JOHANNES 1:14
"... het vlees geword ..." [1]

JOHANNES MAAK IN SY EERSTE BRIEF HIÉRDIE GEWIGTIGE STELLING: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie …” (1Jh 4:2-3).

Die erns van dwaling oor die leerstuk van Christus kan beswaarlik oorskat word. Johannes gaan voort: “Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, 1 hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2Jh 9-10).

Die Skrif is duidelik: as daar één ding is wat Satan wil regkry, dan is dit om die kerk tot die leuen te verlei. Sonder die waarheid is ons nie meer Christene of ware kerk nie. En duidelik leer die apostel dat “die leer van Christus” aan die hart is van die waarheid en die suiwer leer.

Tydens die eerste twee eeue was die stryd tussen die waarheid en die leuen van ‘nalgemene aard. Tydens die 3de en 4de eeue het die konflik meer spesifiek geraak: oor die Drie-enigheid van God. Uiteindelik het die Sinodes van Nicea (325) en Konstantinopel (381) klarigheid gebring deur die ortodokse geloof hieroor akkuraat te formuleer en die dwaalleringe aan die kaak te stel.

Die volgende aanslag het oor die Persoon van Jesus Christus gegaan. Daar was ‘n hele verskeidenheid van mistastings en dwaalleringe in hierdie verband  –  waarop ons nie hoef in te sak nie. 2 Maar ons kan die versekering hê dat die hele kerk en sy helderste en mees godvrugtige denkers destyds baie aandag geskenk het aan ‘n deeglike en geballansseerde Bybelse verstaan van die saak.

Uiteindelik het die Sinode van Chalcedon (“630 heilige en geseënde vaders”) in 451 die ortodokse en historiese geloof wat die persoon van Christus betref, geformuleer. Hierdie standpunt kry ons dan presies weer terug in die groot belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie. 3 

Luister byvoorbeeld na ‘n paar uittreksels uit die Nederlandse Geloofsbelydenis, paragrawe 18 en 19:

Hy het … aan die mens gelyk geword (Filp. 2:7) deur werklik ‘n egte menslike natuur, met al sy swakhede, maar sonder sonde, aan te neem. … Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook ‘n egte menslike siel om so ‘n werklike mens te wees. … maar sonder sonde.

… dus … twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. … Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie. … Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.

ONS TEKS VAN NADER BESKOU

Wat ons teks betref, dis eintlik net twee Griekse woorde in Jh 1:14. Tog, dis duiselingwekkende waarhede wat hier deurgegee word, en ons kan beide woorde ernstig misverstaan as ons nie voortdurend die res van die Skrifgetuienis in ag neem as ons dit vertolk nie.

Die stelling, “die Woord het vlees geword”, is uniek in die Bybel. Daar is ander uitsprake wat min of meer dieselfde sê, maar hier is daar ‘n bondigheid en ‘n balans wat dit die klassieke uitspraak maak.

Luister na ander soortgelyke uitsprake: Rm 1:3: Hy is gebore “na die vlees uit die geslag van Dawid”. Gl 4:4: Hy is “gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.” Fl 2:7 sê dat Hy Homself ontledig het en aan die mense gelyk geword het. 1Tm 3:16 sê dat Hy geopenbaar is in die vlees. Hb 2:14 sê dat Hy vlees en bloed deelagtig geword het. En 1Jh 4:2 sê dat Jesus Christus in die vlees gekom het.

Hoewel mens verstaan waarom, is dit tog miskien jammer dat die vertaling “vlees” in die OAV vervang is met “mens” in die NAV. Johannes sê nie bloot dat die Woord ‘n mens geword het nie; ook nie dat Hy bloot ‘n liggaam aangeneem het nie. Nee, hy gebruik ‘n Griekse woord wat amper skokkend is, amper té kru om van toepassing te maak op die ewige Woord: Hy het “vlees” geword; of as jy wil, “vleis”. Die woord dui op menslikheid in sy swakheid, afhanklikheid en sterflikheid. En sekerlik sluit dit die hele mens in, sowel die uiterlike as die innerlike. Die Skepper van hemel en aarde het die fisiese en mundane lewe van gewone sterflinge binnegekom; trouens, Hy het een van ons geword!

Hy het vlees “geword”. Hierdie is ‘n gewone werkwoord wat op ‘n spesifieke gebeurtenis in die verlede dui. Dink mens nie goed hieroor na nie, kan jy dit egter maklik verkeerd verstaan.

Mens sou kon aflei dat die Woord nie vantevore bestaan het nie, maar so ‘n misverstand het Johannes reeds ondervang in v.1: die Woord het van alle ewigheid af bestaan.

Dit sou ook verstaan kon word as dat die Woord opgehou om te wees wat Hy vantevore was. Mens sou dus kon dink aan vermindering  –  dat die Seun Sy goddelike identiteit verruil het vir ‘n menslike, dat Hy Sy goddelike attribute en soewereine prerogatiewe afgelê het, hetsy permanent, hetsy tydelik.

Daar is geen suggestie dat v.1 deur v.14 vervang is nie. Nee, Johannes gaan voort om te sê: “ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom” (14c). En in v.18 noem hy Hom “die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is”.

En die res van die Bybel verseker ons oor en oor dat Hy steeds waarlik en in elke opsig God is  –  en dat Hy volkome God sal bly tot in ewigheid.

Nee, die enigste manier om hierdie proloog van Johannes te verstaan, is in terme vanbyvoeging en samevoeging. Die Seun het niks van Sy goddelikheid afgestaan of ingeboet nie. Nee, hy het ‘n menslike natuur bygekry. Wat Hy van ewigheid af was, is Hy steeds. Hy het egter bygekry wat Hy nooit vantevore was nie, en sal dit nooit weer verloor nie. Atanasius het dit 1500 jaar gelede só gestel: “Hy het geword wat Hy nooit vantevore was nie; en Hy het voortgegaan om te wees wat Hy altyd was.”

Dit moet dus kompromieloos vasgehou word: Jesus is sowel volkome God as volkome mens, sonder dat óf die goddelike óf die menslike enigsins aangetas is. Hy is God-mens, nie goddelike mens, of menslike God nie.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Baie van die wroeginge om die Persoon van Christus behoorlik te verstaan mag vir ons na haarklowery klink. En sekerlik kan ‘n oordrewe beklemtoning van regsinnigheid maklik omsit in ‘n skolastiese soort oorywerigheid wat probeer indring in dit wat nie aan ons geopenbaar is nie. Maar ewe waar is dit dat ‘n helder begrip en versigtige formulering van die fundamentele waarhede oor die Persoon van Christus noodsaaklik is as mens nie die subtiele grense tussen regsinningheid en dwaling wil oorsteek nie. Die geskiedenis lê besaai met die wrakke van mense en kerke wat hier die spoor byster geraak het.

Laat ons dus reg dink oor ons Here Jesus.

Vir baie naïewe en sentimentele kerkmense is Hy steeds die babatjie in die krip. Maar dan kan ons tereg vra: wat beteken so ‘n Christus vir sondaars soos ek en jy?

Vir miljoene godsdienstiges hang Hy steeds aan die kruis. Maar dan bly Hy ‘n patetiese en hulpbehoewende Christus  –  wat Homself nie kon help nie. Hoe sou Hy my en jou dan kon help  –  in hierdie lewe, en veral in die ewigheid hierna? Is dit verbasend dat diegene wat Hom steeds aan die kruis voorstel, uiteindelik toe maar op Maria as middelaar begin staat maak het?

Die Seun moes mens word om ‘n volkome Plaasvervanger vir ons te kon wees. Die mens het gesondig; ‘n mens moet ons uit die donker doolhof van sondegevallenheid lei. Daar is op hierdie oomblik ‘n verheerlikte Mens in die hemel wat na ons belange omsien.

As ons groot Profeet lei Hy ons steeds as waarlik God, maar ook as volkome mens, in die paaie van waarheid. Die lering wat Hy gegee het en die voorbeeld wat Hy gestel het, was die van ‘n mens. Dit is met ander woorde nie werklikheidsvreemd en geheel en al onhaalbaar nie. Wat is daar byvoorbeeld in Sy bergrede wat ek en jy nie kan uitleef nie? ‘n Kind kan dit verstaan; ‘n kind kan dit doen. Lees dit weer en let op die eenvoud.

As ons groot Priester het Hy as waarlik God, maar ook as volkome mens, Homself vir ons geoffer Die mens het gesondig, die mens moet die straf dra.

En dink byvoorbeeld aan Sy voorspraak by die Vader. Dis nie ‘n buitestaander wat vir ons ‘n terloopse goeie woord by God doen nie. Nee, dis die Hoof van die nuwe mensheid wat vir Sy eie mense pleit  –  hulle wat onlosmaaklik deel van Hom geword het deur die geloof. Daar is ‘n onlosmaaklike lewenseenheid en solidariteit tussen ons. Só lief het Hy ons, só ondenkbaar is ‘n ewige toekoms sonder ons vir Hom, dat Hy bid asof Hy self in sondeverlorenheid vasgevang sit.

As ons groot Koning sal Hy as waarlik God, maar ook as volkome mens, ons verlossing tot finale afronding bring. Die mens het gesondig, die mens moet die gevolge daarvan ontworstel. Daar is ‘n Mens wat dit namens ons reggekry het. Daar is ‘n Mens wat besig is met die opruimingswerk. Daar is ‘n Mens wat ons verlossing sal vervolmaak.

Waarlik, in Christus sal die mens presies alles bereik waarvoor hy destyds geskape is. God se planne en voornemens word nooit verydel nie! Trouens, as gevolg van die sondeval sal Sy heerlikheid soveel helderder skyn as daarsonder.

VOETNOTAS

1.  Hier word die Genitief as objektief vertolk: die leer oor Christus (soos NAV). Die Genitief kan egter ook subjektief wees: die leer wat van Christus kom.

2.  Die belangrikste dwalinge was die Appolinarianisme, die Nestorianisme, die Monofisitisme, die Dosetisme, die Samosatianisme, die Sabellianisme en die Arianisme.

3.  N.G.B. van 1561 (’18-19); Westminster Confession van 1643-46 (h.8, ‘2); 1689 Baptiste Belydenis (h.8, ‘2). Laasgenoemde twee stem min of meer woordeliks ooreen.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00