GENESIS 49:1-4; GALASIËRS 3:21-4:7
UITEINDELIK KOM ONS BY DIE DERDE EN LAASTE ELEMENT VAN ‘N CHRISTEN SE EERSGEBOORTEREG. Ons het reeds gekyk na sy of haar gesag en dubbele erfenis in Christus. Nou kyk ons na diegene wat met Christus verenig is se priesterlike voorreg.
Ons sal meer as een lering hieraan wy. Eers fokus ons nou op die Ou Testamentiese aanloop tot ons huidige priesterlike roeping, sowel as die Nuwe Testamentiese vervulling daarvan. Dit sal ons veral doen aan die hand van Gl 3:21-4:7.
DIE OU TESTAMENTIESE AGTERGROND
Die Eerste Gebod gaan oor die Wie van ons aanbidding: ons moet die regte God aanbid!Ons moet Hom egter ook op die regte manier aanbid. Daaroor handel die Tweede Gebod – oor die hoe van ons aanbidding. Sentraal in hierdie Gebod is die verbod teen die gebruik van hulpmiddels tydens aanbidding. Dit verbied dus die inskuif van sintuiglik waarneembare voorstellings en simbole tussen mens en God – dinge wat ‘n direkte, oftewel oop verhouding met Hom verdring (vgl. E153 en E154).
Die vraag ontstaan nou waarom die Here dan soveel uiterlike seremonies en simbole tydens die Ou Verbond ingestel het?
Allereers moet ons verstaan dat die Wetgewer die prerogatief geniet om Sy wetgewing in ‘n bepaalde situasie aan te pas – tydelik, soos ons hieronder sal sien. Dit gebeur byvoorbeeld steeds as krygswet of ‘n noodtoestand ingestel word. Die burgers self het egter nie die reg om na willekeur wette aan te vul of op te skort nie.
Die Ou Testamentiese Godsvolk was in hulle verhouding met die Here soos kinders, en Hy het hulle as sodanig gehanteer. ‘n Kind funksioneer grootliks volgens sy sintuie, eerder as op grond van rasionele en logiese denke. Daarom spreek prentjies tot hom. Die seremonies was sulke illustrasies. Dit het die essensiële waarhede oor God en Sy verlossingsplan vir hulle geskets.
Paulus verduidelik dit in Galasiërs. Die seremoniële wet (te onderskei van die morele wet, waarvan die Tien Gebooie die hart is) 1 was soos ‘n kinderoppasser 2wat Israel moes bewaar van heidens-godsdienstige idees en praktyke tot en met die koms van Christus (3:23-25).
Waarom het God hulle nie al destyds volwasse gemaak nie? Waarom moes daar so lank gewag word? Was die saligheid nie van die begin af deur die geloof nie? Inderdaad! Dis immers hoe Abraham gered is (3:6). Toe die seremoniële Wet 430 jaar later gegee is (3:17), het God nie bedoel dat die saligheid van toe af op ‘n ander manier verkry moes word nie (3:21-22). Hierdie Wet is egter gegee vanwee die sonde, die gebrokenheid en onvermoë van die mens (3:19). As sodanig moes dit ‘n hulpmiddel vir hulle geloof wees. Dit het immers deurgaans van die komende Verlosser getuig.
Van die begin af was dit nie die seremonies op sigself wat God behaag het nie. Hy sê byvoorbeeld in Ps 50 deur die psalmdigter vir die volk dat Sy beswaar teen hulle nie is dat hulle die offerdiens nalaat nie (hulle offer aanmekaar!). Dit gaan daaroor dat hulle Hom nie eer soos hulle moet, nie hulle geloftes nakom, en Hom nie in die dag van benoudheid aanroep nie (8, 14-15). Hy wil immers nie hulle offerdiere hê nie – asof Hy dit sou eet (9, 13) (vgl. ook Jes 1:11, 14; Hos 6:6; Amos 5:21).
As die seremonies as sodanig God dan nie tevrede gestel het nie, wat was die waarde daarvan? Dit het vooruit gewys na Christus! Nie diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou God hê nie, maar die liggaam van Sy Seun (Hb 10:5-10 en Ps 40:7-9).
Die seremonies was soos steierwerk. Nodig soos dit is, put ‘n argitek van ‘n pragtige gebou geen vreugde daaruit tydens konstruksie nie. Hy wag geduldig, maar opgewonde, vir die dag wanneer dit finaal verwyder sal word sodat sy meesterstuk in al sy glorie kan pryk.
God laat dan ook eeue voor die tyd reeds Sy profete profeteer oor die komende sloping van die seremoniële steierwerk. Onstuitbaar laat Hy Sy raadsplan voortbeweeg na die nuwe bedeling toe – wanneer Sy geliefdes in Christus Hom in gees en waarheid sal aanbid (Jes 43:19-21; Jh 4:19-24).
In dié verband is Jer 3:14-20 besonder insiggewend. In v.19-20 lees ons van God se versugting – dat Sy volk vir Hom soos seuns sal wees en Hom “Vader” sal noem. Dit gebeur helaas nie – hulle bly ontrou aan Hom.
Maar dit gaan gewis verander! Hy gáán die Godonterende situasie regstel! Daar sál ‘n dag kom wanneer die seremonies iets van die verlede gaan wees. Selfs die verbondsark sal dan nie meer vir hulle van belang wees nie. Hulle sal nie eers meer daaraan dink nie (16).
Hierdie is ‘n verstommende uitspraak as mens in gedagte hou dat die Verbondsark die middelpunt was van die seremoniële wet – die simbool van God se heerlike teenwoordigheid in die midde van Sy volk. Dit was die allerheiligste voorwerp in die allerheiligste van die tabernakel en die tempel.
PRESIES HÓÉ DOEN DIE HERE DIT?
Die steierwerk is inderdaad gesloop!
Hoe het God dit gedoen? Wat het Hy gedoen sodat Sy geliefdes Hom uit hulle harte Vadernoem en geen vreugde meer het in seremoniële aanbidding nie? En hoe hou Hy dit steeds in ons in stand? Galasiërs antwoord ons só.
Eerstens moes die Christus kom. Hiervoor moes “die volheid van die tyd” aanbreek (4:4, OAV; Mk 1:15). In die ontwikkeling van God se raadsplan moes sekere dinge dus in plek skuif. En terwyl hierdie prosesse aan die gang was, is die bondsvolk deur die seremoniële wet opgepas en weerhou daarvan om met die heidene te vermeng en in húlle godsdienste op te gaan (3:24). Maar uiteindelik kon “die tyd van die geloof” kom (3:23, 25).
Vir eeue het die volk gekreun onder hulle seremoniële pligte. Derduisende diere is geoffer om vooruit te wys na die groot Offer wat strafdraend sou kom betaal vir sondaarmense se sonde. Niks was ooit afgehandel nie; alles was altyd voorlopig. Eendag egter het ‘n oorstelpte kreet ‘n einde gebring aan die lang wag: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Jh 1:29,36). Die groot Offer het opgedaag! Die volheid van die tyd het uiteindelik aangebreek!
En inderdaad, as die Here Jesus homself offer aan die kruis, skeur die voorhangsel in die tempel middeldeur (Mt 27:51; Mk 15:38). Die groot en finale Hoëpriester marsjeer triomfantelik dwarsdeur hierdie eeue oue simbool van skeiding tussen ‘n heilige God en sondige mense. ‘n Bewende hoëpriester wat onder deur die voorhangsel kruip om vir homself en die volk versoening te doen, is vir altyd iets van die verlede. Van nou af sou daar vrye toegang tot God wees – vir elkeen wat deur die geloof verenig is met die finale Hoëpriester. En dit sou nie net eenmaal per jaar soos destyds toelaatbaar wees nie, maar elke dag, heeldag. Dis ‘n poort wat nooit weer gesluit sou word nie!
En het jy opgelet? Die voorhangsel skeur van bo na onder. Dis God self wat die steierwerk sloop!
