MATTEUS 16:15-19 : DIE FONDASIEROTS

Tydens Sy publieke bediening roep die Here Jesus ‘n handjievol manne om orals saam met Hom te beweeg en by Hom te leer. Na Sy vertrek sou hulle as oog- en oorgetuies ‘n kardinaal belangrike rol vervul: hulle sou die openbaring wat deur Hom gekom het, bewaar, vertolk en oopvou, dit orals preek, die jong gemeentes daarin vestig en sorg dat die essensie daarvan op Skrif gestel word – óf deur dit self neer te skryf, óf deur toe te sien dat medewerkers dit onder hulle toesig en met hulle leiding doen.

Hieroor is Mt 16:15-19 uiters belangrik.

‘N BELYDENIS WAT UIT DIE HEMEL KOM

“Maar julle, wie, sê júlle, is Ek?” (15). Simon, leier van die dissipels, antwoord namens hulle: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (16).

Met hierdie belydenis is die Here Jesus ingenome. Só akkuraat is dit, dat Hy vir Simon kan sê: “dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is” (17). Dit kom dus nie van ‘n mens nie, maar van God.

‘N FUNDAMENTEEL BELANGRIKE UITSPRAAK

Die Here gaan dan voort met ‘n eienaardige, selfs kriptiese stelling. Kennelik is dit vol betekenis:”Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly” (18).

‘n Verkeerde verstaan van hierdie uitspraak van die Here Jesus het ‘n tragiese rol gespeel in die ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. Daarenteen, reg verstaan, is dit van fundamentele belang vir begrip van die unieke rol en gesag van die apostels as skrywers van die Nuwe Testament.

‘n Paar opmerkings is dus nodig.

In die Grieks – die taal waarin die Nuwe Testament geskryf is – sê Jesus: “Jy is Petros” (manlike vorm van die vroulike petra, die gewone woord vir rots). Waarom dan manlik? Bloot omdat Petrus ‘n man is en ‘n vrouensnaam nie sal pas nie.

Jesus gaan dan voort en gebruik die normale vroulike vorm: “op hierdie rots sal Ek my kerk bou”. Hierdie twee vorms van die woord (die manlik en die vroulik) mag verwarrend wees. Maar in die Aramees, die taal wat Jesus sonder twyfel met Petrus gepraat het, kan ons aanvaar dat die probleem nie sou bestaan het nie. Die Here sou presies dieselfde woord in beide gevalle gebruik het, nl. kepha. Dan het Hy gesê: “Jy is kepha, en op hierdie kephasal Ek my kerk bou.” 1

Wat of wie is hierdie rots waarop die kerk gebou sou word? Die antwoord is onontkombaar: Petrus is die rots! Daarom aanvaar Rooms-Katolieke dat die kerk gebou word op Petrus persoonlik, en sy opvolgers ná hom – die Pouse.

Maar so ‘n vertolking van die teks is in stryd met die res van die Nuwe Testament. Nee, dit gaan nie oor Petrus in sy persoonlike hoedanigheid nie. Dit gaan oor hom as instrument en kanaal van Nuwe Testamentiese openbaring. Dit gaan dus in die finale analise oor die openbaring wat deur hom sou kom. Per slot van rekening maak die Here hierdie belofte aan Petrus júís na aanleiding van die vorige vers, wat sê dat sy belydenis vanuit die hemel geïnspireer is – ‘n belydenis wat die hart van die Nuwe Testamentiese boodskap saamvat.

Nog méér is hier ter sprake: die belofte word aan Petrus gemaak in sy hoedanigheid as segsman en leier van die apostels – en daarom déúr hom ook indirek aan die res. So skryf Paulus dan ook later vir die Efesiërs dat ál die apostels (saam met die profete, wat die Ou Testament verteenwoordig) die fondasierots van die kerk is: “Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is” (Ef 2:20). 

In die eerste eeu is die kerk dus gebou op, benewens die Ou Testament, die apostels se bedieninge, veral hul prediking en geskrifte. En na hulle dood het die Nuwe Testament oorgebly – om saam met die Ou Testament die Woord van God te word wat in die komende eeue die rots sou wees waarop die ware kerk gebou word.

Die Here sê dat Sy gemeente (Gr. ekklesia) 2 in die toekoms onder groot aanslae van die magte van die hel sal verkeer. Maar, gee Hy die versekering, die bose sal dit nie “oorweldig” nie – dit sal onvernietigbaar wees.

Die woord wat in ons Bybels met “oorweldig” vertaal word, beteken gewoon, om sterker te wees as (Gr. katischuo). Jesus mag dus ook bedoel dat die magte van die doderyk nie die kerk sal kan weerstaan nie. In so ‘n geval word die kerk dan voorgestel as op die aanval, eerder as op die verdediging. In die lig van ander Skrifuitsprake, soos Mt 11:12, is hierdie verstaan van die begrip nie uitgesluit nie – dat die kerk op die aanval is.

Beide vertolkings maak goed sin in die onmiddellike konteks, en is sekerlik wáár volgens die res van die Bybel.

In v.19 word Petrus steeds aangespreek, en wel as verteenwoordiger van die apostels. 3Die Here gaan vir Petrus – en dus vir die apostels as groep – “die sleutels van die koninkryk van die hemel gee.” En daarmee sal hulle “bind” (die letterlike betekenis, soos in die OAV) of “toesluit” (NAV). En hulle sal “ontbind” (OAV) of “oopsluit” (NAV). En wat hulle op die aarde sal oop- en toesluit, sal in die hemel oop en toe gesluit wees.

Wat op aarde bedoel Jesus? Die uitdrukkings wat die Here hier gebruik, was destyds algemeen bekend. Dit was die Rabbynse manier van sê vir verbied en toelaat. 4 Met ander woorde, die apostels sou die kerk lei in wat waar en vals is, en in wat reg en verkeerd is. Hulle sou die Here se wil vir Nuwe Testamentiese gelowiges uitspel. En hierdie leiding sou absoluut gesagvol wees – want die mandaat is van God se groot Profeet self verkry.

En wat bedoel die Here Jesus as Hy sê dit sal ook in die hemel so wees? Die Grieks is betekenisvol: die apostels sal toelaat en verbied wat reeds vantevore in die hemel toegelaat en verbied is. 5 Die apostels sou dus nie self besluit oor wat toelaatbaar en ontoelaatbaar is nie; hulle sou bloot uitdrukking gee aan dit wat God reeds soewerein in die hemel bepaal het. 6 God, en God alleen, bepaal immers wat waar en vals, en reg en verkeerd is. Maar die apostels sou die instrumente wees deur wie die Here Sy Nuwe Testamentiese openbaring van waar en vals, en van reg en verkeerd bekendmaak en proklameer.

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

Hierdie verse in Matteus het enorme teologiese implikasies. Só fundamenteel is dit, dat die héél eerste woorde wat Jesus ooit met Simon praat hierdie belofte antisiperend bevat: “Jy is Simon …. jy sal Sefas genoem word” (Jh 1:42). En let op hoe gretig Johannes is dat sy lesers nie die punt moet mis nie. Hy verduidelik onmiddellik: “Sefas beteken dieselfde as Petrus.” Rots!

As ‘n naamsverandering ooit gewig gedra het, dan is dit hierdie een. Kan u sien wat die Here Jesus hier van die apostels se Nuwe Testamentiese prediking en geskrifte sê? Fondament! Gesagvol! Maatstaf! Onbeweeglik! Betroubaar! Genoegsaam!

Die kerk wat hierop bou, en nét hierop, sal deur die magte van die doderyk nóg oorwin nóg gestuit word. Die kerk- en sendinggeskiedenis se getuienis hieroor staan vaster as die berge!

In van die grootste en mees bekende teologiese fakulteite in Suid-Afrika is daar al vir jare, maar meer nog vandag, ‘n felle aanslag teen die inspirasie, gesag en genoegsaamheid van die Bybel (wat nie beteken dit van al die professore geld nie; ook nie van alle fakulteite in ons land nie). Die gewone kerklidmaat (en helaas ook naïewe predikante) word ‘n rat voor die oë gedraai deur die gebruik van bekende terminologie en vroom-klinkende uitdrukkings, maar wat in werklikheid met ‘n nuwe betekenisinhoud gevul is. Die regsinnige en gelowige omgang met die Bybel – soos die Godvresende kerk dit deur die eeue gedoen het – word afgekam met skelwoorde soos fundamentalisme (terwyl ware fundamentalisme iets anders is, inderdaad nié bo kritiek verhewe nie).

Hierdie fakulteite lei predikante op, en die noodlottige gevolge is voor die hand liggend. Dis waarom ons kansels al hoe stiller raak oor die Godgesentreerde en Christusgefokusde evangelie. Dis waarom diepgaande en sistematiese Skrifuitleg so skaars soos hoendertande geraak het. Dis waarom selfs die wat gered is dikwels babas in die geloof bly. Dis waarom evangelistiese oproepe nooit meer in honderde kerke gehoor word nie. Dis waarom ons in ‘n nieu-heidendom in tuimel.

Die post-moderne mens stel nie daarin belang nie, word aangevoer. Nee, nee! Van wanneer af moet predikers preek wat die mense wil hoor? Dis wat wolwe doen. Ware herders en profete het net één hartstog: om hulle Sender se Woord te proklameer. Dis omdat kansels al vir jare hulle plig versuim dat die institusionele kerke vol post-moderne en ongeredde mense sit. Helaas verlei dit oortuiginglose predikante om al hoe meer bokste praat en al hoe minder skaaps.

Mag die Here God ons genadig wees, anders gaan ons kinders en kleinkinders sonder God en sonder hoop in ‘n postchristelike en evangelielose duisternis rondstrompel. Jy sê, God sal dit nóóit toelaat nie! O ja? Hy het Europa nie bewaar nie!

Maar, hoor ek iemand sê, jy het dan so pas beklemtoon dat die kerk onvernietigbaar en onstuitbaar is. Dis presies die punt. Tot die mate wat ons wegdwaal van die fondasierots af, tot daardie mate hou ons op om ware kerk te wees – en tot dáárdie mate is die belofte nie meer op ons van toepassing nie. Wie Christus as Profeet verwerp, word deur Hom asKoning verwerp. En Priester sal Hy ook nie vir diesulkes wees nie.

Waarlik, kniewerk is dringend nodig. Maar ook voetwerk: óf jy sit hom neer, óf jy stem met hom. Onthou, dit gaan nie net oor jouself nie; dit gaan ook oor jou kinders en kindskinders. En belangriker as alles: dit gaan oor die Hoof van die kerk se eer!

Voetnotas

1. ‘n Tweede-eeuse skrywer, Papias van Hierapolis, beweer dat Matteus hierdie evangelie oorspronklik in Aramees geskryf het. Sommige geleerdes aanvaar dit dan ook as sodanig.

2. Die Nuwe Testament maak nie ‘n onderskeid tussen kerk en gemeente nie. Beide woorde is gewoon ‘n vertaling van ekklesia.

3. Die soortgelyke uitspraak in Mt 18:18 is in die meervoud.

4. William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, The Banner of Truth Trust, 1973, p.651.

5. Soos in Mt 18:18 en Jh 20:23, word ook hier perfektum passiewe deelwoorde gebruik. Die perfektum dui op ‘n voorafgaande handeling wat steeds van krag is as die handeling van die hoofwerkwoord plaasvind.

6. Die Amplified Bible is m.i. korrek: “I will give you the keys of the kingdom of heaven, and whatever you bind – that is, declare to be improper and unlawful – on earth must be already bound in heaven; and whatever you loose on earth – declare lawful – must be what is already loosed in heaven.”

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00