1KORINTHIERS 6:9-20 EN 10:23-11:1
ONS MOET ELKE DAG BESLUITE NEEM IN SITUASIES WAT NIE DIREK DEUR DIE WOORD AANGESPREEK WORD NIE. Hoe weet ek wat om te besluit?
DIT MAAK NIE SAAK NIE
As die Bybel geen uitspraak oor ‘n saak gee nie, moet ons in beginsel sê dit maak nie regtig saak wat jy kies nie. Kies jy graankos, mieliepap of hawermout vir ontbyt? Vat jy die boonste of die onderste pad werk toe?
Natuurlik mag daar dinge in jou lewe wees wat tog inspeel op sulke keuses. Jy is dalk allergies vir gluten, en vermy daarom sekere soorte graankosse. Maar dan moet jy steeds kies tussen mieliepap en hawermout. Kies dan waarvoor jy lus het.
En die pad wat jy werk toe neem, bepaal of jy in ‘n motorongeluk gaan wees, of nie. Ons ken egter nie die toekoms nie, kies dus rustig na goeddunke, en laat die toekoms in die hande van die Here.
DIE VERHAAL VAN DIE DRIE LIGTE
Uiteraard is dit nie hierdie klein besluitjies wat ons hoofbrekens besorg nie; dis die grotes.
Ek het eenkeer hiérdie illustrasie gehoor. Daar is blykbaar iewers ‘n hawe. Skepe wat hom wil binnevaar, moet egter eers deur ‘n nou en lang seestraat met gevaarlike rotse weerskante. Veral snags is dit ‘n gevaarlike onderneming om die hawe te bereik. Die seestraat is gelukkig reguit, en daarom ook die veilige roete. Op die vasteland is daar toe drie baie sterk ligte van verskillende kleure presies op die verlenging van die veilige roete geplaas. As ‘n stuurman dus net een lig sien, weet hy hy is op lyn. Die oomblik as hy egter meer as een lig sien, weet hy hy moet plan maak. Maar watter kant toe? Dis waarom die ligte verskillende kleure het. As die tweede en derde lig, sê maar rooi en groen, links van die voorste wit lig sit, moet hy stuurboord kant toe. Sit hulle regs, dan moet hy bakboord kant toe – totdat hy weer net een lig sien.
In ons besluitneming moet ons 4 ligte in lyn kry.
EEN, WAT SÊ DIE WOORD?
Niks is belangriker nie. Belangrike perspektiewe hieroor word deur 1Kor 6:9-20 en 10:23-11:1 gegee.
Oënskynlik het die Korintiërs in die slaggat van wetteloosheid getrap en was ‘n gesindheid van “alles is my geoorloof” aan die orde van die dag (6:12; 10:23 NAV). Paulus gee dan enkele altyd-geldende riglyne vir hoe ‘n Christen in vryheid moet optree, sonder om sy vryheid te misbruik.
Verskillende opsies kan grootliks geëlimineer word deur enkele vrae eerlik te antwoord.
Is dit wettig – dus Bybels toelaatbaar? (6:9-11)
Uiteraard is dit die eerste vraag. Wat sê God se Woord? Paulus beklemtoon dat diegene wat hierdie grense vertrap, nie die ewige lewe sal beërf nie. Maar daar is vergiffenis vir elkeen wat glo en hom bekeer. As ek egter séker is ek is binne Bybelse grense, sal die volgende 3 vrae baie klarigheid bring.
Wat is die gevolge vir myself? (6:12-13a)
Sekerlik leef ‘n Christen in vryheid en is baie dinge geoorloof (Rm 14:14; 1Tm 4:4). Maar mens moet die gevolge van jou besluite en optrede in ag neem.
Positief: Sal dit heilsaam wees? Dus, sal dit my kennis van God, my groei in heiligmaking en my diensbaarheid aan die Here bevorder?
Negatief: Gaan dit my nie op een of ander manier verslaaf nie? Ek is immers duur gekoop (6:20). In die Christelike wedloop is dit nie net sonde wat ons so maklik verstrik nie. Ons moet ook sorg dat ons nie onnodige laste, bes moontlik heeltemal geoorloof, saamdra nie (Hb 12:1). Dink byvoorbeeld aan finansiële skuld, ‘n té hoë lewenstyl, onnodige verantwoordelikhede, veeleisende verbintenisse.
Wat is die gevolge vir ander? (10:23-33)
Sekerlik het ek vryheid, maar selde is ‘n besluit of optrede van my sonder gevolge vir ander mense.
Negatief: Sal dit andere nie dalk aanstoot gee of laat struikel nie (1Kor 8:13)?
Positief: Sal dit die belange van ander bevorder – veral my gesin en my medegelowiges.
Wat is die gevolge vir God se eer? (6:20; 10:31)
Die allerbelangrikste vir ‘n Christen is dat die Here verheerlik moet word. Hierin speel my persoon en gedrag en besluite ‘n groot rol. Dit gaan daarom om veel meer as bloot die vraag of iets toelaatbaar is. My gesindheid moet dus nie wees om so na as moontlik aan die afgrond te kom sonder om te sondig nie. Nee, die vraag is, wat kan ek doen om my Here te behaag en te verheerlik?
‘n Skitterende voorbeeld (1Kor 11:1)
Wanneer twyfel bestaan oor die uitwerk van bogenoemde riglyne, kan geen beter voorbeeld gevind word as dié van Paulus nie. Hy het immers puntenerig die voorbeeld nagevolg van die Een wat God volmaak behaag en gehoorsaam het.
TWEE, WAT SÊ MY GESONDE VERSTAND?
As geen Skrifbeginsels ‘n bepaalde besluit of optrede belet nie, beteken dit nie dat ek sonder meer kan voortgaan nie. Ook hier is daar riglyne.
Ons hoef nie te huiwer om besluite te neem nie
Die apostels het nooit gehuiwer om besluite te neem nie – volgens gesonde oordeel, geheiligde denke en ervaringswysheid. Hulle het hulle verantwoordelikheid en rentmeesterskap opgeneem. Hulle het nie vir allerlei “stemme” gewag nie.
Om uit die boot te klim
Terwyl daar iets soos gesonde verstand is, is daar ook iets soos gelóófsoptrede wat daarmee in stryd is. Enige gelowige wat die Here regtig in dinamiese gehoorsaamheid dien, sal soms geroep word om soos Petrus “uit die boot te klim”. Hierdie skrikwekkende ervaring volg altyd op baie gebed en spruit uit ‘n sterk oortuiging wat daaruit gegroei het.
Maar, let op, ons praat van geloof, nie van voorbarigheid nie – wat van die tempel afspring.
Jy doen jou plig, en die Here regeer soewerein
Soms gryp die Here in en dinge werk anders uit as wat beplan is. Tydens die tweede sendingreis wou die apostels die bekeerlinge van die eerste reis gaan besoek, maar hulle pad het totaal anders geloop.
Die apostels het beplan en besig gebly met wat voor hande was – sonder om allerlei bonatuurlike tekens te verwag. Maar as die Here dan anders gelei het, het hulle dit rustig aanvaar.
Verantwoordelik het hulle dus hul plig gedoen, wetende dat God hulle volgens Sy raadsplan sou lei.
Oop en toe deure
Sogenaamde oop en toe deure is ook hier ter sprake. Maar wyse dissipels weet dis naïef en gevaarlik om voortvarend deur elke oop deur te storm. En ‘n toe deur kan bloot beteken dat ek ‘n bietjie moet wag, óf hom met die skouer moet loop.
