GENESIS 49:1-4; EFESIËRS 1:15-23

ONS HET REEDS DIE SPOOR VAN DIE EERSGEBOORTEREG DEUR DIE OU TESTAMENT GEVOLG. Ook het ons gesien dat élke ware Christen ‘n eersgeboortereg het, en dat ons kan aanvaar dat dit  –  soos in die Ou Testament  –  minstens uit drie komponente bestaan: gesag,priesterskap en ‘n dubbele erfporsie.

‘N KORT OORSIG

Paulus se gebed in Ef 1 en 2, en die implikasies daarvan, was laas keer ons fokus.

Die Apostel bid basies dat die Vader aan die gemeente in Efese “die Gees van wysheid en openbaring” sal gee (17).

Hy bid dit omdat hy weet dat dit altyd twee wesenstrekke in die Christelike lewe te weeg bring. Eerstens  –  en voorop  –  bring dit ‘n beter en dieper kennis van God mee (17). En tweedens lei dit tot die verligting van Christene se geestesoë (18a).

Die oopmaak van geestesoë is egter nie ‘n doel op sigself nie. Tot die mate wat dit gebeur,weet sulke begenadigdes drie dinge  –  dinge wat hulle van die Vader in Christus ontvang (18-19).

Een, hulle kry al hoe meer insig in die hoop waartoe hulle geroep is.

Twee, hulle begryp toenemend hoe ryk en heerlik die erfenis is wat hulle van God ontvang.

Drie, hulle kom al hoe meer onder die indruk van die krag wat God in Sy heiliges uitoefen.

Ons het reeds na nommer drie gekyk  –  en die gesag wat dit ook vir óns meebring. Nou kyk ons na nommer twee  –  ons erfenis  –  meer spesifiek, ons dubbele erfenis as eersgeborenes.

DIE RYKDOMME VAN DIE HEERLIKHEID VAN DIE ERFENIS VAN HOM IN DIE HEILIGES

Hierdie opskrif is so ‘n letterlike vertaling van v.18c as moontlik.

Die Grieks is dubbelsinnig. Dit praat óf van die uitverkorenes as God se erfenis, óf van die erfenis wat Hy vir die gelowiges gee.

Wat eersgenoemde moontlikheid betref, is die gedagte wel dikwels in die Ou Testament teenwoordig  –  dat die Godsvolk God se erfenis of eiendom is.

Tog hoef ons nie te twyfel nie. Deurgaans in die Nuwe Testament word die woord, hier vertaal met erfenis, gebruik vir dit wat ons van God ontvang. En in die soortgelyke gebed in Kol 1 praat die apostel duidelik van óns erfenis uit God se hand (12).

Sonder twyfel het Paulus hier presies in gedagte waarna hy reeds ‘n paar verse vroeër verwys het  –  die rykdomme en heerlikheid wat heiliges in Christus as erfenis uit God se hand ontvang.

Het Paulus ons erfenis in hierdie lewe in gedagte, of praat hy van ons erfenis in die hiernamaals?

In één sin is dit ‘n vals probleemstelling. Want elkeen wat in Christus is, het in beginsel rééds die ewige lewe binne gegaan. Ons is oorgebring vanuit die duisternis na die koninkryk van die lig (Kol 1:13). Ons is nie meer in die ou Adam nie, maar in die laaste Adam, Christus (1Kor 15:45). As sodanig het ons in beginsel rééds ons volle erfenis ontvang.

Tog is ons belewenis van hierdie erfenis nog gebrekkig. Dis soos ‘n minderjarige kind wat ‘n fortuin geërf het. Hoewel onvervreembaar syne, kan hy nie sy hand daarop lê voordat hy mondig is nie. Intussen kry hy bloot ‘n saksentjie soos deur die trustee van die boedel aan hom uitbetaal.

Dis waarvan 1Pt 1:4 praat: “die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”

In ‘n ander sin is die vraag dus heeltemal geldig. Dink Paulus aan ons belewing hier en nou, of aan ons ewige heerlikheid?

Daar kan min twyfel oor wees dat hy primêr ons heerlike erfenis in die hiermaals in gedagte het. Mens sien dit in die piramiede in 18-19. Hy praat eers van ons “hoop”. Dan lig hy sy blik en kyk na die inhoud van ons hoop, die erfenis wat vir ons bestem is (NAV). Dan kyk hy nóg hoër, na die krag van God wat ons inbesitname van die erfenis waarborg.

DIE KROON VAN ONS EWIGE ERFENIS

Tyd laat ons net toe om te fokus op die hart van ons ewige heerlikheid. Ons sal by die Here wees!

Dit sal die hoogtepunt van ons onbeskryflike genot in die hiernamaals wees: ons sal voor die aangesig van die Drie-enige God leef  –  en ewige vreugde in Hom hê. Dit word oor en oor in die Nuwe Testament beklemtoon.

Luister net na God se beloftes  –  en let op hoe dit herhaal word:

In die bovertrek sê die Here Jesus: “as Ek … vir julle plek gereed gemaak het, kom ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Jh 14:3). En in Sy hoëpriesterlike gebed bid Hy dat diegene wat die Vader vir Hom gegee het by Hom mag wees (Jh 17:24). Vir Paulus is die dood ‘n heengaan na Christus toe (Fl 1:23). En Johannes stel dit só: “ons weet, dat wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is” (1Jh 3:2)  –  dus van aangesig tot aangesig (1Kor 13:12; vgl. ook Hb 12:14; Op 22:4).

Maar dit gaan oor méér. Terwyl die Skrif ‘n sterk aksent plaas op ons innige gemeenskap met die Seun in die ewige heerlikheid, gee die Here Jesus ook vir ons die belofte dat dié wat rein van hart is God sal sien (Mt 5:8).

Waar die sondeval geskeidenheid van die drie-enige God gebring het, bring die nuwe skepping intieme gemeenskap met Hom. Dis die hart van ons dubbele erfporsie!

Kan ons meer sê oor die uitdrukking: om God se aangesig te sien?

Alhoewel ons God se majesteit, heiligheid, liefde, en alles wat Hy is, nooit sal deurgrond nie, sal ons Hom tóg sien en ken soos nooit vantevore nie. Dit sal in lyn wees met ons huidige kennis van God, maar dit sal onbeskryflik dieper en meer volledig wees. Dit sal die allesoorheersende werklikheid van ons lewens wees en die bron van ons nimmereindigende lof en aanbidding.

Ons sal in God se teenwoordigheid kan verkeer sonder enige skaamte of vrees. Hy sal net so ingenome wees met Sy kinders, soos hulle met Hom. Ons sal met Hom gemeenskap hê sonder enige van die beperkinge of gebrokenhede wat ons tans só kniehalter.

Ons kennis van Hom sal onbesoedeld deur sonde wees. Trouens, ons sal nie meer kán sondig nie  –  tot in alle ewigheid.

Ons is só gewoond aan sondeworsteling en verganklikheid dat dit amper onmoontlik is om jou in te dink in ‘n bestaan waar dit totaal afwesig is. Géén sonde ooit weer tot in ewigheid nie! Géén verval, agteruitgang of afsterwe tot in die verre toekoms nie!

Ons gemeenskap met God sal deurtrek wees van vreugde. Die Hebreërskrywer sê dat Jesus op Sy pad van smarte volhard het “ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was” (12:2). En vir seker sal ‘n deel van Sy behae lê in Sy gemeenskap met Sy bruid. Sal ons dan nie ook wederkerige blydskap in Hom ervaar nie?

Die eerste vraag en antwoord van die Westminster Shorter Catechism is welbekend: “What is the chief end of man? Man’s chief end is to glorify God, and to enjoy Him forever.” Dit is waarvoor ons geskep en gered is!

Hierdie dinge is deur die ware kerk van alle tye verstaan. Eeue gelede reeds is drie Latynse woorde gebruik om die heerlike aard van ons ewige staat te beskryf: visio(aanskouing), comprehensio (kennis) en fruitio (vreugde).

DIE EERSTE PAAIEMENT EN WAARBORG

Kan ek weet of ek inderdaad hierdie erfenis sal ontvang? Is dit nie net ‘n tevergeefse droom nie?

God se Woord en handele met ons spreek hierdie vraag direk aan  –  onder meer aan die hand van twee gelaaide Griekse begrippe wat op die Gees en Sy werk van toepassing gemaak word.

In Ef 1:13-14 word gesê dat ware gelowiges met die Heilige Gees beseël is, en dat Hy as sodanig die “waarborg” (OAV: onderpand; Gr. arrabon) is dat ons uiteindelik ons volle erfenis sal ontvang. Vergelyk ook 2Kor 1:22; 5:5. Hierdie begrip het uit die handels- en regswêreld gekom: ‘n deposito wat die betaling van die res van die koopprys waarborg. Met die gawe van die Heilige Gees verbind God Homself dus om ook die res van ons erfenis te gee.

Nog ‘n betekenisvolle begrip word in Rm 8:23 gebruik. Die Heilige Gees is God se “eerste gawe” aan ons (Gr. aparge). Dit was ‘n woord vanuit die landbou en godsdienstige wêreld. In die Ou Testament is die ooreenstemmende begrip gebruik vir die eerstelingoffer van die oes  –  die offer wat die hele oes verteenwoordig het. Die woord dra dus wesenlik dieselfde boodskap as die vorige. Die gawe van die Heilige Gees in hierdie lewe is as ‘t ware die eerste paaiement van ons ewige erfenis in Christus.

Wil ek dus weet of ek die volle erfenis en die heerlikheid van die ewige lewe sal ontvang, moet ek myself afvra of ek die Heilige Gees ontvang het. Belangrik, baie belangrik, is hierdie vraag!

Die Nuwe Testament aanvaar sonder meer dat mens sal weet as jy die Gees ontvang het . Dit is so dat party mense in Nuwe Testamentiese tye soms dramatiese belewinge gehad het van die Gees se werk. En sekerlik gebeur dit steeds. Maar ons weet ook dat ervaringe op sigself nie betroubaar is nie. Selfs ‘n ervaring wat in elke opsig na die ware Jakob lyk, kan later blyk oneg te wees (Mt 7:21-23).

Nee, vir ons sekerheid oor hierdie saak het ons ‘n meer betroubare basis nog. Dit is nodig om ag te slaan op die volle spektrum van die Heilige Gees se werk. En as ons dan in ag neem dat Hy in ten minste vyf areas in elke ware Christen se lewe werk, het ons die sleutel tot ‘n onfeilbare toets.

Die Gees werk wederbarend in die erfgename van die ewige lewe. Die eerste brief van Johannes is glashelder duidelik oor die merktekens van wedergeboorte (1Jh 5:13; 5:1; 3:9; 2:29; 4:7; 5:4).

Die Gees werk verligtend (1Kor 2:6-16).

Die Gees werk versekerend (Gl 4:6-7).

Die Gees werk heiligmakend (Gl 5:16-26).

Die Gees werk toerustend. Hy rus elke lid van die liggaam toe om met sy of haarcharismata die Here en Sy gemeente te dien (1Kor 12-14).

Herken jy die Gees se werk in jou lewe? Onthou, as Hy hoegenaamd in ‘n mens werk, werk Hy in al vyf areas. Ja, dis soms vaag, maar tog onmiskenbaar  –  as jy goed daaroor nadink.

Nee? My vriend, kom dan onverwyld  –  die water van die lewe is gratis (Op 22:17).

Ja? Weet dan, jy hét die deposito ontvang  –  die res sal mettertyd vir seker volg!” Die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis word in die hemel vir jou in bewaring gehou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00