GN 47:27-31; 49:1-4 : DIE EERSGEBOORTEREG [1]
JAKOB IS AL SEWENTIEN JAAR IN EGIPTE. Hy is ‘n ou man van honderd-sewe-en-veertig – en gedaan, en moeg van sorg en opgekropte leed en verswygde skandes. Hy is afgeleef en sterwend (Gn 47:28).
Al wat eintlik nog vir die ou aartsvader oorbly, is sy laaste woorde. Jakop se klomp seuns staan verwese om hulle pa se bed, soos mense maar om ‘n sterfbed staan. Ses van hulle het hy by Lea verwek, vier by die twee slavinne Bilha en Silpa, en twee by sy geliefde Ragel.
Jakob profeteer deur die geloof (Hb 11:21). Al kan sy dowwe oë beswaarlik sy bed se voet-en-end sien, kyk hy ver agter toe, maar veral deurpriem sy geloofswoorde die eeue wat voorlê. Hoe wonderlik breek God se genade nógeens in sy lewe deur!
Só word Gn 49 een van die merkwaardigste hoofstukke in die ganse Bybel. Dit gaan oor die toekoms van Jakob se seuns, en oor hulle nageslag – die verbondsvolk van die toekoms.
DIE EERSGEBORENE
Jakob begin by Ruben, sy oudste. Die grootste gedeelte van die profesie handel oor die verlede. Aan die toekoms wy Jakob net twee woorde (in die Hebreeus): “jy sal nie langer die vernaamste wees nie.” Dis verdoemende woorde wat na eeue steeds sal uitkring.
Ruben se verlede is nie vir spek en boontjies ter sprake nie. Daar is baie om oor na te dink.
Sy pa onthou die opgewonde afwagting van die swangerskap. Sy eersteling! En hy dink aan Ruben se ma, Lea. Lewenslank moes sy stry om sy liefde te probeer wen. Hy onthou haar ekstase toe die baba gebore is. Sy noem hom Ruben wat beteken, “Kyk, ‘n seun!” Waarom dan so bly oor ‘n seun? In Gn 29:32 sê sy vir ons: “die Here het my smart raakgesien. Nou sal my man my liefhê.”
Maar dit was ‘n naïewe droom. Ruben sou ‘n kind van ontnugtering word.
Jakob dink aan sy eie verwagtinge destyds: “Toonbeeld van my krag, gebore toe ek in my fleur was; jy is die vernaamste, die sterkste” (49:3). Maar die kind het ‘n kind van hartseer en skande geword.
Ruben is “soos stormwater … onstuimig” (49:4). Hy ken geen grense nie, hy dring in waar hy nie hoort nie, en hy vernietig so ver hy gaan.
HY HET SY EERSGEBOORTEREG VERTRAP
GEN 35:22 : DIE ONTUG MET BILHA.
Wat sit in Ruben se verlede wat Jakob so ontstel? Die ergste van alles noem Jakob hier. Selfs na 40 jaar walg dit hom steeds: “jy het jou vergryp aan ‘n vrou van jou vader” (49:4). Vir baie jare het Jakob oënskynlik niks hieroor gesê nie. Maar in Gn 35:22, waar vertel word van Ruben se ontug met Bilha, sy pa se byvrou, staan daar ‘n enkele sinnetjie wat mens laat sidder: “Israel het dit te hore gekom.” Soos ‘n brandende kool het hierdie gruweldaad in sy hart bly lê. En hier op sy sterfbed moet dit nou uit.
Wat hierdie sonde van Ruben soveel erger maak, is dat hy dit as eersgeborene gedoen het. Waarskynlik het hy sy posisie van status en gesag in die huishouding misbruik om Bilha te intimideer. Sou die kroonprins dan nie kon aanspraak maak op sekere voorregte nie?
Met hierdie veragtelike daad het Ruben getoon dat hy nóg ontsag vir sy pa het, nóg enige respek vir sy wonderlike voorreg as eersgeborene. En van die verantwoordelikhede – wat altyd met voorregte saamgaan – het hy min begryp.
Soos onstuimige stormwater word hy ‘n vernietiger – van die gesinsharmonie, van sy verhouding met sy pa, van die adel van sy eersgeboortereg.
GN 37:12-36 : DIE VERKOOP VAN JOSEF.
Die skuld van hierdie onreg lê vierkantig op Ruben se skouers. Waarom? As eersgeborene was hy die gesagdraer. Hy moes sy voet vierkantig neergesit het, maar hy het nie die moed en integriteit gehad om teenoor sy broers te staan nie. En baie jare later, as hulle in die moeilikheid is in Egipte, pak hy die skuld vir die krisis op sy broers (42:22). Kompromiemakers bly gewoonlik enduit ruggraatloos.
Soos in die geval van Bilha, het ons hier ‘n enkele verkeerde beslissing – met onbeskryflike langtermyn gevolge. Soos onstuimige stormwater volg Ruben die weg van minste weerstand.
GN 42:37 : RUBEN BIED SY EIE 2 SEUNS AAN AS BORG.
As Josef vir Benjamin wil sien, wil Jakob hom nie na Egipte laat gaan nie. Dan bied Ruben sy twee seuns as gyselaars aan. Jakob kan hulle dood maak as hy Benjamin nie terugbring nie. Dis sommer praatjiesmakery van ‘n opportunis – want hy weet dat geen oupa sy kleinkinders sal doodmaak nie. In elk geval, hoe kan hy sy twee seuns se koppe op die blok plaas as hy nie met sekerheid kan sê of hy sy jongste broer sal kan terugbring nie?
Waarlik, Ruben is ‘n swakkeling en ‘n gladde kalant. Gee vir stormwater maar die geringste opening, en dit gaan daar deur.
WAT WORD VAN RUBEN SE NAGESLAG?
Wat profeteer Jakob oor Ruben se toekoms? “Jy sal nie langer die vernaamste wees nie” (49:4). Soos ons sal sien, gaan sy voorregte as eersgeborene van hom gestroop word. En dit gaan sy nageslag ingrypend raak.
Slegs enkele verse word in die res van die Bybel aan Ruben se nageslag gewy. Maar dis duidelik dat die appel nie ver van die boom geval het nie.
Miskien is sy bekendste afstammelinge Datan en Abiram, wat met hulle families onder God se toorn sterf as hulle teen Moses in opstand kom (Num 16).
Voorts, as die beloofde land binnegetrek word, versoek die stam Ruben (asook Gad en Manasse) om grond oos van die Jordaan te kry (Num 32). Hulle kies eerder die goeie veewêreld, as om die Beloofde Land te help inneem. Gemak en welvaart is vir hulle belangriker as die inspanning en risikos om die volle erfenis in besit te kry. Hierdie besluit sou Ruben grootliks isoleer van die res van die Godsvolk. In Jos 22:10-34 is daar amper ‘n burgeroorlog as hulle ‘n eie aanbiddingsplek wil inrig.
Die Rigter, Debora, versoek die stam Ruben eeue later om hulp in die stryd teen die heidene, maar daar kom dadels van. Die Rubeniete praat wel baie oor die saak – saans as hulle afgesaal het. Maar hulle kom nie weg van die fluitspel by die veetroppe nie (Rigt 5:15b-16). Gemaksug sonder verantwoordelikheidsbesef, en grootpraat sonder daadkrag, loop oënskynlik in die gene! Stormwater vat altyd die pad van minste weerstand.
Mens lees nooit van die Rubeniete onder die profete of rigters of ander leiers van die volk nie. Hulle vervaag net al hoe meer soos die geskiedenis voortbeweeg. Uiteindelik word hulle weggevoer in die Assiriese ballingskap (1Kron 5:26) – om nooit weer formeel terug te keer nie.
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Laat ons óns eersgeboortereg nie verkeerd verstaan nie (want diegene in Christus is ook eersgeborenes, soos ons vorentoe sal sien).
Ruben was, as Jakob se eersgeborene, uitermate bevoorreg. Hy is gebore om een van die Godsvolk se verbondsvaders te wees. As hy sy roeping hoog geag het, sou ons dalk vandag gepraat het van die God van Abrahan, Isak, Jakob en Ruben. Maar hy het sy voorreg en roeping gering geskat.
Wat was sy basiese fout? Hy het die eer van sy geboorte, asook die verantwoordelikhede en voorregte daaraan verbonde, verkeerd verstaan. Hy het gedink dit gaan oor eie belang en genot. En hy het gedink dit gaan bloot om die lewe hier en nou.
Ruben het die begrip rentmeesterskap nie verstaan nie. Hy het nie verstaan dat jou voorregte, gawes en geleenthede in belang van die Here en Sy volk aangewend moet word nie. Voorreg lei áltyd tot verantwoordelikheid!
Wat gawes betref, ontvang nie almal ewe veel nie. Maar elkeen van ons het genoeg ontvang vir ‘n lewe van sinvolle, vrugbare en lewenslange diens aan die Here. En laat ons onthou, dienswerk vir die Here kom grootliks tot uitdrukking in dienswerk vir die medemens, veral broers en susters in die Here. Daarom skryf Johannes: “En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê” (1Jh 4:21).
Só offer ek myself aan die Here; só is ek bruikbaar as ‘n werker in God se koninkryk; só is ek ‘n seën vir my nageslag; só maak ek my erfenis vas.
Dit bly eenvoudig ‘n fundamentele beginsel in die koninkryk van God: “… wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en vir die evangelie verloor, sal dit behou” (Mk 8:35). Ruben het hiervan niks verstaan nie. Ewe min begryp dermiljoene dit vandag. En ek en jy? Hoe sal mens weet? Wel, is jou roeping jou heilige erns?
Die Here Jesus het verstaan. Kyk wat het Hy geoffer. Maar kyk wat erf Hy: ‘n bruid vanuit alle eeue, vanuit elke nasie, volk en taal! En ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde! Bowenal sal Hy vir ewig die vreugdevolle wete met Hom saamdra dat Hy Sy Vader gehoorsaam, behaag en verheerlik het.
Dit beteken nie dat die koninkryk van God net plek het vir die suksesverhale nie.
Helaas voel die meeste van ons gedurig soos Rubens. Male sonder tal misluk ons in ons roeping om heilig en getrou voor die Here te leef.
Nou wil God se Woord nêrens ons sondes goedpraat nie; inteendeel. Elke keer as ons sondig, speel ons met vuur. Maar vir ons wat dikwels moedeloos is, omdat ons net eenvoudig nie die standaarde van die koninkryk kan handhaaf nie, is daar nog twee uitsprake in die Skrif wat baie troos bied vir sukkelaars.
Net voor sy dood seën Moses die stamme van Israel – 450 jaar ná Jakob. Van die stam Ruben sê hy dan: “Ruben moet lewe, hy mag nie sterf nie; hy moet ‘n groot volk word” (Dt 33:6). Dis asof Moses sien dat hierdie stam deur uitwissing bedreig word. En dan doen hy dringend voorbidding vir die onverdienstelike. Dis asof hy vierkantig voor God se oordele gaan staan – hy wat nie net God se dade gesien het nie, maar ook Sy weë ken (Ps 103:7). Hy weet dus dat niks die Here méér behaag nie as om genade te gee aan diegene wat alle aanspraak daarop reeds verbeur het. En vandag verstaan ons selfs beter as Moses: so ‘n genade-erfenis gebeur in Christus, en in Hom alleen.
En dan, wonder bo wonder, lees ons teen die einde van die Godsopenbaring, as die samestelling van die 144 000 verseëldes uiteengesit word: “uit die stam van Ruben twaalf duisend …” (Op 7:5). Al is hierdie simboliese taal, bly die boodskap glashelder.
Onthou,en vergeet dit nooit nie: Jesus Christus het vir siekes gekom, nie vir gesondes nie; vir mislukkings, nie vir suksesverhale nie; vir skuim, nie vir room nie. Die koninkryk behoort aan die armes van gees – die geestelike bedelaars – nie aan die godsdienstige presteerders nie. God red Rubeniete!
Maar, onthou ook! As Hy ‘n mislukking red, los die Here hom of haar nie in sonde nie. Hy herskep en bekragtig so ‘n persoon, sodat sy lewe vorentoe al hoe meer gekenmerk word deur die kennis van God en geregtigheid, en nie deur sonde nie.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier