GENESIS 49:1-4

ONS KYK NA JAKOB SE STERFBED-PROFESIË OOR SY OUDSTE SEUN, RUBEN. Laas keer het ons gesien hoe Ruben die verantwoordelikhede en voorregte van sy eersgeboortereg misbruik én ontduik het. Toe het ons ook gekyk na die katastrofiese effekte daarvan op sy nageslag. Nou, as Jakob oor hom profeteer, word hy van sy eersgeboortereg gestroop: “jy sal nie langer die vernaamste wees nie”. Jakob noem die vernaamste rede hiervoor: sy ontug met sy pa se slavinvrou, Bilha (Gen 35:22; 49:4)

Wat het van die eersgeboortereg geword? Het dit bloot in die niet verdwyn? Allermins! Vors mens in die Ou Testament die antwoord op hierdie vraag na, ontvou ‘n fassinerende prentjie.

DIE EERSGEBOORTEREG IN DIE ANTIEKE WÊRELD

Hierdie was ‘n saak waarop die wêreld van destyds ‘n baie hoë premie geplaas het. Ook in die Godsvolk was dit ‘n heilige en gewigtige saak. Die enorme rol wat die eersgeboortereg in God se handele met Sy volk en die uitwerk van Sy raadsplan gespeel het, is eenvoudig verstommend.

Normaalweg is die oudste seun as eersgeborene beskou  –  maar nie noodwendig nie. Dit kon oorgedra word op een van die jongeres, of dit kon verbeur of verkoop word.

As Jakob sy kleinseuns  –  Josef se seuns  –   seën, plaas hy baie doelbewus die erfenis van die eersgeborene op die jongste. In plaas van die oudste, Manasse, kry die jongste, Efraim, hierdie besondere voorreg (Gn 48:8-20).

‘n Patetiese, maar hoogs betekenisvolle voorbeeld van verbeuring van die eersgeboortereg kry mens in die bekende geskiedenis van Esau. Vir ‘n kooksel lensies het hy sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. Dit mag vir ons na ‘n nietigheid klink, maar allermins was dit die geval. Genesis lewer hiérdie kommentaar daarop: “So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” (Gn 25:31-34).

Uiteindelik lewer die Nuwe Testament eeue later verdoemende kommentaar op Esau se sonde: “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het” (Hb 12:16). 

Wat die eersgeboortereg betref, het dit dus nie sonder meer oor geboorte-orde en ouderdom gegaan nie. Die aksent het veel eerder op status geval  –  en op waardigheid, voorregte en verantwoordelikhede.

Wat hierdie voorregte en verantwoordelikhede betref, was daar veral drie uitstaande komponente.

Eerstens het die eersgeborene ‘n posisie van gesag in die huishouding gehad. En na afsterwe van die vader het hy die nuwe familiehoof geword.

Hierdie gesag aan die eersgeboortereg verbonde, is nie ligtelik opgeneem in die wêreld van destyds nie. Toe dit byvoorbeeld nie meer veilig vir Dawid was om aan Saul se tafel te sit nie, het hy en Jonatan ‘n verskoning uitgedink vir sy afwesigheid van so ‘n besondere eer. Hulle het geweet dat die koning dit nie as ‘n belediging sou beskou nie, maar sonder meer as ‘n geldige rede aanvaar, indien Dawid se oudste broer hom sou ontbied. Niemand het ‘n oudste broer se opdragte in die wind geslaan nie, al het dit jou ook van die koning se tafel weggehou! (1Sam 20).

Tweedens het die eersgeborene ‘n sleutelrol gespeel in die huishouding se priesterdiens. Dawid se opgemaakte verskoning vir sy afwesigheid van Saul se tafel, het juis oor die familie-offer gegaan (1Sam 20:29).

Derdens het die eersgeborene ‘n dubbele erfporsie uit sy vader se boedel ontvang. As daar dus vier seuns was, het hy twee vyfdes ontvang en die ander drie elkeen een vyfde.

Presies dit is wat Dt 21:17 beveel. As ‘n man twee  vrouens sou hê en hy nie werklik lief was vir die een nie (soos in Isak se geval), mag hy nie teen die kinders van die minder geliefde een gediskrimineer het nie. As sy dus die oudste seun voortgebring het, moes hy as eersgeborene vir seker die dubbele deel van die erfporsie kry.

WAT HET VAN RUBEN SE EERSGEBORE-ERFENIS GEWORD?

Die dubbele erfporsie is na Josef toe. Van hom af is dit toe weer op sy twee seuns, Efraim en Manasse, oorgedra. In die latere geskiedenis van Israel word hulle as twee halwe stamme beskou, maar tydens die intog in die Beloofde Land het elkeen ‘n volwaardige stamgebied ontvang.

Só stel 1Kron 5:1 dit: “Ruben was die oudste seun van Israel, maar omdat hy bloedskande gepleeg het met ‘n vrou van sy pa, is sy rang van oudste seun oorgedra op die seuns van Josef, seun van Israel, en daarom word Ruben nie as oudste in die geslagsregister opgeneem nie.”

Die gesag is op Juda se skouers geplaas.

Reeds in Jakob se profesie word daar duidelik op gesinspeel: “Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer … en jou broers sal voor jou buig” (Gn 49:8).

En in 1Kron 5:1-2 word dit in soveel woorde gesê. Ons het so pas vers 1 se mededeling oor die dubbele erfporsie gelees, maar v.2 gaan dan voort: “Juda het … oor sy broers gesag verkry, en uit hom het die koning voortgekom …”. So het Juda dan die koninklike stam geword. En uit hierdie stam is Jesus Christus, Koning van die konings, gebore!

Die priesterlike funksie is na Levi toe.

In Numeri lees ons: “Van alle Israeliete behoort die Leviete in ‘n besondere sin aan My, want Ek het hulle in die plek van al Israel se eersgebore seuns as my besondere eiendom vir My opgeëis. … Uit al die Israeliete gee Ek die Leviete nou as ‘n gawe aan Aäron en sy seuns om namens die Israeliete die diens in die tent van ontmoeting te behartig en om vir hulle versoening te doen …” (Num 8:16-19).

Vroeër in die Ou Testament, net na Israel se sonde met die goue kalf by Sinaï, kry ons in Eks 32:25-29 ‘n verduideliking vir hierdie keuse. In sy toorn oor die gruwel van afgodery plaas Moses ‘n ultimatum voor die volk. Díé wat die Here wil dien moet eenkant staan. Die stam van Levi kom dan na hom toe. Hulle kry die opdrag om met die swaard die volk te begin afmaai  –  en drieduisend word tereggestel. Gevolglik sê Moses vir die Leviete: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here.”

Daarna was die stam van Levi verantwoordelik vir die priesterlike funksies in die volkslewe.

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?

Laat dit op die tafels van ons harte ingebrand wees dat die onbesonne sonde van ‘n oomblik geweldige lantermyn gevolge kan hê. 

Ruben minag sy pa ter wille van ‘n oomblik se wellus-bevrediging. En in sy gulsigheid verag Esau die adel van sy eersgeboortereg ter wille van ‘n paar slukke lensiesop. En in beide gevalle kantel eeue se toekoms-geskiedenis in ‘n moment  –  en word derduisende mense se lewens ingrypend beïnvloed. En onthou, nie een van hierdie twee mans het ‘n benul gehad van die gevolge van hulle dade nie. Eers later het iets daarvan tot hulle deurgedring. In Ruben se geval het dit veertig jaar gevat. En Esau het van selfbejammering gehuil toe hy besef het wat hy homself aangedoen het  –  maar tevergeefs (Hb 12:16-17).

Hierdie soort ding gebeur steeds daagliks, op ‘n duisend maniere. En altyd kom jammer te laat.

Laat ons dus bedag wees op die subtiele en slinkse strategieë van die sonde. Een ding is altyd waar: wanneer jou vlees jou wil verlei, vertel hy jou soos klokslag en met groot oortuiging dat sy uitnodiging absoluut onskuldig is.

