LUKAS 14:15-24
EEN SABBAT IS JESUS GENOOI OM AAN HUIS VAN ‘N VOORAANSTAANDE FARISEËR TE GAAN EET (14:1). Soos dit dikwels in sulke geselskap gaan, kan mens aanvaar dat trots en spoggery dik geloop het – hiér veral die godsdienstige soort.
Dit noop die Here om die eerste van Sy twee gelykenisse by hierdie geleentheid te vertel: dié oor beskeidenheid en gasvryheid (14:7-11).
Om die spyker nóg dieper in te slaan, gaan Hy dan voort: as mens ‘n feesmaal gee, moet jy nie die vooraanstaandes en diegene wat jou kan beloon, nooi nie; jy moet die “armes, kreupeles, verlamdes en blindes” nooi. Hulle kan jou immers nie vergoed nie – en so sal jy ewige loon by God kry (14:12-14).
DIE GELYKENIS VAN DIE GROOT MAALTYD
Dis nie moeilik om jou die ongemaklike stilte in te dink wat op Jesus se woorde volg nie. Maar soos dikwels, is ook hiér iemand wat die situasie probeer red: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem” (15). Sy opmerking boemerang egter. Want Jesus vertel nog ‘n gelykenis – een wat selfs méér teen die klomp vername gaste se grein gaan.
V. 16-17: ‘n Man wou ‘n groot feesmaal gee. Hy nooi toe baie mense. En toe alles gereed is, stuur hy ‘n slaaf om vir hulle te sê dis tyd om te kom.
Sonder twyfel sinspeel die Here hier op die Jode wat al vir eeue by monde van die Ou Testamentiese profete die uitnodiging tot die toekomstige koninkryk van die hemele gehoor het. En die Fariseërs was oortuig dat hulle dit aangeneem het. As Jesus daarom nou oor die feesmaal van die koninkryk begin praat, lek hulle hul lippe af.
V.18-20: Maar Jesus se storie loop allermins soos die luisteraars verwag. Die oorspronklike gaste, ten spyte van hulle voorreg en hulle aanvanklike aanvaarding van die uitnodiging, kom nou met allerlei verspotte verskonings na vore. Dis duidelik: hulle het gewoon nie lus om te kom nie. Wat ‘n belediging vir die gasheer!
As Jesus die genooides se oppervlakkige verskonings een na die ander uitspel, wil Hy twee dinge beklemtoon: Eerstens het die Jode géén verskoning vir hulle verwerping van die Messias nie. En tweedens is daar geen einde aan die verskonings wat mense opdis vir hulle ongehoorsaamheid aan God nie.
V.21-24: Die maaltyd is gereed, maar die genooides wil nie kom nie. Dus stuur die gasheer weer sy slaaf uit. Hy moet die armes, kreupeles, blindes en lammes vir die fees bymekaar maak (vgl. 14:12-14). Daar is egter nóg plek. Ál die tafels moet beset wees. Daarom moet hy ‘n tweede keer uitgaan – nou na buite die stad, na die paaie en die lanings.
Waarskynlik is die twee uitsendings om die saal vol te kry nie sonder betekenis nie: In die eerste instansie sou die burgers van die koninkryk vanuit die geledere van die Jodedomkom. Die apostels was almal Jode en in die eerste jare na Pinkster ook die meeste Christene. Maar die tweede sending na die “paaie en lanings” sinspeel waarskynlik op die toekomstige evangelisering van die heidene – hulle wat “ver” was (Hd 2:39; Ef 2:13).
Die gelykenis lewer dus twee verrassings op.
Eerstens verspeel die vooraanstaandes – diegene wat aanvanklik genooi is – hulle kans om deel te hê aan die fees. Ten spyte van hulle godsdienstige ywer het die Jode hulle verbondsvoorregte geringgeskat. En hulle vooropgestelde idees het hulle totaal vir die grootse feeswonder van God se koninkryk verblind.
Tweedens is die nuwe keuse van gaste verstommend: vreemdelinge in nood en sonder aansien! Dis totaal teen die Jode se grein. Op die armes het hulle met minagting neergesien. En die heidene is as honde beskou. Vir Jesus se luisteraars is niks méér ondenkbaar as dat die koninkryk van die hemele met vrate, wynsuipers, prostitute, tollenaars en onbesnedenes bevolk gaan word nie. Maar presies só sou dit gebeur! Nog meer, as hierdie wending die aanvanklike genooides verstom het, moes dit die nuwe gaste se asems laat wegslaan het. Onder die kraakwit tafeldoeke het hulle hulself seker met vuil en vereelte vingers geknyp om seker te maak hulle droom nie.
WAT SÊ DIE GELYKENIS VIR ONS?
Sonder twyfel hou hierdie gelykenis baie lesse vir ons in, maar ek wil konsentreer op die basiese punt wat die Here Jesus wil tuisbring. In ons vraag na die betekenis van ‘n Skrifgedeelte moet ons altyd eerste vra na wat dit vir ons van God Drie-enig en van Sy weë met die mens sê. Voordat ons na ons eie klein wêreldjie toe hardloop, moet ons eers die groot, kosmiese en millennia-oorspannende openbarings-historiese waarhede raaksien.
In dié eenvoudige verhaaltjie praat die Here oor waarskynlik die grootste draaipunt in die verloop van die mens se geskiedenis hier op aarde.
As die Here Jesus hierdie gelykenis vertel, staan Hy en Sy hoorders op die waterskeiding tussen twee groot bedelings. Die Ou Verbond met sy eksklusiewe genade vir Abraham se biologiese nageslag het leeggeloop. En voor hulle lê ‘n genade-epog vir die heidene. Deur die eeue wat voorlê sou ontelbaar baie sondaars vanuit die nasies die banketsaal van God se heil in Christus binnestap.
Die proses is tans steeds aan die gang. Dag na dag stoot ‘n paar duisend vreugde-oorstelpte mense uit elke denkbare kultuur en wêrelddeel hulle knieë onder die Koning se kreunende tafels in.
Vir ongeveer twee millennia was die Jode – en hulle alleen – God se begenadigde volk (Rm 9:4-5). Ten spyte van die volk se rebellies en mislukkings sonder tal, het Jahweh getrou aan die verbond gebly. Selfs die ballingskap was ‘n uitdrukking daarvan – en natuurlik, by uitnemendheid, die gepaardgaande behoud van ‘n oorblyfsel.
Tog het die Jode – met die uitsondering van slegs enkeles – onder die Skrifgeleerdes se leiding God se Messias verwerp. Uiteindelik het hulle Hom deur die Romeine laat kruisig. En só het hulle die feesmaal waarvoor hulle eeue-lank gewag het, misgeloop – net omdat hulle geweier het om God se manier van werk te aanvaar. Onbeskryflik tragies!
Was daar ooit só ‘n begenadigde volk? Watter groep mense het ooit só ‘n skat van onberekenbare waarde deur hulle vingers laat glip? Watter skare het hulle nageslag meer ellende aangedoen as daardie gepeupel wat uitgeroep het: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Mt 27:25, OAV)?
Hoe groot is God se genade nie! Nooit blaas Sy liefde die aftog nie! Hoewel dit nou al vir 2000 jaar lyk asof die Here die Joodse stof eens en vir altyd van Sy skoene afgeskud het, het ons tog beloftes in die Nuwe Testament wat daarop dui dat Hy nie met hulle klaar is nie. Wanneer die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het, sal Sy genade die Jode met ‘n onweerstaanbare liefde oorrompel (Rm 11:15-16; 25-32).
In dieselfde hoofstuk waarin die apostel oor die Jode se tydelike verharding praat, praat hy ook oor die groot genade wat die heidene te beurt gaan val (Rm 11:11, 30). Seker die volledigste uiteensetting van hierdie waarheid kry ons in Ef 2:11-22. God het die skeidsmuur tussen Jood en heiden gesloop ten einde dié twee groepe tot een nuwe mensheid in Christus te verenig (15).
Die feesgangers sal uit elke stam, taal, volk en nasie kom. Soos ‘n helder klokgelui beier hierdie formule regdeur die Openbaringboek (5:9; 7:9; 10:11; 14:6; 21:24, 26). Mag ons tog nooit die wêreldomspannende regering van ons groot Koning uit die oog verloor nie. Dis waarom die evangelie aan alle nasies verkondig moet word, waarom Christus nie sal terugkom voordat die uiteindes van die aarde bereik is nie (Mt 28:19; Lk 24:47; Hd 1:8).
In Ef 3:6 noem Paulus die insluiting van die heidene by die volk van God ‘n “geheimenis”. In die Nuwe Testament dui hierdie begrip konsekwent op ‘n belangrike waarheid wat niemand ooit sou bedink het as God dit nie bekendgemaak het nie – maar ‘n waarheid wat Hy inderdaad aan ons geopenbaar het (vgl. Rm 16:25-26; 1Kor 2:6-12; Kol 1:24-27). Die implikasie is dus duidelik: wat vandag vir ons so voor die hand liggend is dat ons selde daaroor nadink, was alles behalwe ‘n vanselfsprekendheid destyds. Die teendeel is tewens waar. Dat Jahweh heidene kon aanneem, was vir die Jode ondenkbaar, en die gedagte afstootlik.
Nooit mag ons God se soewereine en inisiatiefnemende liefdesgenade in ons lewens vergeet nie. Hoe aanmatigend is diegene wat aanstoot neem aan die feit dat God nie alle mense uitverkies het nie. Dink hulle daar is enigeen wat dit hoegenaamd verdien om gered te word? Besef hulle nie dat alle mense – sonder uitsondering – alle aanspraak op God se guns verbeur het nie? Verstaan hulle dan nie dat alle mense sedert die sondeval onder God se toorn verkeer nie? Begryp hulle nie dat daar maar één manier is om gered te word nie: dat God volgens Sy soewereine keuse aan jou gee wat jy nie verdien nie; trouens, aan jou die teendeel gee van wat jy verdien – naamlik genade?
Ons – gelowiges vanuit die heidendom – moet ons nie verbeel ons is verhewe bo die Jode se tragedie nie. Paulus waarsku juis in Rm 11 dat, as God nie gehuiwer het om die mak olyfboom se takke uit te kap nie, Hy ingeënte wilde-olyftakke wat hooghartig en voorbarig in sonde volhard, des te minder sal ontsien (17-24).
Hierdie is nie ‘n leë dreigement nie. Die Nuwe Testament is vol waarskuwings teen geloofsafval. En dit bedreig nie net die individu nie. Dit is net soveel van toepassing op die kerk gesamentlik. Presies hier lê die verduideliking vir die verdwyning van die kerk uit Klein-Asië – die hedendaagse Turkye – asook uit Noord-Afrika. En is dit nie besig om met die kerk in groot dele van Europa te gebeur nie? Waarlik, ons kan ons nageslag beswaarlik ‘n groter onreg aandoen as om selfgenoegsaam agteroor te sit en mekaar te verseker dat dit nooit hier kan gebeur nie.
Dit is vandag Geloftedag. Wat ook al jou oortuigings oor hierdie dag is, híéroor moet ons as Bybelgelowiges saamstem: as ons sentimente oor hierdie dag oorheers word deur ‘n na-binne-gekeerde volkstrots, eerder as deur ‘n hartstog om die genade wat die Here vir ons laat kry het na die nasies toe uit te dra, moet ons nie verbaas wees as dieselfde lot as dié van die Jode ons gaan tref nie.
Die dag staan deesdae bekend as Versoeningsdag. Hiermee kan ons as Christene totaal vrede hê – maar laat ons nie in die eerste instansie dink in terme van versoening tussen mens en mens nie – belangrik soos dit is – maar tussen mens en God. Dán volg vrede tussen mense altyd.