GENESIS 49:1-4; HEBREËRS 10:19-22

Ons is vir die tweede keer besig met die derde en laaste element van ‘n Christen se eersgeboortereg  –  sy priesterlike voorregLaas keer het ons gefokus op die Ou Testamentiese aanloop en die Nuwe Testamentiese vervulling daarvan  –  veral aan die hand van Gl 3 & 4.

Ons het gesien dat die Seun sowel as die Heilige Gees gekom het sodat God se kinders Hom in liefdestoewyding en gemeenskapsintimiteit as Vader kan aanbid.

DIE BOODSKAP VAN HEBREËRS

Die Hebreërskrywer het presies verstaan waarom dit gaan. Reeds in 4:14-16 skets hy die kroon van Nuwe Testamentiese voorregte: ons het ‘n groot Hoëpriester wat deur die hemele deurgegaan het! Dis Hý wat die pad vir ons oopgemaak het om met vrymoedigheid voor die Vader se genadetroon te verskyn! 

Dit, presies dit, is waarheen God van die begin af met Sy volk oppad was!

Nadat die skrywer dan vanaf 5:1 uitvoerig aandag gee aan die volmaakte hoëpriesterskap van Christus  –  as die basis vir óns priesterlike voorreg  –  sê hy uiteindelik in 10:5-10 presies dit waaraan ons laas keer heelwat aandag gegee het. Die Ou Testamentiese offerdiens was alles uiterlik en voorlopig, en nie naastenby wat die Vader regtig wou hê nie. Nee, Hy wou Sy Seun se liggaam as offer hê! Hierdie offer was die eens en vir altyd afgehandelde  fondament vir die vervolmaking van die Vader se plan. Nou sou Sy innerlike herskeppingswerk in Sy geliefdes ‘n werklikheid kon word  –  dít waarvan Jer 31 profeteer (10:16-17).

Op hierdie punt het die Hebreërskrywer verduidelik wat hy wou. Nou kan hy vanaf 10:19 met sy toepassing begin  –  die implikasies van sy voorafgaande lering. Maar soos dit ‘n goeie leermeester betaam, vat hy die voorafgaande net eers weer in ‘n neutedop saam: “Terwyl ons dan … vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het, deur die voorhangsel heen, dit is Sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het …” (10:19-22, OAV).

Uit die Seun se hoëpriesterlike werk vloei daar ten minste drie implikasies vir ons (drie maal “laat ons …”; v.22, 23, 24). Voorop is die voorreg en verantwoordelikheid van vrye toegang tot God se genadetroon: “laat ons tot God nader …”

Ek durf egter nie sommer net in God se teenwoordigheid instorm nie; daar is bepaalde voorwaardes. Hierna moet ons nader kyk.

“Laat ons tot God nader.” Die oorspronklike Grieks beklemtoon dat dit iets is wat ons herhaaldelik en gebruiklik moet doen.

Wat beteken dit om tot God te nader? Volgens v.19 beteken dit “om in die heiligdom in te gaan”. Dit is waar God is, waar Hy in Sy heiligheid woon. Meer spesifiek is dit om “na die troon van genade” te gaan (4:14-16). Dís waar die Vader Sy onverdiende guns aan Sy kinders uitdeel.

Dit gaan hier oor gebed, oor aanbidding. En dit berus op Jesus Christus se volmaakte Hoëpriesterskap. Daarom is die pad oop  –  “die  nuwe en lewende weg”. Nie meer kan net die Ou Testamentiese hoëpriester eenmaal per jaar ingaan nie, maar elkeen in Christus  –  enige tyd, weer en weer, met die allergrootste vrymoedigheid!

Hoe moet ons tot God nader? Die skrywer sê dit vir ons aan die hand van 4 frases.

Die ware aanbidder het ‘n opregte hart. Hy of sy is eerlik en sonder huigelagtigheid, skyn of selfbedrog. Ware aanbidding geskied vanuit diep oortuigings.

Die ware aanbidder nader die troon in volle geloofsekerheid –  met ‘n onwankelbare vertroue in die volkomenheid van Christus se middelaarswerk.

‘n Onuitspreeklik kosbare woord in die Hebreërbrief (Gr. ephapaks) word vertaal met “eens en vir altyd” (Hb 7:27; 9:12; 10:10). Dit word gesê van Christus se offer van Sy eie bloed namens diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het. Dis ‘n afgehandelde saak; dit het vir alle ewigheid bewerkstellig wat dit moes. Elkeen wat met Hom verenig is se sekuriteit is vaster as die berge.

Ook is Heb 11:6 betekenisvol oor die geloof waarmee ons tot God moet nader.

Eerstens moet ek “glo dat Hy is” (die OAV vertaal letterlik). Dit gaan oor veel meer as die feit van God se bestaan (soos die NAV). Waarskynlik het die skrywer Eks 3 in gedagte, waar God Homself openbaar as “Ek is wat Ek is”. Dit dui op Sy verhewe en onveranderlike algenoegsaamheid. Die ware aanbidder glo dus dat God alles is wat Hy oor Homself geopenbaar het. Hy is van niks of niemand buite Homself afhanklik nie; Hy is die Bron van alle bestaan en elke goeie gawe.

Tweedens moet die ware aanbidder glo dat God “dié wat Hom soek, beloon.” Ek moet dus oortuig wees van God se algehele betroubaarheid en Vaderliefde  –  en gevolglik in afwagting bid.

Iets waarin die Hebreërskrywer kennelik baie vreugde het, is die feit van die vrymoedigheid (Gr. parresia) waarmee diegene in Christus tot hulle Vader se genadetroon mag en moet nader. Dis om openlik, nie bang of beskeie of skoorvoetend of terughoudend nie, maar met ‘n heilige vrypostigheid (in respek gestel) tot Hom te nader (Hb 3:6; 4:16; 10:19, 35).

Die ware aanbidder het immers nie meer ‘n skuldige gewete nie. Hy het sy sondevergiffenis in die geloof omhels. Hy verstaan die grond daarvoor. Hy het in Christus ingevlug en bly skuil in Hom.

Voorts is die ware aanbidder se liggaam gewas met skoon water. Feitlik vir seker gaan dit hier oor die waterdoop. Dit is die uiterlike teken van die innerlike werklikheid van die gereinigde gewete hierbo. Ook Petrus maak presies hierdie koppeling in 1 Pt 3:21.

Ek weet dus nie net dat ek vergewe is nie, ek het dit ook openlik en formeel belyvolgens die Here Jesus en Sy apostels se voorskrif.

Die doop is vergelykbaar met ‘n huweliksluiting. Voor die tyd kan ‘n man en vrou mekaar hartstogtelik liefhê. Maar daar sit steeds ‘n element van insekuriteit en terughouding in die verhouding. Trou hulle egter, word dit ‘n vasgeknoopte verbintenis  –  met ‘n nuwe sekuriteit, stabiliteit en onderlinge vrymoedigheid tot gevolg.

Ware gebed en aanbidding is om nederig, afhanklik en afwagtend, in vrymoedige geloof, met my lof, dankbaarheid, behoeftes en voorbidding na my hemelse Vader in Sy heiligdom te gaan  –  in die wete dat ek met die volmaakte en finale Hoëpriester verenig is, en dat Sý offer eens en vir altyd die enigste, maar ook genoegsame grond vir hierdie voorreg is.

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

In die Bybel is daar minstens 6 groepe woorde wat oor ons aanbidding praat (2 in die Ou Testament en 4 in die Nuwe Testament). Bestudeer mens hierdie begrippe, sien jy dat dit uiteenval in twee idees: om God te eer én om Hom te dien.

Een, om God te eer beteken in die eerste instansie om aan Hom hulde te bring en Sy Naam groot te maak. Psalm 95:6 stel dit só: “Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!” Dit is om uitdrukking te gee aan my verwondering oor en bewondering van alles wat Hy is en doen.

Maar om met my dank, behoeftes en voorbidding weer en weer voor my hemelse Vader te kom, eer Hom eweneens. Dit is immers ‘n erkenning van my algehele afhanklikheid en oortuiging dat Hy die bron van alle goeie gawes is.

Twee, volgens die Skrif aanbid ek God ook as ek my hele lewe met alles wat ek is en doen aan Hom wy. Niks in my lewe is uitgesluit nie. Oor die volle spektrum van my bestaan, sewe dae ‘n week, moet ek ‘n praktiese aanbidder wees. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here …” (Kol 3:23).

Hierdie algehele offer van my lof en my lewe aan die Here is volledig begrond in die algehele offer van Jesus Christus in my plek. Dis dankbaarheids- en verwonderingsrespons.

Nadat die apostel die evangelie en die wonder van regverdiging deur die geloof alleen in die Romeinebrief uiteengesit het, vat hy die implikasie vir ons wat gered is só saam: “… op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen” (Rm 12:1).

Uit bogenoemde is dit nou duidelik: lofprysing sonder ‘n heilige lewe van toewyding is skreiende huigelagtigheid. Van so ‘n persoon geld wat die Here Jesus vir die Fariseërs gesê het: “Huigelaars … Jesaja het julle mooi opgesom …: Hierdie volk eer my met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af” (Mt 15:7-8). Laat ons ernstige aandag skenk aan die Here se verskriklike oordele oor hierdie geveinsdes in Mt 23!

Elke ware gelowige wat hom- of haarself eerlik ondersoek in die lig hiervan, kan nie anders as om onder sondebesef te kom nie. Maar laat ons híéruit troos put: daar is beswaarlik ‘n hoër uitdrukking van aanbidding as gebroke skuldbelydenis. Waarom? Omdat dit God erken as die allerhoogste Wetgewer, as die Een aan wie ek alle verantwoording verskuldig is, en as die enigste Gesag wat aan my kwytskelding kan verleen. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jes 57:15, OAV).

Laat ons nie die onuitspreeklike voorreg, maar ook ononderhandelbare verantwoordelikheid van ons aanbiddingsroeping verwaarloos nie. Wie dit mis, mis die hart van waarom dit in God se verlossingsplan gaan. Ja, in die Christelike lewe gaan dit om redding van die ewige verdoemenis; dit gaan oor goeie werke; dit gaan evangelisering van die gevalle wêreld. Maar niks, niks, niks is belangriker as ‘n lewe van ontsag en liefde in gemeenskap met God as Vader nie! Só verstaan die kerk dit deur die eeue. Klassiek word dit gestel in die eerste vraag en antwoord van die Westminster Shorter Catechism:What is the chief end of man? Man’s chief end is to glorify God and to enjoy Him forever.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00