dui op inspannende arbeid. Die presiese aard van hulle werk noem hy nie.
Andronikus en Junias (7) is waarskynlik ‘n egpaar. Oor hulle sê Paulus 4 dinge. Een, hulle is volksgenote, dus Jode. Twee, hulle was op ‘n stadium saam met hom in die tronk, en het kennelik geweet wat dit beteken om vir hulle geloof te ly. Gewis sou hierdie ervaring die apostel en dié twee se harte saamgebind het. Drie, hulle het voor hom Christene geword. Hulle is al ryp in die geloof.
Paulus se vierde opmerking oor Andronikus en Junias verg meer aandag. Hulle is “hoog aangeskrewe by die apostels.” Die OAV vertaal letterlik: “wat in aansien is onder die apostels”. Hierdie uitdrukking kan op verskillende maniere vertolk word. Ons kan aanvaar dat dit nie beteken dat hulle apostels is nie – in die tegniese sin van oog- en oorgetuies van Christus. Dan bly daar nog twee moontlikhede oor. Dit kan beteken dat hulle hoog geag word deur die apostels (soos NAV). Taalkundiges reken egter dat so ‘n vertaling die Grieks ietwat onder spanning plaas. Die ander en meer waarskynlike moontlikheid is dat hulle baie gerespekteerde sendelinge is. Die betrokke woord (Gr. apostolos) dui basies op ‘n uitgestuurde, soos in die geval van ‘n sendeling. So was Epafroditus ‘n apostolos van die gemeente in Filippi (Fl 2:25).
Die feit dat Andronikus en Junias reeds lankal Christene is, ondersteun laasgenoemde vertolking. Anders as wat dikwels vandag die geval is, het die eerste gemeentes hulle mees ervare mense as sendelinge en kerkplanters uitgestuur. In Hd 13:1-3 lees ons hoe die twee leiers en leraars van Antiogië, Paulus en Barnabas, deur die gemeente as sendelinge uitgestuur word. In Hd 14:4, 14 word hulle dan ook apostels genoem – waarskynlik gewoon in die sin van sendelinge.
Uit bogenoemde is dit baie duidelik dat Paulus alles behalwe skuldig is aan die manlike chauvinisme waarvan hy dikwels aangekla word.
DIE EENHEID IN DIE KERK IN ROME
In hierdie verse is daar verskeie aanduidings dat die Christene in Rome se eenheid bo hulle verskeidenheid uitgestyg het. In hierdie kosmopolitiese hoofstad van die Romeinse ryk was Paulus se uitspraak in Gl 3:28 waarskynlik meer van ‘n realiteit as op enige ander plek: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”
In v.1-16 beskryf die apostel sy vriende vier maal as “in Christus” (3, 7, 9, 10; OAV); en vyf keer as “in die Here” (8, 11, 12, 12, 13; OAV). Hierdie uitdrukking lê vir die apostel in die hart van wat dit beteken om gered te wees. Hy ag die Christene in Rome as medegelowiges – en sê dit openlik.
Twee keer gebruik hy die intieme gesinstaal van “broer” en “suster” (1, 14). Dis ‘n belydenis dat God hulle almal se Vader is. Daar is dus geen statusverskil tussen hulle nie.
Voorts val dit op dat hy nie skaam is om die Christene in Rome “geliefdes” te noem nie (5, 8, 9, 12; OAV). Dit spreek van intimiteit, van verknogtheid, van toewyding.
Twee keer noem hy van hulle sy “medewerkers” (3, 9). En twee keer verwys hy na dié onder hulle wat saam met hom gely het (4, 7). As daar twee dinge is wat mense se harte saambind, dan is dit hierdie twee dinge – veral as dit vir die Here is.
Van Epenetus word gesê dat hy “die eerste bekeerling vir Christus in die provinsie Asië” was (5). Die uitdrukking word ook gebruik vir Stefanas en sy huishouding, die eerste bekeerlinge in Agaja.
Heel waarskynlik het Paulus self die voorreg gehad om Epenetus na die Here toe te lei. Hy gebruik die woord “eersteling” (OAV) (Gr. aparche). Dis ‘n begrip vanuit die Ou Testament en dui op die eerstelinggerf van die oes wat aan die Here geoffer is. Die feit dat Paulus sy bekeerlinge as offers gesien het, wys dat hy hulle nie as trofeë beskou het nie, maar hulle aan die Here geoffer het. In al sy werk was die eer van God steeds voorop.
Tóg, min bande tussen mense is hegter as die band tussen evangelis en bekeerling. Dis dikwels ‘n verhouding wat lewenslank bly.
Hoe het die eenheid van die kerk in Rome met sy talle gesigte prakties tot uitdrukking gekom? Dit weet ons uiteraard nie presies nie. Wat ons wel weet, is dat hulle in huisgemeentes bymekaar gekom het. Dit was in die dae voor kerkgeboue (wat op die vroegste twee- tot driehonderd jaar na Christus eers hulle verskyning gemaak het). Miskien was party meer Joods gekleur, en ander meer Grieks of Romeins. Miskien het sommige meer vooraanstaande lede gehad as ander – afhangende van die buurt waar hulle gewoon het.
Hierdie huisgemeentes was sekerlik oor die stad verspreid, waar daar ook al plek was om bymekaar te kom. Elkeen het sekerlik op sy eie tyd en manier vergader. Elke gemeentetjie het spontaan soos ‘n kudde hulle eie herders gevolg. En tog was daar onderlinge kontak en gemeenskap. Dis waarom Paulus net een brief aan die “een” gemeente in Rome stuur. Hy weet dat as dit by een uitkom, sal dit by almal uitkom.
Ons moet egter nie aan ‘n oorkoepelende leierskap of struktuur dink nie. Die vroeë kerk was nie so behep met strukturele, institusionele eenheid soos vandag die geval is nie. Sekerlik het ten minste die herders of ouderlinge kontak met mekaar gehad. Maar die eenheid wat vir hulle belangrik was, was die spontane voetsoolvlak-gemeenskap en onderlinge respek wat spontaan onder ware Christene voorkom.
Ons huidige ekumeniese gejaag na organisatoriese eenheid is vreemd aan die Nuwe Testament. Die eenheid waarvoor die Here Jesus in Sy hoëpriesterlike gebed gebid het, kom tot uitdrukking waar gelowiges mekaar dien en hulle lewens vir mekaar neergelê. Die Here Jesus het immers gebid vir ‘n eenheid wat die wêreld sal beïndruk en nie deur die ongelowiges nagemaak kan word nie. Dís die eenheid wat mense oortuig dat die Seun deur die Vader gestuur is.
DIE HEILIGE SOEN
“Groet mekaar met ‘n heilige kus” (OAV), sluit Paulus die paragraaf af.
Van die stuk of drie dosyn “mekaar”-tekste in die Nuwe Testament is hierdie die mees algemene een (Rm 16:16; 2Kor 13:12; 1Ts 5:26; 1Pt 5:14). Ons vind die opdrag ook by die kerkvaders. Justinus die Martelaar skryf: “As ons klaar gebid het, groet ons mekaar met ‘n heilige kus.” Tertulianus noem dit “die soen van vrede”.
Wat was dit? Dit was waarskynlik ‘n soen op die wang of voorkop – ook tussen mense van die dieselfde geslag. Sekerlik hoef ons dit nie slaafs net so na te volg nie. Waarom dit gaan, is ‘n sigbare en tasbare uitdrukking van wedersydse waardering en toegeneentheid. En dis uiteraard kultureel-bepaald. Vandag sal ‘n hartlike handdruk, of ‘n druk om die skouers dieselfde bereik.
Die punt is dít: laat ons mekaar liefhê en dit prakties wys. Só sal ons toon dat ons dissipels is van die Een wat sondaars liefhet – tot so ‘n mate dat Hy Sy lewe vir hulle gegee het. Onthou, dit gaan ten diepste daaroor dat ons Hóm behaag en verheerlik – en gesamentlik Sý aangename geur in hierdie gevalle wêreld versprei.
VOETNOTAS
1. In hierdie preek ploeg ek skandelik met John Stott se kallers in sy The Message of Romans, p.395-398.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier