JH 5:39-40 : LEES JY DIE BYBEL REG?

DAAR IS BAIE DINGE WAT DIE KERK IN ONS LAND TANS TOT IN SY FONDAMENTE SKUD. Maar niks is meer belangrik en dieperliggend as die stryd oor Skrifbeskouing nie. En aan die hart van hierdie stryd is die vraag oor die Christusopenbaring in die Ou Testament. Só algemeen het die standpunt geword dat Christus níé in die Ou Testament te vinde is nie (“hoe kan dit, aangesien die skrywers nie van Hom kon geweet het nie?”) dat selfs konserwatiewe teoloë op eiers loop as hulle die saak in akademiese kringe moet aanspreek.

Op hierdie vraagstuk wat so aktueel geword het  –  selfs in van ons mees behoudende teologiese inrigtings  –  laat skyn Johannes 5:39-40 (en die konteks) ‘n helder lig. Kom ons kyk daarna.

Let baie goed daarop: dit is ‘n uitspraak van die Here Jesus Christus self  –  en verwoord kennelik Sy eie Skrifbeskouing. En let ook met die nodige erns daarop dat daar beswaarlik enige integriteit sit in iemand se aanspraak op ware Christenskap as hy Jesus nie ook in hierdie mees fundamentele en bepalende oortuiging navolg nie (1Jh 2:6).

DIE VOORAFGAANDE KONTEKS

Hierdie uitspraak van ons Here Jesus kan slegs na behore verstaan word as ons dit saam met die voorafgaande verse lees. Jh 5 het grootliks te doen met die gesag waarmee Jesus gepraat en gedoen het  –  en met die gronde vir Sy aansprake op die Goddelike oorsprong van Sy woorde en werke.

Die hoofstuk begin met die Here se genesing van ‘n sieke by die bad van Betesda (1-15). Dit was ‘n sabbatdag, en die Jode het aanstoot geneem.

In Jesus se reaksie maak Hy daarop aanspraak dat Hy en die Vader saamwerk (17). En die werk wat die Vader aan Hom toevertrou het, is tweeledig:

Eerstens moet Hy lewe gee aan die dooies (21), sodat elkeen wat hoor en glo, die ewige lewe kan ontvang (24).

Tweedens moet Hy God se oordele voltrek (22).

Vanaf v.25 ontwikkel die Here Sy tema dan verder. Die proses van skeiding tussen hulle wat lewe ontvang en hulle wat geoordeel word, is reeds aan die gang. Hy, as Seun van die mens, beoefen al reeds die mandaat en gesag wat Hy van die Vader gekry het (26-27). Die geestelik dooies hoor immers reeds Sy stem en begin lewe (25). En dis alles net ‘n voorspel vir wat op die laaste dag gaan gebeur. Dan sal die skeidingsproses onder die mensdom finaal voltrek word  –  wanneer álmal die Seun se stem sal hoor en sal opstaan, óf tot die lewe, óf tot die oordeel (28-29).

Jesus se twee aansprake  –  dat Hy kan lewe gee, en dat Hy mag oordeel  –  is dinge wat net by God berus. G’n wonder dat die Jode Hom oor Godslastering wil teregstel nie (18).

Noodwendig kom die begronding vir Sy aansprake nou ter sprake, en dis waaroor Hy verder praat (30-38). Omdat Hy wil seker maak dat daar geen misverstande is nie, word Sy drie positiewe stellings elkeen voorafgegaan deur ‘n negatiewe stelling:

Eerstens, Sy optrede en aansprake is nie Sy eie inisiatief nie  –  dit berus op die Vader se roeping en bekragtiging (30a).

Tweedens, Hy is nie op ‘n selfsugtige sending nie  –  Hy wil net die Vader se wil doen (30b).

Derdens, Hy bou nie Sy saak op Sy eie of ander mense se getuienis nie  –  selfs nie op dié van Johannes die Doper nie. Nee, God die Vader getuig oor en vir Hom (31-37a). Hoe? Op twee maniere: deur werke en deur woorde.

Wat eersgenoemde betref, is dit die Vader wat aan Hom die krag gee om wonders te doen (36).

Wat laasgenoemde betref, het die Vader immers self oor hom getuig (die Grieks praat van iets wat in die verlede gebeur het, maar steeds geldig is) (37a). Waarna verwys Jesus hier? Nie na ‘n hoorbare stem nie, want wie van die Jode het Sy stem gehoor? Hy praat ook nie van ‘n visioen nie, want niemand het Sy gestalte gesien nie (37b). Die Here verwys hier na die geskrifte van die Ou Testament. Hy gaan immers dadelik voort om oor die Skrif te begin praat  –  die Ou Testament (39).

Uiteindelik dan ons teks: die Jode slaan nie ag op die Vader se getuienis oor Sy Seun nie. Dis omdat die Woord nie in hulle lewe nie. Kan Jesus dit sê? Wel, het die Woord in hulle geleef, sou hulle geglo het in die Een wat die Vader gestuur het (38).

Is dit nie te erg om skrifgeleerdes so te beledig nie? Wel, die Skrifte wat hulle so ywerig bestudeer, getuig oor die Messias –  en tog herken hulle Hom nie daarin nie, en daarom kom hulle nie na Hom toe om die ewige lewe te ontvang nie (39-40).

HOE JESUS DIE OU TESTAMENT SIEN

Bogenoemde onderstreep twee aspekte van die Here Jesus se Skrifbeskouing  –  wat nog altyd baie belangrik was, vir seker ook in ons dag.

Eerstens beskou Hy konsekwent die Ou Testament as van Goddelike oorsprong. 

Tweedens dring Hy daarop aan dat die Ou Testament oor Hom as die Christus getuig.

Wat die Goddelike oorsprong van die Ou Testament betref, is die Here Jesus se standpundinname nie tot hierdie verse beperk nie; inteendeel. Hy het dit konsekwent geleer en daarvolgens geleef. En dis een van die belangrikste redes waarom navolgers van Jesus die inspirasie, betroubaarheid en gesag van die Ou Testament, trouens, die hele Bybel aanvaar.

Voorts, in v.39 sê die Here: “En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.” Inderdaad! Ons sien Hom orals: in profesie, belofte, Wet, kultus, geskiedenis!

Waarlik, Jesus Christus is die sentrale tema van die Ou Testament. Hy is die goue draad wat van die begin af regdeur alles loop. Is dit ‘n wonder dat die opgestane Jesus en die apostels die hele evangelie vanuit die Ou Testament kon verduidelik?

WAARVOOR GOD SE WOORD GEGEE IS

Selfs al het jy ‘n baie hoë agting vir die Bybel, kan jy dit totaal verkeerd gebruik, met katastrofiese gevolge. Ons teks werp besondere lig op die regte en verkeerde gebruik van die Woord. Dis tewens waaroor dit eintlik in hierdie twisgesprek van die Here Jesus met die skrifgeleerdes gaan.

Die Jode het óók gehuldig dat die Skrif van Goddelike oorsprong is. Maar hulle het die funksie daarvan verkeerd verstaan. Hulle sou die gesag daarvan met hulle lewens verdedig het, maar hulle het die doel daarvan verkeerd verstaan. En die gevolge is tot vandag toe een van die grootste tragedies van alle tye.

Wat was die Jode se fout? Hulle het van die Skrif ‘n doel op sigself gemaak, en nie ‘n middel tot ‘n groter doel nie  –  naamlik om God in en deur Sy Seun te ken. Daarom het hulle nie die Messias herken nie. En in die proses het hulle die ewige lewe gemis. Hierna moet ons nader kyk.

DIE JOODSE MISTASTING

“Julle ondersoek die Skrif”, sê Jesus (39a).

Die werkwoord dui op noukeurige en volhardende deursoeking. Dieselfde woord word in 1 Kor 2:10 gebruik: “… die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God”.

Die Jode was deeglik bewus van hulle voorreg om God se Woord te hê. Paulus sê in Rm 3:2, as hy oor die voordele van Jood-wees praat: “Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het.”

Dit het meegebring dat die skrifgeleerdes die Ou Testament met ongeëwenaarde versigtigheid nagevors het. Om seker te maak dat hulle die Hebreeuse manuskripte  –  wat een vir een met die hand oorgeskryf moes word  –  akkuraat kopiëer, het hulle selfs die letters in elke Bybelboek getel, die middelste woord daarvan bepaal en allerlei ander statistiese data daaroor versamel.

Is so ‘n benadering verkeerd? Is dít waaroor Jesus die Joodse leiers verwyt? Absoluut nie! Laat ons dit respekteer dat hulle die Woord wou bewaar.    Tog was hulle agting vir die Skrif misplaas. Is so iets moontlik? Inderdaad! Dis duidelik as mens na die tweede deel van Jesus se uitspraak kyk: “omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry” (39a).

Jesus verwyt die Jode nie omdat hulle die Skrif ondersoek nie, maar omdat hulle meen dat hul puntenerige navorsing op sigself godsdienstige meriete het. Hulle meen dat dit ‘n beduidende bydrae tot hulle beërwing van die ewige lewe sal maak. Hulle gaan dus met God se Woord om as ‘n doel op sigself, sonder om te verstaan dat dit ‘n middel tot ‘n groter doel is. Hulle het nie verstaan nie dat die Skrif gegee is om ‘n wegwyser na Christus toe te wees  –  en dus na die Vader toe.

DIE FUNKSIE VAN DIE BYBEL

As Christus die hart is van die Ou Testament, is Hy dit des te meer van die Nuwe! Wat Jesus hier leer, geld dus sonder twyfel van die hele Bybel.

Die Bybel het op sigself nie reddende kragte nie. Tog lyk dit soms so. Dink byvoorbeeld aan Hd 20:32: “Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.” Of wat van die bekende Rm 1:16: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding …” Daar is meer voorbeelde.

Hoe moet ons die kloutjie by die oor kry? Die Here verskaf die antwoord in ons teks. Al het die Skrif nie reddende krag in homself nie, speel dit tog ‘n onmisbare rol in die proses van redding. Dit lewer getuienis oor Jesus Christus. Dit werp die kollig op Hom  –  sodat mense na Hóm toe sal gaan ten einde by Hóm die ewige lewe te ontvang (39b-40).

Al het ons hóé ‘n hoë agting vir die Woord  –  en dit móét  –  moet ons dit kompromieloos vashou dat hy wat bloot by die Bybel vassteek, sonder om na Christus toe deur te steek, nog nie die lewe het nie.

As Johannes verduidelik waarom hy sy evangelie geskryf het, sê hy presies dit (20:31): “… hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê”.

Ook Paulus bevestig dit: “jy ken van kleins af die heilige Skrif [vir Timoteus die Ou Testament]. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus” (2Tm 3:15).

SLOT

Die prediker wat nie Christus verkondig nie, maar blote moralisme, is nie ‘n waarheidsprediker nie. Sy oë is nog geslote soos die van die Joodse skrifgeleerdes  –  en hy mislei net so erg soos hulle. ‘n Bloot goeie lewe sal niemand red nie; nét die kennis en volhardende omhelsing van Christus.

Moet jy Sondag na Sondag na sentimentele storetjies luister? Maak jouself uit die voete, ter wille van jou ewige heil  –  en natuurlik die eer van God. Kyk goed na Paulus se woorde in 1Tm 4:16 aan die prediker, Timoteus.

Breek dit ook jóú hart as Christus nie Sy regmatige plek in ons teologie en prediking kry nie  –  as dit net gaan oor moets en moenies, en om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak? Vervul dit jou ook soms met heilige toorn? Ja? Kom skud dan my hand  –  lyk my ons is broers!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00