JOHANNES 1:12-13
IN HIERDIE WONDERLIKE RYK INLEIDINGSPARAGRAAF TOT SY EVANGELIE skryf Johannes oor die menswording van Jesus Christus, die Seun van God, die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid.
Dit was vir Hom soos ‘n huis toe kom, sê v.11. Helaas egter het Sy eie mense – die Jode – Hom nie verwelkom nie. Hulle het Hom, trouens, verwerp.
Maar daar was tog ook diegene wat Hom omhels het (12). Hulle het in Hom geglo en Hom aangeneem. En aan hulle het Hy toe die reg verleen om – soos Hy – kinders van God te word. Ja, hulle kindskap is van ‘n ander aard as Syne. Per slot van rekening is Hy die eerste, die enigste en die ewige Woord. Maar sekerlik sou hulle saam met Hom mede-erfgename van die ware lewe wees.
In v.13 vertel Johannes ons nou meer van hierdie begenadigde mense. Spesifiek sê hy vir ons waarom húlle die Seun aangeneem het, terwyl die oorgrote meerderheid mense Hom verwerp het. Waarin lê hulle andersheid?
As ons die res van die Nuwe Testament lees, sien ons dat hulle gewone mense was – gebroke sondaars soos die res. Hulle was nie ryker of meer geleerd as Jan Alleman nie; inteendeel. Nee, op die oog af was hulle heeltemal alledaags: vissers, boere, arbeiders, huisvrouens, vakmanne.
‘N DRIEVOUDIGE BEKLEMTONING
Voordat Johannes ons nuuskierigheid bevredig, stel hy eers één punt baie, baie duidelik.
Wat is hierdie waarheid wat Johannes drie maal na mekaar in v.13 herhaal? Die feit dat mense Christus aanneem, sit ten diepste nie in hulle mens-wees nie – dit gebeur nóg in eie krag, nóg is ander mense daarvoor te danke.
Dis nodig om dit so duidelik te onderstreep, omdat hy in die wêreld van Joodse godsdiens en volkstrots leef. Sy tydgenote was nie mense wat maklik aan iemand anders die eer gegee het nie – selfs nie aan God nie.
Maar, natuurlik, só is dit maar deur die eeue met alle mense . Ook vir óns kom die erkenning dat God al die eer moet kry vir ons redding nie vanself nie.
Sekere mense neem die vleesgeworde Woord aan, omdat hulle spesiaal daarvoor gebore word. Maar Johannes praat nie van ‘n natuurlike geboorte nie. Hy beklemtoon dit op drie maniere. Menslike inisiatief en verdienste speel absoluut geen rol nie.
Eerstens het dit niks te doen met die feit dat hierdie mense uit natuurlike bloed (meervoud) gebore is nie. Die meervoud sinspeel moontlik op die samevloeing van die voorouers se bloed. Ons praat ook so: “Ek het Hugenotebloed in my are.” Wat Johannes dus wil tuisbring, is dat hierdie mense se keuse vir Christus nie aan biologiese oorerwing of genetiese faktore te danke is nie. Hulle optrede is nie bloot ‘n persoonlikheidstrek nie.
Tweedens het dit ook niks te doen daarmee dat hulle dalk in ‘n oomblik van hartstog en vleeslike drange verwek is nie. Hulle het nie maar onbepland en toevallig in hierdie wêreld opgedaag nie. Hulle aanvaarding van Jesus is dus nie bloot ‘n statistiese toevalligheid nie – soos jy maar in enige samelewig ‘n klein persentasie eksentrieke godsdienstiges kry.
Derdens het hierdie mense se aanneming van Jesus ewe min te doen met ‘n roepingsbewuste besluit aan vaderskant. Hierdie mense se geloof is nie sonder meer ‘n uitvloeisel van hulle ouers se beplanning, versiendheid, geloof, godsvrug, of gehoorsaamheid nie.
Nee, nee! Hoewel God middellik werk, en elkeen van ons se lewens – ook ons geloof – nooit los te maak is van ons eie verantwoordelikheid en die rol van andere nie, lê die eerste en diepste rede vir ons geloof en aanneming van Jesus Christus nooit in onsself of in ander mense nie!
DIE DIEPSTE OORSAAK VAN ONS GELOOF
Agter hierdie mense se lotsbepalende en salige keuse vir Christus sit één grondoorsaak, en net een: hulle is uit God gebore! (13, OAV).
Die woord wat met “gebore” vertaal word, beteken eintlik om te verwek. Dit dui veral op die man se rol wanneer ‘n vrou swanger raak. Die aksent in hierdie uitdrukking lê dus nie primêr op wat in die gelowige gebeur nie, maar op die oorsprong van dit wat in hom of haar gebeur.
Dit is interessant dat Johannes, wanneer hy oor die wedergeboorte praat, tipies die klem laat val op God se verwekking van nuwe lewe – m.a.w. op die oorsprongdaarvan. Paulus weer, beklemtoon as ‘n reël die wonder van die wedergeborene se nuwe aard en status. So skryf hy in 2Kor 5:17 (OAV): “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel (dit kan ook vertaal word met skepping; vgl. NIV, NASB ens.); die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (vgl. ook Gl 6:15, OAV). Jakobus en Petrus stem weer ooreen met Johannes: “Volgens sy wil het Hy onsvoortgebring deur die woord van die waarheid …” (Jk 1:18, OAV). “Julle is immersweergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1Pt 1:23).
Laat daar dus geen onsekerheid wees nie: die wedergeboorte is en bly ‘n wonderwerk van God. Alle menslike inisiatief is uitgesluit.
DIE HARTOORPLANTING
Hier in sy eerste hoofstuk gee Johannes net vir ons die resultaat van die wedergeboorte: so ‘n begenadigde glo in die Naam van Jesus Christus, en hy neem Hom gevolglik aan. Maar wat gebeur binne-in ‘n mens sodat jy, wat saam met al die ander Hom sou verwerp het, Hom nou omhels?
Paulus gee heelwat leidrade om hierdie vraag te beantwoord. Onder meer noem hy, soos ons gesien het, iemand wat wedergebore is ‘n nuwe skepsel, of skepping – wat daarop dui dat God self ‘n diep en radikale werk in so ‘n persoon gedoen het.
Johannes sê in sy eerste brief dat so ‘n persoon nie meer in die sonde kan bly lê nie, omdat God se saad (Gr. sperma) in hom of haar bly (3:9, OAV).
In Jh 3 laat val die Here in Sy gesprek met Nikodemus besondere lig op die wonder van die wedergeboorte.
Een van die dinge wat Jesus vir Nikodemus sê, is dat die wedergeboorte ‘n geboorte “uit water en Gees” is (v.5). Dis ‘n geboorte wat die Heilige Gees bewerkstellig. Maar waarop sinspeel die water? Daar is meer opinies, maar dit word algemeen aanvaar (n.a.v. Tit 3:5, Ef 5:26 en Eseg 36:24-27) dat dit hier oor reiniging gaan. Só sou Nikodemus, die skrifgeleerde, dit waarskynlik verstaan het. Esegiël 36 het immers na aan Joodse harte gelê.
Laasgenoemde hoofstuk is een van die duidelikste Ou Testamentiese dele oor die aard en rykdomme van die Nuwe Verbond. Die twee elemente van Jh 3:5 kom hier ook sterk na vore. In v.25 belowe God dat Hy Sy volk met water van hulle sonde sal reinig, en in v.27 belowe Hy die groot gawe van die eindtyd, naamlik die Heilige Gees.
Tussen hierdie twee beloftes is ‘n vers wat baie lig werp op ons vraag na wat binne-in ‘n mens gebeur tydens die wedergeboorte. Vers 26 sê vir ons dat die wedergeboorte niks minder is nie as ‘n geestelike hartoorplanting! Jy kry ‘n “nuwe hart” – een van vleis wat die ou hart van klip vervang.
Die Bybelse begrip “hart” dui op die sentrum van ‘n mens se persoonlikheid. Dit is dus diebeheerkamer wat jou hele lewe bepaal (Spr 4:23). Dit staan vas: elke mens leef onder die dwang van sy eie hart. Wat in sy hart aangaan, dit is hy.
‘n Hartsverandering sal dus onvermydelik ‘n gedragsverandering meebring. So sal die Here “maak” dat ons volgens Sy voorskrifte leef (v.27).
Hierdie hartsverandering bring ‘n nuwe lewensbeginsel, ‘n nuwe geaardheid, ‘n nuwe geneigdheid, ‘n nuwe ingesteldheid. Dit bring nuwe prioriteite, nuwe ambisies, nuwe verlangens, nuwe hartstogte. Daarom bring dit ‘n totaal nuwe lewe – ‘n lewe gedring deur die begeerte om God te ken, soos Hy te word, en baie vrug tot Sy eer te dra.
Eseg 36 se ou hart is van klip. Dit is dood vir die Here en Sy dinge. Dit is koud en hard – dus belangeloos en gevoelloos teenoor God, Sy eer en Sy wil. Die nuwe hart, daarenteen, is van vleis. Dit is lewend vir die Here en Sy dinge. Dit is warm en sag – dus ywerig en vormbaar met betrekking tot God, Sy eer en Sy koninkryk. En dis hierdie nuwe hart – sag en warm vir die dinge van die Here – wat maak dat mense waarlik in die Here Jesus glo, Hom in opregtheid aanneem, en daarna dan van harte dien.
SLOT
Kan jy nou sien, die Here ons God moet al die eer kry vir die feit dat ek en jy in Christus glo en Hom aangeneem het. As daar iets is wat ons lewenslank toegewyd aan die Here moet maak, en vir ewig dankbaar, dan is dit die waarheid van Jh 1:13. Laat ons onthou, dis nie almal wat so ‘n nuwe hart ontvang nie. Ons is onuitspreeklik begenadig!
En wat van diegene wat weet dat dit nie vir hulle geld nie? Moenie moed verloor nie! As jy dit herken, en kans sien om dit te erken, is jy baie naby aan die koninkryk van God!
Wat staan jou te doen, vra jy. Hierop antwoord die Bybel anders as wat mens verwag. Mens sou dink dat jy nou by die Here moet begin pleit dat Hy ook aan jóú hierdie gawe sal gee. Sekerlik sou dit nie verkeerd wees nie, maar dis nie hoe die Bybel mens antwoord nie. Nêrens is daar ‘n opdrag om wedergebore te word, of om bloot daarop te wag nie.
Nee, die beloftes is vir hulle wat opstaan en na die Here Jesus toe gaan. Dis vir hulle wat hulle bekeer, wat hulle kruis opneem en Hom volg, wat hulle laat doop om só hulle geloof en toewyding te betoon (onder meer Hd 2:37-40).
Daarom, doen dít in absolute erns en opregtheid – en met beslistheid – en jy sal waarlik lewe. En spoedig sal jy terugkyk en verwonderd uitroep: “Ook ék is wedergebore!”
Sommige sal nou kopskud en sê, hoe kry ek die kloutjie by die oor? Wat kom eerste: wedergeboorte, of bekering en gehoorsaamheid?
Die antwoord lê oop en bloot in twee verse waarna ons reeds gekyk het. Beide Jk 1:18 en 1Pt 1:23 sê vir ons dat die wedergeboorte deur die woord van God gewerk word – die woord van die waarheid, die lewende en ewige woord van God. Die Woord is so pas hier verkondig – die algemene roeping is gehoor. Mag die Here in Sy groot genade gee dat sommige ook die besondere en lewendmakende roeping gehoor het – en in die proses die krag ontvang het om te doen wat ons beveel word, naamlik om Jesus waarlik aan te neem, en Hom in gehoorsaamheid te begin volg.