ROMEINE 14:1-15:13

SOOS ONS, WAS DIE VROEË GELOWIGES GEDURIG IN KONTAK MET DIE WÊRELD. En sekerlik het hulle weer en weer geworstel met die vraag: “Waaraan kan ek deelneem; waaraan nie? Wat is sonde; wat nie?”

En, soos ons, moes hulle oor allerlei dinge binne die gemeente besluit. Wat is behoorlik, en wat nie?

In hulle geval het dit tipies gegaan oor vrae soos, wat mag mens eet en drink?; watter godsdienstige dae moet ons vier?; ensovoorts.

Dinge het nie veel verander nie. Ons het ons stryde oor die halaal-merk, wyn, Kersfees, rook, fliek, dans, kleredrag, homopatiese medisyne ens.

Rome was kosmopolities; ook die gemeente. Sekerlik was daar uiteenlopende opinies. Dit vat jare vir ‘n gelowige om bo sy kulturele voorkeure en eensydighede uit te styg  –  en om standpunte en gebruike vanuit eerste beginsels te beoordeel.

Paulus praat ook elders oor hierdie  probleem (1Kor 8:1-13; 10:23-33; Gl 4:10; Kol 2:16-17). Dit was dus algemeen. En so was dit deur die eeue.

DIE PROBLEEM DESTYDS

Afgodery was alledaags. Vleis wat privaat geoffer is, is in 3 verdeel. ‘n Deel is verbrand, ‘n deel vir die priesters gegee, en die res is self ge-eet. Nooi ‘n ongelowige jou dus vir ete, was die vraag: “Durf ek vleis eet; dis dalk offervleis?” (1Kor 10:27).

Vleis wat in die publiek geoffer is, is soortgelyk verdeel  –  behalwe dat die derde deel na die magistrate toe is. Hiervan is baie in slaghuise verkoop. Gevolglik het die vraag ontstaan: “Durf ek vleis koop; sê nou dis offervleis?” (1Kor 10:25).

Duidelik was party gelowiges bekommerd dat hulle sou sondig en geestelik besoedel word, indien hulle dalk offervleis sou eet  –  al was dit onwetend. Ander was egter nie begaan nie.

“Ontspan!”, sê die apostel, “wat wel ‘n groot probleem kan word, is gemeentelike verdeeldheid oor die saak.” Daarom pleit hy by die “sterkes” om die “swakkes” in liefde en met begrip te verdra en te konsidereer.

Met “swakkes” bedoel hy nié diegene wat kort-kort voor sonde swig nie. Nee, hy praat van diegene met allerlei gewetensnoutes en hang-ups. Hulle verstaan nog nie die fundamentele beginsels van die geloof nie. Hulle sukkel nog met die verband tussen genade en werke, evangelie en wet.

Die “sterkes” is diegene wat die evangelie en hulle vryheid in Christus goed verstaan. Hulle dink prinsipiëel en het onderskeiding.

Wat die Rome-gemeente betref, verwys Paulus nie eksplisiet na offervleis nie, maar na die feit dat sommige “swakkes” net groente eet, oënskynlik nie vleis nie (14:2). Dit dui duidelik op dieselfde kwessie.

Hierbenewens was daar verskillende opinies oor die belangrikheid van godsdienstige dae (14:5-6).

PAULUS SE RIGLYNE AAN DIE ROMEINE

14:1-12: Die regte onderlinge gesindheid. 

Die res van die gemeente moet diegene aanvaar wat nog allerlei hang-ups het, en nog nie volwasse in Christus is nie. Díé mense moet nie veroordeel word nie; hulle moet as broers en susters omhels word. En allermins moet met hulle gestry word (1).

Die twee groepe moet mekaar nie veroordeel nie. Almal behoort aan die Here (2-4). Almal wil die Here verheerlik. Dis tog die lewensinstelling van elkeen vir wie Christus gesterf het (5-9).

Uiteindelik leef elke ware gelowige voor die aangesig van die Here. Immers moet elkeen self aan Hom verantwoording doen (10-12).

