JOB 36:22-37:24 [8]

DIE KONFRONTASIE TUSSEN JOB EN SY 3 VRIENDE, ELIFAS, BILDAD EN SOFAR, IS VERBY. Maar nou kom ‘n vierde vriend, Elihu, na vore. Omdat hy jonger is as die ander (32:6), het hy tot nou toe geswyg. Hy was egter waarskynlik by toe die ander drie met Job geredekawel het.

Elihu het duidelik gehoor dat die 3 vriende se oplossings geen water hou nie. En hoewel Job die argument gewen het deur aan te toon dat die drie heeltemal verkeerd redeneer, is dit vir Elihu duidelik dat ook hy wat Job is nog nie die antwoord het nie.

In die debat met die 3 vriende het Job weliswaar ‘n wonderlike deurbraak beleef. Hy het tot die sekere wete gekom dat sy Verlosser leef en dat hy wat Job is op die laaste dag sal opstaan (19:25). Sekerlik het dit hom uit die donker put van wanhoop gelig. Ten minste kan hy uitsien na die ewige lewe. Maar  –  en dit is nou sy dilemma  –  hy het geen idee waarom die Here van oneindige liefde en genade hom so verskriklik laat ly in hierdie lewe nie. Hy weet wat die antwoord níé is nie. Dis nie te wyte aan ‘n sondige lewe wat hom nou ingehaal het nie. Maar oor die werklike rede vir sy smarte is hy net so in die duister soos sy 3 verwarde vriende.

Die boek Job leer ons dat God se uitverkorenes nie gevrywaar is van beproewinge in hierdie lewe nie; trouens, dikwels kry niemand meer swaar as hulle nie  –  omdat die Here ‘n baie spesifieke doel daarmee het. Hierdie vierde vriend, Elihu, word nou gebruik om vir Job iets hiervan te laat verstaan. Weliswaar trek hy die gordyn net effentjies oop. Baie van die geheimenisse word immers eers in die Nuwe Testament opgelos. Maar wat hierdie jong vriend vir Job sê, is genoeg om hom wonderlik te vertroos.

LEWENSVERANDERENDE NUWE INSIG

Ons, die lesers, weet wat Job nie weet nie, naamlik dat Gód vir Satan toelaat om hom so te verinneweer. Maar waarom? Dis mos nie nodig nie. Kon die soewereine Een van hemel en aarde nie van die begin af bloot Satan se uitdaging geïgnoreer het nie. Natuurlik! Dit sê dus vir ons dat die Here self ‘n verhewe doel met Sy kneg het. Maar wat is dit?

In die boek tot nou toe kon ons reeds ‘n sekere geestelike groei in Job se lewe sien. Die uitstaande ding is dat hy ‘n nuwe bewussyn van die ewige lewe ontwikkel het. In sy tyd het mense bloedweinig van die lewe hierná verwag  –  uiters ‘n skimagtige soort bestaan, minderwaardig in vergelyking met die lewe hier op aarde. Maar, soos ons gesien het, Job kom tot die troosryke besef dat dit vir God se gunsgenote ‘n welgeluksalige bestaan sal wees  –  veel heerliker as wat ons hier op aarde ken. Maar  van die geheimenis van lyding verstaan hy nog niks nie. En dis waar Elihu in die prentjie kom.

As Elihu begin praat, benader hy Job se krisis heeltemal anders as die 3 vriende. En dis waarskynlik waarom Job nie terugpraat nie. Hy luister goed  –  en lieflike insigte gaan vir hom oop. Nou begin hy verstaan dat God nie bloot arbitrêr besig is om hom te straf vir sondes waaraan hy nie skuldig is nie, maar dat die Here in Sy genade besig is om die swaarkry wonderlik in sy lewe te gebruik.

Elihu is deeglik bewus dat hy baie jonger is as die ander manne, en hy maak verskoning dat hy nou ook sy opinie lug. Maar dit weerhou hom nie daarvan om met beslistheid en gesag te praat nie (32:6-12). Dis veral die ouer manne se stiksienigheid wat dit vir hom onmoontlik maak om stil te bly.