Mag die Here ons help om met groot verantwoordelikheid elke oomblik van elke dag te leef. En mag hy ons ons duisende dwaashede van die verlede vergewe. Onthou, ons is nie net rentmeesters van ons eie lewens nie; ons besluite en optrede raak ook ons kinders en kindskinders se lewens ten nouste.

Laat ons voortdurend bid dat die Here deur Sy Gees vir ons die genade sal gee om die dinge waarop Hy ‘n hoë premie plaas te onderskei en met ontsag daarmee om te gaan.

Kennelik het God die eersgeboortereg in Ou Testamentiese tye as baie belangrik geag. Maar in hulle stompsinnigheid was Ruben en Esau totaal uit voeling met God se prioriteite en ordes.

Die Bybel roep ons in die allerduidelikste taal op om die kennis van die Here na te jaag. En sonder twyfel is insig in God se weë ‘n baie belangrike komponent daarvan  –  begrip van Sy voorkeure en afkeure, van Sy maniere van werk, van die gerigthede van Sy raadsplan en so voorts. Natuurlik is ‘n leeftyd nie genoeg om dit te deurgrond nie, maar spits ek my nie daarop toe nie, vorder ek nie ‘n tree nie.

Maak dit dus ‘n prioriteit om weer en weer te bid dat die Heilige Gees jou opskerp om die lesse van God se maniere met Sy kinders raak te sien. Alleen só sal God se prioriteite jóú prioriteite word.

Terwyl ons ons roeping voor die Here baie, baie ernstig moet opneem, is dit óók so dat Hy Sy soewereine wil uitwerk deur sowel menslike gehoorsaamheid as ongehoorsaamheid. 

Voor Jakob en Esau se geboorte het God reeds vir Rebekka gesê dat die oudste die jongste sal dien (Gn 25:23). En in Rm 9 word dit in verband gebring met God se uitverkiesing tot die ewige saligheid al dan nie. Dis verbysterend, maar God se soewereine uitverkiesing, enersyds, en Esau se hongerpyne en gulsigheid, andersyds, het alles met mekaar te doen gehad!

Laat ons dus in nederigheid verstaan: ten diepste swaai die mens nie die historiese septer met sy besluite en optrede nie; God werk bloot middellik deur ons. Sonder dat dit ‘n greintjie van ons aanspreeklikheid verminder, is Hy die Een wat tot in die fynste, fynste besonderhede regeer.

Waarlik, die Here se wysheid en weë gaan ons verstand ver te bowe. Laat ons dus ons plek ken!

Die belangrikste feit van God se openbaringsgeskiedenis is nie dat Ruben se eersgeboortereg in drie verdeel het nie; die allesbepalende is dat hierdie drie lyne weer in een Persoon verenig het. 

Op verskeie plekke sê die Nuwe Testament vir ons dat God se eintlike Eersgeborene niemand minder as Jesus Christus is nie (Rm 8:29; Kol 1:15, 18; Hb 1:6; Op 1:5). Hý is ons groot Hoëpriester; Hý is die Gesagsdraer van alle eeue, die Koning van die konings en die Here van die here; en Hý het ‘n dubbele erfenis ontvang  –  miljoene uitverkorenes as volk, as bruid, as broers en susters.

En geen gevaar bestaan dat Hy hierdie eersgeboortereg kan verloor nie  –  want Hy het rééds elke versoeking met minagting verwerp en elke toets met die hoogste onderskeiding geslaag.

Tot in ewigheid staan dit wat ons groot Profeet verkondig het vaster as die berge. Tot in ewigheid sal ons groot Hoëpriester vir ons, Sy dissipels, met volkome empatie en liefde by die Vader intree, en nie één van Sy gebede sal ooit afgewys word nie. Tot in ewigheid sal ons groot Koning met absolute liefde, sorg en wysheid oor ons regeer. Tot in ewigheid sal Jesus Christus hom met ‘n onbeskryflike liefde in ons verheug  –  die erfenis wat die Vader vir Hom as liefdesgeskenk gegee het.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00