DANIËL 9:24-27
HIERDIE VERSE WORD ALGEMEEN AANVAAR AS VAN DIE MOEILIKSTE IN DIE OU TESTAMENT. Die oorspronklike taal is kompleks. En mens moet talle eksegetiese keuses en aannames maak.
Maar as jy eenmaal deur alles geworstel het, is jy verstom oor die akkuraatheid van die profesie. Dit is een van die rykste Messiaanse profesieë in die Ou Testament en laat jou in aanbidding voor die soewereine God van die geskiedenis.
DIE ANTWOORD OP DANIËL SE GEBED
Jeremia geprofeteer dat die ballingskap 7 dekades gaan duur (25:8-11; 29:10-14). Dis duidelik dat die tyd begin uitloop, en in Dn 9:4-19 bid Daniël oor die saak. Sy gebed word verhoor en Gabriël bring God se antwoord vir hom (9:20-23).
Daniël is ingestel op 70 jaar en die herstel van sy volk ná die ballingskap. God wil egter sy kop optel. Dit gaan oor baie meer, oor iets veel groters. Nie bloot 70 jaar nie, maar 70 sewetalle (letterlik) – dís die eintlike tyd wat vir sy volk en Jerusalem vasgestel is! Nie bloot ‘n restorasie tot die geestelike sukkelbestaan en eindelose godsdienstige seremonies van vóór die ballingskap nie, maar die heerlike Messiaanse regering van ‘n Gesalfde Vors(OAV)! Nie bloot vergiffenis van sonde nie, maar oorwinning oor sonde en ‘n lewe van geregtigheid!
Maar, paradoksaal, vir die Joodse volk self gaan hierdie nuwe bedeling nie triomf bring nie. Dit gaan, inteendeel, ‘n veel meer vernietigende katastrofe as die ballingskap bring – verskriklike oordeel, beëindiging van die Joodse godsdiens en totale verwoesting van die geliefde stad en sy tempel. Tog, ten spyte daarvan, sal God Sy genadeverbond met Abraham nie vergeet nie. Baie sal in daardie dae van ellende deur Sy verbondstrou verseël word.
Die tydperk tot dan, soos deur God verordineer – die 70 sewetalle – is onderverdeel in 3 korter periodes: 7 sewetalle; 62 sewetalle; en 1 sewetal. 1
Die profetiese horlosie sal begin tik wanneer die opdrag gegee word om Jerusalem te herbou (25).
Dan, na ‘n lang periode (7 sewetalle plus 62 sewetalle) sal ‘n Gesalfde Vors verskyn.
Tydens die 70ste sewetal sal hierdie Vors doodgemaak word. Maar halfpad deur hierdie tydperk sal Hy ‘n einde maak aan die offerdiens (27). En die stad en die tempel sal verwoes word (26).
WAAROM DIT RÉGTIG GAAN (V.24)
Vers 24 spel met 6 frases (elkeen ingelei deur “om”) die doel van God se verordening uit (OAV, NIV). Kennelik is dit die Vors wat dit gaan kom verwerklik. En dít is waaroor alles gaan! Vernietiging van stad, tempel en offerdiens is gepaardgaande, maar beslis nie die hoofdoel nie.
Die eerste 3 doelwitte loop saam. Dis meer negatief van aard. Die Gesalfde Vors sal kom werk maak van dit wat God die meeste in Sy volk vertoorn: menslike sondeverdorwenheid.Eerstens sal goddeloosheid voleindig word (OAV). Tweedens sal sonde beëindig word (NAV, NIV). Derdens gaan dit om die versoening van ongeregtigheid (OAV).
Die laaste 3 doelwitte loop ook saam – heerlik positief (sien OAV). Vierdens gaan dit om die aanbring van ewige geregtigheid. Let op, die geregtigheid sal van buite af ingebring word. Dit sal nie reeds in die volk bestaan nie. Vyfdens gaan dit oor die beseëling van gesig en profeet. “Gesig en profeet” dui op Ou Testamentiese profetiese openbaring – wat vervul sal word. Sesdens gaan dit oor die salwing van dit of hom wat hoogheilig is.
DIE PROFESIE SE KRONOLOGIE
Die beginpunt van die tydperk is voor die hand liggend – die eerste regeringsjaar van Kores (539 v.C.) (25). Dis die jaar waarin hy die proklamasie van bevryding uitreik, en die ballingskap formeel tot ‘n einde kom (Esra 1:1-4; Dan 1:21).
‘n Menigte pogings is al aangewend om ‘n sewetal as sewe jaar te vertolk – en dan die profesie te laat inpas by historiese gebeure wat ná 539 v.C. gevolg het. Niemand kon egter nog só met ‘n bevredigende oplossing na vore te kom nie.
Die beste is om die sewetalle as simbolies te beskou. Die syfer 7 is immers dwarsdeur die Bybel simbolies gelaai. Hier word in elk geval niks gepraat van jare nie. Indien korrek, dan val die klem nie op die presiese tydsduur nie, maar op die feit dat God die historiese verloop van die dinge waaroor hier gepraat word soewerein bepaal en vasgelê het.
In die verloop van die totale tydperk sal daar sekere uitstaande bakens wees.
Eerstens sal die heilige stad herbou word. Dit sal egter nie maklik wees nie (vgl.v.25; Neh 4:1vv; 6:1vv; 9:36-37). Die implikasie is dat dit 7 sewetalle sal duur – ‘n beduidende tydperk (hierná word immers in v.26 van die 62 sewetalle gepraat – die volgende tydvak). Sekerlik is dit die geskiedenis wat in die boeke Esra en Nehemia opgeteken is.
Dan sal ‘n lang tydperk van 62 sewetalle volg. Oor gebeure in hierdie tyd word niks gesê nie (die res van die Daniëlboek sê wel baie daaroor). Maar hierdie lang periode sal uitloop op ‘n grootse gebeurtenis – dit waaroor dit eintlik gaan. Na 69 sewetalle (7+62) sal ‘n Gesalfde Vors verskyn (25).
Die 70ste, of laaste sewetal, sal ‘n intense en dramatiese tyd wees. In dié tydperk sal die Gesalfde doodgemaak en diere- en graanoffers afgeskaf word. Uiteindelik sal hierdie verordineerde tydperk van 70 sewetalle, wat vir die volk en stad oorbly, klimakties tot ‘n einde kom met die verwoesting van die stad en sy heiligdom (26) (hieroor in E125).
VERVULLING IN CHRISTUS
Enigeen wat hoegenaamd op hoogte is met die Nuwe Testament, sal onmiddellik begryp dat hierdie profesie in Jesus Christus vervul is (hou in gedagte dat Gesalfde, Messias enChristus sinonieme is). Op niemand anders in die ganse geskiedenis kan hierdie 6 dinge van toepassing gemaak word nie. Die profesie is oorweldigend messiaans!
Wonderlik vervul Christus die eerste 3 doelwitte van v.24. Wonderlik stel Hy die katastrofiese gevolge van die sondeval reg. Trouens, dit was aan die hart van Sy sending (Hd 3:18-19; Hb 9:26b). Hy doen versoening vir dermiljoene mense se sonde, en goddeloosheid en sonde kenmerk nie meer hulle lewens nie, maar geregtigheid.
Wat die vierde rede vir Sy koms betref, bring Christus Sy eie geregtigheid die wêreld binne (Rm 1:17; 8:4; 10:4; Fl 3:9, OAV). Hy bring objektiewe geregtigheid om aan diegene wat in Hom glo, toe te reken – sodat hulle in God se boeke die status kan hê van mense wat nooit sondig nie en wat God se wet volkome onderhou. Nog meer, Hy bedeel ook subjektiewe geregtigheid aan hulle toe – sodat hulle heilig voor God kan leef. 2
Vyfdens is die Ou Testamentiese messiaanse profesieë oor en oor in die Here Jesus vervul.
En sesdens is Hy tydens Sy doop sonder maat met die Gees vervul – met die oog op Sy taak.
DIE DOOD VAN DIE MESSIAS
Die Gesalfde sal doodgemaak word, sê v.26. Presies wanneer dit sal gebeur, word nie gesê nie, behalwe dat dit ná die 62 sewetalle sal wees – dus iewers in die loop van die 70ste sewetal.
Letterlik word gesê dat Hy “afgesny” sal word. Gewoonlik dui hierdie begrip op ‘n gewelddadige dood – in Lev 7:20 op teregstelling, en in Ps 37:9 op die dood van goddeloses.
Dit laat mens onwillekeurig aan Jes 53:8 dink – aan die Kneg wat “afgesny” is uit die land van die lewendes (OAV). Weliswaar gebruik Jesaja in die Hebreeus ‘n ander woord, maar dis ‘n sinoniem.
Waarop anders kan dit dui as op Christus se verskriklike dood aan die vloekhout?
Verder word gesê dat daar “niks vir Hom sal wees nie” (letterlik). Waarskynlik sinspeel dit daarop dat die Vors, wanneer Hy sterf, niks sal hê nie. En inderdaad het die Jode Sy koningskap verwerp: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie!” (Jh 19:15). Hy het nie eers ‘n draad klere gehad nie. En as Hy sterf, roep Hy uit: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” (Mt 27:46).
Al wat Hy in daardie verskriklike oomblikke gehad het, was die toegerekende sondeskuld van miljoene wat op Hom gestapel is!
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Soos in die geval van sovele ander Messiaanse profesieë, onderstreep die vervulling van Dn 9 vir ons die Goddelike inspirasie van die Ou Testament.
Ongeloofsteoloë weier om dit toe te gee, maar hoe anders verklaar jy die detail-vervulling, na 600 jaar, van ‘n profesie soos hierdie? Het dit van ‘n enkele punt gegeld, kon jy dalk geredeneer het dat dit toevallig is. Maar hier is ‘n hele kompleks van voorspellings wat presies so waar geword het – en ons is nie eers klaar met die profesie nie.
God heers in die fynste besonderhede soewerein oor die geskiedenis.
Christus se koms en werk lê aan die hart van God se ewige raadsplan.
En die onontkombare en verbysterende implikasie is dan dat óók die sondeval deur God verordineer is, aangesien Christus gekom het om die effekte van die sondeval reg te stel (Hd 2:23; 4:27-28). Waarom sou God dit gedoen het? Omdat dit Hom in staat gestel het om Homself te verheerlik deur van Sy wonderlikste attribute voor Sy skepsele se oë te laat oop poustert – daardie onuitspreeklik kosbare attribute wat saamhang met Sy verlossende genade, wat ons nooit sou geken het as dit nie vir sondeval en daaropvolgende verlossing was nie.
Daar is net één redelike reaksie hierop.
Hoe kan mens anders as om in oorstelpte aanbidding voor die genadige God van die geskiedenis te leef. Hoe kan jy anders as om jou ongekwalifiseerd in liefdestoewyding aan Hom te onderwerp!
VOETNOTAS
1. Vertolking van die paragraaf hang af van die punktuasie in die oorspronklike taal. Die OAV en NAV volg een weg, waarvolgens die Gesalfde Vors na 7 sewetalle verskyn (25). Die ander moontlikheid word gevolg deur die meeste Engelse vertalings (NIV, NASB, NKJV, ASV, Amplified), en is ook die uitleg wat ek volg. E.J. Young beredeneer die saak in sy uitstekende kommentaar, p.204-205, en kom tot die gevolgtrekking dat lg. meer in lyn is met Hebreeuse sinsbou, en ook meer sin maak.
2. Om dit wat ek in hierdie paragraaf sê behoorlik te verstaan, moet mens die Nuwe Testamentiese waarheid van regverdiging deur die geloof alleen behoorlik onder die knie hê.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier