AMOS 4:1-5
AMOS SPREEK STEEDS DIE VOLK SE MAATSKAPLIKE ONREG, PERSOONLIKE GEMAKSUG EN GODSDIENSTIGE WILLEKEUR AAN.
GOD SE EED
Hierdie vyf verse word beheers deur die eed wat God in v.2a aflê. Hierdie is geen ligtelike saak nie, want soos vantevore word die Godsnaam beklemtoon: Adonai Jahweh, die Here Here, die soewereine Verbondsgod.
Om “by” iets te sweer (OAV), is om gesag en sekerheid aan so ‘n eed toe te voeg. Dis om te sê dat die vervulling daarvan so seker is as die bestaan van dit waarby gesweer word. Hier sweer God “by Sy heiligheid” (OAV) – daardie attribuut wat Sy verhewenheid en gansandersheid beklemtoon, asook Sy onaantasbare morele volmaaktheid.
Hierdie eed van God by Sy heiligheid verleen enorme gewig aan die profeet se woorde! As Israel dit verstaan het, sou hulle in vrees en bewing hulle dadelik bekeer het. Maar dit gaan by hulle verby. Dit loop soos water van ‘n eend se rug af. Die natuurlike mens is blind! As die Gees van God nie sy oë oopmaak nie, sal hy nooit sien nie.
Nie alleen wil God met hierdie eed sê dat Hy Israel so seker as wat Hy heilig is gaan oordeel nie. Hy wil ook sê dat geen sonde Hom soveel aanstoot gee as juis hierdie sondes van Israel nie. Dis nie net maar nóg sonde nie; dis sonde teen Sy heiligheid!
Wat is hierdie sonde van Israel dan? Dis eerstens die sonde van gewetenlose selfsug wat niemand ontsien in sy najaging van selfbevrediging nie. Dis tweedens ‘n eiesinnige minagting van God se aanbiddingsvoorskrifte.
DIE RYKES SE ONREG EN GEMAKSUG (4:1)
Vrouens bepaal grootliks die etos van huis en samelewing. Hier word Israel se vooraanstaande vrouens onder die vergrootglas geplaas. Hulle word op twee maniere getipeer:
Hulle woon op die berge van Samaria. Soos vandag het die duurste huise ook destyds op die hoogtes gestaan – huise met hulle miljoenshekel-uitsigte. Amos fokus dus op die vooraanstaandes.
Hy noem hulle “koeie van Basan”. Amos wil nie kru en beledigend wees nie, maar as hy na hulle kyk, kan hy nie anders as om aan die grootvee op die geil weivelde oos van die meer van Gallilea te dink nie. Soos een kommentator dit stel: miskien was hy besig om die prima donnas van die Berg Gerisim Tuin- en Blommeverenigingtoe te spreek.
Kyk mens na die Ou Testament se beskrywing van Basan se beeste, was twee dinge waar van hulle: hulle was moddervet, en hulle was aggressief.
Ons kan ons indink hoe hierdie welgestelde vrouens die skaal laat kreun het (anders as vandag was oorgewig destyds ‘n teken van welvaart).
En hoewel hulle van geveinsde vriendelikheid gedrup het, was hulle harte yskoud en meedoënloos. Oor die welsyn van hulle huisbediendes het hulle nooit wakker gelê nie. En die beste wat bedelaars by hulle gietysterhekke kon kry, was ‘n verryking van hulle swetswoordeskat.
Amos lig 3 sondes van hierdie vrouens uit.
Hulle verdruk die armes (OAV). Die woord wat met “armes” vertaal word, dui in die Ou Testament op mense met wie dit finansiëel broekskeur gaan, en wat maar die skuim van die samelewing is. Vir diesulkes het die vrouens van die bodorp min respek; tewens, hulle buit hulle uit deur hulle dagloon tot op die been te sny.
Hulle behandel die behoeftiges hard (OAV). Die woord wat met “behoeftiges” vertaal word, dui op mense wat in hul armoede en afhanklikheid saampraters en vleiers is, net om moontlike weldoeners se guns te wen. Hierdie mense word dan gewetenloos uitgebuit. As hy bereid is om vir ‘n bord van gister se oorskietkos te werk, waarom nie?
Vir hulle eie mans sê hulle: “Bring wyn dat ons kan drink!” Hulle sit nie net op hulle mans se koppe nie, maar is ook behep met ‘n lyflike lewe. Alles draai om genot, ontspanning en luilekker kuiers.
DIE KOMENDE OORDEEL (2B-3)
Wat wag op hierdie ryk en verwende vrouens?
Hulle luukse woonhuise en ommuurde stede gaan vernietig word (3). Die mure daarvan sal vol gate gestamp word met stormramme. En soos die vyand moeiteloos daardeur sal inkom, so sal hierdie vrouens as gevangenes daardeur uitgevat word.
Volgens 2Kron 33:11 en talle argeologiese aanduidings, is krygsgevangenes destyds dikwels met ‘n tou voortgesleep wat vas was aan ‘n hoek deur hulle neus of lippe (2). Soos vasgeslane visse sal hierdie spoggerige dames dus in algehele vernedering hulle ballingskap tegemoet strompel.
EIEWILLIGE GODSDIENS (4-5)
Dat maatskaplike ongeregtigheid en godsdienstige hoogbloei hand aan hand loop, is nie ‘n vreemde verskynsel nie. Sekerlik was dit in Israel die geval. As Amos die volk dus oproep om in Bet-El en Gilgal te aanbid, is hy sarkasties. Want vir seker sal hulle puntenerige rituele die Here nie behaag nie. En ewemin sal dit vir hulle sondes versoening bewerkstellig. Die teendeel is waar, dit sal hulle sondeskuld des te meer voor die Here opstapel.
Veral v.5 ontbloot die eiewilligheid van hulle godsdiens. Drie dinge word daaroor gesê:
Hulle offer brood wat “gesuurd” is (vgl. OAV, NIV, ESV). Dit word ten strengste deur die Wet verbied (Lev 2:11; 6:17; 10:12).
Hulle “vrywillige offers” word aan die groot klok gehang – hulle kondig dit aan. Van diesulkes sê die Here Jesus in Mt 6 dat hulle hul loon weg het.
Hulle beoefen hulle godsdiens soos húlle daarvan hou. Hulle kultus is eiesinnig en mensgesentreerd, nie Godgesentreerd nie.
WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?
Ons durf nie die erns van die sondes wat in hierdie verse aangespreek word, onderskat nie.
Ons leef in ‘n wêreld wat grootliks beheers word deur die mens se soeke na selfbevrediging, selfhandhawing en selfverheffing. Dis so alledaags dat ons dit as vanselfsprekend beskou. En wanneer dit in kerkmense se lewens en godsdiensbeoefening die botoon begin voer, skok dit ons beswaarlik nog.
Maar laat ons kennis neem van God se Woord.
Hoeveel kere veroordeel die profete nie hardvogtigheid teenoor, en uitbuiting van die armes nie? Trouens, as jy deur die profete lees, besef jy dat niks, maar niks God so vertoorn as vertrapping van die ellendiges en die hulpeloses nie.
Die Nuwe Testament dra dieselfde boodskap, weliswaar meer positief. Dink maar aan die Here Jesus se voorbeeld – hoe Sy hele bediening beheers is deur Sy empatie met die armes en die ellendiges. Weer en weer lees ons: “En Hy het innig jammer vir hulle gevoel”. Dink aan Sy herhaalde lering in hierdie verband. Wat kan duideliker wees as Sy beklemtoning van die noodsaak van barmhartigheid? Sê Hy nie in die allerduidelikste taal vir ons dat ons gesindheid en optrede teenoor diegene in nood op die laaste dag die egtheid van ons redding, al dan nie, sal uitwys nie? (Mt 25:31-46). En word ons roeping om soos Hy te leef nie weer en weer op ons harte gedruk nie (1Jh 2:6)?
Is dit ‘n wonder dat Jakobus vir ons sê: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld”? En ons het reeds gesien wat die gees van hierdie wêreld meer as enigiets anders tipeer – selfbevrediging, selfhandhawing en selfverheffing.
Hoeveel kere word eiewilligheid en selfgesentreerdheid in godsdiensbeoefening nie veroordeel nie? Nêrens word dit feller aangespreek as in Lev 10 nie: Aäron se seuns word summier deur vuur uit die hemel tereggestel, omdat hulle “ongeoorloofde vuur” voor die Here gebring het. As God dan hierdie skokgebeurtenis verduidelik, sê Hy: “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik” (3; OAV). Aanbidding wat nie Godgesentreerd is nie, is afstootlik vir die Here.
Sonder twyfel beklemtoon ook die Nuwe Testament dat die Drie-enige God in ware aanbidding altyd in die middelpunt sal wees.
God het ook ‘n ander eed afgelê.
Hebreërs 6:13-20: “Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met ‘n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met ‘n eed by Homself bevestig en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ‘n baie groot nageslag gee.” … Mense lê ‘n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ‘n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.”
God het Sy belofte gegee. Op sigself sou dit meer as genoeg gewees het. Maar hierby het Hy ook nog gesweer – nie bloot by een van Sy attribute nie, maar by Homself. Hy het dus Sy hele Persoon en Goddelikheid op die spel geplaas.
Sy belofte aan Abraham is die van ‘n baie groot nageslag (14). En inderdaad! Vandag is daar dermiljoene wat God dien soos Hy gedien wil wees. Hoe herken ons hulle onder meer? Hulle empatie met die ellendiges! Hulle bereidheid om alles op te offer vir hulle roeping! Hulle Godgesentreerde aanbidding!
Maar dis ook ‘n belofte aan Abraham se nageslag (17vv). Daar is loon by die wenpaal! Vir ons wat met Hom verenig is, is hierdie hoop soos ‘n anker wat agter die voorhangsel vas is – soos ‘n kragkatrol wat ons hemelwaarts sleep.
Het ons Voorloper en Middelaar, die mens Christus Jesus, nie reeds daar ingegaan nie? Laat ons dus met sekerheid weet dat ons ‘n belofte en ‘n eed het dat ons dissipelskap en liefdesdiens en selfaflegging nie ongesiens verbygaan nie. Dit sal ryklik – baie, baie ryklik – beloon word!
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier