MATTEUS 13:44-46
In Mt 13 vind ons 7 sogenaamde Koninkryksgelykenisse, sowel as die uitleg van 2 van hulle. Die twee kort gelykenisse, die skat in die saailand en die kosbare pêrel, is ‘n tweeling wat basies dieselfde punt wil tuisbring. Tog is daar ‘n subtiele, maar betekenisvolle verskil. In die geval van die skat loop die man dit onverwags raak. Maar die pêrelhandelaar maak sy vonds ná ‘n soektog. In beide gevalle word die fabelagtige waarde van die betrokke skatte herken, en gaan verkoop die mans al hulle besittings ten einde dit te kan bekom.
ONS ERVARINGE VERSKIL
Elke Christen het sy eie getuienis oor sy redding in Christus – want dis waaroor dit in hierdie twee gelykenisse gaan. Hier maak die Here Jesus ‘n onderskeid tussen hulle wat as ‘t ware onverwags oor die Koninkrykskat struikel, en hulle wat dit vind na ‘n lang soektog. Inderdaad vind ons beskrywings van beide soort bekerings in die Bybel.
Sommige mense ontwikkel ‘n intense honger en dors na lewensin en ewige sekuriteit. Meestal kan hulle hul innerlike verlangens na God nie onder woorde bring nie, maar hulle word onvermoeide soekers na geestelike realiteite. Dink aan die Etiopiër wat in Jerusalem na sy “pêrel” gaan soek en dit dan op sy pad terug vind as Filippus by hom op die wa klim (Hd 8). Nog ‘n voorbeeld is die Romein, Cornelius, wat in sy soeke die Joodse geloof aanneem, ‘n godsdienstige en godvresende lewe lei, armes help en gedurig bid. Hy vind dan uiteindelik – as Petrus na hom toe gestuur word en die evangelie van God se vrye genade in Christus aan hom verkondig (Hd 10-11). En dan is daar die Joodse proseliet, Lidia, wat uiteindelik die Koninkryk vind as Paulus-hulle een Sabbat die evangelie by Filippi verkondig (Hd 16).
Ander ontdek die Koninkryk sonder dat hulle daardie oggend toe hulle opgestaan het enige behoefte daaraan gehad het – die Samaritaanse vrou by die put (Jh 4), Saulus op die Damaskuspad (Hd 9), die tronkbewaarder van Filippi (Hd 16). Dis soos Jes 65:1 sê: “Ek het my wil geopenbaar aan ‘n volk wat nie na My gevra het nie. Ek het My laat vind deur mense wat My nie in die gebed gesoek het nie. Vir ‘n nasie wat My nie aangeroep het nie, het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!”
Kom ons fokus nou verder op die gelykenis van die pêrelhandelaar. Vier dinge is van hom waar: hy soek; hy vind; hy verkoop alles; hy koop die pêrel.
HY SOEK
Hierdie man het ‘n ander tipe persoonlikheid as die een van die vorige gelykenis. Anders as meeste mense is hy ‘n soeker na die pêrels van die hierdie lewe. Hy is een van die edelmoediges van die samelewing. Hy is iemand wat nadink oor die sin van sy bestaan, wat die summum bonum, die hoogste goed van die lewe najaag.
Nie baie mense dink regtig nie. Meeste se koppe is onder die sand. Vra hulle uit oor wat regtig saak maak, en hulle staan met ‘n mond vol tande. Maar hierdie handelaar is van ‘n beter stoffasie!
Nie baie mense besin oor hulle eindbestemming nie. Meeste dryf dag na dag maar voort op die strominge van hulle dag. Maar Jesus se karakter worstel oor hierdie allervraag. Hy is die eerlike soort en uit harder hout as meeste gesny!
Nie baie mense is werklik daaroor begaan om ‘n uitnemende lewe te lei nie. Maar hierdie man soek “pêrels”. Meer nog, hy soek “goeie pêrels”. Hy weet dat sy lewe ‘n kosbare gawe van Sy Skepper is. Hierdie is ‘n besondere man!
Selfs onder die denkers van hierdie lewe is daar min wat iets daadwerkliks doen om ‘n moeite-werd lewe te leef. Maar hierdie man sit nie en wag dat pêrels uit die lug reën nie. Hy weet dat dit soms nodig is om oor land en see te trek as jy ware pêrels wil kry. Hierdie is ‘n voete-op-die-grond-man!
Nie baie mense kan onderskei tussen die valse en die ware Jakob nie – tussen die alledaagse en die uitnemende nie. Nie alle pêrels het immers dieselfde kwaliteit nie. Maar as hierdie handelaar díé pêrel van alle pêrels sien, herken hy dit onmiddellik. Anders as meeste is hierdie man wakker en nugter – hy weet waaroor dit gaan!
HY VIND
Hierdie man is ‘n pêrelkoper. Hy is ywerig. Hy is gefokus. Hy speel nie rond nie. Pêrels is sy lewe. Hy weet dat sukses net deur harde werk kom. Dis daarom nie verbasend dat dit hý is wat op hierdie pêrel van alle pêrels afkom nie.
As jy reeds ‘n dors in jou hart het – en dus ‘n ernstige soeker is – wees bemoedig. Waarom? Die Heilige Gees is bes moontlik reeds besig in jou.
Verstaan goed, sonder Sy aktiwiteit in jou binneste sou jy nie in die minste oor ewigheidsdinge begaan gewees het nie. Die natuurlike mens is geestelik dood; sy hart is van klip; hy kan nie die Koninkryk sien nie. Dit laat hom koud.
As ons handelaar hierdie pêrel van alle pêrels sien, weet hy dis die vonds van sy lewe. Dat hy dit in die hande moet kry, daaroor twyfel hy nie – maak nie saak wat dit kos nie!
Begenadig by uitnemendheid is die man of vrou of kind wat glashelder begin verstaan dat hy verlore is en dat daar maar één antwoord vir tyd en ewigheid is: Jesus Christus! Begenadig by uitnemendheid is hy wat weet dat daar niks, maar niks belangriker in sy lewe is nie as om in Christus te wees, om die Koninkryk in besit te kry, om die ewige lewe te beërf.
HY VERKOOP
Die handelaar gaan verkoop “alles” wat hy het sodat hy die pêrel kan koop . Dis Jesus se manier om te sê dat die man hoegenaamd niks ontsien om dit waarna hy so lank gesoek het, te bekom nie. Gééneen van sy besittings kan daarmee vergelyk nie – nie eers alles gesamentlik nie.
Natuurlik verkoop die Here nie Sy genade nie; dis absoluut gratis. Daaroor is die Skrif oor en oor duidelik. Maar God se genade is nie goedkoop nie. Ja, enigeen kan Christus en die heil in Hom bekom. En dis altyd op grond van Sy verdienste alleen. Maar daar is implikasies aan verbonde. En essensiëel kom dit hierop neer: die Here Jesus duld geen, maar geen mededingers nie. Hy dring aan op eenhonderd persent vertroue en lojaliteit.
God se selfopenbaring in Hom as groot Profeet moet soos ‘n helder lig dwarsdeur jou hele wese en lewe skyn. In Hom en Hom alleen as groot Hoëpriester moet jy vir tyd en ewigheid skuil. Gehoorsaamheid aan Hom as groot Koning moet dag na dag jou lewensbeheersende dryfveer wees.
Wat moet mens verkoop om die Koninkryk in besit te kry? Daar mag van ten minste 6 dinge niks oorbly in jou privaat kluis nie:
Jy moet ontslae raak van alle afgode. In Lk 14 noem die Here Jesus drie huisgode waarmee alle voornemende dissipels moet werk maak: ‘n ongesonde lojaliteit aan dierbares wat jou daarvan weerhou om Hom enkelhartig te dien (26); die voortgesette aandrang op jou lewensgerief en selfbeskikkingsreg (27); ‘n verkleefdheid aan besittings wat jou vashou sodat jy nie die volle pad van dissipelskap kan loop nie (33).
Jy moet jou vooroordele van kant maak. Baie mense het allerlei slegte of skewe idees oor wat Christenskap behels. Ander sit vasgevang in die slagyster van ontnugtering – in die kerk of in Christene. Daarmee moet jy klaar kry, jou rug daarop draai, en met ferm tred tegemoetstap wat die Here se pad ook al vir jou inhou.
Jy moet al jou troetel filosofieë en eie teologiese wieletjies oorboord gooi. Kinderlik-gelowig moet jy jouself oopstel om alles op te slurp wat die Groot Profeet in Sy Woord deurgee.
Jy moet elke stukkie eie-geregtigheid as verwerplik beskou. Geeneen van jou eie werke is vir God aanvaarbaar nie. Redding is uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen – alleen, alleen, alleen!
Jy moet klaar kry met sondige lewensplesiere. ‘n Hand-om-die-lyf-lopery met die waardes van hierdie wêreld, met die duiwel, en met die verdorwe natuur, enersyds, en die lojaliteit aan Koning Jesus, andersyds, is onversoenbaar met mekaar.
Jy moet die kompensasies van hierdie wêreld groet – dié wat in jou pad staan om Jesus Chrstus te volg. Hoeveel maal moes voornemende dissipels nie al hulle rug draai op belowende loopbane, op hartstogtelike liefdesverhoudings, op fabelagtige erfporsies nie! (Lk 9:57-62).
HY KOOP
Een kommentator stel dit so: “Buying, in this Scriptural usage, is an earnest, urgent, believing response to the free grace of God. It is called buying because such response to the gospel involves the surrender of everything we hitherto held dear, in the interest of cementing a new relationship with the Lord” (Gordon Keddie, He spoke in parables, Evangelical Press, p.53).
Dit gaan hier oor drie toe’s. ‘n Persoonlike toe-eiening van God se heil in Christus. ‘n Algehele toevertrou van jouself vir lewe en dood aan die Seun. ‘n Ongekwalifiseerdetoewyding aan Koning Jesus om Hom lewenslank gehoorsaam te dien.
SLOTSOM
Sonder twyfel het die handelaar die transaksie onverwyld vasgeknoop.
Dis ondenkbaar dat hy, toe hy alles verkontant het, gras onder sy voete laat groei het. Sekerlik het hy sy knieë gedra sodat niemand anders die pêrel voor sy neus wegraap nie. Vir seker, as jy nog huiwer en voete sleep wat die drie toe’s betref, het jy gewoon nog nie die pêrel se waarde raakgesien nie. Maar weet dit, vandag nog kán dit joune wees!
Daar sit niks heroïes in hierdie transaksie nie. Dit is bloot ‘n kwessie van gesonde verstand, van logiese prioriteite. Sou hierdie man sy rug op so ‘n winskoop gedraai het, was hy ‘n opperste dwaas.
Hierdie is ‘n finale transaksie.
Nooit sou die handelaar weer van sy pêrel afstand doen nie. Hy of sy wat Jesus Christus waarlik vind, se soektog is finaal iets van die verlede. Dis die getuienis van elke ware Christen wêreldwyd en deur die eeue. Die boot wat uiteindelik – dikwels na die verskriklikste storms – in die hawe van die Here se sekuriteit en vervulling vasmeer, se soektog het finaal en ewig tot ‘n einde gekom.