HANDELINGE 26:16-18

HANDELINGE BEVAT DRIE BESKRYWINGS VAN PAULUS SE BEKERING (9:1-19; 22:1-16; 26:12-18). Sonder twyfel dui dit op hoe belangrik en rigtinggewend Lukas dit beskou het (en onthou, hy het onder inspirasie van die Heilige Gees geskryf).

Die beskrywing hier in Hd 26 is die volledigste, in elk geval wat die woorde van die verheerlikte Here Jesus aan Paulus betref.

Van die vroegste tye af is dit dan ook beskou as ‘n uitnemende samevatting van die apostoliese roeping en die groot sendingtaak.

Is enige van die apostels meer dramaties geroep? Jesus Christus kom, by wyse van spreke, spesiaal van die hemel af daarvoor. Soos dus te wagte kan wees, word hier ‘n paar kardinaal belangrike hoekpenne ingeslaan  –  wat die apostoliese roeping betref, maar ook wat ons almal se roeping in hierdie wêreld betref.

DRIE WERKWOORDE

As ons na v.16-18 wil kyk, is dit dalk die beste om dit te doen aan die hand van die drie  werkwoorde daarin. Al drie is in die eerste persoon enkelvoud. Hulle beskryf dus handelinge van die Here Jesus Christus: “Ek het aan jou verskyn” (16); “Ek sal jou beskerm” (17); “Ek stuur jou” (17).

EK HET AAN JOU VERSKYN (16)

As die Here Jesus Christus aan ‘n man verskyn, is dit uiteraard ‘n baie gewigtige gebeurtenis. Om sy roeping aan te hoor, moes Paulus dan ook regop staan.

Die essensie van Paulus se opdrag is om Christus se dienaar te wees  –  om dus Sy wil uit te voer. En spesifiek sou dit behels dat hy Christus se getuie sou wees. En wat moes hy getuig? Dit wat hy nou hier sien van Christus; asook dit wat die Here hom nog sou laat sien (NAV; NIV; ESV).

Eerstens moet hy vertel van wat hier tydens sy roeping gebeur  –  met spesifiek Christus as tema.

Twee dinge moes deur Paulus se gedagtes geskiet het toe hy die stem hoor wat vir hom sê: “Ek is Jesus. Dit is vir My wat jy vervolg” (15).

Oorweldigend moes dit op hom gedaag het: Hy lewe; Hy het waarlik opgestaan! En soos enigeen wat die Nuwe Testament lees, baie goed weet: dis aan die hart van die apostoliese getuienis.

Die onmiskenbaar duidelike identifisering van die Here Jesus met Sy gemeente kon ook nie by Paulus verbygegaan het nie. Hy vervolg die kerk, maar die Here sê: “Dit is vir My wat jy vervolg” (15).

Enigeen wat die briewe van Paulus lees, sal weet hoe hy onophoudelik die organiese lewenseenheid tussen Christus en Sy gemeente beklemtoon.

Tweedens sou hy vorentoe moes proklameer wat die Here Jesus hom nog sou laat sien. En ons weet dat enorme stukke Godsopenbaring nog op Paulus gewag het.

Wat ons betref, gaan dit dus hier oor die ganse Nuwe Testamentiese waarheid.

EK SAL JOU VERLOS (OAV) (17)

Die NAV se “Ek sal jou beskerm” is nie ‘n akkurate vertaling nie. Die Here sê nie hier dat Paulus nie moeilikheid sal kry nie, maar dat hy verlos sal word wanneer hy wel moeilikheid kry  –  soos ons weet oor en oor gebeur het.

Jeremia het ‘n soortgelyke belofte gekry tydens sy roeping (1:8). Profete en apostels se paaie was nog altyd vol swaarkry, maar nie een van hulle is uit die weg geruim voordat sy taak nie afgehandel was nie. Daarom kon die Here Jesus ook in die Groot Opdrag sê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mt 28:20).

Die Here beklemtoon spesifiek dat dit vir sowel die Jode as die heidene se vervolging sou geld.

EK STUUR JOU (17-18)

“Ek” word beklemtoon in die Here se uitspraak: Ek, ja Ek, stuur jou. Hier is dus geen sprake van Paulus se eie inisiatief nie.

Voorts word die Griekse werkwoord “apostello” vir stuur gebruik. In die Nuwe Testament het die woord ‘n amper tegniese betekenis: om as apostel uitgestuur te word. Die Here sê dus hier vir Paulus, al is jy eintlik ontydig gebore (1Kor 15:8), te laat om een van dié te kon wees wat ‘n paar jaar saam met My deurgebring het, maak Ek jou nogtans ‘n apostel.

Paulus word met ‘n gewigtige opdrag uitgestuur. Ons het reeds gesien dat hy die Here se dienaar en getuie moes wees. Maar wat sou dit behels?

In essensie moet hy mense se oë gaan oopmaak (18a).

Die natuurlike mens is blind. Dit beteken nie dat hy fisies niks kan sien nie. Maar dit wat regtig saak maak, kan hy nie sien nie. Hy het geen benul van die gevaar waarin hy verkeer nie. En ewemin verstaan hy iets van die oplossing daarvoor.

Waarom is dit nodig om die mense se oë oop te maak? “Sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer” (18b).

Dis belangrik om sowel die negatiewe as die positiewe hier raak te sien. Dis nie genoeg om bloot van die duisternis en Satan se heerskappy weg te draai nie  –  om dus op te hou met sonde. Morele hervorming op sigself het nog nooit iemand gered nie. Nee, daar moet ‘n baie besliste heendraai na die lig toe wees, na God toe in Christus

Wat sal gebeur as mense so radikaal omdraai? Volgens v.18 sal hulle twee dinge ontvang.

Die gawe van sondevergiffenis.

‘n Erfenis saam met die wat geheilig is.

Maar, let op, die Here Jesus maak seker dat niemand dink dat hierdie twee wonderlike gawes gegee word bloot op grond van die feit dat mense omdraai nie. Nee, hulle ontvang dit “deur die geloof”. En dis nie geloof sonder meer nie, dis geloof “in My”  –  dus in Jesus Christus.

Vir ons wat geoefen is in Nuwe Testamentiese waarheid is hierdie kwalifikasie voor die hand liggend. Maar dis ‘n lewensbelangrike kwalifikasie, omdat dit die absolute voorvereiste is vir redding. Geen uitsonderings is moontlik nie. Tog is daar soveel goeie kerkmense in wie se harte dit nog nie ingeslaan het nie. Derduisende van hulle maak nog in hulle diepste harte staat op hul eie verdienste.

DRIE BASIESE BEGINSELS

Uit bogemelde kan ons drie fundamentele beginsels aflei, beginsels wat nie net destyds vir die apostels gegeld het nie, maar wat steeds en sonder uitsondering so vas soos die berge staan.

Die natuurlike mens is blind, in duisternis en in die mag van Satan. 

Hierdie is ‘n waarheid wat ons nooit mag vergeet nie. Teenoor die ongelowiges vereis dit twee gesindhede van ons: geduld en empatie. Al het ons dus geen respek vir hulle lewenswyse en behepthede nie, mag ons hulle sélf nooit verag nie. Was dit nie vir God se reddende en vrye genade in óns lewens nie, was ons presies waar hulle is.

Voorts moet ons verstaan dat hulle toestand só bedenklik is dat ons nooit sal hond haaraf maak as ons nie die regte instrumente gebruik nie. Wat is hierdie instrumente? Die speerpunt is die waarheidsevangelie wat in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar word. Maar niks maak die evangelie so gou stomp as draers daarvan wie se voorbeeldedie lewensveranderende krag daarvan weerspreek nie. En, aangesien ons en die evangelie geen krag op sigself het nie, moet die draers daarvan voortdurend in gebed en in geloof op die Heilige Gees staat maak om dit te laat inslag vind in die harte van hulle hoorders.

Ons het hier ‘n fundamentele verantwoordelikheid wat onontkombaar en lewenslank rus op alle dissipels van die Here Jesus  –  tot aan die einde van hierdie bedeling. 

Ons moet mense se oë oopmaak!

Natuurlik kan geen mens die oë van ‘n ander se hart oopmaak nie. Maar die Here beloof om dit te doen soos ons in geloof en met verwagting die evangeliewaarheid tydig en ontydig verkondig. Al kan ons dus nie oortuig nie, moet ons bly getuig.

Lees die Nuwe Testament, dan sal jy sien hoe ernstig Paulus hierdie verantwoordelikheid opgeneem het. Tot aan die einde van sy lewe het hy homself met alles in sy vermoë gewy aan die uitdra van die evangelie.

Laat ons dus tydig en ontydig die geopenbaarde evangeliewaarheid met alles waaroor ons beskik en so wyd as moontlik uitdra.

Maar onthou steeds, dis nie enige waarheid nie, dis waarheid wat as sentrale fokus het die Here Jesus Christus en Sy werk.

Almal wat van harte wegdraai van hulle sondes en in algeheel afhanklike geloof die evangelie omhels  –  spesifiek die Christus van wie dit getuig  –  word ryklik begenadig met die onuitspreeklik heerlike erfenis van die ewige lewe. 

Volgens die Here Jesus, soos ons gesien het, ontvang hulle twee dinge: sondevergiffenisén die erfenis van die geheiligdes.

‘n Oomblik se nadenke sê vir ons dat hierdie twee dinge presies ooreenstem met die twee komponente van regverdiging deur die geloof alleen.

Eerstens word ons geag as mense wat nooit gesondig het nie. Dit bevry ons van alle moontlike straf. Maar, natuurlik, méér is nodig. Ons moet in die tweede plek ook positief kwalifiseer vir die ewige loon  –  deur volkome gehoorsaamheid aan God. En presies dit ís die versekering wat die evangelie vir ons gee: elkeen wat waarlik en lewenslank sy of haar geloofsvertroue in Christus se middelaarsverdienste stel, word in God se boeke met Sý geregtigheid toegereken of gekrediteer. En dít laat ‘n mens natuurlik kwalifiseer vir die erfenis van die geheiligdes  –  die ewige lewe en alles wat daarmee saamhang.

Les bes moet ons nie die heerlikheid van die gesamentlike hier miskyk nie. Die NAV is weliswaar ‘n parafrase (“hulle sal deel word van die volk van God”), maar onmiskenbaar duidelik word dit tog wel deur die Here Jesus se belofte geïmpliseer.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00