HEBREËRS 12:4-13
ONS KAN PROBEER RASIONALISEER SOOS ONS WIL, maar Christene leef eenvoudig nie in die land van melk en heuning, ómdat hulle tot bekering gekom het en daarna gehoorsaam aan die Here is nie. Trouens, meeste ervare Christene sal vir jou sê dat hulle lewens in ‘n sin moeiliker geword het nadat hulle in Jesus se voetspore begin volg het.
Ons is steeds onderworpe aan die gebrokenhede wat tipies is van mense in die algemeen. Ons word oud en vol pyne, ons verloor dierbares, ons stry om emosioneel en finansiëel kop bo water te hou. Die welvaartsevangelie kan mense net vir ‘n kort rukkie ‘n rat voor die oë draai.
Maar afgesien van gewone swaarkry, is daar ook die lyding wat ons beleef juis ómdat ons Christene is. Dink maar aan die verskillende vorms van vervolging wat elke dissipel van Jesus iets van ken – vanaf hoon, smaad, verwerping, diskriminasie en spot aan die een kant, tot by martelaarskap aan die ander kant. Dink maar aan die uitmergelende stryd wat ons voortdurend het met die vlees, die wêreld en die satan. En dink aan die opofferinge en ontberinge en self-aflegginge wat so eie is aan die lewe van gehoorsaamheid aan die Here Jesus.
Maar daar is nog ‘n rede waarom Christenskap – ek praat van die ware Jakob – nie ‘n elfuur-koek-en-tee by Antie Daisie is nie. Ons leef onder die tugtigende hand van ons hemelse Vader!Of, om ‘n ander Bybelse beeld te gebruik: soos enige wingerdstok wat uitvoerdruiwe dra, loop ons gereeld onder die Vader se snoeisker deur, sodat ons meer en beter vrug kan dra (Jh 15:1-8). En, kyk as jy weer wintertyd deur Heksvallei ry, as die snoeisker verby is, lyk dit of so ‘n stok nooit weer sal herstel nie.
Ek dink nie ek is verkeerd nie as ek sê dat min Christene behoorlik rekening hou met hierdie vormingswerk deur die Vader. Maar diegene wat die realiteit van v.11 proefondervindelik leer ken het – naamlik dat hierdie tugtiging tot meer vrug en vrede in jou lewe lei – is mense wat bid: “Vader, trek asseblief nie U tugtigende hand van my terug nie!”
Kom ons kyk bietjie nader na Hb 12. As ons hierdie verse behoorlik in ag neem, sal dit dalk heelwat raaisels in ons lewens ontknoop.
“TUG”, “TEREGWYS” EN “STRAF”
As daar een ding is wat die geïnspireerde skrywer in hierdie paragraaf by ons wil tuisbring, dan is dit dat ons hemelse Vader Sy kinders nie bederf nie. Sy tugtiging is vir seker nie ‘n grap nie. Dis “nie iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil” (11).
Drie sterk woorde beskryf die Vader se hantering van Sy kinders.
“Tug” (Gr. paideuo). Hierdie begrip is voorop in die skrywer se gemoed, aangesien hy dit agt keer in sy verskillende vorms in hierdie paragraaf gebruik.
Die begrip dui basies op die opvoeding en dissiplinering van ‘n kind – met die oog op veral goeie maniere (Hd 7:22; 22:3). Sekerlik het dit dikwels met woorde en die voorbeeld geskied, maar in die Joodse gemoed het dit veral die gereelde gebruik van die platriem behels. Die woord dra dan ook in die Nuwe Testament meestal die idee van straf (Lk 23:16, 22; 1Kor 11:32; 2Kor 6:9; 1Tm 1:20; 2Tm 2:25; Op 3:19).
“Teregwys” (5) (Gr. elencho). Die NAV vertaal die begrip in v.5 goed. Dit gaan oorvermaning na ‘n oortreding. Hoewel dit sekerlik as ‘n reël met woorde geskied het, weet ons dat ‘n vermaning jou ellendig en vernederd kan laat voel.
“Straf” (NAV); “Kasty” (OAV); (6) (Gr. mastigoo). Hierdie woord praat van geen ligte bestraffing nie. Dit praat van die slaan met ‘n sambok of kats. In 11:36 vertaal die OAV die selfstandige naamwoord met “géselinge”.
Die Joodse metode – wat die skrywer na alle waarskynlikheid hier in gedagte het – was om ‘n oortreder met ‘n sambok of kats, wat met drie rieme gevleg is, te slaan. So ‘n veroordeelde het dan dertien houe oor sy kaal borskas gekry, asook dertien houe oor elkeen van sy twee kaal skouers. Dit is die “veertig houe op een na” wat Paulus vyf maal van die Jode ontvang het (2Kor 11:24, OAV). 1
TUGTIGING IS BEWYS VAN KINDSKAP (5-8)
Die Hebreërs kom deur ‘n uiters moeilike tyd. Die gevolg is dat hulle begin twyfel aan hulle kindskap van God. En, natuurlik, dan is mens ‘n halftree weg van bevraagtekening van die evangelie. En dis waarom hulle nou wil terugdraai na die Joodse godsdiens van die Ou Testament (wat die eintlike rede is vir hierdie brief van die Hebreërskrywer).
Nee, skreeu die skrywer as ‘t ware op hulle. Die teendeel is waar! Hulle swaarkry is júís bewys van hulle kindskap, want alle vaders tugtig hulle kinders (6-7). Trouens, as mens nie getugtig word nie, is dit ‘n teken dat jy nie regtig ‘n kind van God is nie (8).
TUGTIGING KAN UITERS PYNLIK WEES
Dat hy van iets pynliks praat, gee die skrywer sonder meer toe (11). Selfs al aanvaar mens die lering van hierdie paragraaf, kan die ervaring van hierdie tugtiging en kastyding enige Christen tot op die rand van wanhoop dryf.
Hoe kom hierdie dissipline in ons lewens tot uitdrukking? Op ‘n duisend verskillende maniere. Dit bevestig ‘n lees van die Bybel, asook die kerkgeskiedenis. Waardeur moes God se kinders nie al deur die eeue gaan nie? Lees maar net die vorige hoofstuk van Hebreërs. Armoede, vernedering, verwerping, martelaarskap, die dood!
TOG IS HIERDIE ‘N WOORD VAN BEMOEDIGING
In v.5-6 haal die Hebreërskrywer aan uit Spr 3:11-12: “… die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Nou is dit betekenisvol dat hy hierdie amper skrikaanjaende woorde ‘n “aanmoediging” noem (5).
Dink mens egter vir ‘n oomblik daaroor na, begin jy verstaan. Wil ons nie groei in heiligmaking nie? Wil ons nie méér vrug tot eer van die Here dra nie? Maar, kom ons wees eerlik, die aandrange van die vlees, die suigkragte van die wêreld, en die aanslae van die Bose, is só fel dat geestelik bedorwe brokkies geen kans staan om dit te oorkom nie. Die pad van groei na die beeld van Christus is eenvoudig nie ‘n maklike pad nie. Dit verg spiere.
Die Ou Testamentiese Psalmdigter het hierdie dinge al verstaan. Daarom sê Ps 119:75: “Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van U trou.” En in Dt 8 sê Moses vir die volk dat die Here hulle veertig jaar lank in die woestyn laat swerf het om hulle nederig te maak en dat Hy hulle laat swaarkry en honger ly het, om hulle te leer dat mens nie net leef van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Soos ‘n pa, so het Jahweh vir hulle begrip geleer, en geloof en dissipline en volharding (2-5).
Presies dit is hoe Paulus sy doring in die vlees beskou het. As hy daaroor skryf in 2Kor 12, sê hy: “Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk” (10).
NOODSAAKLIK VIR ONS REDDING
Sonder ‘n heilige lewe sal niemand die Here sien nie (14). En presies dit is waaroor dit gaan as die Vader ons tug: “… Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in Sy heiligheid mag deel” (10).
Die boodskap van die Hebreërboek is tot ‘n groot mate om ons te waarsku dat dit skrikwekkend maklik is om vreeslik entoesiasties en belowend die Christelike wedloop aan te pak, maar tog nie end-uit te volhard nie. Maar slegs geloof wat tot die einde toe volhard, is eg en dus reddend. Luister na Hb 3:6, 14: “En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hooptot die einde toe onwrikbaar vashou.” en “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou.”
Dit gaan dus nie bloot oor ‘n heilige lewe vir ‘n tyd lank nie, maar oor die volharding in heiligheid tot die einde toe. Presies dit is wat die leerstuk van die volharding van die heiliges verstaan – want wat dit eintlik wil sê, is dat diegene wat die Here waarlik vir Homself geheilig of afgesonder het, deur Hom begenadig word om heilig tot die einde toe te volhard. Slegs só word die prys verkry.
Afgesien dus daarvan dat die Vader se tugtiging ons wil laat klaarkry met sonde, wil dit ons ook taai maak sodat ons nie tou opgooi nie – want ons is besig met ‘n hinderniswedloop. Dis soos ‘n afrigter wat sy atleet elke oefening tot breekpunt toe dryf, aangesien dit die enigste manier is om later end-uit in ‘n maraton te volhard en goud te wen.
En onthou, hoe moeiliker die wedloop, hoe kosbaarder gaan die prys wees!
Waarlik, lyding in ‘n Christen se lewe maak net sin as mens dit in die lig van die ewigheid beskou. Dan leer jy om swaarkry nie gering te ag nie (5).
GELOOFSVOLWASSENHEID
Die volwasse gelowige maak daarop staat dat God sy swaarkry tot sy beswil sal gebruik – hom sal laat groei in vrugbaarheid en heiligheid (10-11).
Daarom sien die volwasse gelowige sy swaarkry as ‘n bewys van God se Vaderskap (5a, 6b, 7b, 8).
Daarom aanvaar die volwasse gelowige sy swaarkry uit God se soewereine hand – met ontsag, vertroue en in onderworpenheid (9).
Daarom sien die volwasse gelowige sy swaarkry as ‘n uitdrukking van God se liefde (6a).
TEN SLOTTE
Dit word algemeen aanvaar dat gehoorsaamheid aan die Here tot sukses en voorspoed lei. Neem ‘n gelowige dus ‘n besluit wat nie goed uitwerk nie, wat tot sy of haar teëspoed en swaarkry lei, word dit as vanselfsprekend aanvaar dat die Here se leiding verkeerd verstaan is.
Hierdie aanname is nie korrek nie!
Waarom nie? Ons groei in gelykvormigheid aan Christus vind veeleerder in die dieptes plaas, as wanneer ons ligvoets oor die hoogtes draf! Daarom lei die Here Sy heiliges meermale in beproewing in.
Het Paulus “die Here se stem” verkeerd gehoor, omdat hy gevang is toe hy ná die derde sendingreis na Jerusalem teruggekeer het? Was dit ongehoorsaamheid wat tot sy jare in die tronk gelei het? Gaan lees weer die geskiedenis, en jy sal sien dis hoegenaamd nie die geval nie!
VOETNOTAS
1. W.E. Vine; Expository Dictionary of New Testament Words.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier