MATTEUS 13:16-17

REGOOR DIE WÊRELD VIER MENSE OORMÔRE KERSFEES. Ons kan bykans vir seker sê dat Jesus Christus nie op dié dag, wat later as 25 Desember bekend geword het, gebore is nie. Tog  is dit histories, tradisioneel en wêreldwyd die dag waarop miljoene Christene die koms van die Here Jesus na hierdie wêreld toe herdenk. En dan praat ons nie van die dermiljoene ongelowiges wat daarvan ‘n dag van uitspattige jollifikasie maak nie.

Ek wil graag kortliks met Mt 13:16-17 as vertrekpunt enkele gedagtes oor Christus se menswording met u deel. In die besonder wil ek die lig van die Matteus-evangelie daarop laat val.

NET EERS TWEE INLEIDENDE OPMERKINGS

Dit is uiters belangrik om steeds in gedagte te hou dat die Bybel ‘n geïntegreerde en organiese geheel is. Ten diepste het dit net één Outeur  –  God die Heilige Gees.

Soos enige boek het dit ‘n ontwikkelingsgang. Maar in die Bybel is dit sterker en veel belangriker as in enige gewone boek. Trouens, ons kan nie die Skrifboodskap behoorlik verstaan as ons nie rekening hou met die talle en talle groot ontwikkelingslyne wat regdeur Skrif loop nie.

Daar is vier evangelies wat Jesus se lewe op aarde beskryf. Waarom vier?

Só ryk was Christus se lewe en werk, dat meer as een perspektief daarop nodig is. Elkeen van die evangelies is so ‘n fassinerende perspektief.

WAT WIL MATTEUS OOR JESUS SE LEWE EN WERK BY ONS TUISBRING?

Hieroor sou daar verskillende opinies kon wees, maar ons sou nie ver van die kol wees nie as ons sê dat mens dit in een woord kan saamvat: vervulling! 

Hierdie spesifieke geskrif was primêr op die Jode gerig. Dit het dus ‘n besondere Joodse oriëntasie. Wat Matteus gevolglik sterk wil tuisbring, is dat Christus  –  in Sy persoon en werk  –  vervulling van die Ou Testamentiese profesieë was.

As sodanig dien die evangelie as ‘n brug tussen die twee testamente  –  tussen voorbereiding en waarwording. Luister byvoorbeeld wat skryf Matteus in 13:16-17: “Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Die Ou Testamentiese profete het dus in die bedeling van verwagting geleef; die apostels in die bedeling van vervulling. Matteus hou Jesus voor as vervulling van alle Ou Testamentiese profesie. In Hom kom die langverwagte Koninkryk van God.

Eerstens, die koms van Christus was vervulling van die Ou Testamentiese profesieë.

Reeds in Jesus se geslagsregister kom dit na vore (1:1-17). Matteus voer sy lesers terug tot by Abraham, die vader van God se volk  –  deur wie Hy wonderlike beloftes van verlossing vir die wêreld gegee het. En onderweg na Abraham staan hy vir ‘n oomblik stil by Dawid, grootste van Israel se konings, en tipe van die komende Messias-Koning. Jesus word “die Seun van Dawid” genoem (‘n titel wat Matteus meer gebruik as die ander drie evangeliste saam). Matteus beklemtoon dus dat Jesus reg het op die troon van Dawid.

Matteus is baie lief vir die uitdrukking: “dit het gebeur, sodat vervul kon word wat geprofeteer is” (11x). Daarmee wil hy dus onderstreep dat alles wat in die Here Jesus se lewe gebeur het, vervulling van die profesieë was, en dat alles wat oor Hom geprofeteer is, inderdaad vervul is.

Voorts beklemtoon geeneen van die evangeliste dit sterker as Matteus nie dat die Koninkryk van God in Christus gekom het. Matteus skryf veral vir die Jode, en omdat hulle uiters huiwerig was om God by die Naam te noem, en hy niemand wil aanstoot gee nie, gebruik hy meestal die uitdrukking, “die Koninkryk van die hemel” (ongeveer 50x). Hy onderstreep dit dat die Koninkryk reeds gekom het (12:28), maar ook dat die volheid daarvan nog toekomstig is (25:31-46).

Ook op hierdie manier sê Matteus dus dat Christus die Ou Testamentiese profesieë vervul het.

Tweedens, die koms van Christus was vervulling van die Ou Testamentiese Wet.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes is oortuig dat Jesus nie die Wet respekteer nie. Wat hulle betref, breek Hy onder meer die Sabbatsgebod. Hy steur Hom nie aan hulle reinigingsseremonies nie. En hy verwaarloos die vas-wette. Maar Jesus dring daarop aan dat Hy getrou is aan die Wet: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. … Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Mt 5:17-20).

Mettertyd sou Jesus se dissipels verstaan dat Christelike geregtigheid iets anders is as die Jode se bloot uiterlike godsdienstigheid. Dis dieper, want dis innerlik. Dis ‘n geregtigheid van die hart; nie bloot van woorde of selfs dade nie. Dit gaan oor gedagtes, begeertes, motiewe, gesindhede (Mt 5:21vv).

Jesus verstaan dus die essensie van die Wet, naamlik dat dit gaan oor hartsgeregtigheid. Die Ou Testament leer dit al, maar Jesus spel dit onmiskenbaar duidelik uit  –  en Hy demonstreer dit.

Derdens, die koms van Christus was die vervulling van God se wêreldwye plan vir die nasies.

Matteus beklemtoon sterk dat Jesus vir Israel finaal oproep tot bekering. Dis gevolglik waar Sy primêre gerigtheid aanvanklik is. In 15:24 sê Hy: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” En as Hy Sy dissipels uitstuur, beveel Hy hulle om “liewer na die verlore skape van die volk Israel toe” te gaan (10:6).

Natuurlik sou die Here Jesus later, net voor Sy hemelvaart, toe Israel hulle beurt verspeel het, die groot opdrag aan Sy dissipels gee: “Gaan dan na al die nasies toe …” (Mt 28:19). Maar aanvanklik, was Hy baie duidelik primêr oor die Jode begaan.

As die volk egter finaal toon dat hulle Jesus as Messias verwerp, sê Hy onder trane: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Mt 23:37-38).

Maar dis nie die einde van die Godsvolk nie. Christus begin met ‘n nuwe volk, dimensies heerliker en meer omvangryk as ou Israel  –  ‘n volk uit al die nasies. En aan hulle word die Koninkryk van die hemel gegee. In Mt 21:43 sê die Here vir die Jode: “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.”

Hierdie nuwe Koninkryk sou baie klein begin. Maar algaande sou dit groei  –  soos ‘n mosterdsaad  –  totdat dit oor die hele wêreld sou strek. En vandag stroom mense wat gered word steeds die Koninkryk van die hemel binne  –  teen ‘n tempo van duisende per dag. Hulle kom van oraloor. Het Jesus nie gesê nie: “Baie sal van die ooste en van die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel” (Mt 8:11).

Hier is ‘n wonderlike stuk bemoediging vir mense wat dink hulle is té sleg om gered te word. Die Here verwelkom tans wêreldwyd mense in Sy koninkryk  –  derduisende elke dag. En één ding het almal gemeen: sonder uitsondering is hulle sondaars! Ons leef in ‘n tyd van redding! Gryp dit aan! Nou!

SLOT

Kan jy sien dat Kersfees oor méér gaan  –  oor baie, baie meer  –  as geskenke en kwylende sentimentaliteit en medemenslikheid? Dit gaan oor veel meer as ‘n babatjie in ‘n krip. Dit gaan oor die menswording van die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid  –  en alles wat dit impliseer. 

Kersfees wil ons herinner aan die wonder van wonders. God, ja God sélf, het mens geword!

En hoe ontsaglik belangrik en lotsbepalend vir miljoene was hierdie gebeurtenis nie! As God die Seun nie mens geword het nie, sou niemand ooit gered kon word nie. Maar hoeveel mense is in hierdie dae tot in hulle siele daardeur aangegryp?

Laat ons goed verstaan en dit altyd in gedagte hou as ons oor Kersfees dink: Die menswording van die Seun was die begin van ‘n nuwe bedeling, ‘n nuwe epog, ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe Koninkryk, ‘n nuwe skepping!

Laat dit waarvoor Kersfees staan jou denke duisel? Dwing dit jou dwarsdeur die jaar weer en weer op jou knieë? O, mag die proloog tot die Johannes-evangelie (Jh 1:1-18) op die tafels van ons harte geskryf staan!

Wat kan in hierdie lewe belangriker wees as om jou te ontworstel aan die ou gevalle skepping, en om die nuwe skepping binne te vlug? En die van ons in wie se lewens dit in die genade van die Here waar geword het, moet ons op een of ander manier daaraan wy dat dit ook met ander mag gebeur. Liefde vir ons naaste, en ywer vir ons Verlosser se eer, vereis dit van ons.

Só som die Here tydens sy bekering Paulus se lewensroeping op: “Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.” (Hd 26:18).

Sekerlik is daar niks mee verkeerd om hierdie dag vol blydskap saam met dierbares deur te bring nie  –  veral as hulle ook in Christus is. Maar as jy regtig verstaan waaroor alles werklik gaan, sal daar midde in die feestelikhede steeds ‘n diep verlange in jou hart brand:Wanneer tog, ons Vader, wanneer tog gaan ons uiteindelik saam met Hom wat mens geword het, aansit aan die bruilofsmaal van die Lam? Wanneer tog gaan dit waarvoor Hy mens geword het, ten volle en finaal en vir ewig ‘n werklikheid word?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00