14:13-23: Hoe die “sterkes” hulle Christelike vryheid moet hanteer 

Die Christelike vryheid is deel van ons erfenis in Christus. Maar dit moet baie oordeelkundig gebruik word. Daar moet dus teen twee dinge gewaak word.

Eerstens moet ek seker maak ek benadeel nie een van die “swakkes” in hulle navolging van die Here nie. Hy het immers ook vir húlle gesterf (13-15). Ek kan een van hulle laat struikel deur wat ek eet of drink (20-21). Of ek kan iemand verlei deur hom iets teen sy gewete te laat doen (22-23).

Tweedens mag ek nie my vryheid só gebruik dat die geloof ‘n slegte naam kry nie (16).

Maar die feit bly staan, in die koninkryk gaan dit nie oor allerlei uiterlike dinge nie, maar om gehoorsaamheid, vrede en blydskap in die Gees. Dít is wat God behaag (17-18).

Daarom moet ons altyd najaag wat die onderlinge vrede en opbou dien (19).

15:1-13 : Om God te verheerlik, moet ons die voorbeeld van Christus navolg  –  en dus nie onsself bevredig nie, maar andere se heil soek. 

Die volwassenes in die geloof moet die onvolwassenes nie net verdra nie, maar hulle ook soos Christus geduldig voorthelp (1-3).

Laat ons dus mekaar aanvaar soos Jesus. Hy het vir sowel Jode as heidene gekom en hulle aangeneem  –  ter wille van God se eer (7-13).

TOEPASSING

Dit gaan oor “majors” en “minors”.

Rm 14-15 handel oor die feit dat mense dikwels onseker is. Is dit behoorlik? Moet dit, of hoef dit nie? Is dit sonde, of is dit nie?

Een van die belangrikste dinge is om te onderskei tussen dit wat werlik belangrik is, en dit wat nie regtig saak maak nie. Dan sal ons soepel en tolerant wees  –  behalwe in die dinge wat ononderhandelbaar is. Dan heers vrede, vryheid en vreugde in ‘n gemeente. Dan sal ons oor ‘n duisend randsake geen vaste standpunt hê nie  –  gewoon omdat dit nie saak maak nie. Elkeen doen na goeddunke, en dit pla niemand nie.

Dis waarom Paulus nie ‘n simplistiese lys gee van wat reg en verkeerd is nie. Nee, hy gee ‘n paar basiese en universele beginsels waarmee in elke en enige situasie gewerk moet word.

Dis soos die Christelike etiek werk. God het ‘n aantal tydlose en altyd-geldende beginsels gegee  –  en daarmee moet ons woeker. Geestelike volwassenheid het baie te doen met die vermoë om vanuit sulke eerste beginsels te dink, te doen en te beoordeel  –  en om skouerophalend te wees oor die nie-fundamentele sake: “Wat maak dit saak?”

Klein jakkalsies verniel egter ‘n wingerd.

Maar voordat jy jou oë uitvee kan klein dingetjies monsteragtige afmetings aanneem  –   juis omdat elke gemeente sy “swakkeres” het. Iets wat regtig om ‘t ewe is, kan deur mense sonder onderskeidingsvermoë opgeblaas word tot ‘n strydpunt wat ‘n gemeente uitmekaar kan ruk. Daarom moet ‘n kudde se herders altyd op hulle hoede wees. ‘n Klein skoenklippie kan ‘n blaas maak wat ontsteek  –  en as dit nie ontsmet word nie, mag dit jou môre, oormôre heeltemal lamlê.

Laat ons dus nie enige wanklank in ons onderlinge verhoudinge onderskat nie. Só kosbaar is eenheid, dat ons elke krakie, al lyk dit hoe onskuldig, as potensiëel gevaarlik moet beskou en as sodanig hanteer.

Sonde lê nie in dinge op sigself nie; dit lê in mense  –  in hulle gesindhede en gedrag.

