LUKAS 20:9-19
REEDS IN LK 9:51 LEES ONS DAT DIE HERE JESUS NA JERUSALEM BEGIN TREK OM SY EINTLIKE LEWENSDOEL DAAR TE VERVUL – naamlik om gekruisig te word. So pas het die Vader tydens Sy verheerliking op die berg uit die hemel gepraat: “Dit is my geliefde Seun; luister na Hom” (9:35). En ons kan aanvaar dat hierdie wonderlik vertroostende woorde in die dae wat gevolg het voortdurend in Sy gedagtes was. Sekerlik was dit weer en weer Sy stukrag as aanslae van vrees en vertwyfeling Hom wou laat terugdeins van Sy roeping.
By Jerusalem aangekom, ry Hy op Maandag, die 10de Nisan, die stad triomfantelik op ‘n donkie tegemoet (19:29-44). Die gepeupel ontvang Hom as die Messias: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” Maar die Fariseërs en skrifgeleerdes neem ernstig aanstoot. Trouens, die volgende dae, tot en met Sy kruisiging, sou gekenmerk word deur een na die ander konflik met die Joodse leiers. Hulle sou geen rus of duurte hê voordat hulle nie van Hom ontslae was nie.
Tydens die intog weet Jesus wat op Hom wag, maar Hy is ook bewus van wat met die Jode en hulle stad gaan gebeur – en daarom raak Hy baie bewoë as Hy die vernietiging daarvan voorspel (19:41-44).
Die volgende dag jaag die Here almal uit die tempel uit wat met hulle handeldrywery daarvan ‘n “rowersnes” maak (Mk 11:17). Voorts gaan Hy rustig aan om talle siekes gesond te maak en vir die mense lering te gee (Mt 21:14; Lk 19:47-20:1). Hy weet dat Hy toegerol is in die Vader se liefde. Die Vader se woorde op die berg van verheerliking lê steeds warm in Sy hart en gloei. Daarom weet Hy dat niks of niemand Sy sending sal kan verydel nie.
Woensdag wil die leiers dan by Jesus weet waar Hy die gesag kry om al hierdie dinge te doen. Wie gee Hom die reg? (Lk 20:2). En dis onder meer na aanleiding hiervan dat Hy ons gelykenis vertel.
DIE GELYKENIS IN ‘N NEUTEDOP
‘n Man gaan op ‘n lang reis en verhuur sy wingerd aan ‘n paar boere. Mettertyd stuur hy ‘n slaaf om sy deel van die opbrengs te kry. Die boere slaan hom egter en jaag hom weg. Dit gebeur hierna met nog twee slawe. Toe stuur die eienaar sy seun – in die vertroue dat die klomp skurke hóm darem sal respekteer en ontsien.
As Jesus hier in die gelykenis praat van die eienaar se “geliefde” seun, gebruik Hy presies dieselfde woord as die Vader tydens die verheerliking. Ons hoef dus nie te twyfel oor die Here se bedoeling in sy storie nie.
Die boere vermoor die seun egter.
Dis voor die hand liggend, sê Jesus dan, dat die eienaar dit nie daar sal laat nie. Hy sal nie rus voordat die klomp moordenaars tereggestel is nie.
Dis duidelik dat die mense goed verstaan waarop die Here sinspeel. Dis waarom hulle aan die einde van v.16 uitroep: “Nee, dit moenie gebeur nie!” Die beeld van ‘n wingerd vir Israel is immers al vanuit die Ou Testament bekend (vgl. Jes 5:1-7).
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Die gelykenis en sy konteks toon die onbetroubaarheid van die mens en die noodsaak van God se innerlike herskepping voordat iemand waarlik bekeerd is.
Ja, aanvanklik lyk dit of daar ‘n volksbekering is. Groot getalle laat hulle deur Johannes doop. En tydens Jesus se bediening volg skares mense Hom. Selfs as Hy in Jerusalem aankom, gooi hulle hul klere op die grond en verwelkom Hom opgewonde as God se Gestuurde.
Maar hoe opreg is dit? Voor die einde van die week sou hulle skreeu: “Kruisig, kruisig hom!” (23:21). Wat ‘n ommeswaai! Dis omdat hulle besef Hy is nie die politieke bevryder wat hulle wil hê nie. Hulle verwagting sit gevolglik om in verwerping.
Hoe belangrik is Paulus se oproep in 2Kor 13:5 nie: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef”! Pleit weer en weer by die Here om jou nie met selfbedrog te laat wegkom nie!
Hierdie gelykenis herinner ons nogeens aan God se liefdesgeduld met sondaars.
Weer en weer het die wingerd se eienaar slawe gestuur. Net so, oor ‘n tydperk van baie honderde jare het die Ou Testamentiese profete Israel gewaarsku en opgeroep tot bekering.
As dit tevergeefs blyk te wees, stuur God uiteindelik die wegbereider en daarna Sy Groot Profeet. En slaan ag op die Here Jesus se liefdesgeduld met die klomp Joodse niksnutse. Eers nóú, ure voordat hulle Hom gaan vermoor, kondig Hy finaal hulle onomkeerbare oordeel af.
Waarlik, as God in Eseg 18 uitroep: “Behae, het Ek behae (in die dood van ‘n sondaar)? Ek het hoegenaamd géén begeerte dat ‘n goddelose moet sterf nie!”, dan kom dit uit Sy hart (v.23, letterlik).
Kan ek dus nou in die Naam van hiérdie God elke onbekeerde oproep: Vlug nou eens en vir altyd in Christus in! By Hom sal jy meer vergiffenis en genade vind as wat enige mens ooit mag nodig hê!
Dis nie net die Jode en Romeine wat Jesus vermoor het nie; ek en jy is nie te verskoon nie.
Baie maklik sou ons ons skouers kon optrek en sê: “Kan dit wees dat die Jode van Jesus se tyd so sleg en dwaas was! Wat ‘n skande; wat ‘n tragedie!”
Maar, nee, deur alle eeue word die Here maar weer en weer verwerp.
Die kerk van ons dag het voorregte wat dié van destyds se Jode tot ‘n skaduwee laat verdof. En kyk wat maak ons met hierdie voorregte. En dit geld nie net die leiers nie – die sogenaamde teoloë – maar ook die lidmate. Word die Here Jesus nie ook vandag op ‘n duisend verskillende maniere “vermoor” in dit wat deurgaan as die kerk nie?
Maar, sê jy, nie óns nie! Die Heilige Gees het ‘n genadewerk in ons harte gedoen. Ons dien Jesus Christus in opregtheid. Goed. Maar dink nou mooi. Dan is dit mos vir jou en my wat Hy sonde geword het. Want ons glo dat dit spesifiek met die uitverkorenes se sondeskuld is wat Hy werk gemaak het. As die Jode en Romeine dan nooit gered is nie, het Hy ten diepste mos nie vir húlle sonde gesterf nie. Weliswaar was hulle die instrumente van Sy teregstelling, maar dis ek en jy wat dit veroorsaak het! Dis so goed ek het self geskreeu, “Kruisig, kruisig Hom!”. Dis ék wat die spykers deur Sy polse gedryf het! Dis ék wat Hom gehoon het!
Waarlik, daar is niks, maar niks waaroor ons onsself op die skouer kan klop nie. Inteendeel! As dit nie vir die uitverkorenes se sonde was nie, het die Here Jesus mos nie nodig gehad om te sterf nie!
Verskriklike oordele wag op hulle wat die Seun verwerp.
In die gelykenis leer Jesus uitdruklik dat God se oordele op die Jode rus, omdat hulle Hom, die Seun, verwerp. Die eienaar sal kom en die boere om die lewe bring. En hy sal die wingerd vir ander gee (16). Matteus se weergawe stel dit nog duideliker: “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer” (21:43).
Woorde soos hierdie moes die volk diep geskok het. En mens lees nie wéér dat hulle Jesus op die hande wil dra nie. Hulle entoesiasme syfer uit hulle uit soos water uit ‘n gaatjie in die sand. So gebeur dit altyd met vals geloof – dit hou nie. Oor minder as twee dae sal hulle fanaties daarop aandring dat Jesus gekruisig word. Verskriklik is dit as die Here ‘n samelewing oorgee aan sy sonde.
Onmiddellik ná die gelykenis brei die Here verder uit oor God se oordele (17-18). Hy doen dit met ‘n besondere dringendheid. Lukas stel dit só: “Jesus het hulle aangekyk en gesê …”. Hy het hulle dus diep in die oë gekyk en met nadruk gesê.
Die Here maak sy punt aan die hand van 3 Ou Testamentiese aanhalings – wat elkeen oor ‘n klip of rots handel. In ons tale sal ons dit nie raaksien nie, maar in die Aramees – wat hulle gewis gepraat het – lê Hy ‘n onmiskenbare verband tussen Homself en hierdie klippe, aangesien die woorde vir “seun” en “klip” op ‘n haar na dieselfde klink.
Die eerste aanhaling is uit Ps 118:22-23. Die beeld wat hier in die oog is, is die van ‘n kliphuis wat gebou word. Daar is dan ‘n klip wat gladnie in die muur wil pas nie, en die bouers gooi dit minagtend eenkant toe. Maar as hulle die booglatei bokant die voordeur bou, het hulle ‘n sluitsteen nodig – ‘n klip waarsonder die boog inmekaar sal tuimel. En dan blyk dit dat die uitgegooide klip presies daar inpas.
Psalm 118 praat oor ‘n koning wat deur sy vyande verkleineer en beledig is, maar nou as oorwinnaar van die slagveld af terugkeer nadat hy hulle verslaan het. Die veragte het die sluitsteen geword – die een wat alles aanmekaar hou. So sal dit met Hóm gaan, sê Jesus. Tans word Hy verag, maar eendag sal Hy deur almal geëer word.
Die tweede klip is waarskynlik ‘n sinspeling op Jes 8:14-15. Dis ‘n profesie wat sê dat die Almagtige Here vir Juda en Israel ‘n klip sal wees waarteen mens jou stamp, ‘n rots waaroor jy struikel.
Die derde klip is die rots van Daniël 2 wat die nasies verbrysel, maar self mettertyd die hele aarde bedek. En self sal hy nooit vernietig word nie. Dis die Messiaanse koninkryk van God!
Met hierdie drie aanhalings sê die Here twee dinge:
Eerstens maak Hy glashelder-duidelik daarop aanspraak dat die Messiaanse profesieë van die Ou Testament in Hom hulle vervulling vind.
En tweedens kondig Hy die oordeel van Daniël oor die Joodse volk af. Hulle sal tot stof verbrysel word. Maar duidelik, in die lig van die aanhaling uit Dn 2 en die res van die Bybel, sal hierdie oordeel ook oor die heidene kom wat die Messias soos die Jode verwerp.
Waarlik, Koning Jesus is nie net die sagmoedige en vriendelike Een nie. Hierdie bloot sentimentele beskouing van sovele in die kerk van ons dag, slaan die bal heeltemal mis. Nee, Hy is ook die Een wat verskriklik is in Sy oordele. Lees hoe Hy Sy wee-uitsprake in Mt 23 oor Israel se leiers later daardie dag opstapel. En, ergste van alles, lees en verstaan Sy profetiese rede in die volgende hoofstuk, waarin Hy oordele afkondig wat mens duiselig laat.
SLOT
Kom ons verstaan dit glashelder duidelik: om ‘n Christen te wees, is nie bloot om ‘n goeie, liefdevolle en vriendelike mens te wees nie. Natuurlik het Christenskap radikale morele implikasies. Maar dis baie meer. Dis om jouself ongekwalifiseerd by Koning Jesus te skaar. Dis om alles feil te hê vir die koms van Sy koninkryk. Dis om hartstogtelik alles wat jy is en het in te werp in die stryd – jou energie, jou gawes, jou tyd, jou geld. Dis om oor die volle spektrum van jou bestaan eenogig en enkelhartig ‘n man of vrou van net één saak te wees: die eer en heerskappy van jou Here!
Enigiets minder as dit is minder as rasegte Nuwe Testamentiese Christenskap!
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier