MATHEUS 11:25-30

ALMAL VAN ONS KEN DIE HERE JESUS SE SENDINGOPDRAG reg aan die einde van die Matteus-evangelie: Gaan, maak dissipels, doop hulle, leer hulle. Uiters belangrik is dit om raak te sien dat Hy, voordat Hy hierdie allesbeheersende opdrag aan Sy embrionale gemeente gee, eers Sy onbetwisbare gesag om só ‘n opdrag te gee in die duidelikste taal beklemtoon: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde.”

As daardie verse in Mt 28 die Here Jesus se Groot Opdrag is, is die troosryke woorde in Mt 11:28-30 sekerlik Sy Groot Uitnodiging. En wat nou weereens so betekenisvol is, is dat ook hierdie woorde van die Here  voorafgegaan word deur die beklemtoning van Sy gesag om so ‘n uitnodiging te rig. Trouens, Christus het beswaarlik ‘n gewigtiger aanspraak op Sy goddelikheid gemaak as hier.

DIE SEUN IS WAARLIK GOD EN HET DAAROM VOLLE GESAG OM DIE UITNODIGING TE RIG.

Op talle plekke in die Bybel word die unieke en intieme aard van die Vader-Seun verhouding uitgespel, maar nêrens méér uitdruklik as hier nie. Aan die hand van vier parallelle tussen Hom en die Vader, stel die Here Sy goddelikheid bo alle twyfel.

Eerstens, sowel die Vader as die Seun het onbetwisbare en verbysterende gesag.

In v.25 noem Jesus Sy Vader die “Here van die hemel en die aarde.” En twee verse verder sê Hy dat die Vader alles aan Hom toevertrou het. En vanuit die onmiddellike konteks kan ons aanvaar dat Hy alles in die hemel en die aarde bedoel. Eenvoudig gestel, die Here sê dat Hy in beheer is van alles in die hemel en op aarde  –  dat Hy die Koning van die konings is, en die Here van die here. En hierdie gesag het Hy van die Vader gekry, en as sodanig is dit gelyk aan die Vader se gesag.

Tweedens het die Vader en die Seun ‘n eksklusiewe, verhewe en onbegryplike onderlinge kennis van mekaar.

Kyk wat sê Jesus in v.27: “niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun.”

Vir sowel die Vader as die Seun se kennis gebruik Jesus dieselfde woord (Gr.epiginoskei). Dis die normale Griekse woord vir kennis, maar met ‘n voorvoegsel vooraan, wat dit baie versterk. Só dui die woord dan op die mees intieme en volledige kennis  –  om deur en deur te ken.

Nog iets wat ons moet raaksien, is die absolute uniekheid en eksklusiwiteit van hierdie kennis: “niemand ken … behalwe …” Voorts word dit gebruik vir sowel die Seun se kennis van die Vader, as die Vader se kennis van die Seun. Nie alleen verhef dit die Seun oneindig ver bo die mens nie, maar dit plaas Hom op dieselfde vlak as die Vader.

God het hierdie unieke en deurdringende kennis van die Seun, omdat Hy God is, die Vader van die Seun. En die Seun het hierdie unieke, absolute en deurdringende kennis van die Vader, omdat ook Hy God is, die Seun van die Vader.

Derdens is dit absoluut noodsaaklik dat die Vader en die Seun die een die ander moet openbaar aan mense, voordat sulke mense ‘n reddende kennis van elkeen van Hulle kan hê.

Die Vader openbaar dus die Seun, en die Seun openbaar die Vader (25, 27).

In hierdie verband is v.25 baie betekenisvol. Die Vader openbaar niks aan “slim en geleerde mense” nie; trouens, Hy “verberg” die kennis van die Seun vir hulle. In die lig van die res van die Nuwe Testament is die beswaar nie hier teen gewone geleerdheid nie, maar teen hovaardige en selfvoldane godsdienstige beterweterigheid. Nee, die Vader gee hierdie openbaring aan “kindertjies” (OAV)   –  aan diegene wat diep nederig is en weet dat hulle algeheel afhanklik is en bly van God se openbaringsgenade (vgl. Mt 16:17).

Vierdens is sowel die Vader as die Seun absoluut soewerein in elkeen se openbaring van die ander aan mense.

Die Vader se soewereiniteit kom na vore in v.26: “Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.”

En wat die Seun se openbaringswerk betref, gee Hy dit aan wie Hy wil (27). Dit is Sy soewereine prerogatief. Om dit te ontvang, is dus vrye genade.

Onmiskenbaar duidelik is die harmonieuse samewerking tussen die Vader en die Seun. Nooit sal die een openbarend in ‘n bepaalde persoon werk, as dit nie ook die wil van die ander is nie. Trouens, wanneer dit gebeur, werk sowel die Vader as die Seun. As iemand die Vader leer ken, is dit omdat die Seun dit soewerein besluit het. En as ‘n mens die Seun leer ken, is dit omdat die Vader dit soewerein besluit het. Altyd loop die twee dinge hand aan hand  –  dis twee kante van dieselfde saak.

Waarlik, as die Here Jesus ooit daarop aanspraak gemaak het dat Hy waarlik God is, dan is dit hier. Onmiskenbaar duidelik is die implikasie dat ook Hy die “Here van hemel en aarde” is (25).

DIE UITNODIGING

Hierdie uitnodiging is ‘n eggo van ‘n soortgelyke oproep in die Ou Testament: “Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God en daar is geen ander nie” (Jes 45:22).

Hier in Jesaja word die universele gerigtheid van die uitnodiging sterk beklemtoon. Dis gerig tot “almal op aarde”  –  merkwaardig as mens daaraan dink dat dit in die Ou Testament geskryf staan. Maar ook hier in ons teks word die oproep tot “almal” gerig. Niemand is dus uitgesluit nie  –  soos dit orals in God se Woord beklemtoon word.

Daar is egter tóg ‘n wesensbelangrike kwalifikasie. Die uitnodiging word gerig aan diegene wat “uitgeput en oorlaai is.” Hou mens die omstandighede destyds in gedagte, en dink jy aan Jesus se aanklagte teen die Fariseërs en skrifgeleerdes, verstaan jy waaroor dit primêr hier gaan. In Mt 23:4 kla die Here die godsdiensleiers van destyds aan: “Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers …” Hierdie is dus ‘n oproep om die juk van godsdienstige dwingelandy, pligpleging en wettisisme af te gooi  –  en die gawe van vrye genade in Christus te omhels.

Die Joodse volk is destyds geleer dat wetsonderhouding die enigste pad na die ewige saligheid is. Afgesien van die swaar vrag van Ou Testamentiese seremoniële voorskrifte, het die Rabbi’s ook nog ‘n duisend ander laste op mense geplaas. Toegewyde godsdiens was allermins ‘n saak van vreugde, en nog minder van vryheid.

Jesus rig dus Sy uitnodiging aan mense wat gedaan geworstel is in hulle pogings om al die godsdienstige voorskrifte van die Skrifgeleerdes te onderhou  –  in hulle pogings om te verseker dat hulle nie eendag deur God verwerp word nie.

Teenoor die Skrifgeleerdes se jukke wat swaar was (Mt 23:4), is die Here Jesus se juk sag. Destyds in Palestina is ‘n houtjuk vir ‘n spesifieke os gemaak, sodat dit so gemaklik moontlik gepas het.

Volgens William Barclay is daar ‘n legende dat die skrynwerker, Jesus, destyds die beste jukke in Palestina gemaak het. Mense sou na Hom toe gekom het vanoor die hele land. Wie weet, dalk was daar ‘n bord bokant Sy werkswinkeldeur waarop geverf was: My jukke pas goed. Indien wel, dan gebruik Jesus hier ‘n beeld vanuit Sy verskuilde jare.

Die punt is dat die Here hier vir mense sê dat die las wat Hy op hulle lê, presies by hulle pas. Dit sal amper vanself vir hulle kom om die las op te neem. En dit sal hulle vreugde wees om dit verder te dra.

Barclay vertel ook ‘n storietjie: ‘n Man kom ‘n seun teë wat ‘n lam seuntjie op sy rug dra. “Dis ‘n swaar vrag wat jy moet dra,” sê die man toe. “Nee, glad nie”, antwoord die seun, “dis mos my boetie!”

Kry jy die punt? ‘n Las wat in liefde gedra word, is altyd lig, maak nie saak hoe swaar dit is nie. En as dit dan ook nog in lyn is met dit wat jy geniet en goed kan doen, maak dit die drag des te makliker.

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?

Eerstens, die pad van redding is nie die pad van godsdienstige dwingelandy nie. 

In ‘n sin kan ons in alle waarheid sê dat die Christelike lewe hoegenaamd nie ‘n lewe van godsdienstigheid is nie  –  as ons daarmee bedoel ‘n lewe van moets en moenies. Ons is nie op die trapmeul van religie en verdienste nie!

Waarom tog wil ons altyd weer teruggly in die groef van verdienste? Waarom sukkel ons so om God se genade in Christus te omhels en daarin te rus? Maar dit is presies die Here se uitnodiging hier: “Kom na My toe … en julle sal rus kry …”

God se genade is gratis, gratis, gratis!

Tweedens, die pad van redding is ‘n pad van dissipelskap in die voetspore van Jesus.

Kyk mooi na die uitnodiging. Dis ‘n roeping na Hom toe, en om Sy juk op te neem, en om van Hom te leer. Genade is gratis, maar nie goedkoop nie! 

Die pad van redding is ‘n pad in gemeenskap met Jesus Christus. Daar is nie die minste sprake van reddende Christenskap, as dit nie beheers word deur ‘n liefdesverhouding met die lewende Here deur Sy Heilige Gees nie.

Waarvan praat ons? Hoe beskryf mens liefde? Ja, dis toegeneentheid, verlustiging, lojaliteit, emosie. Maar dis méér  –  spesifiek híérdie liefde.

Die pad van redding is ‘n pad onder die Here se juk. Maar dis ‘n juk wat goed pas en nie skaaf nie.

Die roeping van dissipelskap is allesbeheersend en lewenslank. Dit verg absolute gehoorsaamheid, getrouheid en selfneerlegging. Daaroor mag daar geen illusies wees nie. En tog is dit só anders as die swaar en skawende juk van blote godsdienstigheid.

Waarin lê die verskil? Die juk van Christus is ‘n juk van gewilligheid en ywer en toewyding. Hoe werk dit? Die Here skryf Sy wette op die tafels van ons harte (Jer 31:33). Hy werk in ons “om tewil sowel as om te werk na Sy welbehae” (Fl 2:12-13).

Hy roep jou dus nooit op ‘n pad sonder om eers vooraf die begeerte in jou te werk nie. Ja, jy mag bang, selfs beangs wees as jy jou voet op die pad sit. Maar altyd, altyd sal dit saamhang met jou eie begeertes en besluite.

En hoe sal ek weet op watter pad die Here my lei? Ons moet by Hom leer! Sy woorde, soos deur Sy apostels beleef en verstaan en neergeskryf, is al wat ons nodig het. Lees dit weer en weer, bepeins dit, bid daaroor  –  en Sy Gees sal jou vir seker verlig en lei en toerus.

TEN SLOTTE

Wie se juk dra jy? Hoe sal jy weet? Is die juk swaar, of is hy lig. Skaaf hy, of pas hy jou perfek?

Al wat oorbly, is om hierdie selfde uitnodiging in die Naam van die Here Jesus te herhaal. Is jy uitgeput en oorlaai? Is jy gedaan probeer om godsdienstig die mas op te kom? Kom, skuif onder die sagte juk van Jesus Christus as Verlosser in.

Let op, ek sê nie jou dissipelskap gaan altyd maklik wees nie. Vir baie het hul lewe in Jesus se voetspore selfs tot ‘n marteldood gelei. Maar ek sê dat jou pad ‘n pad van gewilligheid sal wees  –  en van vervulling en vrede en vreugde en vrugdra. En ek sê dat jou pad sal uitloop op die ewige saligheid  –  saam met die Een vir wie jy toegewyd gevolg het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00