Geen woorde kan reg laat geskied aan die grootsheid en implikasies van hierdie gebeurtenis nie. Selfs die skepping verstaan iets daarvan. “Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars” as die voorhangsel skeur (Mt 27:51).
Tweedens moes die Heilige Gees kom. Die pad in die allerheiligste in moes nie net oopgemaak word nie; koue en dooie harte van klip moes ook verander word in polsende harte vol liefdesaanbidding. Net súlke harte kan immers glo en aanbid soos dit moet – in gees en in waarheid. En dít kan net God se Gees doen (4:6). Maar voordat Hy kon kom, moes die groot Hoëpriester uiteraard eers Sy offer bring.
Die Ou Testament het dikwels met opgewonde afwagting hierna uitgesien. Moses – Jahweh se instrument vir die instelling van die seremoniële wet – het al geweet dit kom: “die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe” (Dt 30:6, OAV). Op uitsondering na het dit nie met die Israeliete gebeur nie. Die werklike Israel was maar min (Rm 9:6).
Nee, Moses kyk ver, baie ver vooruit.
Soos die tyd nader gekom het, kon die profete nie swyg nie. Die Here gaan Sy gunsgenote se harte verander. Vanuit hulle diepste wese sal hulle Hom gehoorsaam en liefhê en aanbid (Jer 24:7; 31:31-34; Eseg 11:19-20; 36:24-28; Hos 2:13-19).
Presies só het dit gebeur, sê die apostel hier in die Galasiërbrief: “… omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit:Abba! Dit beteken: Vader!” (6; vgl. ook Rm 8:15-16). Baie betekenisvol is dit dat hierdie ‘n Aramese verkleinwoord is wat ons ten beste sou kon vertaal met Pappa. Die Here Jesus self het hierdie aanspreekvorm in Sy persoonlike gebede gebruik.
Uiteindelik! Na 1300 jaar lig die Heilige Gees einde ten laaste God se geliefdes bo die vlak van kleuters uit. In hulle diepste harte gee Hy die versekering dat hulle kinders van God is (Rm 8:16). Nie meer het hulle prentjies en ‘n oppasser nodig nie.Nou kan hulle God vanuit opregte harte en volgens God se selfopenbaring in Christus aanbid – soos Hy dit wil hê (E154).
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Let op hoe al drie Persone van God Drie-enig betrokke is by die waarmaking van ons heerlike aanbiddingsvoorreg. Die Vader stuur die Seun; dan stuur Hy die Heilige Gees; en dadelik begin die Gees in ons roep, Abba! Vader! Pappa!
Te veel Christene rig hulle gebede as ‘n reël net tot die Seun. Nee, ware aanbidding is primêr gerig tot die Vader. Só het die Here Jesus dan ook Sy dissipels leer bid.
Laat ons nooit vergeet hoe bevoorreg ons is om in die tyd van die Nuwe Verbond te leef nie!
Die moeitevolle en dikwels vreesaanjaende opdraand pad van ‘n honderd seremoniële pligte is eens en vir altyd iets van die verlede. Al wat nou nodig is, is geloofsvertroue in God se groot en finale Hoëpriester wat Sy eie bloed eens en vir altyd in die hemelse heiligdom geoffer het.
Terwyl die koms en werk van Christus allesbeheersend in ons oortuigings en belewinge moet wees, mag ons nooit die koms en werk van die Heilige Gees vergeet of geringskat nie.
Die Vader het twee keer gestuur (v. 4 en 6 gebruik presies dieselfde Griekse woord, en in dieselfde tyd). Waarom het Hy altwee die ander Persone van die Drie-eenheid gestuur? Wat was dan só belangrik? Sy geliefde begenadigdes moes vrye toegang verkry tot Sy troon van genade!
VOETNOTAS
1. In Galasiërs gaan dit oor die seremoniële wet, in die besonder oor die besnydenis (5:2-6).
2. Die woord in die OAV, “tugmeester” (Gr. paidagogos), is gebruik vir ‘n slaaf wat verantwoordelik was om ‘n gesin se kinders op te pas.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier