TITUS 3:1-8

ONS WIL NA V.4-8 KYK. Hier het ons ‘n kort en kragtige uiteensetting van wat egte Christelike redding behels. Beswaarlik kan ons ‘n meer gewigtige onderwerp onder die loep neem. En dis dringend aktueel, want derduisende sit Sondag na Sondag in kerke regoor ons land, sonder om ‘n snars daarvan te verstaan. Mens se woorde stol in jou keel as jy jou wil uitspreek oor die implikasies van hierdie toestand. En wat dit oor die getrouheid van predikers sê  –  om van hulle ewige lot nie te praat nie  –  wil jou laat huil (1Tm 4:16).

Vyf maal in die pastorale briewe kry mens die amper tegniese formule, “dit is ‘n betroubare woord” (8) (1Tm 1:15; 3:1; 4:8-9; 2Tm 2:11-13). Dit lyk dus of v.3-7 dalk ‘n vroeë Christelike belydenis was.

Let op hoe sterk Paulus oor die inhoud daarvan voel. Hy beveel Titus: “Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig”.

LIG VANUIT DIE VOORAFGAANDE VERSE

Verse 1 & 2 handel oor verantwoordelike, pligsgetroue en bedagsame burgerskap. Vers 3 begin dan met “want” (OAV; ESV)  –  en gaan dan voort met ‘n lys van ongure sondes. Met ander woorde, sê Paulus, in teenstelling met julle smerige lewens van die verlede, wees nou wandelende modelle in die samelewing  –  tot eer van die Here.

Hoe sal ‘n sondaarmens dit regkry om skielik só radikaal anders te leef? Die antwoord lê in die “maar” (OAV) waarmee ons teksgedeelte begin. Dus, eentyd was julle só (3), maar nou het alles verander  –  julle het gered geraak! (5).

In v.8 en volgende verse skryf die apostel dan oor die wonder van verlossing in Christus  –  só kompak dat jy jou verwonder, maar tog só volledig dat niks wat essensieel is, oorgeslaan word nie.

Vyf aspekte van verlossing word aangesny en hierna sal ons nou agtereenvolgens kyk.

DIE OORSPRONG VAN VERLOSSING

Die hart van hierdie belydenis lê in die feit dat God ons gered het. Dis die hoofgedagte. Dis Hý wat inisiatief geneem het en ons uit die slyk van v.3 gelig het. Die oorsprong lê by Hóm, net by Hom!

Waarom sou Hy dit gedoen het? Dis omdat Hy ons liefgehad het toe ons nog sondaars was! 

Paulus gebruik 4 kosbare woorde in v.4-5 as hy God se liefde besing.

“Goedheid” (4, NAV) (Gr. chrestotes): goedheid in hart en veral ook in handeling.

“Liefde” (4) (Gr. philanthropia): letterlik ‘n liefde vir mense  –  mense in die algemeen.

“Ontferming” (5, NAV) (Gr. eleos): die uiterlike betoning van jammerhartigheid, wat nood by die ontvanger veronderstel, en die nodige vermoë om dit aan te spreek by die een wat ontferming beleef.

“Genade” (7) (Gr. charis): guns vir iemand wat dit nie verdien nie; trouens, wat die teendeel verdien.

DIE GROND VAN VERLOSSING

Die liefde van God vir sondaars is één ding, maar is hierdie liefde regverdig? Is dit nie bloot ‘n voortrekkery van ‘n paar witbroodjies nie  –  al die pad net so skuldig soos enigeen van die ander? Het God nie dubbele standaarde nie?

‘n Duisend maal nee! Paulus impliseer onmiskenbaar duidelik dat ons verlossing inderdaad ‘n morele en juridiese basis het.

As hy in v.4 van die verskyning van God se goedheid en liefde praat, is dit ‘n duidelike sinspeling op die Seun se menswording, asook dit waarvoor Hy gekom het. In 2:11 lees ons: “Die genade van God

wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.”

Konsekwent, regdeur die Nuwe Testament, word beklemtoon dat Jesus Christus mens geword het ten diepste ter wille van “the great exchange”. Hy is met my sondeskuld gedebiteer, en het toe met Sy dood die skuld betaal. Maar nog meer, ek is gekrediteer met Sy volkome gehoorsaamheid aan die Vader. Geen enkele sonde is bloot oorgesien nie; vir een en elkeen daarvan is “tot op die laaste sent” betaal. Presies hierdie waarheid sit aan die hart van die begrip “geregverdig” (OAV) in v.7.

Regverdiging, en die onkreukbaar-juridiese onderbou daarvan, is die skering en inslag van my verlossing!

DIE VERWERKLIKING VAN VERLOSSING

In v.5 skryf Paulus dat God ons gered het “deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (die OAV is ‘n letterlike vertaling). Dis die weg waarlangs my verlossing ‘n werklikheid geword het.

Dis nodig om ietwat nader te kyk na die vier selfstandige naamwoorde in hierdie uitdrukking.

Bad” (Gr. loutron): ‘n bad of waskom, of ‘n wassing. Die vroeë kerkvaders het konsekwent aanvaar dat dit hier op die doop sinspeel. Só vertolk die gesaghebbende woordeboek van Louw en Nida dit: “ceremonial washing referring to baptism”.

Natuurlik dink die apostel nie hier aan redding deur die doop nie (“baptismal regeneration”)  –  dit sou skel teen alles wat hy elders skryf. Vir hom en die Nuwe Testament in die algemeen, was die teken van waterdoop egter ‘n onmisbare en integrale komponent van die verwerkliking van betekende verlossing. Daarom sou die vroeë kerk nooit iemand wat sou weier om gedoop te word as broer of suster aanvaar het nie. So ‘n miskenning van die Here Jesus se groot en uitdruklike opdrag was eenvoudig ondenkbaar.

“Wedergeboorte” (Gr. palingenesia). Ten diepste dui die woord op ‘n radikale nuwe begin. Die kerkvader, Chrisostomus, het gesê: “God het ons nie heel gemaak nie; Hy het ons nuut gemaak!”

“Vernuwing” (Gr. anakainosis). Waarskynlik het Paulus hier die morele veranderinge van heiligmaking in gedagte.

“Heilige Gees”. Die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid is die agent wat verlossing in ons lewens verwerklik.

DIE BESTEMMING VAN VERLOSSING

Ook dit word hier aangespreek  –  in v.7. Ons is erfgename van die ewige lewe wat ons verwag!

Let op die “sodat” aan die begin van v.7 (OAV). Die Vader se doel toe Hy Sy seun gestuur het, was om vir ons die erfenis van die ewige lewe te kan gee.

Die begrip “ewige lewe” wil nie bloot vir ons sê dat ons nooit sal ophou bestaan nie; dit is ‘n sambreelterm vir die volle omvang en heerlikheid van ons totale erfenis in Christus.

DIE BEWYS VAN VERLOSSING

Weliswaar is Paulus klaar met sy “betroubare woord”, maar hy is nie klaar met die onderwerp nie. Hy móét eenvoudig deursteek na die siamese tweeling van verlossing toe. Die Nuwe Testament dring konsekwent daarop aan dat ewige redding sonder goeie werke ‘n hersenskim is (v.8). Ons word nie deur goeie werke gered nie, maar ook nie daarsonder nie (uitsonderings soos babatjies wat sterf, “misdadigers aan die kruis”, ensovoorts, daar gelaat). Ons word totgoeie werke gered, en uiteindelik daarvolgens (Vgl. bv. Mt 25:31vv).

Die “sodat” in die middel van v.8 is belangrik. As Titus die leerstellige waarhede van v.4-7 met groot nadruk preek, sal hy vind dat dit sy luisteraars tot goeie werke aanspoor. Vir geen oomblik nie word die toets van die Nuwe Testament geslaag deur die moralistiese, mensgesentreerde en oppervlakkige praatjies wat so dikwels vandag as prediking aangebied word!

Wat het die apostel in gedagte as hy van “goeie werke” praat? Hy gee vir ons aan die einde van v.8 ‘n algemene norm: dis werke wat “goed en nuttig” is vir mense.

“Goed” (Gr. kalos). Die woord beteken basies, goed om na te kyk. Dit gaan dus oor werke wat vir “die mense” mooi is  –  kennelik mense in die algemeen, veral die ongelowiges. Dit moet mense as ‘t ware bekoor en hulle agting afdwing.

“Nuttig” (Gr. ophelimos). Goeie werke word in belang van andere gedoen. Hulle, en nie ek nie, moet daarby baat vind. Dis liefdeswerke.

Ook die woord, “toelê” (Gr. phrontizo), is sprekend. Dit word slegs hier in die Nuwe Testament gebruik, maar in buite-Bybelse Grieks dui dit soms op die beoefening van ‘n professie. Die doen van goeie werke moet dus elke Christus se absolute erns wees.

Dis voorts betekenisvol dat die werkwoord eintlik beteken om te dink. Dit impliseer dat ons goeie werke weldeurdag moet wees, intelligent, planmatig en ‘n saak van oortuiging. Per implikasie is ‘n impulsiewe, sentimentele en ongeordende aanslag dus minder as wat dit moet wees.

SAAMGEVAT

In hierdie verse som die apostel die essensiële elemente van verlossing op:

Die nodigheid: ons was vasgevang in sonde.

Die oorsprong: God se genade-liefde.

Die grond: nie óns verdienste nie, maar die Seun se afgehandelde versoeningswerk destyds hier op aarde.

Die verwerkliking: die wedergeboorte en vernuwende werk van die Heilige Gees  –  geteken en geformaliseer deur die waterdoop.

Die bestemming: die ewige lewe.

Die bewys: goeie werke as lewenshartstog.

Let op hoe Godgesentreerd verlossing is:

Die liefde van God die Vader.

Die soendood van God die Seun.

Die vernuwende werk van die Heilige Gees.

Let op die drie tye van verlossing:

Regverdiging en wedergeboorte in die verlede.

Voortgaande vernuwing en goeie werke in die hede.

Die erfenis van die ewige lewe in die toekoms.

TEN SLOTTE

‘n Op die man af vraag: Is hierdie dinge van jou waar?

Ja? Gaan dan huis toe met ‘n jubelende hart.

Nee? Doen onverwyld en met alle erns dit  wat Petrus op die Pinksterdag beveel het: Bekeer jou en laat jou doop in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God jou sondes vergewe, en sal jy die Heilige Gees as gawe ontvang.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00