ROMEINE 16:1-16 Febe (v.1-2)
MENS LEES MAKLIK BO-OOR HIERDIE VERSE, sonder om twee keer te dink. Meeste van die amper twee dosyn mense wat genoem word, is immers onbekend aan ons. Kan ons veel hier leer? Maar laat ons onthou, ons het met God se geïnspireerde openbaring te doen. Sonder twyfel dra ook hierdie verse belangrike lesse vir ons.
Ons het hier ‘n intiem-persoonlike demonstrasie van Paulus se waardering en liefde vir sy medegelowiges. Jy kan beswaarlik glo dat hy soveel mense ken in ‘n gemeente waar hy nog nooit was nie. Maar daar is destyds baie gereis in die Romeinse Ryk. En soos vandag, was die wêreld van die Christene maar klein.
In hierdie paragraaf sit egter baie meer. Kom ons kyk eerstens na wat Paulus oor Febe sê.
‘N GETUIGSKRIF
Waarskynlik moes Febe van Kenchreë, Korinte se hawestad, na Rome reis. Dit was ‘n lang, moeilike en gevaarlike tog, oor sowel land as see. Oornagplekke, indien beskikbaar, was meestal nie ‘n plek vir ordentlike mense nie, wat staan nog vir ‘n vrou. Drankmisbruik en prostitusie was algemeen. Christene het dus, waar hulle kon, by plaaslike gelowiges oorgebly. Gasvryheid was een van die prominente bedienings in die kerk destyds.
Dit was gebruiklik om ‘n aanbevelingsbrief van jou plaaslike gemeente saam te dra. Want ook destyds was daar bedrieërs wat elke geleentheid sou aangryp om naïewe mense uit te buit. Hierdie twee verse is so ‘n getuigskrif.
PAULUS SE VERSOEK
Eerstens vra hy dat hulle haar sal “ontvang in die Here” (OAV). Hoe bewus was Paulus nie daarvan dat ware gelowiges in Christus is nie! Net in hierdie 16 verse sê hy dit 10 keer. En inderdaad is dit ‘n waarheid wat aan die hart van ons redding lê. Hulle moes haar dus nie maar net ontvang nie; hulle moes haar as ‘n mede-erfgenaam van die ewige lewe ontvang – soos dit “betaam”.
Voorts vra die apostel dat hulle haar sal bystaan in enige saak waarin sy hul hulp mag benodig. Die woord wat met “saak” vertaal word (Gr. pragma, die oorsprong van ons woord pragmaties), dui op enigiets wat prakties aangespreek moet word. Wat Febe ook al in Rome moet gaan doen, is duidelik gewigtig. Sy reis immers ver. En ons weet hoe moeilik dit kan wees om dinge gedoen te kry in ‘n groot en vreemde stad. Hulpvaardige mense wat die opset ken, is in so ‘n geval goud werd.
PAULUS SE GETUIENIS OOR FEBE
Sy het ‘n naam wat dikwels ook aan die mitologiese god, Apollos, toegedig is. Dit beteken die helder of stralende een. Nadat hulle tot bekering gekom het, het Christene hulle oënskynlik min gesteur aan sulke heidense konnotasies (soos óns steeds die weeksdae volgens hulle heidense name noem). Volwasse Christene is nie bygelowig nie.
Paulus noem haar “ons suster”. Tereg was die vroeë Christene baie bewus daarvan dat hulle deel is van die nuwe mensheid in Christus – die huisgesin van hulle Vader in die hemel. En as sodanig het hulle groot vreugde geput uit die feit dat hulle met onbreekbare en ewige bande aan mekaar verbonde was. Hulle was familievas!
Febe was ‘n “dienares” (OAV) of “diaken” (NAV) “in die gemeente in Kenchreë”. Dis die gewone Griekse woord, diakonos, wat hier gebruik word. Eintlik dui dit gewoon op ‘n huisbediende. Maar algaande het dit ook ‘n tegniese term in die vroeë kerk geword vir die amp van diaken – diegene wat omsien na die praktiese take in ‘n gemeente.
In watter sin Paulus hier aan Febe dink, is onseker. Kyk mens na 1Tm 3:11, vind jy in die diakenspieël ook kwalifikasies vir vrouens. Dis egter onseker of die apostel van diakens se vrouens praat, of van vrouediakens. In die vroeë kerk, soos vandag, was daar talle take wat eintlik net deur vrouens behartig kon word. Tipies het vrouens na siekes omgesien. Hulle het gasvryheid betoon aan medegelowiges wat op reis was. Hulle het gehelp tydens die doop van vrouens. Die ouer vrouens het die jongeres en kinders geleer. Hulle was aktief in die armsorg van die kerk. Hierdie take moes gekoördineer word, en bes moontlik is vrouens wat só leiding geneem het as diakens beskou.
In elk geval is dit duidelik dat Febe ‘n sentrale figuur in Kenchreë se gemeente was.
Sy was vir baie “tot steun”. Presies waarop die apostel sinspeel, is nie duidelik nie. Die begrip wat hy gebruik is egter sprekend. Dit is meermale gebruik vir ‘n donateur. Was Febe dalk ‘n ryk sakevrou wat die saak van die Here finansiëel sterk gesteun het – onder meer ook vir Paulus?
Dis baie onwaarskynlik dat ‘n vrou in daardie dae alleen sou reis. Tog gee Paulus geen aanduiding van enige reisgenote nie. Sekerlik sou hy hulle ook aan die gelowiges in Rome voorgestel het. Dit is dus ‘n redelike afleiding dat Febe een of meer bediendes saam met haar geneem het. In die vroeë kerk was daar nie baie vooraanstaande mense nie, maar daar is sterk aanduidings dat Febe een van hulle kon gewees het!
WAT ‘N VERANTWOORDELIKHEID!
Dis feitlik seker dat Febe die draer van die Romeinebrief was. As hy hoor dat sy na die ryk se hoofstad toe op pad is, sien Paulus ‘n geleentheid om sy brief veilig te laat aflewer.
Mens kan jou beswaarlik ‘n meer gewigtige taak voorstel: die Romeinebrief oor land en see, oor eensame paaie waar struikrowers enige tyd kan toeslaan, deur stede wat wemel van sakkerollers! Laat ons onthou, dit was voor die tyd van fotostaatmasjiene. Febe dra die enigste manuskrip van die Romeinebrief saam met haar – die brief wat meer as enige ander die Nuwe Testamentiese evangelie vir ons uiteensit en menselewens sonder tal deur die eeue beïnvloed het!
Die feit dat Paulus sy geskrif aan haar toevertrou, sê vir ons dat ons hier met ‘n vrou van statuur te doen het. Natuurlik kan sy onmoontlik voorsien watter rol hierdie brief sou speel in die uitwerk van God se raadsplan. Maar waarskynlik weet sy dis ‘n Goddelike geskrif. Op hierdie stadium word Paulus reeds algemeen aanvaar as ‘n “apostel … afgesonder vir die evangelie van God” (Rm 1:1). Sonder twyfel sal sy haar pakkie met haar lewe verdedig. Ongeag hoe belangrik die “saak” is waarvoor sy Rome toe gaan, in vergelyking met haar koerierstaak is dit soos niks nie.
ENKELE LESSE UIT HIERDIE TWEE VERSE
Die Nuwe Testament se klem op onderlinge broederliefde is en bly ‘n onontkombare feit.
Nooit het die vroeë Christene hulle Here se woorde vergeet nie: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Jh 13:34-35). Dis waarom die apostel van die liefde later sou skryf: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê” (1Jh 4:20-21).
Ons móét mekaar innig liefhê! Maar eweneens, as ons waarlik gemeente is, sál ons mekaar liefhê. Onderlinge liefde is dié watermerk van egtheid. Wedergebore mense kan nie anders as om hulle broers en susters lief te hê nie. Ons hoor dikwels die aanklag dat Christene nie mekaar liefhet nie. Maar sulke kritici kyk óf verkeerd, óf hulle kyk na die vals kerk, en nie na die ware een nie!”
Waarin sien mens die broederliefde? Die Bybelse antwoord is eenstemmig: dit kom tot uitdrukking in onderlinge en praktiese diensbaarheid. Kyk net na Febe (aangeneem dat ons vermoedens hierbo korrek is): ‘n ryk en vooraanstaande dame hou haar as diakonosbesig met die versorging van siekes en bejaardes, met gasvryheid, met die leer van jonger vrouens en kinders, met armsorg. Meer nog, sy wend die materiële gawes waarmee die Here haar geseën het aan in belang van haar broers en susters en die uitdra van die evangelie. Hierdie belangrike vrou – vir soverre haar bedrywige sakelewe haar toelaat – fokus al haar energie, tyd en gawes op die Here, Sy kinders en Sy saak. Wie kan die egtheid van haar geloof bevraagteken? Hier is Christelike adel!
Dis onkunde en kwaadwilligheid wat Paulus ‘n manlike chauvinis noem.
Kyk net met watter gloeiende lof en waardering praat die apostel hier oor Febe!
Van die vroegste tye af het vrouens ‘n onmisbare en gewaardeerde rol in die Here se gemeente en werk gespeel. Nooit ooit is hulle as minderwaardige lidmate beskou nie. Dis waarom hierdie einste apostel ook kon skryf: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één (Gl 3:28). Dis wel so dat die Bybel kompromieloos daarop aandring dat die man en vrou verskil. Hulle moet verskillend aantrek (1Kor 11:2-16), en hulle het verskillende roepinge in God se ordes – maar op geen wyse is daar ‘n statusverskil nie.
Weliswaar laat God se Woord vrouens nie toe om in die gemeente te regeer nie. En geen vrou het die voorreg gehad om ‘n deel van die Bybel te skryf nie. Maar hier sien ons hoe ‘n vrou een van die heel belangrikste fondamentstene van die Godsopenbaring oor ‘n lang en gevaarlike roete koerier. Die verantwoordelikheid wat die Here hier op haar skouers plaas, is duiselingwekkend! En só sou ontelbaar baie vrouens deur die eeue op merkwaardige wyses deur die Here gebruik word.
Dit bly verstommend dat die Here ons – gewone mense – as medewerkers gebruik.
Ons gemeenskap met Hom kom nie net tot uitdrukking in ons binnekamers nie; dit gedy ook wanneer ons prakties saam met Hom werk in die koms van Sy koninkryk. Meer nog, Hy gebruik ons nie net vir mindere take nie; ons speel soms ‘n sleutelrol in gebeure waarvan die effekte verbysterend ver uitkring. En dit geld nie net van sogenaamd belangrike Christene nie – soos die Romeinebrief se skrywer. Onthou vir Febe!
Gewoonlik weet ons dit nie as ons met so ‘n grootse taak besig is nie. Febe kon nie sien wat ons vandag verstaan nie. Hoe kan ek seker maak ek sal ook so iets groots vir die Here kan doen? Wel, élkeen van Sy dissipels word as medewerker aangewend. Maar oor die gewigtigheid van elkeen se rol besluit Hy alleen soewerein. Maar tog is daar iets wat ons uit Febe se lewe moet leer. Sy het vooraf getrou gedien, sonder enige aanspraak op kompensasie. Dis op grond daarvan dat Paulus haar vertrou het met so ‘n verantwoordelike taak!
Jy sê jy is ‘n sukkelaar. Jy is bang jy is eerder ‘n stok in die speke as ‘n medewerker. Die Here weet dat dit waar is van ons almal. Daarom pas Hy ons op – soos Febe gewis onder Sy liefdevolle, alwetende en almagtige hand gereis het. En sonder twyfel, haar hemelse Hoëpriester sou met groot erns dwarsdeur daardie moeilike reis vir haar by haar Hemelse Vader ingetree het. En vir seker het die Heilige Gees haar gelei. As ek en jy dan in Christus is, kan ook ons hierop staat maak!