JOB 1:1-11

HIERDIE BOEK IS SEKERLIK EEN VAN DIE MERKWAARDIGSTE IN DIE OU TESTAMENT  –  en gewis een van die uitstaande geskrifte in die wêreldletterkunde.

Die verhaal speel hom ongeveer 2000 jaar voor Christus af. Daar is goeie redes om te aanvaar dat Job min of meer ‘n tydgenoot van Abraham en Melgisedek was. Onder meer is sy ouderdom tipies van die patriargale tydperk. Na sy beproewing het Job nog 140 jaar geleef (42:16). Ook word daar niks in die boek gerep oor die verbond met Abraham, of die eksodus, of die Sinaïetiese wetgewing nie.

Die Bybel bied Job aan as ‘n historiese persoon. In Eseg 14:14, 20 word hy in dieselfde asem as Noag en Daniël genoem. En Jakobus sê: “Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het” (5:11).

Wanneer en deur wie die boek geskryf is, weet ons nie. Sommige dink dis Moses, aangesien Job se land, Us, aangrensend aan Midian was  –  waar Moses 40 jaar deurgebring het en waar hy dalk van hierdie ou aartsvader kon gehoor het. Ander meen weer dat dit Salomo was, aangesien daar nogal parallelle tussen Job en Prediker te bespeur is.

Die tema van hierdie meesterstuk is die geheimenis van God se voorsienigheid in die lyding van goeie mense. Dit word egter nie bloot abstrak en filosofies behandel nie, maar aan die hand van ‘n regte mens en sy lewensworstelinge. ‘n Uitsonderlike vroom en godvresende man word eensklaps onderwerp aan bykans onbeskryflike lyding. Dit lei tot Job se intense wroeginge om te verstaan wat met hom aan ‘t gebeur is. Uiteindelik word die intrige ontknoop as God in Sy onbeskryflike majesteit aan hom verskyn. Nie ‘n enkele antwoord word gegee vir die talle vrae wat gevra is nie. Maar as Job diep onder die indruk kom van die ontsaglike heerlikheid van die God met wie hy te doen het, verdamp sy vrae en verwyte, en besef hy dat die antwoord daarin lê dat ons in ons geringheid en onkunde ons eenvoudig in die geloof aan die soewereine, algoeie en alwyse God moet toevertrou.

Die boek begin met ‘n kort, maar aangrypende beskrywing van ons hoofkarakter se godsvrug en rykdom. Aan hierdie eerste verse gaan ons nou eers aandag gee  –  in die besonder aan Job se heilige lewe.

JOB SE KARAKTER IN 1:1

Vers 1 gee vir ons 4 baie betekenisvolle karaktertrekke van ‘n uitsonderlike man van God.

Job was vroom 

Die KJV vertaal met “perfect”; meer moderne Engelse vertalings met “blameless”. Dit beteken nie dat Job sondeloos was nie. Hy bely self dat dit allermins van hom geld (4:17; 9:2, 20).

Basies beteken die woord om heel of volkome te wees  –  om nie in dele verdeel te wees nie.

Sy toewyding kom dus tot uitdrukking oor die volle spektrum van sy menswees. Sy hoof, sy hart en sy hand  –  sy oortuigings, emosies en dade  –  is in pas. Hy konsentreer nie op sekere pligte, terwyl hy in ander areas buite God se ordes leef nie. Hy is nie net sóms aan God toegewyd nie  –  nie net sekere dae en sekere seisoene nie  –  maar as dit pas én as dit ongerieflik is, as hy so voel én as hy homself moet vasvat. Sy toewyding is konsekwent en onafgebroke.

So iets is net moontlik as jou toewyding en liefde vir die Here uit jou hart kom  –  die sentrum van jou persoonlikheid. Want uit die hart is die uitgange van die ganse lewe. Maar as jou godsdiens oppervlakkig is, slaan dit net hier en daar uit. En presies dit is wat van iemand ‘n huigelaar maak.

Nee, Job het die ware Jakob gehad  –  hy het die Here met ‘n onverdeelde hart gedien.

Job was opreg 

Engelse vertalings vertaal omtrent konsekwent met “upright”. Basies dui die woord op iets watreguit is  –  en daaruit vloei dan die idee van korrektheid, van reg-wees, van geregtigheid.

Iemand van wie hierdie eienskap waar is, lewe reg voor die Here. Sy hartsgesteldheid is reg; sy uitlewing is reg. En só kan mens net wees as jy jou met toewyding daarop instel om te verstaan wat God se wil en wet is  –  en as jy jou prioriteite uitgesorteer het. Daar is nie meer innerlike tweespalt oor  norme en lojaliteite nie. Voorop is en bly jou onderwerping aan die Here se onbevraagtekenbare hoofskap.

Job het dus volgens uigesorteerde beginsels geleef. Hy het sy plig geken en daarvolgens gelewe. Hy was ‘n man van onkreukbare integriteit.

Job het God gedien (lett. hy het in die vrese van die Here geleef) 

Job se lewe is beheers deur diep ontsag vir God. Hy het geweet met wie hy te doen het en voor wie hy verantwoording moet doen. Vandaar die worstelvraag wat onderliggend is aan sy ganse geloof: “hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” (9:2, OAV).

Daarom leef Job Coram Deo  –  voor die aangesig van God. Dis waarom hy sy gedagtes, motiewe en gesindhede oppas, en ‘n hand voor sy mond hou.

As daar een geheim vir sy vroomheid en opregtheid is, is dit hierdie respek vir die Here  –  en die wete dat hy voor Hom sal moet gaan staan. Die Prediker se les is op die tafels van sy hart geskryf: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Pred 12:13-14, OAV).

Job het die kwaad vermy 

Job pas sy hart op. Geen onkruid mag daar wortel skiet nie. Van versoekinge bly hy ver weg. Sonde vrees hy, want hy ken die vernietigende krag daarvan.

TWEE VERDERE KARAKTERTREKKE

Job se bewoënheid oor sy kinders (1:5) 

Job het ‘n pragtige gesin, en sy kinders is baie lief vir mekaar (4). Aangrypendste van alles is Job se besorgdheid oor hulle  –  maar nie soseer oor hulle welsyn sonder meer nie, maar veral is hy begaan dat hulle nie teen die Here sal sondig nie. Ten diepste gaan dit vir Job oor God se eer. Onder geen omstandighede mag hy en sy huis dit aantas nie!

Job se bewoënheid oor die behoeftiges (29:11-17; 31:16-22)

In hierdie Skrifgedeeltes dink Job terug aan sy lewe voor die rampe hom getref het. Is daar ‘n mooier beskrywing in die Bybel van ‘n gees van barmhartigheid as hierdie? Ja, hy was skatryk, maar niks het hom groter vreugde gegee as om die ellendiges te help nie. Kan daar ‘n groter uitdaging vir welvarende dissipels van die Here wees  –  voor ons almal  –  as om Job hierin na te doen?

TOEPASSING

Dis betekenisvol dat twee dinge gladnie genoem word as Job se godsvrug beskryf word nie. 

Eerstens is daar geen aanduiding dat Job enige kontak met die verbondsvolk gehad het nie. Kennelik was hy nie ‘n afstammeling van Abraham nie. So was dit ook met hulle tydgenoot,  Melgisedek.

Terwyl ons nooit die belangrikheid van afkoms en assosiasie moet geringskat nie, moet dit steeds glashelder duidelik in ons gemoedere vasstaan dat dit ten diepste nie híérdie dinge is wat ons vir God aanvaarbaar maak nie. Terwyl die sigbare kerk die appel van God se oog is, mag ons nie verval in die Roomse dwaling wat lidmaatskap van die institusionele kerk ‘n voorvereiste vir redding maak nie. Terwyl daar min groter voorregte is as om in ‘n huis groot te word waar die Here in gees en waarheid gedien word, moet ons ten alle koste wegstuur van die idee dat jy min of meer outomaties gered word omdat jou ouers Christene is.

Nee, belangrik soos die Here se genademiddele en die werkinge van Sy voorsienigheid is, moet ons steeds kompromieloos daarop aandring dat geloofsvertroue in Christus se middelaarskap vanuit persoonlike morele en geestelike bankrotskap die enigste vereiste vir verlossing is. Ontelbaar baie dissipels van Jesus het deur die eeue die haglikste afkoms gehad, en baie ware Christene was nooit lidmate van volwaardige gemeentes nie.

Tweedens is die afwesigheid van die seremoniële in Job se godsdiens verbasend  –  veral as mens in ag neem dat hy ‘n Ou Testamentiese figuur was. Geen melding word gemaak van allerlei rituele, reinigings of priesterlike formaliteite nie.

Weliswaar het Job geoffer (1:5), maar dit was die eenvoudige manier van destyds om uitdrukking te gee aan jou geloof in ‘n komende Middelaar. In elk geval was Job priester van sy eie huis. Deurgaans is dit duidelik dat sy godsdiens uit die hart gekom het, en nie ‘n kwessie van seremonies was nie.

Onthou, die Here plaas reg van die begin af ‘n gewigtige premie op aanbidding in gees en waarheid. Destyds al, maar soveel te meer vandag!

Terwyl die boek grootliks besig is met Job se teëspoed en die vraag waarom so ‘n goeie man so swaar moes kry, moet ons onthou dat die boek ons ook duidelik meedeel dat dit vir die grootste deel van sy lewe wonderlik goed met hom gegaan het. 

Dis juis die onverwagse en verbasende van Job se rampe wat ‘n dramatiese karakter verleen aan die vraagstukke wat die boek aansny. Dit is immers die normale dat dit goed gaan met iemand wat die Here so onvoorwaardelik en met oorgawe dien. Wat met Job gebeur, is die uitsondering, nie die reël nie.

Skryf Paulus nie vir Timoteus nie: “… om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms” (1Tm 4:8). En dit staan vas: ook Job het die vervulling van hierdie beginsel proefondervindelik baie goed geken. Hoe lank voor sy teëspoed weet ons nie, maar in 29:2-3, 6 beskryf hy dit. Was dit nie juis Satan se argument nie: Job dien die Here ter wille van die seën wat daarmee saamhang. En, natuurlik, vir ten minste 140 jaar na sy rampspoed was hy ‘n geseënde by uitnemendheid (42:10-17).

Laat ons dus nie van Job se verhaal die reël maak nie. Dit was ‘n uitsondering  –  weliswaar ‘n uitsondering wat kardinaal belangrike beginsels vir ons in helder kleure verf, en ‘n uitsondering wat meermale voorkom. Maar ons moet nie in oorreaksie teen ‘n onbybelse welvaartsteologie in die teenoorgestelde dwaling van ‘n ellende-mentaliteit verval nie. Die Here seën Sy kinders! ‘n Lewe in Sy ordes lewer altyd  –  reeds in hierdie lewe  –  wonderlike dividende! En dit geld nie net die geestelike nie, maar óók die emosionele en die materiële. Natuurlik is dit nie ‘n eenvoudige formule nie. Dikwels vat dit lank om te realiseer. En altyd is daar uitsonderings. Maar 1Pt 3:10-12 staan vas: “As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.”

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00