EKSODUS 20:4-6
AS DIE EERSTE GEBOD HANDEL OOR DIE WIE VAN ONS AANBIDDING, HANDEL DIE TWEEDE OOR DIE HOE VAN ONS AANBIDDING.
Alle aanbidding waar beelde en afbeeldings gebruik word, word verbied.
Dit gaan nie oor afbeeldings as sodanig nie, maar oor die gebruik daarvan in aanbidding. Vers 5 kwalifiseer vers 4: “Jy mag hulle nie vereer nie …” Nie lank hierna nie sou God immers self opdrag gee vir, byvoorbeeld, die maak van die koperslang.
INLEIDENDE OPMERKINGS
Let op dat die formulering geen uitsondering toelaat nie. Geen beeld (OAV) of enigeafbeelding is toelaatbaar nie. En dit geld deurgaans, ongeag of hulle in die hemel, op aarde, of in die see is.
Let op die rede vir hierdie verbod: “… Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My” (Hb. letterlik: Ek Jahweh jou Elohim is ‘n jaloerse El).
Die opstapeling van die Godsnaam laat geen ruimte vir misverstand oor Sy identiteit nie – ewe min oor Sy gesag om hierdie voorskrif te gee. Hy is die Almagtige wat as Skeppergod én as Verbondsgod soewereine seggenskap het!
Die begrip “jaloers” dui nie op iets kleinliks nie. Die begrip praat van intense emosies – in die Ou Testament beperk tot God se afsku van afgodery. ‘n Nou-verwante woord beskryf ‘n man se emosies as hy ontdek sy vrou is ontrou in die huwelik. Waarlik, God vereis onverdeelde trou van Sy volk!
Die laaste gedeelte van v.5 beklemtoon dat die straf vir ongehoorsaamheid so wyd soos drie, selfs vier geslagte kan uitkring. Hoe moet ons hierdie dreigement verstaan?
Kinders word deur hulle ouers se sonde geaffekteer. Daar is ‘n onvermydelike kontinuïteit tussen opeenvolgende geslagte. Ons praat egter nie van ‘n meganiese noodwendigheidnie. Dit sou lynreg strydig wees met talle ander Bybelse uitsprake (bv. Eseg 18). Enigeen kan hom immers bekeer en van sy ouers se sonde distansiëer.
Maar ouers se sonde kring tog uit na hulle nageslag – op minstens twee maniere.
Een, ouers is modelle vir hulle kroos. Kinders leer by hulle en doen soortgelyk. Sonde steek as ‘t ware aan – en loop geslagte ver.
Twee, een geslag skep die wêreld waarin volgende geslagte gaan leef. As ons vandag God se ordes en waarheid geweld aandoen, moet ons nie verwag om ‘n nageslag te hê wat die Here dien nie.
Volgende geslagte sal dus nie gestraf word ten spyte van hulle onskuld nie. Hulle sal gestraf word omdat ook húlle skuldig is.
Die tweede Gebod sluit af met ‘n heerlike belofte en beklemtoning van God se goedheid. Hoewel Hy ‘n gestrenge God is, is Hy veel, veel meer ‘n God van barmhartigheid. Die NAV vat die idee hier beter vas as die OAV. Waarskynlik gaan dit nie oor duisende mense nie, maar oor ‘n duisend geslagte. Die belofte wil dus sê: God se toorn kring, ja, tot vier geslagte uit, maar Sy liefdesguns tot ‘n duisend!
PRESIES WAAROOR GAAN DIT?
Is oortreding van hierdie gebod nog vir ons as ontwikkelde en gesofistikeerde mense ‘n gevaar? Wie van ons sal hoegenaamd ‘n beeld aanbid?
Waarom kry mens beelde-aanbidding? Sekerlik was selfs die antieke mens nie so dom dat hy gedink het ‘n boomstomp is die skepper van alles nie. Natuurlik nie! Dit gaan egter daaroor dat mense ‘n fisiese voorstelling van die onsigbare, ontasbare en onhoorbare God wil hê – ‘n punt van kontak. Hulle wil ontslae raak van die frustrasie van menslike aandrange op sintuiglike waarneming. Hulle wil die noodsaak van geloof uitskakel – die enigste manier om die onsienlike te sien.
Waarom is oortreding van die Tweede Gebod ‘n gruwel? God is gees! Hy is nie ‘n skepsel met ‘n liggaam, beperk tot ons dimensies van tyd en ruimte nie. Hy is die Hoë en Verhewene (bo ruimte) wat in die ewigheid woon (bo tyd), Heilig is sy Naam (die afgeskeie Een, die Gansandere) (Jes 57:15, OAV).
Oortreding van die Gebod doen een van God se wesenstrekke geweld aan – Sy transendensie. Dit degradeer Hom tot die vlak van ‘n skepsel, asof Hy beperk is tot ons dimensies van tyd en ruimte.
DIE ISRAELIETE EN DIE TWEEDE GEBOD
Die Israeliete het die Tweede Gebod dikwels oortree. Die bekendste voorbeeld is die geval van die goue kalf (Eks 32). Uit die teks is dit duidelik dat dit nie vir Aäron of die volk oor die kalf as sodanig gegaan het nie. Nadat dit gemaak is, sê hulle: “Hier is jou God (Elohim)wat jou uit Egipte bevry het, Israel!” (4). En net daarna roep Aäron uit: “Môre is daar fees vir die Here (Jahweh)!” (5). Hulle het dus nooit gedink dat die kalf self God was nie. Nee, dit het God vir hulle verteenwoordig.
Hulle aanbid dus nie die verkeerde god nie (Eerste Gebod); hulle aanbid die ware God op die verkeerde manier.
In die res van die hoofstuk (v.7vv) stel God se oordele die erns van hierdie sonde bo alle twyfel.
Meer subtiele gevalle van die Tweede Gebod se oortreding het ook meermale voorgekom.
In 1Sam 4 kry Israel op die slagveld swaar teen die Filistyne. Dan stel die leiers voor: “Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red …” (3). Kennelik het hulle gedink dat hierdie simbool van God se verbondsteenwoordigheid op sigself hulle sou bemoedig en versterk. Maar die teenoorgestelde gebeur toe. Hulle word vernietigend verslaan – en die ark word gebuit.
Selfs die tempel is by sulke onheilige aanbidding betrek. Die oor-en-oor herhaling van die frase, “die Here se tempel” (chanting) word in Jer 7:4 veroordeel.
Insiggewend is 2Kon 18:4-5. Hiskia vernietig die koperslang wat vantevore volgens God se opdrag gemaak is en vooruitgewys het na Christus (Num 21:4-9; Jh 3:14-15). As die volk dit egter op sigself vereer, oortree hulle die Tweede Gebod.
IS DIT RÉGTIG SO ERG
Soos reeds gesê, oortreding van die Tweede Gebod is om die regte God op die verkeerde manier te aanbid. Dit gebeur wanneer sintuiglik-waarneembare dinge tussen ons en Hom ingeskuif word – dinge waarmee die mens in sy tyd-ruimtelike gebondenheid makliker mee kan identifiseer; dinge wat die noodsaak van geloof ophef; dinge waarmee die ongeredde mens homself mee kan bluf dat hy die ware God waarlik aanbid.
Help die gebruik van sintuiglik-waarneembare voorwerpe in aanbidding ons nie tóg nie? Dit was nog altyd mense se argument – tot vandag toe.
Beide Pous Gregorius die Grote (540-604) en ‘n sekere Johannes van Damaskus (675-749) het die gebruik van beelde in aanbidding verdedig – op grond daarvan dat dit boeke vir die ongeletterdes sou wees. Laasgenoemde het dit só gestel: “Wat ‘n boek vir ‘n geletterde is, is ‘n beeld vir die ongeletterde. Soos woorde tot die ore spreek, so spreek afbeeldings tot die oë: dit bring begrip.”
Ook hier by ons is hierdie saak aan die orde van die dag. Simbole, simboliese handelinge, mistiek, estetika en allerlei kunsvorms (?) word toenemend in gemeentes gebruik om kwansuis emosies en belewinge van God te bewerkstellig. “Die post-moderne mens wil voel; nie net glo nie!”
Waarom neem God soveel aanstoot aan sulke praktyke? Daar is basies 2 antwoorde: afbeeldings onteer God en afbeeldings mislei mense.
Afbeeldings en simbole onteer God.
Niks in die ganse kosmos kan naastenby ‘n getroue afbeelding van God wees nie. Dit beteken dat selfs die mooiste en aangrypendste beeld God se heerlike majesteit verkleineer – dit kommunikeer iets oneindig minder as wat Hy is.
Die goue kalf van Eks 32 was volgens die oorspronklike Hebreeus eintlik ‘n bul. Waarskynlik was die bedoeling om God se almag uit te beeld. Maar wat van die res van Sy wese en karakter? Wat het so ‘n afbeelding oorgedra van Sy geregtigheid, goedheid, geduld, liefde, alwetenheid, alomteenwoordigheid en ewigheid?
‘n Beeld met Christus nog aan die kruis het vir miljoene bloot ‘n religieuse good luck charmgeword. Nog meer, dit mag iets sê oor Sy menslike swakheid, maar dit verswyg Sy goddelike krag. Dit praat oor Sy pyn, dog is stil oor Sy oorwinning. Dit mag herinner aan Sy liggaamlike lyding, maar wat sê dit van die feit dat Hy eintlik ly omdat God se toorn Hom as strafdraende Plaasvervanger verbrysel? Ergste, dit verswyg Sy opstanding – waarsonder die kruis geen betekenis het nie. Is dit ‘n wonder dat mense wat behep is met hierdie beeld eerder Maria as plaasvervanger vertrou?
Dís waarom God sê dat oortreding van hierdie gebod Sy jaloesie verwek. Dis ‘n aantasting van Sy heerlikheid, majesteit, eer en waarheid.
Afbeeldings en simbole mislei mense.
Omdat afbeeldings minderwaardige en vals idees oor God kommunikeer, verwring dit mense se denke oor Hom – oor Sy wese en karakter. En dit móét mettertyd in bedenklike praktyke uitmasel. Ons oortuigings beheers immers ons optrede. My idees oor God bepaal my lewe en aanbidding.
Mens sien dit in die geval van die goue kalf. Verkeerde aanbidding sit spoedig om in onwaardige aanbidding – die volk het “wellustig te kere gegaan” (Eks 32:6). Hulle aanbidding het ‘n orgie geword!
Dis ‘n sielkundige noodwendigheid: as ek deur ‘n afbeelding tot God probeer nader, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat ek dink God is soos die afbeelding. En weldra aanbid ek effektief die afbeelding. So lei oortreding van die Tweede Gebod mettertyd tot oortreding van die Eerste. Tot die mate wat dit nie die volle waarheid oor God kommunikeer nie, tot daardie mate lei dit weg van aanbidding in waarheid.
LAAT ONS NIKS BYVOEG OF WEGNEEM NIE
Onthou julle Nadab en Abihu se grusame dood? Hulle sterf onder God se toorn omdat hulle “vreemde vuur” offer – “wat Hy hulle nie beveel het nie” (Lev 10:1; die OAV is letterlik korrek)). Let op dat hulle nie iets doen wat Hy verbied het nie; hulle neem bloot eie inisiatief en doen wat Hy nie beveel het nie!
Onthou julle Dawid-hulle se terugbring van die verbondsark Jerusalem toe, en Ussa se skokkende dood? Waarom? Een, hulle laat na wat God hulle beveel het – nl. om dit met behulp van drastokke op die skouers van Leviete te vervoer. Twee, hulle volg hulle eie kop en doen wat Hy hulle nie beveel het nie. Drie, hulle maakdie heidene na en gebruik ‘n spoggerige wa soos die Filistyne (Eks 25:12-15; Num 4:15; 1Sam 6; 2Sam 6).
Laat daar geen illusies oor wees nie: God is dodelik ernstig oor Sy aanbiddingsvoorskrifte!
Deut 12 handel oor die volk se publieke aanbidding. Die hoofstuk is vol voorskrifte – en eindig dan só: “julle mag daar niks bysit en niks daarvan wegvat nie.”
Sien jy wat ek sien in talle kerke vandag?
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier