GALASIËRS 5:16-26
DIE NUWE TESTAMENT JUBEL OOR DIE CHRISTELIKE VRYHEID. Veral gaan dit oor twee balanserende waarhede: enersyds die vryheid van die noodsaak om God se guns te wen deur wetsonderhouding; andersyds die vryheid van heerskappy deur die sonde. Ook in sy brief aan die Galasiërs leer Paulus dit. Ons was in slawerny onder die veroordelende regering van die wet – maar Christus het ons vrygemaak. Ons was slawe van die sonde – maar nou is ons kinders van God.
Oor laasgenoemde praat ons teks. Ons is nie meer sondeslawe nie, maar kan oor sonde heers.
God begenadig Sy kinders om enersyds oor die begeertes van die sondige natuur te heers, en om andersyds die begeertes van hulle herskepte harte te bevredig deur volgens God se wet te leef.
Paulus het geen twyfel daaroor dat so iets moontlik is nie – trouens, dit word ‘n werklikheid in Christene se lewens deur die krag wat die Heilige Gees verleen! In ons teksgedeelte word die Heilige Gees sewe keer uitdruklik genoem. Hý is ons heiligmaker. Hý stel ons in staat om oor die sondige natuur te heers. Hý laat ons vrug dra wat God behaag en verheerlik.
DIE KONFLIK (16-17)
Die vlees (OAV) en die Gees staan lynreg teenoor mekaar (17). Hulle is in ‘n meedoënlose stryd gewikkel om beheer in die Christen se lewe.
Die “vlees” is die aangebore verdorwenheid wat elke mens in terme van die erfsonde het. Dit word ook genoem “die sondige natuur” (NAV). Helaas bring die wedergeboorte nie ‘n einde aan hierdie sondegeneigdheid nie – nie in dié lewe nie.
Die “Gees” is die Heilige Gees wat in ware Christene woon en werk – die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid.
Nie-Christene ervaar ook morele stryd, maar in wedergebore mense is dit iets eiesoortig en veel meer intens as wat ongelowiges kan verstaan.
Hóé onversoenbaar die vlees en die Gees is, word onmiskenbaar duidelik as mens let op die vrug wat elkeen voortbring (19-21 en 22).
DIE WERKE VAN DIE VLEES (19-21)
Paulus noem meer as ‘n dosyn sondige uitinge van die vlees. Dit is “algemeen bekend” sê hy (19), bedoelende dat dit orals voorkom. En só universeel is dit dat ons steeds, tweeduisend jaar later, beskrywings daarvan in koerant na koerant teëkom.
Die lys is nie allesomvattend nie. Dit word afgesluit met die woorde, “en al derglike dinge” (21).
Tog dek dit ‘n wye spektrum van sondige uitinge: op die vlak van die seksuele, vals godsdiens, swak menseverhoudinge en vleeslike fuifery.
Die Nuwe Testament bevat nog soortgelyke sondelyste (onder meer 1Kor 5:11; 6:9-10; Op 21:8).
Baie belangrik is Paulus se waarskuwing dat diegene wat aan hierdie sondes skuldig is, nie die koninkryk van God sal beërf nie (21).
Die betrokke werkwoord in v.21 is in ‘n vorm wat dui op gereelde of voortgaande handeling. Dit gaan oor dinge wat deel is van mense se lewenstyl.
Hierdie is nie ‘n geïsoleerde waarskuwing nie. Vgl. ook Rm 8:4-9, 12-13; 1Kor 6:9; Op 21:8.
DIE VRUG VAN DIE GEES (22)
Paulus noem 9 Geesgewerkte deugde. Dis die lieflikste karaktertrekke en tot die mate wat ons dit in ons lewens het, tot daardie mate is ons soos Jesus. Dis ‘n tipieseunderstatement van Paulus om te sê: “Teen sulke dinge het die wet niks nie” (23). Daarmee bereik hy in ‘n enkele stelling meer as om met onbeholpe woorde die uitnemendheid van hierdie deugde te probeer besing.
Dit is meer as die moeite werd om na elkeen van hierdie begrippe in diepte te kyk. Maar nou is dit nie ons doel nie – ons kyk oorsigtelik na die paragraaf.
In die uitdrukking “die vrug van die Gees” word die enkelvoud gebruik. Ten minste wil dit vir ons sê dat ál hierdie deugde – weliswaar tot ‘n meerdere of mindere mate – teenwoordig sal wees in elke lewe wat deur die Gees beheers word. Anders as die groot verskeidenheid en uiteenlopende charismata wat die Gees uitdeel aan elkeen soos Hy wil, het ons hier verskillende fassette van élke heilige lewe.
KONKLUSIE
Hier word gepraat van ‘n meedoënlose konflik met ewigheidsimplikasies. En dis ‘n oorlog wat élke ware Christen proefondervindelik ken.
Daarom kan ons nie bloot doen wat ons wil nie (17). Ons kan nie maar toegee aan alles waarvoor ons lus is nie. Want dan sal ons kort voor lank na die pype van die vlees dans.
Ons hoef egter nie te wanhoop in hierdie oorlog nie. Hoegenaamd nie! ‘n Wedergeborene het nie net ‘n nuwe hart waarop God se gebooie gegrafeer is nie; die Heilige Gees is ook sy immerteenwoordige Helper. My nuwe hart maak my dus nie net gewillig om God se wil uit te voer nie; die Heilige Gees maak my bekwaam om dit te doen (Fl 2:13)
Maar dit vereis van my die regte instelling teenoor sowel die vlees as die Gees.
DIE REGTE INSTELLING TEENOOR DIE VLEES
Dit word in v.24 beskryf: “Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.”
Die werkwoord is aktief – ék doen dit.
Paulus praat nie hier oor dieselfde ding as in Gl 2:20 (NAV: 19) en Rm 6:6 nie. In laasgenoemde gevalle word die passief gebruik, wat dui op ons lewenseenheid met Christus: toe Hý gekruisig is, is ek saam met Hom gekruisig. Nee, hier in Gl 5 is dit ék wat my eie vlees kruisig.
Om iets te kruisig, is om dit tereg te stel, om daarmee klaar te kry. Dis om jou algeheel daarvan te distansieer, dit finaal die rug te keer.
Die werkwoord is ‘n gewone verlede tyd. Dis iets wat ek reeds gedoen en afgehandel het.
Prakties beteken dit dat “die wat aan Christus behoort” hulleself tydens hulle bekering finaal en kompromieloos teenoor hulle vlees en sy luste gestel het. Hulle het ‘n kwaliteitsbesluit geneem om geen ruimte meer daarvoor te laat nie.
Die regte gesindheid teenoor die vlees is genadeloos. Kruisiging was slegs ter sprake vir die heel ergste oortredings – vir diegene wat geen genade verdien het nie. Dus, geen verskonings nie!
Hierdie kruisiging is finaal. Niemand het ooit van die kruis afgekom nie. ‘n Ware Christen het sy hand aan die ploeg geslaan en kyk nie terug nie. Daar is geen sprake van toegee aan die vlees nie.
Hierdie kruisiging is pynlik. Nooit was daar ‘n erger manier van teregstelling nie. Die stryd tussen vlees en Gees is eg. Dis nooit ‘n grap nie. Oorwinning kom nie vanself nie – dit verg alles.
Hierdie kruisiging het langtermyn-implikasies. ‘n Gekruisigde het stadig gesterf – dit kon dae duur. Hoewel ‘n Christen se besluit van dag een af finaal is, bly dit ‘n lewenslange stryd om dit uit te leef. Dis waarop Jesus sinspeel as Hy sê dat mens jou kruis “elke dag” moet opneem.
Een van die grootste redes waarom ek en jy met sekere sondes sukkel en bly sukkel, is omdat ons kruisiging van die vlees halfhartig is. Ons bly met ons boesemsondes flankeer.
DIE REGTE INSTELLING TEENOOR DIE GEES
Paulus beskryf dit op twee maniere – en gee só vir ons twee onmisbare kante van dieselfde saak. Eerstens moet mens jou deur die Gees laat lei (18). Tweedens moet mens deur die Gees wandel of lewe (16, 25, OAV).
In al drie verse beklemtoon die werkwoorde voortgaande aksie. Dit gaan oor ‘n lewenswyse.
In v.18 is die werkwoord passief. Die klem is op wat die Gees doen en op wat ek moet toelaat.
Elders word die werkwoord “lei” gebruik vir ‘n herder wat voor sy skape uitstap, of vir die wind wat ‘n skip voortstu. Ek moet my dus oorgee aan die Gees se inisiatiewe en leiding in my lewe. Ek moet erns maak met die pad wat Hý uitpen. Ek moet Hóm gehoorsaam.
Maar dit sou ‘n flater wees om te dink dat die Heilige Gees alleen die verantwoordelikheid het om my heilig te laat lewe. Nee, ek moet ook aktief wandel, oftewel lewe (16, 25).
Terwyl v.16 die gewone woord vir “loop” gebruik, gebruik v.25 ‘n sterk begrip. Die enigste ander plekke waar dit in die Nuwe Testament voorkom (Hd 21:24; Rm 4:12; Gl 6:16; Fl 3:16), beklemtoon elke keer dat dit ‘n lewenswyse volgens ‘n bepaalde voorbeeld, beginsel of norm is. Hier in Gl 5 is die Heilige Gees self die norm. Ek moet op die pad loop wat Hý vasgelê het.
Maar wat beteken dit in praktiese terme?
Die noue verband wat Paulus elders tussen die Gees en die Woord lê (vgl. Ef 5:18 en konteks met Kol 3:16 en konteks), maak dit onmiskenbaar duidelik dat die Gees se pad die pad van die Heilige Skrif is. ‘n Lewe in pas met die Gees is niks anders nie as ‘n lewe in pas met die Bybel – met sy ordes, beginsels en voorskrifte.
Dis presies net so met die kruisiging van die vlees – ek stel my met beslistheid teenoor dit wat ek weet volgens God se geopenbaarde waarheid verkeerd is. Ek verwerp dus een pad, een stel norme; ek kies ‘n ander pad, ‘n ander stel norme.
Ons moet dus nie dink in terme van ‘n lewe volgens subjektiewe influisteringe van die Gees nie, maar in terme van ‘n lewe van beginselvaste gehoorsaamheid aan God se Woord. Nog altyd het die ware kerk dit só gesien en ‘n ongesonde subjektivisme konsekwent afgewys. Die geskiedenis bevestig dan ook die wysheid daarvan. Prinsipiële gehoorsaamheid het nog altyd veredel; mistisisme het nog altyd katastrofies geëindig.