Dikwels vereis die pad van geloof dat ons deur volharding en daadkrag as ‘t ware die onmoontlike moet oorkom. Groot manne en vroue van God was nog altyd mense van durf en daad. Die Here lei mense wat beweeg. Die vreesagtiges sit jaar in en jaar uit op dieselfde plek. As ons wil hê dinge moet gebeur, moet ons dit dikwels láát gebeur.
Onthou William Carey se leuse: “Expect great things from God; attempt great things for God!”
DRIE, WAT SÊ MY BROERS EN SUSTERS?
Geïsoleerde Christenskap is vreemd aan die Nuwe Testament. Sentraal aan die Here se ordes vir gelowiges is dat hulle Hom in gemeenteverband moet dien. Ons ken mekaar dus in ons groot besluite. En ons ág mekaar se opinies.
Onthou die gesagsordes van die Here
Die Nuwe Testament praat keer op keer oor die gesagsordes wat die Here daargestel het. Wie hierteen in verset is, is in rebellie teen Hom wat dit ingestel het. Vir ons doel is die rolle van die man in die huwelik, die ouers in die gesin en die herders in die gemeente veral van belang. Ek behoort geen belangrike besluit te neem sonder om hulle wat die Here oor my gestel het daarin te ken nie.
Hierdie ordes is ingestel vir ons beskerming. Net ‘n dwaas ignoreer dit.
Twee kwalifikasies is egter van belang.
Eerstens, alle menslike gesag is relatief. Dit impliseer dat ek aan God méér gehoorsaam moet wees as aan mense, wie hulle ook al is. Opdragte wat beveel wat God verbied, of verbied wat God beveel, durf nie gehoorsaam word nie.
Tweedens, in geen geval is die advies van andere finaal nie. Uiteindelik dra elke persoon sy eie verantwoordelikheid voor die Here. Natuurlik is dit nie ‘n verskoning vir eiesinnigheid nie, maar ek durf nie strydig met my gewete optree nie. Dit kan daarom gebeur dat ek tog uiteindelik ‘n besluit neem wat strydig is met alle advies. Maar dan moet ek weet dat ek alle verantwoordelikheid self dra.
VIER, WAT IS DIE GEVOLG VAN GEBED?
Uiteraard sal ‘n ware gelowige die hele proses van besluitneming – en ‘n lang proses kan dit inderdaad soms wees – biddend deurmaak. Uiteindelik sal dit dan tot ‘n innerlike wete en vrede lei, hetsy die kant toe, hetsy daardie kant toe. En mens se innerlike oortuiging en gewete het altyd die laaste sê. Die Here stuur ons deur ons harte te rig volgens Sy wil.
Dit laat mens dink aan Paulus se woorde: “… werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae” (Fl 2:12-13, OAV).
Almal weet hoe mens lank op twee gedagtes kan hink. Maar die oomblik as innerlike oortuiging deurbreek, handel jy sonder huiwering.
En wat van die kere wat dit nie uitwerk nie?
En wat van die kere wat ek vrede kry, ‘n besluit neem – en dan mettertyd vind dat dit nie uitwerk nie? Wie sê die Here lei ons altyd op die pad van sukses? Onthou, die pad van groei loop veeleerder deur die dieptes as oor die hoogtes. Dikwels gebruik die Here ons “verkeerde besluite” uitnemend vir ons groei en heiligmaking. Hy is immers meer geïnteresseerd in ons vorming na die beeld van Christus as in ons werk vir Hom.
Maar kom ons sluit op ‘n positiewe noot. Die meeste van ons ernstige en biddende besluite het goed vir ons uitgewerk. Die Here wil ons immers nie net na Sy beeld vorm nie, Hy wil ons ook gebruik.
Vat dit in die geloof: alles werk heen na die goeie toe vir hulle wat vir God lief is en na Sy voorneme geroep is. En hierdie “goeie” is gelykvormigheid aan Christus se beeld (Rm 8:28-30).
Wat ‘n vreugde! Wat ‘n sekuriteit! Ons wat met Christus verenig is, wat kan ons van Sy liefde skei?
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier