AMOS 4:6-13

IN VERSE 6-11 SKETS GOD HOMSELF AS DIE EEN WAT MET KATASTROFE NA KATASTROFE ‘N EIESINNIGE EN SONDIGE ISRAEL TOT BEKERING WIL RUK. Maar die volk volhard in hulle sonde. Sonder enige apologie beklemtoon die Here oor en oor dat dit Hý is wat hierdie dinge doen. Dit is Hý wat hongersnood (6), droogte (7-8), allerlei peste en plae (9), oorlog (10), en rampe en lyding (11) gestuur het  –  maar tevergeefs. ‘n Balhorige Israel het geweier om hulle daaraan te steur.

DIE OORDELENDE EN SOEWEREINE GOD

Die rampe wat in verse 6-11 geskets word, is verteenwoordigend van elke ellende wat in hierdie gevalle wêreld oor mense kom. Baie mense weier om te aanvaar dat ‘n algoeie God sulke katastrofes oor mense sal stuur. Maar na aanleiding van hierdie paragraaf kan ons sê: ten minste soms  –  eintlik altyd  –  kan ons die oorsprong van rampe en swaarkry op een of ander wyse in die finale analise terugvoer na God se soewereine wil.

Die Bybelse leer van God se omvattende, onstuitbare en soewereine heerskappy oor alles wat is en gebeur  –  ook negatief  –  is nie gewild nie. Hierdie waarheid is tot struikeling vir baie ongelowiges. Mense soek ‘n gelukbringer-god wat hulle in hulle sakke kan ronddra. Voorts is hierdie waarheid tot verleentheid vir baie Christene. Hulle wil so graag vir die wêreld sê dat húlle God ‘n God van liefde is, en net van liefde  –  ‘n goeie God wat niemand ooit enige kwaad sal aandoen nie.

Maar sonder blik of bloos leer die Skrif dat God altyd op een of ander wyse straf en rampspoed oor ongehoorsame mense en samelewings bring.

DIE VERHARDE VOLK

Vyf keer word dit herhaal: ten spyte van die rampe wat hulle tref, bekeer Israel hulle nie tot die Here nie (6, 8, 9, 10, 11).

Die Hebreeus is sprekend en betekenisvol. Dit praat van ‘n terugkeer na die Here  –  tot digby Hom. Dis ‘n bekering wat nie rus voordat dit nie weer die Here se aangesig sien nie. Ware bekering is nie net ‘n stel formaliteite nie; dis terugkeer tot intieme gemeenskap met die Here. Dis iets persoonliks.

Dit is verstommend dat die volk nie besef dat dit die vloek van die verbond is wat hulle teister nie. Daar is immers al eeue vantevore baie uitdruklike vir hulle gesê dat die Here se tugtigende hand hulle sal striem as hulle in sonde volhard. Maar die gevalle mens is stiksienig en stompsinnig (Dt 27-28).

Dit laat mens dink aan Jes 44. Daar word spottend beskryf hoe mense uit ‘n stuk hout vir hulle ‘n afgod maak en hom dan vertrou om hulle te red. En dan maak hulle sonder om twee keer te dink hulle kos gaar op afvalstukke van dieselfde stuk hout. Hulle “weet nie wat hulle doen nie … hulle oë is toegepleister.” Nooit kom dit by hulle op om te vra: “Is dit nie ‘n leuen waarmee ek my besig hou nie?” (Jes 44:13, 16-20).

Laat ons nooit die radikale diepgang van die natuurlike mens se verdorwenheid en blindheid onderskat nie! Samehangend hiermee moet ons nooit ons verwondering oor die wonder van God se herskeppende genade verloor nie.

MAAK JOU KLAAR OM JOU GOD TE ONTMOET

Hierdie woorde van v.12b is dubbelsinnig in die Hebreeus. Dit kan sinspeel op God se komende oordeel, maar dit kan ook bedoel dat hulle God in Sy genade gaan ontmoet. Vanuit die konteks is eersgenoemde seker die korrekte vertolking. Maar miskien is die dubbelsinnigheid doelbewus  –  om daarmee te suggereer dat uitkoms tog nog moontlik is  –  mits daar natuurlik die nodige bekering is.

BESEF MET WIE JULLE TE DOEN HET?

Die eintlike rede waarom Israel nie die dringendheid van die oomblik kan begryp nie, is dat hulle nie genoegsaam onder die indruk is van die majesteit van die God met wie hulle doen het nie. 

Daarom word hulle nogeens in v.13 op die hart gedruk om rekening te hou met God se heiligheid en almag  –  en dis nie ‘n leë dreigement nie.

Aan die einde van v.13 kry ons nogeens ‘n opstapeling van die Godsnaam. Die Een met wie hulle te doen het, is Jahweh Elohim Sebaoth.

Hy is Jahweh, die algenoegsame Verbondsgod. Dis Hy wat Homself aan Moses geopenbaar het as Ek is wat Ek is (Eks 3). Sekerlik, as Verbondsgod wil Hy in die eerste instansie Sy volk seën. Maar hierdie voorreg stapel ook groot verantwoordelikhede op die volk se skouers. Onder meer hou hierdie toerekeningsvatbaarheid in dat Jahweh hulle sonde met veel groter gestrengheid sal straf as dié van die heidene. Daar is so iets soos die vloek van die verbond! (Dt 28:15-68).

Hy is Elohim, die Drie-enige Skepper van hemel en aarde. In Gn 1:1-2:3 word hierdie Godsnaam 35 keer gebruik. Dit wil dus die aksent laat val op Sy onbeskryflike almag en soewereine heerskappy as Skepper.

Sebaoth beteken van die leërskare (OAV). Die legioene leërmagte van die hemele is tot Sy beskikking. In Hom is alle vermoë saamgetrek. Hy is die Almagtige (NAV).

Dat hierdie Godsname met reg by God hoort, word duidelik as jy besin oor alles waartoe Hy in staat is. En dis daar vir almal om te sien (13).

Sy almag kom tot uitdrukking in Sy omvangryke skeppingswerk. Dis te sien in die vaste en sigbare  – die berge. Dis te sien in die veranderlike en onsigbare  –  die wind. Sy almag kom tot uitdrukking in Sy alwetenheid.  Hy weet selfs presies wat die mens dink. En Sy almag kom tot uitdrukking in Sy instandhouding van die skepping (dag en nag). Waarlik, Hy wandel op die hoogtes van die aarde!

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

Dit is noodsaaklik dat ons God sal ken  –  soos Hy Homself aan ons geopenbaar het. 

Tensy ons baie goed besef met wie ons te doen het, is dit onvermydelik dat ons voorbereiding op die ewigheid nie net op niks sal uitloop nie, maar op onuitspreeklike ontnugtering. Onthou, die Bybel waarsku ons dat die Here vir baie op daardie dag sal sê, “Ek het jou nooit geken nie!”

As daar twee areas is waarin ontelbaar baie kerkmense se kennis van God te kort skiet, dan is dit Sy soewereiniteit en Sy gestrengheid. Maar sonder hierdie twee attribute van God, is mense se persepsie van wie God is so gebrekkig en verdraai, dat daar beswaarlik nog sprake kan wees van outentieke Christenskap en aanbidding in waarheid.

Laat ons God ken in Sy soewereiniteit.

Die soewereine heerskappy van God is die onderliggende uitgangspunt van die Bybelse boodskap. Gelowige omhelsing hiervan is ‘n lopersleutel om die Bybel te verstaan.

God se soewereiniteit dui op Sy reg én vermoë om as Skepper, Onderhouer  –  en dus onbetwisbare Eienaar  –  die ganse heelal en al Sy skepsele (in die hemel en op die aarde) te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid aan iemand anders.

Ons moet onthou dat God oor alle kennis en mag beskik om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit of pla of verras nie. Hy gaan onverstoorbaar voort.

Elke mens moet een ding duidelik verstaan en hom aan die onontkombaarheid daarvan onderwerp: As Skepper is God my Eienaar  –  met die gevolglike reg en vermoë om met my te maak net soos Hy wil. Die Bybel sê, God is die Pottebakker en ek die klei. En “het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?” (Rm 9:21).

Luister na Jesaja 46:8-13: “Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek… uit ‘n ver land roep Ek ‘n man wat My besluit sal uitvoer. Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom, Ek het dit beplan en Ek sal dit doen” (46:8-13).

Laat ons God ken in Sy gestrengheid.

In hulle eiesinnigheid en sentimentaliteit weier baie kerkmense om te aanvaar dat God ook ‘n God van oordeel is. Veral ontken hulle heftig dat Hy “onskuldige” vrouens en kinders sal straf. Maar, met die uitsondering van Christus, bestaan daar natuurlik nie so iets soos ‘n onskuldige mens nie. Alle babas word as deel van ‘n gevalle mensheid onder God se toorn gebore (Rm 5:12-21). Dis waarom hulle kan sterf (die dood is immers die loon van die sonde).

Sekerlik kan ons nie op ‘n simplistiese wyse elke ramp en tragedie koppel aan die betrokke mense se sonde nie. Hierteen word ons uidruklik gewaarsku in Lk 13:1-5. Pilatus het ‘n klompie mense vermoor wat geoffer het. En die toring van Siloam het inmekaar getuimel en agtien is dood. Jesus vra dan vir die mense of hulle dink dié wat dood is, was meer sondig was as ander. Hy antwoord dan self. Twee keer sê Hy: “Nee … maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!”

Wat sê Jesus eintlik? Hy sê mense vra die verkeerde vraag. Hulle moet eintlik vra: Waarom het die toring nie op mý kop geval nie? Ons almal verdien immers om onder God se toorn te sterf. Dis net Sy genade wat ons so lank in die lewe hou en sodoende bekeringsgrasie gee.

En laat ons nie dink dat “onskuldige” babatjies darem gevrywaar is nie. In die boek Klaagliedere treur Jeremia oor die onuitspreeklike ellende van sy volk tydens die beleg van Jerusalem voor die Babeloniese ballingskap: “My oë is gedaan van die huil … my moed is gebreek, want my volk is plat geslaan; kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad … Almal wat met die pad verby gaan, slaan die hande saam oor jou, hulle fluit en skud hulle kop oor Jerusalem: ‘Is dit die stad wat genoem is die beeldskone?’ … Is dit nie op bevel van die Allerhoogste dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie?” (Kl 2:11, 15; 3:38).

Vir elke mens is daar duskant sy dood en duskant die wederkoms nog bekeringsgenade.

In Amos gaan dit oor Israel as volk, maar sekerlik is die beginsels ook op elke individu van toepassing.

As jy dus nog nie met God versoen is nie, maak nóú jou saak reg met die lewende God. Uitstel kan fataal wees. Vlug in die geloof in Christus in, want slegs in Hom en op grond van Sy verdienste is ‘n sondaarmens vir God aanvaarbaar.

En as jy jou sonde bely  –  en sonder sondebelydenis sal dit wat jy doen nie eg wees nie  –  onthou wat ons gesien het: ware bekering is nie ‘n paar formaliteitjies wat jy bloot afrits nie. Dis ‘n volhardende worsteling totdat jy die Here se aangesig sien. Dis met Hom persoonlik wat jy moet regmaak. Moenie rus voordat die Gees nie in jou roep nie: “Abba, Vader!”

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00