ESEGIËL 3:16-21
ESEGIËL SE WEEKLANGE STRYD – NA SY ONTMOETING MET DIE HERE GOD EN SY GEPAARDGAANDE ROEPING – IS UITGEWOED. Hy is ingebreek en gereed om God se volgende opdrag aan te hoor.
In v.17 word sy profetiese opdrag in ‘n neutedop opgesom: hy is ‘n nietige mensekind (OAV), maar tóg moet hy die Here se wag word – nie om Hóm te waarsku nie, maar om die volk te waarsku.
Die taak van ‘n wag was destyds om vanaf die stadsmure op die uitkyk te wees vir naderende vyande en om dadelik alarm te maak indien hy iets sou gewaar. Later, as Esegiël se roeping herbevestig word, word die verantwoordelike taak van ‘n militêre wag aangrypend uitgespel (33:2-6).
Waarteen moet Esegiël die volk waarsku? Dat elkeen wat onbekeerlik in sonde volhard gewis onder God se oordele sal sterf. Hy moet hulle dus waarsku teen God se toorn oor sonde, en veral teen die vloek van die verbond (Dt 27-28).
Só aan die hart van Esegiël se roeping lê hierdie saak dat die opdrag amper woordeliks in hoofstuk 33 herhaal word – wanneer hy op die drumpel van ‘n totaal nuwe fase in sy profetiese roeping staan.
Soos in die geval van ‘n militêre wag, rus daar ook op Esegiël ‘n gewigtige verantwoordelikheid. Die erns hiervan word in die volgende verse deur twee voorbeelde onderstreep (18-19; 20-21). Daar mag geen misverstand oor sy werksopdrag wees nie.
V.18-19: Goddeloses moet deur hom gewaarsku word dat hulle onder God se oordele sal sterf indien hulle hul nie bekeer nie.
V.20-21: Regverdiges moet eweneens gewaarsku word. Want as hulle sou ophou om God te gehoorsaam en weer in sonde begin leef, sal ook húlle uiteindelik onder Sy toorn sterf.
Esegiël ontvang nie net ‘n opdrag nie. In uitdruklike taal word dit op sy hart gedruk dat dit ook vir hom skrikwekkende implikasies inhou. Nie alleen is sy táák vergelykbaar met die van ‘n militêre wag nie; hy is net so aanspreeklik. ‘n Nalatige wag word tereggestel. Ewemin sal ‘n ontroue profeet God se oordele ontkom.
Sou Esegiël sy opdrag versuim, sal die sondaar op grond van sy eie sonde sterf, maar sy bloed sal van die profeet se hand geëis word (3:18, 20; OAV).
Waarsku hy egter die goddelose – of dié gehoor gee of nie – sal Esegiël sy eie lewe red(3:19, 21).
TWEE KWALIFIKASIES
Esegiël se omstandighede en roeping was in vele opsigte uniek. Tog sit daar drie tydlose beginsels in wat vir ons van die allergrootste belang is. Maar kom ons kyk eers na twee kwalifikasies.
Een, die verband tussen ons as Nuwe Testamentiese gelowiges en Esegiël?
Die Ou Testamentiese profetiese bediening was ‘n voorafskaduing van Christus se werk as God se Groot Profeet. Dit is in Hom vervul en vervolmaak.
Na Sy hemelvaart val die profetiese mantel egter op die skouers van die Here se gemeente.
Elke gemeente bestaan egter uit individue. As lid van die liggaam moet elkeen dan sy rol volgens sy gawes en roeping speel sodat die gemeente hierdie taak kan vervul. Hiervoor is ons dus gesamentlik, maar ook afsonderlik, verantwoordelik.
Niemand kan volle verantwoordelikheid dra vir alles in sy gemeente nie. Tog is elke lidmaat tot ‘n mindere of meerdere mate mede-verantwoordelik vir alles wat in die gemeente gebeur of nie gebeur nie. Solank hy lidmaat is, kan hy nooit sy hande in onskuld was nie – hy is deel van die liggaam.
Geen gemeente is volmaak nie. Daarom sal daar in elke gemeente so iets wees soos gewig ingooi om deel te wees van die oplossing. Daar sal van tyd tot tyd so iets wees soos individuele profetiese protes. En in gevalle van onomkeerbare kerklike verval sal daar helaas so iets wees soos afskeiding en hergroepering.
Individuele verantwoordelikheid wissel van persoon tot persoon. Veral ouderlinge, en in die besonder voorgangers van gemeentes, sal in samehang met hulle meerdere gesag en invloed strenger geoordeel word (Hb 13:17; Jk 3:1).
Twee, in die oorspronklike en tegniese sin is ons nie meer profete nie – net getuies.
God se besondere openbaring het in Jesus Christus se persoon, prediking en werk tot afronding en vervolmaking gekom. Die profete en apostels is met Goddelike gesag geïnspireer om vooruitkykend en terugskouend hierdie openbaring vas te lê.
In hierdie enger, meer tegniese sin is daar gevolglik sedert die afsluiting van die Nuwe Testamentiese kanon nie meer profesie nie. Die gemeente se profetiese roeping lê dus in die verkondiging van dáárdie profetiese en apostoliese openbaring – die afgeslote en daarom genoegsame Woord van God, waarvan die Evangelie van Jesus Christus die Gekruisigde die hart is.
DRIE TYDLOSE BEGINSELS
Soos Esegiël, het ons as gemeente ‘n onontkombare profetiese roeping om God se Woord te verkondig – getrou, volledig en so wyd en deeglik as moontlik.
Hierdie is nie ‘n saak van willekeur nie. Ons staan onder die soewereine gesag en bevel van God se Groot Profeet en Koning.
Kort voor Sy hemelvaart gee Jesus Christus Sy finale opdragte aan Sy dissipels – Sy gemeente in embrio (Mt 28:18-20; Mk 16:15-16; Lk 24:46-49; Hd 1:8). Wie kan die swaargelaaide betekenis van hierdie historiese moment ontkom? Hiermee moet ons besig wees totdat Hy terugkom!
Die Here se opdrag in Mt 28:19 word voorafgegaan deur Sy verklaring: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde.” Hy het Sy taak op aarde afgehandel en gaan nou die posisie van uitvoerende volmag aan die regterhand van die Vader inneem. Vanaf Sy koninklike troon sal Hy deur die komende eeue die koms van die koninkryk bestuur. Maar Hy doen dit deur Sy gemeente. Sien ons die grootsheid en voorreg van hierdie roeping?
Geen gemeente het ooit die reg om hierdie fundamentele bevel van die Here Jesus Christus te ignoreer of selfs net gering te skat nie. Die gemeente wat nie puntenerige uitlewing van die groot opdrag as die hart van sy bestaan het nie, is in flagrante rebellie teen God se hoogste en soewereine gesag. So ‘n gemeente het geen reg om homself as deel van die ware kerk van Christus te beskou nie. Hy het sy bestaansreg verbeur!
Soos op Esegiël, rus daar ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid op ons as gemeente – aangesien ons profetiese roeping te doen het met die ewige lot van die mense om ons.
Esegiël se boodskap was ‘n saak van lewe en dood vir sy hoorders. Net so is die evangelieboodskap ‘n dringende oproep tot sondaars om te vlug vir God se toorn wat aan die kom is.
Paulus begin sy klassieke uiteensetting van die evangelie in Romeine met die stelling dat hy onder verpligting staan om God se reddingsboodskap aan Grieke en nie-Grieke, aan ontwikkeldes en ongeleerdes te verkondig – vandaar sy begeerte om ook in Rome te gaan preek. Waarom? Want hy is nie skaam vir die evangelie nie – wat sy manier is om te sê hoe trots hy daarop is. Waarom so trots? Want dis die krag van God tot redding! Waarom so vol lotsveranderende krag? Daarin word geopenbaar dat God geregtigheid gee aan mense wat glo. En waarom is dít so belangrik? Die ganse sondige mensheid verkeer onder God se toorn! (Rm 1:14-18. Vgl. die OAV om die 4 redegewende voegwoorde, “want” – en dus die redenasielyn – te sien).
Verkondiging van die evangelie is God se manier om sondaars vanuit ‘n gevalle mensheid onder Sy toorn te red! En hierdie verkondiging is ons taak! Hierin mag ons nie vir ‘n oomblik verslap nie!
Soos Esegiël, sal ook ons as gemeente eendag voor die Here verantwoording moet doen oor die uitlewing van ons profetiese roeping.
In 1Kor 4:1 skryf Paulus dat die apostels bestuurders, oftewel rentmeesters van God se geheimenisse is (een van sy tipiese maniere om na apostoliese openbaring te verwys). Op talle plekke in die Nuwe Testament word hierdie rentmeesterskap van die evangelie dan na die kerk van Christus oorgedra.
In vers 2 stel die apostel die altydgeldende beginsel: van ‘n bestuurder word vereis dat hy betroubaar moet wees. Dit impliseer verantwoording en aanspreeklikheid. Hierdie gewigtige waarheid ontwikkel hy dan in die volgende verse (1Kor 4:1-5).
In 2Kor 5:10 skryf die apostel dat almal van ons voor die regterstoel van Christus verantwoording sal doen oor ons lewens. Wat het hy veral in gedagte? In net die volgende vers skryf hy: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig …” (OAV). En dan gaan hy voort om die sendingroeping van die kerk uiteen te sit.
ELKEEN IS PERSOONLIK AANSPREEKLIK
Ons het die klem sterk laat val daarop dat die gemeente korporatief ‘n profetiese roeping het – en dis reg so. Maar dit beteken nie dat ek en jy in die bondel kan wegkruip nie. Ons sal as individue aan die Here moet verantwoording doen.
Kyk hoe direk trek Paulus die lyn vanaf Esegiël na homself toe deur. As hy die ouderlinge van Efese finaal groet, sê hy: “Daarom betuig ek aan julle … dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” (Hd 20:26-27, OAV. Vgl. ook 18:5-6). En aan die Korintiërs skryf hy: “As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!” (1Kor 9:16).
Ja, Paulus was ‘n apostel met ‘n unieke roeping. Maar dit hef nie óns plig op nie. Daarom skryf hy vir Timoteus: “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” (1Tm 4:16).
Elkeen van ons het sy eie gawes, roeping en omstandighede. Maar dít is waar: op een of ander manier is elkeen van ons onontkombaar draer van Esegiël se roeping en verantwoordelikheid.
Mag die Here ons afsonderlik help sodat geeneen eendag beskaamd voor Sy regterstoel sal staan nie. En mag Hy ons help sodat hierdie gemeente uitmuntend besig sal wees met die “hoofsaak” – naamlik om saam te stry vir die geloof in die evangelie! (Fl 1:27).