Job se groot krisis is dat dit vir hom voel God behandel hom soos ‘n vyand  –  onverdiend. Dit is wat Elihu nou eerstens aanspreek. Nee, sê hy, beproewing is baie dikwels nie straf nie, maar juis een van God se uitnemende genademiddele.

Die Here het basies twee maniere om mense op die regte pad te lei en hulle weg te stuur van die verdoemenis af. In die eerste instansie praat Hy met hulle deur Sy Woord en Gees (33:14-18). Maar dan, tweedens, gebruik Hy beproewinge om sy kinders sekere belangrike lesse aan die verstand te bring (33:19-28). Hierdie laaste perspektief is geheel-en-al nuut in die wêreld van destyds. Niemand het verder gekom as die voor die hand liggende nie, naamlik dat lyding God se straf is. Maar wat Elihu hier sê, is dat smarte baie dikwels nie die uitvloeisel is van God se toorn nie, maar van Sy liefde en goedheid en guns. Dit verander alles. En dit bring ‘n totale paradigmaverskuiwing mee  –  nie net vir Job nie, maar in die ganse wêreld van destyds.

G’n wonder Job sê nie ‘n woord nie. Hy is verbyster. Maar wat Elihu sê, maak sin. En dis presies in lyn met sy ervaring. Wat hy dus beleef, is God se guns, nie Sy toorn nie! En presies dit is wat Job in die honderd en veertig jaar hierna sou beleef: “Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste …” (42:7-17).

Vir ons maak dit wonderlike perspektiewe oop: Satan se haat en vernietigingsdrang gebruik die Here rustig ten goede in Sy gunsgenoot se lewe. Nou kan niemand God meer aankla van onregverdigheid nie; inteendeel. En so is dit ook met jou en my. Kom ons wees eerlik, daar is sekere sondes in ons lewens wat op geen ander manier uitgeroei kan word nie as deur swaarkry.

Dis egter nie die einde van wat Elihu op die hart het nie. Nuwe insig is wonderlik en noodsaaklik, maar verootmoediging oor sonde net soveel. En Job hét gesondig. Hy het duur dinge teen die Here gesê. Elihu vermaan dus die ouer man. Maar hy doen dit versigtig en sensitief. En hy begin deur Job te verseker van God se vergiffenis indien hy in nederigheid sy sonde sou bely (34:31-33). Maar terselfdertyd draai hy nie doekies om nie  –  hy noem Job se sondes by die naam.

Uiteindelik sluit Elihu sy rede af deur Job te herinner aan God se grootheid (36:22-37:24). Hy is die soewereine en almagtige God wat handel soos Hy wil. Wie kan Sy weë bevraagteken? Laat ons dus laag buig en ons verneder onder Sy kragtige hand.

En dit is so dat sonde se wortels diep lê. Daarom draai Hy ons nie in sneesdoekies toe as hy ons op die pad van heiligmaking lei nie.

En só berei hierdie jong, maar wyse dienskneg van die Here die pad voor vir God self se koms. Want in hoofstukke 38-41 kry ons ‘n bykans ongeëwenaarde stuk selfopenbaring van God.

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

Wat lyding in hierdie lewe betref, is daar baie wat ons nooit hier en nou sal deurgrond nie. 

God is oneindig groter as ons, en Hy het nie alles aan ons geopenbaar nie. Hy het planne waarvan ons nou niks weet nie. Dit is dus volwassenheid om tevrede te wees om nie alles te verstaan nie, en om bereid te wees om die Here met alles te vertrou, ook met jou smarte.

Daar is dikwels geen simplistiese oorsaak-gevolg verband tussen jou lewe en jou belewinge nie. 

Met sondaars gaan dit dikwels baie goed. En met die regverdiges gaan dit dikwels sleg. Sekerlik skuif daar baie reg in ons lewens as ons tot bekering kom. En daar is baie wonderlike kompensasies verbonde aan radikale Christen-wees. Maar daar is vir seker ook ‘n kruis om te dra. Daarom, al lei sonde dikwels tot siekte, is jy ‘n dwase Jobstrooster as jy sonder meer die standpunt huldig dat alle siekte die gevolg van sonde is.

Watter lyding en smarte God ook al oor my bring  –  Hy mag. 

Niemand durf die algehele soewereiniteit van God betwis nie. En selfs al sou jy teen die prikkels skop, sal dit nie die vasstaande feitelikheid daarvan verander nie. Hy doen wat Hy wil, en net wat Hy wil. Hy het alles geskape, en dit behoort aan Hom. En ons, Sy kinders  –  geskape en herskape  –  behoort op ‘n dubbele manier aan Hom.

Dit beteken nie dat God noodwendig op ‘n direkte manier vir my lyding verantwoordelik is nie. 

In Sy soewereiniteit werk Hy gewoonlik middellik  –  wat beteken dat Hy die kragte in hierdie wêreld gebruik om Sy wil uit te werk. Ons lewe eenvoudig in ‘n gebroke wêreld. En lyding is so deel van die lewe hier en nou soos elke dag se sonsopkoms. Daarbenewens is Satan die god en owerste van hierdie wêreld (Jh 12:31; 14:30; 2Kor 4:4). Hoewel ons nie meer onder sy gesag staan en hy met ons kan doen wat hy wil nie, leef ons in vyandelike gebied met al die gevare daaraan verbonde.

Maar, en dit staan vas, niks gebeur ooit in my lewe wat die Here nie toelaat nie.

God se soewereiniteit beteken nie fatalisme nie. 

Alle lyding is die gevolg van die sondeval. Daarenteen is ons as God se kinders deel van Sy nuwe ryk wat lynreg staan teenoor alles wat verband hou met sonde. As sodanig moet ons alle lyding hand en tand beveg  –  in onsself en in ander. Of ons dit nou as medici doen, of as politici, of as wat ook al, dit moet ons erns wees. Natuurlik sal dit vir ons altyd eerstens gaan oor die uitdra van die evangelie  –  die allerantwoord op die gevalle wêreld se heel grootste nood. Maar dit impliseer nie dat ons apaties sal wees oor die “tydelike” terugdryf van verrottingskragte in ons wêreld nie. Dit staan immers dikwels in diens van die alleroplossing.

Die eintlike vraag met betrekking tot lyding is nie vanwaar dit kom nie, maar hoe mens daarop reageer. 

Wat lyding betref, roep die Skrif ons weer en weer op om dit in ewigheidsbelang in ons lewens te kanaliseer. “… julle moet baie bly wees as allerlei beproewings oor julle kom …” (Jk 1:2-4; 1Pt 1:6-7; 4:12-13). Omdat ons nie net verstaan wat Job by Elihu geleer het nie, maar inderdaad die lig van God se volle openbaring het, verstaan ons immers watter ewigheidsvrug swaarkry in ons lewens kan voortbring.

Lyding in my lewe beteken nie dat God ‘n mosie van wantroue in my stel nie; inteendeel. 

Soos in Job se geval is lyding in ‘n kind van God se lewe veel eerder ‘n mosie van vertroue. Want die Here “tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kastei elke seun wat Hy aanneem” (Hb 12:6, OAV). Dis juis omdat Hy ons na die beeld van Christus vorm, dat Hy ons nie bederf nie.

In die ware gelowige bring lyding altyd ‘n goeie vrug voort (Hb 12:11). 

Laat ons veral in tye van swaarkry hierdie belofte vasgryp. Maar om dit in krisistye reg te kry, moet ek dit in tye van voorspoed my eie maak.

God soek ons vrywillige liefde – ongeag. 

Dis waarom dit eintlik in Job gegaan het. Hy moes leer, as jy die Here het, het jy alles. In teëspoed het jy nie minder nie, en in voorspoed het jy nie meer nie.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00