ROMEINE 16:1-16

GROETE VIR PRISCILLA EN AKWILA (3-5)

ANDERS AS IN FEBE SE GEVAL, WEET ONS HEELWAT VAN DIÉ TWEE MERKWAARDIGE CHRISTENE  –  Priscilla en Akwila. Vier Nuwe Testamentiese boeke verwys na hulle: Hd 18:2-3; 18-19; 26; 1Kor 16:19; hier in Rm 16; en 2Tm 4:19 (chronologies).

Betekenisvol is dat hierdie twee altyd sáám genoem word. Maar, anders as wat mens sou verwag, word Priscilla se naam in 4 van die 6 gevalle eerste genoem. Oor die rede kan ons net spekuleer. Het sy dalk ‘n sterker en meer dinamiese persoonlikheid as Akwila gehad? Of het sy dalk ‘n meer vooraanstaande agtergrond as hy gehad? Ons weet nie. Dalk moet ons niks hierin lees nie.

Die naam “Akwila” is Latyn vir arend. Ons lees dat hy ‘n Jood was wat in Pontus groot geword het, ‘n streek op die suidelike kuslyn van die Swartsee in Klein-Asië. En háár naam was Prisca, wat ou dame beteken. Dit was ‘n algemene Latynse naam. Waarskynlik was sy dus van geboorte ‘n Romein. “Priscilla” is die verkleinwoord daarvan  –  miskien ‘n bynaam uit haar kinderjare: klein ou dametjie? Was sy dalk ‘n snipperige en bekkige dogtertjie?

Interessant is dat Lukas haar in Handelinge elke keer Priscilla noem, maar dat Paulus konsekwent meer formeel na haar verwys as Prisca. Sê dit dalk iets oor hierdie twee Bybelskrywers se persoonlikhede en omgang met mense? Jy kry dieselfde ding ook in ander gevalle. Tipies is tydens geselsery die verkleiningsvorm van mense se name gebruik. En dit doen Lukas meermale in Handelinge. So praat hy van Sopater (Hd 20:4) en Silas, terwyl Paulus die formele Sosipater (Rm 16:21) en Silvanus gebruik.

HANDELINGE 18: 2-3; 18-19; 26

Paulus ontmoet hierdie egpaar in Korinte. Hulle het “kort tevore” soontoe getrek vanaf Rome. ‘n Dekreet van keiser Claudius het alle Jode uit die hoofstad gedwing (2). Nou is dit ongeveer 50 n.C.

Die apostel het hulle gaan “opsoek” (2). Waarskynlik was hulle dus reeds Christene. Hy trek dan by hulle in, “omdat” hulle dieselfde ambag het (3). Gasvryheid teenoor ‘n medegelowige  –  des te meer ‘n apostel  –  was vanselfsprekend, maar ‘n verdere voordeel was dat Paulus ‘n nuttige bydrae kon lewer tot sy gashere se besigheid.

Hulle was “tentmakers” (3). Die betrokke woord kan ook verwys na leerwerkers of skoenmakers, maar aangesien Paulus se tuisprovinsie bekend was vir die doeke wat van bokhaar geweef is, word aanvaar dat tentmakery die beste vertolking is.

Twee opmerkings oor Paulus se ambag: Een, dit was destyds nie as behoorlik geag as ‘n rabbi geld vir sy dienste vra nie. Meeste van hulle het dus ‘n ekstra bron van inkomste gehad. Hieroor het die groot leermeester, Gamaliël, opgemerk dat so ‘n ambag rabbi’s uit die kwaad hou! Twee, dis onwaarskynlik dat Paulus soveel aandag aan sy tentmakery geskenk het as wat baie mense dink. Hy was eenvoudig te besig en het te veel gereis. Later in sy lewe hoor ons nie meer van sy ambag nie. Voltydse koninkrykswerk is nie onbybels nie.

Hierdie drie se saamblyery het goed gewerk, want as die apostel aanskuif Efese toe, trek die egpaar saam (18-19). Waarskynlik stel hulle meer belang in die verbreiding van die evangelie as in die sukses van hulle besigheid. Hierin sit vir seker ‘n belangrike les vir soveel beroepsbehepte en ambisie-gedrewe Christene in ons dag.

Die twee se uitreiking na Apollos daar in Efese is tipies van hulle gasvryheid en ywer vir die evangelie (26). Hierdie briljante Jood uit Noord-Afrika ken die Ou Testament baie goed. Maar sy begrip van die evangelie is nie wat dit moet wees nie. Hy weet net van die doop van Johannes” (25). Priscilla en Akwila verduidelik dan aan hom “die weg van God” (OAV) meer noukeurig.

1KORINTIËRS 16:19

Uit Efese skryf Paulus sy eerste brief aan die Korintiërs (55 n.C.). Daarin stuur hy groete namens die gemeentes in Asië, en noem spesifiek vir Akwila en Prisca (Grieks. Vgl. NASB; ESV), asook “die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaar kom” (16:19). Dalk gaan die apostel steeds by hulle tuis.

ROMEINE 16:3-5A

As Paulus tydens sy derde sendingreis sy brief aan die Romeine skryf (ongeveer 57 n.C.), is Prisca en Akwila terug in Rome. Die dekreet van Claudius is na sy dood in 54 n.C. opgehef. Dalk woon hulle weer in hulle ou huis. En weereens is daar ‘n huisgemeente wat by hulle bymekaarkom (5a).

Paulus noem hulle heel eerste in hierdie lang lys. En sy toegeneentheid is duidelik as hy hulle sy “medewerkers” noem (3). Maar dis nie net hy wat so teenoor hulle voel nie. “Ook al die gemeentes onder die heidennasies” ervaar besondere dankbaarheid teenoor hulle (4). Hierdie is geen geringe pluimpie nie: ál die gemeentes! Waarlik, hierdie mense het nie net een of twee maal per week hulle huis vir ‘n selgroep oopgestel nie (en elkeen wat dit vir ‘n tyd lank gedoen het, sal weet hoe veeleisend dit kan wees); hulle het as ‘t ware ‘n gratis gastehuis bedryf vir die strome Christene wat voortdurend deur Korinte en Efese gereis het. En steeds is dit vir hulle ‘n lewenswyse in Rome.

Mens kan omtrent vra: was hulle huis die kerk, of was die kerk hulle huis?

Maar verstaan dit goed: Akwila en Prisca se Christenskap was nie net ‘n huppel-in-elke-tree-ervaring nie. Op ‘n slag het hulle hul lewens vir Paulus gewaag. Wanneer en waar weet ons nie. Miskien was dit tydens die volksoproer in Efese (Hd 19:23-40). Ander kommentatore dink weer aan die swaarkrytyd wat Paulus in 2Kor 1:8-10 noem.

2TIMOTEUS 4:19

Sy heel laaste brief, kort voor sy dood, skryf Paulus aan Timoteus in Efese. Nogeens stuur hy spesiale groete aan Prisca en Akwila, wat beteken dat hulle hul waarskynlik weer in Efese bevind.

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

Boesemvriende in die gemeente is in orde. 

Dit is duidelik dat Paulus besonder lief was vir hierdie twee mense. En hy het ‘n reuse respek vir hulle gehad. William Hendriksen maak die opmerking dat Paulus nie altyd ‘n maklike man was om mee saam te leef en saam te werk nie. Hy het gebots met Petrus en Barnabas en Johannes Markus en Euodia en Sintige. Maar met Prisca en Akwila het hy deurgaans die hartlikste verhouding gehad. Hy het innige gemeenskap met baie broers en susters geniet, maar oënskynlik was niemand nader aan sy hart as hierdie twee geliefdes nie.

Ons moet alle broers en susters in die Here liefhê. Maar dis in orde as ons nader aan party is. Ons het uiteenlopende persoonlikhede, en met sommige click ons net beter as met ander. Selfs die Here Jesus het Sy binnekring gehad (Petrus, Johannes en Jakobus). En selfs onder hulle was dit net Johannes van wie gesê word, “die dissipel … vir wie Jesus baie lief was” (Jh 21:20).

Die vroeë kerk se geheim was die spontane funksionering van die amp van alle gelowiges. 

Van domineeskerke was daar geen sprake nie. Ewe min was daar gesalariëerde, professionele werknemers. Daar was ‘n verskeidenheid van gawes en roepinge, ja, maar élke Christen was ‘n dissipel  –  in die Here se diens.

Akwila en Priscilla het baie getrek  –  maar nie ter wille van professionele vordering en meerdere sakebelange nie. Sonder om te sê dat sulke motiverings noodwendig verkeerd is, moet ons raaksien en ons daaroor verantwoord dat dit vir hulle in die eerste instansie gegaan het oor die verbreiding van die evangelie, die koms van die koninkryk en die eer van die Here. Dít was hulle hartstog. Daarom het hulle bestaan gedraai.

As ons oorweeg om te trek, is een van die eerste vrae wat ons moet antwoord: Is daar ‘n ware en lewende gemeente waar ek die Here in gees en waarheid kan aanbid? En indien nie, moet ek die vraag vra: Is ek ryp genoeg om daar as “sendeling” kop bo water te hou en vrug te dra?

Jare gelede het ek en Soniah in Potchefstroom ‘n vyfvoet Koreaanse vriendinnetjie gehad, Tang-Sin Jung. As onderwysstudent het sy vanuit Buddisme (as ek reg onthou) tot bekering gekom. Na haar studies stuur die owerhede haar toe na ‘n uithoek van die land waar die evangelie nog nooit verkondig is nie. Toe sy enkele jare later trou met háár Akwila, was daar ‘n aan-die-brand gemeente wat ‘n voltydse voorganger kon beroep.

Laat dit elke gemeente wat waarlik gemeente wil wees se leuse wees: Elke lidmaat ‘n sendeling! Laat ons die fakkel van ons roeping opneem en die implikasies van ons belydenis en doop in integriteit uitleef  –  ter wille van ons Koning se eer!

Min dinge is mooier as ‘n man en vrou wat die Here enkelhartig sáám dien 

Uitnemend sien ons dit in Akwila en Priscilla. Áltyd word hulle name saam genoem. ‘n Christen egpaar is ‘n span in diens van Christus. Hulle skapies is in dieselfde kraal, saam maak hulle kinders vir Hom groot, en saam dien hulle Hom, sy kerk en Sy saak.

Let voorts op die prominente rol wat ons twee helde se woning in hulle bediening gespeel het. In die vroeë kerk is die huis vir bykans enige Christelike aktiwiteit gebruik: vir saam-eet en die nagmaalsviering (Hd 2:46), vir Bybelstudie, berading en evangelisering (Hd 10: 23, 27-48; 28:23), en vir eredienste.

Een van die uitnemende maniere waarop ons huise gebruik moet word, is in die bediening van gasvryheid. Ons as moderne stedelinge sien ons wonings as forte van privaatheid en afsondering. Maar veel eerder moet ons huise veilige ooparm-hawens wees vir eensames en vreemdelinge en diegene wat antwoorde soek. Lees die boek van Edith Schaeffer, L’Abri, om gasvryheid by uitnemendheid in aksie te sien. Waarlik, sy was ‘n moderne Prisca, en Francis, haar man, haar Akwila. 

Let op hierdie twee Skrifperspektiewe: Een, die Nuwe Testamentiese woord vir gasvryheid beteken letterlik liefde vir vreemdelinge. Twee, gasvryheid is een van die kwalifikasies vir ouderlingskap in die gemeente (1Tm 3:2; Tit 1:8). Voorts is weduwees van oor die sestig destyds afgesonder vir belangrike werk in die gemeente  –  en ook hiervoor was gasvryheid ‘n kwalifikasie (1Tm 5:9-10).

SLOT

In Akwila en Prisca sien ons hoe ‘n egpaar hulleself prakties aan Jesus Christus as Koning toewy  –  uit dankbaarheid vir wat Hy vir hulle gedoen het, en in verwagting op die loon wat Hy eendag vanaf Sy troon aan elkeen van Sy getroue dissipels sal gee.

Laat ons ook onthou dat die Here tot in die fynste besonderhede oor ons as gesinne se lewensgang heers. Sommige trek gedurig rond; ander bly ‘n leeftyd op een plek. Party het baie kinders; ander het nie eers een nie (soos Akwila en Priscilla dalk). Almal van ons is maar klein ratjies in die masjinerie van die koms van God se koninkryk. En wat word van ‘n ratjie verwag? Dat hy daar waar hy geplaas is, sal draai, en draai, en bly draai.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00