Dis wat Jesus in Mk 7:18-23 leer. ‘n Geweer of ‘n glas wyn of ‘n daggaplant kan misbruik word, maar daarin sit op sigself geen sonde nie. Feitlik enigiets kan ook positief gebruik word.

Jong gelowiges hou tipies daarvan om hulle toewyding aan die Here op allerlei tasbare en sigbare maniere te toon  –  wat nie noodwendig verkeerd is nie, net onvolwasse. Dis waarom die “swakkeres” dikwels baie begaan kan wees oor uiterlike dinge. Hulle moet nog leer: “die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee” (14:17).

Christelike vryheid kan misbruik word.

Die oomblik as ons vryheid noem, tel die vlees sy kop op en spits sy ore. Laat ons dus ag slaan op Rm 14:22: “Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie.” 1Kor 10:23: “Daar is mense wat sê: ‘Alles is geoorloof.’ Ja, maar alles is nie heilsaam nie. ‘Alles is geoorloof,’ sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie.”

Dis geestelike volwassenheid om “swakkere” broers en susters met begripvolle wysheid en liefdevolle geduld te hanteer.

Paulus wil keer dat op die “swakkes” neergesien word. Ja, hulle is gewoonlik nuwe bekeerlinge, maar maak dit hulle minderwaardig? Die kerk is nie ‘n universiteitskoshuis waarin eerstejaars verag word nie. Is ‘n baba van twee jaar minder kosbaar vir sy pa as sy boetie van sestien? 

Agter die “swakkes” se puntenerigheid is dikwels ‘n ywer om heilig te leef en die Here te behaag  –  wat die ouer lidmate behoort te beskaam. Wat die nuwelinge nodig het, is nie water op hulle vuur nie, maar wyse lering en geduldige aanmoediging.

Drie reëls om te besluit oor wat reg is:

Een: Verbied die Bybel my om iets te doen? Party dinge word spesifiek verbied. Maar dan is daar ook algemene beginsels wat ek nie geweld mag aandoen nie. Dit staan nêrens in die Bybel dat ek nie oor ‘n rooi lig mag jaag nie, maar wel dat ek die owerheid moet gehoorsaam  –  en ander nie in gevaar stel nie.

Twee: Sal ‘n bepaalde ding my nie dalk in die versoeking lei nie? As jou oog of hand jou laat struikel, raak dringend ontslae daarvan (Mt 5:29-30). Natuurlik bedoel Jesus dit nie letterlik nie. Dit gaan oor vermyding van versoeking. Let ook op, die opdrag is voorwaardelik (“As …”). Elkeen moet homself leer ken en beoordeel. Wat een laat struikel, mag vir ‘n ander geen probleem inhou nie.

Drie: Sal ek nie ‘n ander laat struikel nie? Bv. mag daar wyn gedrink word as gelowiges saam eet? Gestel A is “sterk”; B is ‘n gerehabiliteerde alkolis, maar “sterk”; en C is “swak”.

Indien A en B saam eet, mag A, maar nie B nie. As al 3 saam eet, mag nóg A nóg B ter wille van C.

As ‘n gelowige saam met ongelowiges eet, sal hy versigtig wees. Hy weet ‘n glasie wyn is op sigself nie sonde nie, maar hy kan die ander laat struikel.

Les bes kan selfs ‘n “sterk” gelowige besluit om alles te vergemaklik en veilig te speel, deur hom te onthou. Vrugtesap laat niemand immers struikel nie.

SLOTWOORD

Daar is twee dinge in die lewe: die volmaakte en die werklikheid.

Volwassenheid is om die volmaakte as ideaal na te streef, maar om met die onvolmaakte as werklikheid saam te leef. Om die werklikheid gelate te aanvaar, en die volmaakte sinies af te skryf, is dwaas. Maar om net die volmaakte te erken en die werklikheid te misken, is naïef.

Weier om vrede te maak met gebrokenheid, maar maak vrede met die feit van gebrokenheid  –  dit is volwassenheid.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00