EKSODUS 20:4-6; DEUTERONOMIUM 4; JOHANNES 4:19-26

ONS GAAN EERS NA TWEE SKRIFGEDEELTES KYK voordat ons op grond daarvan poog om ware aanbidding kortliks te omskryf. Dan moet ons ‘n paar toepassingslyne trek.

DEUTERONOMIUM 4

Dis die hoofstuk wat Deuteronomium se weergawe van die Tien Gebooie voorafgaan (onthou, wat hier beskryf word, vind plaas vier dekades na die ontvangs van die Tien Gebooie by Sinaï). ‘n Paar uiters belangrike beginsels word beklemtoon.

Die ontsaglike heiligheid, verhewenheid en majesteit van God word sterk beklemtoon (11-12).

Die diepste begronding vir God se opdragte is die feit Hy hulle vir Homself uit Egipte gered het. Sy liefde het Hom daartoe gedring (37). Hulle gehoorsaamheid moet dus dankbaarheidsrespons wees (20).

As hulle die Here volgens Sy voorskrifte dien, sal hulle Hom onder die nasies verheerlik (6-8).

Die Here dring aan op puntenerige gehoorsaamheid. Niks mag bygevoeg of weggeneem word van Sy gebooie nie. Daar is geen ruimte vir willekeur nie (2).

Let op dat die volk herhaaldelik en sterk gewaarsku word dat hulle gehoorsaamheid ‘n saak van lewe en dood is (1, 3, 15a, 23-24, 25-29).

Spesifiek die Tweede Gebod word onderstreep (16-19, 23, 25). Van niks, maar niks mag ‘n afbeelding gemaak word nie (16-19).

Let op die beklemtoning dat die volk tydens die gee van die Wet niks gesien het nie, maar net ‘n stem gehoor het  –  net woorde (12, 15, 33, 36).

JOHANNES 4

Oor aanbidding is Jh 4 die Nuwe Testamentiese locus classicus.

Die Here Jesus loop ‘n Samaritaanse vrou raak. Die Samaritane het ontstaan toe die Jode wat ná die Assiriese ballingskap in die land agtergebly het met die heidense intrekkers verbaster het. Hulle godsdiens was gevolglik ‘n vermenging van allerlei heidense idees en vroeë Ou Testamentiese openbaring (‘n eie weergawe van Genesis tot Deuteronomium). En Berg Geresim was hulle groot aanbiddingsplek (“hierdie berg” in v.20-21).

Waar, vra die vrou, moet God aanbid word? Op Geresim of in Jerusalem en sy tempel? Op daardie oomblik is die Jode nog reg, sê Jesus  –  maar spoedig sal dit ‘n kwessie wees wat tot die verlede behoort (v.22-23a).

Die koms van Christus sou dramatiese veranderings in die lewe en godsdiens van God se volk bring. In die besonder sou hulle verander word in mense wat Hom aanbid presies soos Hy wil! Hierdie ware aanbidders sou Hom in gees en waarheid aanbid! (twee maal in v.23-24).

Wat beteken dit? Die begrip “gees” in v.23 (die OAV is korrek deur nie ‘n hoofletter te gebruik nie; vgl. ook die NIV, NASB, NKJV, ESV ens.) koppel met v.21. Nie die wáár nie (Geresim of Jerusalem), maar die hóé is belangrik. Ware aanbidding geskied vanuit die menslike gees, vanuit die hart  –  vanuit diep oortuiging en in opregtheid.

Die begrip “waarheid” in v.23 koppel met v.22. Die Samaritane het ‘n totaal ontoereikende Godsbeskouinge en insig in Sy wil. “Waarheid” verwys duidelik hier na God se Woord  –  die Godsopenbaring, aangesien v.22 daaroor gaan.

Maar hier sit méér in. Die Here Jesus se kwalifikasie, “want die verlossing kom uit die Jode”, verraai dit. God moet volgens Sy Woord aanbid word  –  in die besonder soos dit in Christus tot afronding kom. Dus, nie die borstrok van Ou Testamentiese voorskrifte en seremonies nie, maar die vryheid en volheid van die Nuwe Verbond. Só wil God aanbid word deur Sy verloste volk.

Waarom is dit so belangrik dat God in gees en waarheid aanbid word, en nie volgens allerlei uiterlike seremonies nie? God is Gees! (v.24).

POSITIEF: WAT DIE TWEEDE GEBOD BEVEEL

Die Tweede Gebod wil in ons gemoedere ingrafeer dat God die Allerhoogste en Gansandere is, geheimenisvol en onpeilbaar. Dit wil ons herinner dat Hy ver verhewe is bo menslike verbeelding en afbeelding. Ons is dus algeheel afhanklik van Sy selfopenbaring aan ons. Daarom moet ons onsself verneder deur kinderlik gelowig en puntenerig erns te maak met Sy voorskrifte vir hóé Hy aanbid en gedien moet word.

Luister na Jes 55:8-9: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Ons kan God net ken tot die mate wat Hy Homself aan ons openbaar. Hierdie openbaring hét egter plaasgevind. Ons kán Hom en Sy wil dus ken. Al is dit net ‘n beperkte kennis, is dit genoegsaam vir hierdie lewe en ons mag onder geen omstandighede iets daarby voeg nie. As Hy wou gehad het ons moet meer van Hom en Sy wil ken, sou Hy meer aan ons bekend gemaak het.

Hóé het God Homself aan ons bekend gemaak?

Luister na die Hebreërskrywer: “In die verlede het God baiekeer en op baie manier met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. … Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God” (1:1-3).

Só stel Johannes dit in sy evangelie: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. …Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.” (1:14, 18).

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie” (Kol 1:15; vgl. ook 2Kor 4:4). 2Korintiërs 4:6 praat van “die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” Daarom kon Jesus in Jh 14:9 sê, “wie My sien, sien die Vader.”

Jesus Christus is die hoogtepunt, die piek, die afronding, die kulminering, die finale vervolmaking van God se openbaring aan ons vir hierdie lewe. Wie wil, wie durf, wie kán iets by Hom voeg!

As God Homself dan finaal in Sy Seun aan ons geopenbaar het  –  in Sy persoon, lering en werk  –   waar pas die Bybel in? In die Bybel, word God se selfopenbaring vir ons in mensetaal beskryf.

Reg van die begin af antisipeer die Ou Testament die koms van die Messias. In talle gevalle kan dit wel eers in die lig van die Nuwe Testament raakgesien word. Maar as jy eers gelowig só na die Ou Testament kyk, sien jy Hom orals.

Tog is dit die Nuwe Testament wat by uitnemendheid Christusgesentreerd is. Dit was die apostels se taak om hierdie openbaring in Christus vir ons neer te skryf. In die Evangelies beskryf hulle dit; in die res van die Nuwe Testament vertolk en ontvou hulle dit  –  geïnspireer deur die Gees.

Ware aanbidding geskied in hartsopregtheid, en in direkte gemeenskap met die Vader deur die werking van die Heilige Gees, op grond van en aan die hand van God se selfopenbaring, opdragte en beloftes  –  soos dit finaal in Jesus Christus tot uitdrukking kom. Dit en dit alleen is aanbidding wat vir God aanvaarbaar is. Niks mag daarby gevoeg of weggeneem word nie.

ENKELE OPMERKINGS

Die Tweede Gebod het betrekking op die gelowige se ganse lewe, want dis so wyd soos aanbidding is (Rm 12:1-2). Maar in die eerste instansie het dit te doen met ons direkte gebedsgemeenskap met God, asook met die gemeente se publieke godsdiensbeoefening.

As ons sê ons bid in die naam van Jesus Christus, wat beteken dit?

Christus is ons groot Profeet. Ware aanbidding geskied op grond van die Godsopenbaring wat deur Hom gekom het. Johannes sonder Sy “genade en waarheid” uit (Jh 1:14)  –  Sy ontfermingsliefde en verbondstrou. Só is God meer as enigiets of -iemand anders. Tot die mate wat ons toeneem in insig asook belewing hiervan, tot daardie mate sal ons die aanbidders wees wat ons wil en moet wees.

Christus is ons groot Priester. Ware aanbidding geskied op grond van en uit dankbaarheid vir Sy afgehandelde versoeningswerk, sowel as Sy voortgaande voorspraak in die hemel.

Christus is ons groot Koning. Slegs iemand wie se lewe beheers word deur gehoorsaamheid aan Hom kan ‘n ware aanbidder wees. Jesus sê, “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met, ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” (Lk 6:46).  

Ware aanbidding het eweveel te doen met my lewe sewe dae per week, as met my hartsgesteldheid tydens aanbidding in my binnekamer. Iemand wat van Maandag tot Saterdag wêreldgelykvormig leef, kan noodwendig nie Sondag in egtheid aanbid nie, ongeag watter intense sentimente of emosies hy ook al mag beleef.

Ware aanbidding is ‘n saak van hart sowel as van hoof –  van emosies sowel as van denke. Beide is nodig. Hulle is onderling afhanklik en pas mekaar op. Verwaarloos een  –  en die ander raak korrup.

Aanbidding in waarheid sonder gees –  hoof sonder hart, denke sonder ontroering  –  lei tot vormgodsdiens, dooie ortodoksie, leë formalisme, koue intellektualisme. Dis ‘n kunsmatige vertoon. Dit maak van die binnekamer ‘n yskas, van die gemeente ‘n lykshuis! Dis waarvan die Here Jesus in Mt 15:8 praat: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.”

Aanbidding in gees sonder waarheid (hart sonder hoof, emosie sonder waarheid, belewing sonder oortuiging) word gou-gou goedkoop sentiment, leë emosionalisme, koorsagtige histerie. Dis oppervlakkige gevoelsbeheptheid en maak van die binnekamer ‘n klug, van die kerk ‘n sirkus!

Slaag showbiz die toets? En wilde opswepende popmusiek, of simplistiese koortjies tot satwordens toe gesing? Wat van die vermaaklikheidskultuur wat in soveel kerke aan die orde van die dag is? Slaag  kruise, kerse en ikone die toets van die Tweede Gebod? Wat van wierook, beelde, allerlei simbole?

Ek glo nie!

Luister wat sê God in Jes 66:2 (OAV): “Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00