ROMEINE 8:28-39

NIE ALLE CHRISTENE AANVAAR DIE VIR ONS ONUITSPREEKLIK KOSBARE LEERSTUK VAN DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES NIE. Kyk net, word gesê, hoeveel aansporings daar in die Skrif is om te volhard tot die einde toe. En kyk net hoeveel Christene raak inderdaad die pad byster en gooi handoek in in die wedloop. Dit op sigself, word aangevoer, sê tog vir ons dat hierdie leerstuk mensgemaak en allermins Bybels is. Trouens, dis ‘n beskouing wat mense laks en selfvoldaan maak en presies die teenoorgestelde bereik van wat dit leer.

DIE LEERSTUK

Wat sê hierdie leerstuk? Ons kan beswaarlik beter doen as om ons eie belydenisskrifte te raadpleeg (1689, ’17; Sola 5, ‘5.6). Opgesom kom dit hierop neer: Niemand vir wie God waarlik in Christus gered en deur die Heilige Gees wederbaar het, kan geheel en al of finaal uit die staat van genade val nie. Diesulkes sal tot die einde toe in die geloof volhard en uiteindelik ewig gered word.

Weliswaar erken al die belydenisskrifte dat ook ware Christene vir ‘n tyd lank ernstig in sonde kan val, maar staan dan daarop dat God weer in Sy genade aan sulke teruggeglydes bekeringsgenade sal skenk.

In ‘n neutedop: alle uitverkorenes sal gered word; geeneen van hulle sal verlore gaan nie. Finale geloofsversaking is bloot ‘n bewys dat ‘n persoon nooit waarlik gered was nie, ongeag hoe sy Christenskap ook al gelyk het.

SKRIFBEGRONDING

Daar is talle Skrifuitsprake wat hierdie leerstuk begrond (Jh 6:37, 39, 44; Rm 11:29; 1Kor 1:8-9; Ef 1:13; 4:30; Fl 1:6; 2Ts 3:3; 2Tm 1:9, 12; 1Pt 1:5; 1Jh 5:18; Jud 1).

Maar veral twee Skrifgedeeltes is veelseggend: Jh 10:26-30 en Rm 8:28-39. Beide hierdie gedeeltes verseker ware gelowiges nie net van hulle ewige sekuriteit, omdat God hulle nooit aan hulleself sal oorlaat nie; dit onderstreep ook dat redding ‘n proses is en dat mens nooit op jou louere kan rus nie.

In Jh 10:27-30 word minstens ses elemente van die heilsorde genoem: Goddelike voorkennis (die Herder ken Sy skape); uitverkiesing (die Vader het die skape aan Hom toevertrou); roeping (die skape hoor Sy stem); wedergeboorte (Hy gee hulle die ewige lewe); heiligmaking (die skape volg Hom); volharding (die skape sal nooit verlore gaan nie).

As Jesus sê dat Sy skape nooit verlore sal gaan nie (28), is die Griekse uitdrukking baie sterk: hulle sal hoegenaamd nie verlore gaan nie; daar kan geen sprake van wees nie.

Ook v.26 is betekenisvol: Jesus sê vir die Jode dat hulle nie glo nie, omdat hulle nie Sy skape is nie; nie dat hulle nie Sy skape is, omdat hulle nie glo nie. Mens glo dus omdat jy reeds ‘n skaap is.

Oor ons tema is geen Skrifgedeelte ryker as Rm 8:28-39 nie. Dis die Locus Classicus.

Wat hier gesê word, is nie waar van alle mense nie. Dit geld slegs vir diegene wat vir God lief is. En wie is hulle? Dis diegene wat volgens God se besluit geroep is (28).

Hierdie groep se samestelling is onveranderlik vas. Nadat God se besluit geneem is, word niemand bygevoeg of weggeneem nie. Diegene wat uiteindelik verheerlik word, is presies dieselfde mense wat oorspronklik verkies is en in die tyd geroep en geregverdig (OAV) word. Die sinsbou maak dit onmiskenbaar duidelik. Hulle wat vantevore geken is (OAV), hulle  –  net hulle, maar hulle almal  –  word uiteindelik verheerlik.

Vanaf v.31 gaan Paulus dan voort om aan te toon dat niks, maar niks, God se reddingsplan in ‘n uitverkorene se lewe in die wiele kan ry nie. Hy doen dit aan die hand van 4 retoriese vrae.

God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (31). As God jou aanvaar het, wat maak dit saak as mense jou opponeer en verwerp? 

As God reeds die hoogste prys betaal het om ons los te koop, sal Hy nie nou ook alles gee wat ons mag nodig hê om selfs die moeilikste omstandighede te bowe te kom nie?

Wie kan die uitverkorenes van God aankla? (33). Sal die verwyte van mense dat ons ook sondaars soos hulle is, ons intimideer? Ja, ons misluk dikwels. Maar God beloof om elke sondaar wat sy volle vertroue in Christus se verdienste alleen plaas, regverdig te verklaar.

Wie kan ons veroordeel? (34). En as mense ons verwerp en vervolg en selfs vermoor? Wel, Christus het reeds in ons plek gesterf. Wat meer is, Hy het opgestaan uit die dood. Hy regeer nou in die hemel en tree daar vir ons in. Selfs die dood kan ons heerlike saligheid dus nie ongedaan maak nie.

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? (35). In die volgende verse noem die apostel dan ‘n hele lys van omstandighede en kragte wat mense geweldig kan bedreig. Maar, sê hy, daar is hoegenaamd niks wat ons van ons Vader se liefde in Christus kan skei nie.

GELOOFSVERSAKING

Die waarskuwings teen geloofsversaking in die Hebreërboek is seker die skrikwekkendste in die Nuwe Testament. Wat daarvan?

Die sonde waarteen hier gewaarsku word, is bewustelike en berekende verwerping van waarheidsgetuienis oor Jesus Christus  –  wat oor ‘n tydperk om jou en in jou eie lewe onweerlegbaar was en ook duidelik deur die Gees in jou hart bevestig is.

Die probleem kom in as ons dit wat hier geskryf is met Jh 10 en Rm 8 wil rym. Kyk mens egter goed na wat die Hebreërskrywer sê, besef jy dat ons nie hier met ‘n teenstrydigheid te doen het nie. Neem byvoorbeeld die raaiselagtigste van hierdie waarskuwings  –  Hb 6.Hier word nie van wedergebore mense gepraat nie.

Verse 7-8 is ‘n kort gelykenis wat aan die voorafgaande met “want” (OAV) verbind word. Dit bied dus ‘n verduideliking daarvoor. Die reën is ‘n beeld in die Bybel vir God se seën. Hier dui dit op die ervaringe in v.4-5. Maar reën val op alle soorte grond. En solank die grond nog kaal is, weet mens nie wat daar gaan opkom nie  –  bruikbare gewasse of onkruid.

Die verskil lê dus nie in die reën wat val nie, maar in die soort grond. Mense wat na súlke ervaringe die geloof versaak, bring onkruid voort. Dis wat ná die Here se goedheid volg, wat die gesteldheid van ‘n mens se hart uitwys. Geloofsversaking is eenvoudig die bewys dat die hart nog nooit herskep is nie.

Hb 6:9-12 bevestig ons slotsom. Die skrywer glo, ten spyte van sy waarskuwings, dat sy lesers wel gered is en gevolglik die geloof nie sal versaak nie: “… geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig …” (OAV). Wat is die “beter dinge”?

Verse 10-12 begin weer met “want” (OAV) en verduidelik dus v.9. Die “beter dinge” is die lesers se liefde (10), hoop (11) en geloof (12).

Beter as wat is dit? Beter as die belewinge van v.4-5! Waarom? Omdat dit “saamhang met die saligheid” (v.9b, OAV). Die merktekens van ware redding is dus al lankal duidelik in hulle!

Is dit enigsins moontlik dat onwedergebore mense die belewinge van Hb 6:4-5 kan hê?

Inderdaad! Die Skrif is vol voorbeelde. Dink aan Saul, Bileam, Judas Iskariot, Simon die Towenaar, Demas. Het hulle nie almal die Gees se werk proefondervindelik geken nie?

Dit skokkend tot watter mate die Gees in en deur mense kan werk, alles duskant die wedergeboorte! (Mt 7:21-23).

Die vermaarde teoloog, John Murray, skryf: “Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om ‘n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê  –  sonder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om  so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring  –  sonder om deel te hê aan Christus en die ewige lewe.

‘n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig ‘n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie” (Redemption, p.153).

WAT IS DIE HEILIGES SE VOLHARDING?

Mense verwerp hierdie leerstuk, omdat hulle in reaksie is teen ‘n onbybelse karikatuur daarvan:eenmaal gered altyd gered, ongeag.

Wat dit wel leer is dat God se uitverkorenes wat Hy vir Homself geheilig het, heilig volhard tot die einde toe, omdat Hyself hulle bekragtig. 

Wie dus nie heilig volhard tot die einde toe nie, toon daarmee dat hulle nooit deur die Here vir Homself geheilig is nie  –  en as sodanig nooit heiliges was nie. Hulle toon dat hierdie leerstuk nooit op hulle van toepassing was nie.

‘N TROOSRYKE SKRIFUITSPRAAK

Pt 1:3-5: Hulle wat regtig wedergebore is, word “… in die krag van God bewaar … deur die geloof tot die saligheid …” (1Pt 1:5).

Hulle word bewaar. Ten diepste hang hulle volharding nie van hulle eie prestasie, inspanning en getrouheid af nie.

Hulle word deur die krag van God vasgehou.

Hulle word deur geloof vasgehou. Geloof is die geut waardeur God se instandhoudingsgenade in ‘n mens invloei.

Hulle word vasgehou totdat die saligheid geopenbaar word  –  vir seker dus lewenslank.

DIE ALLERVRAAG

Is jy seker jy is wedergebore? Jy kan weet, hoor. Luister na 1Jh 5:13: “Hierdie brief skryf ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het …”

In die brief gee Johannes dan talle merktekens van ware redding  –  onder meer 5 merktekens van wedergeboorte (lees die OAV): geloof dat Jesus die Christus is (5:1); ‘n lewe wat gekenmerk word deur oorwinning oor sonde en heilige gehoorsaamheid (3:9; 2:29; vgl. NIV); liefde vir God en mede-gelowiges (4:7 vv; 3:14-18); oorwinning oor die suigkragte van die God-vyandiggesinde wêreld.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00