PSALM 22; MARKUS 15:34
SEWE KEER HET DIE HERE JESUS IETS GESÊ TERWYL HY AAN DIE KRUIS GEHANG HET. Ons noem dit Sy kruiswoorde. Hulle is versprei deur al vier evangelies.
In die eerste drie kruiswoorde gaan dit oor die belange van die omstanders.
Eerstens doen Jesus voorbidding vir Sy teregstellers: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lk 23:34). Die Griekse werkwoord sê Hy het aanmekaar so gebid (Gr. Imperfektum).
Tweedens gee Hy ‘n wonderlike belofte vol troos vir ‘n sondaar wat homself verootmoedig – ‘n misdadiger wat saam met Hom gekruisig word: “Ek verseker jou: vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lk 23:43).
Derdens sien Hy om na die belange van Sy moeder, Maria, deur haar en Johannes aan mekaar toe te vertrou: “Daar is u seun … Daar is jou moeder” (Jh 19:26-27).
Oënskynlik volg daar dan ‘n lang stilte. Dit moes ongeveer drie uur geduur het. Dan word die laaste vier kruiswoorde uitgespreek, kort na mekaar. Nou gaan dit oor die Here Jesus se lyding en Sy verhouding met Sy Vader.
Die vierde kruiswoord, waarna ons in meer besonderhede gaan kyk, word gevolg deur drie kort sinnetjies.
Die vyfde woord: “Ek is dors” (Jh 19:28).
Die sesde woord: “Dit is volbring” (Jh 19:30).
Die sewende en laaste woord: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lk 23:46).
Dat die Here nou met Homself en Sy hemelse Vader besig is, is natuurlik en tipies. As ‘n sterwende al sy aardse belange afgehandel het, draai hy by wyse van spreke sy gesig na die muur toe om die dood tegemoet te gaan, en om met God alleen besig te wees.
Die kruisiging van Christus is sekerlik die mees uitsonderlike gebeurtenis in die geskiedenis van hierdie wêreld – die skepsel maak sy Skepper dood! En die middelste kruiswoord, “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mk 15:34), is kennelik die dieptepunt van die Here Jesus se lyding. Die ewige en onuitspreeklik wonderlike gemeenskap tussen die eerste en tweede Persone van die Goddelike Drie-eenheid is verbreek!
Dat onskuldiges veroordeel word en dat die een wat goed doen deur sy begunstigdes vermoor word, is sekerlik niks nuuts in die geskiedenis van die wêreld nie. Maar Hy wat aan die kruis hang, is geen gewone mens nie – Hy is die volkome en die volmaakte mens! Alle ander mense wat deur hulle vervolgers tereggestel is, het talle foute gehad. Niemand se saak is immers waterdig nie. Maar van hierdie Een het selfs ‘n heidense regter gesê: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie” (Lk 23:4)!
Maar dis nie al nie. Nog meer verstommend is die feit dat híérdie tereggestelde nie net ‘n volmaakte mens is nie – Hy is die Seun van God en God die Seun!
As ons nie kan begryp dat God die Seun Homself aan so iets onderwerp nie, wat sal ons sê van die Bybelse openbaring dat dit God die Vader is wat Sy Seun oorgee om so ‘n skandelike en pynlike dood te sterf?
DIE MIDDELSTE KRUISWOORD
Dis reeds vir drie uur donker. Nou is dit die negende uur, oftewel drie-uur die middag. Dis ‘n middag-middernag. Jesus is sterwende. “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Wat het deur Jesus se gemoed gegaan tydens daardie 3 uur van stilte in die duisternis?
Beleef Hy dalk ekstatiese gemeenskap met Sy Hemelse Vader? Dit sou tipies wees van ‘n sterwende gelowige. En hoeveel martelare was nie al só weggeruk in hemelse vervoering dat hulle midde-in ‘n vlammesee kon sing nie?
Maar só was dit nie in Jesus se geval nie!
Die rou kreet van benoudheid waarmee Hy die stilte verbreek, is uitdrukking van dit wat Hy in die voorafgaande ure van duisternis beleef het.
Psalm 22:2, die Messiaanse profesie van ‘n duisend jaar vantevore, waar hierdie woorde net so geskryf staan, sê dit was soos ‘n “gebrul” (OAV). Die Hebreeuse woord dui op die roggelende en benoude gebrul van ‘n dier in doodsangs. Nooit was daar ‘n uitroep soos dié in die geskiedenis nie!
Maar die Vader laat Hom eenvoudig oor aan Sy lot. Vir die eerste maal in die ewigheid is daar tussen Vader en Seun geen gemeenskap nie. Jesus is alleen, alleen, alleen!
Want tot in der ewigheid sal God met sonde geen gemeenskap hê nie – en die sonde van miljoene is op die Seun gestapel!
Wat die Here Jesus hier ervaar, is die vervulling van wat ‘n duisendvyfhonderd Groot Versoendae geprofeteer het (Lev 16).
Jesus ondergaan hier die marteling van ‘n doemeling. God handel met Hom, nie soos ‘n liefdevolle vader met sy seun nie, maar soos ‘n gekrenkte en regverdige regter met ‘n misdadiger. Dis dermiljoene se sonde wat Jesus hier vergruis. Dis die bliksemstrale van God se heilige toorn wat meedoënloos, een na die ander, op Hom inbrand! Dis die ewige verdoemenisse van ontelbaar baie begenadigdes wat op Hóm gestapel is en Hom verbrysel. En Hy is heeltemal alleen!
Maar is dit regverdig? Was Hy nie in hierdie oomblikke juis by uitnemendheid gehoorsaam aan Sy Vader nie? Is dit nie juis waarvoor Hy gekom het nie? Presies dit is die punt. Hy het ons sonde op Hom geneem sodat die Vader dit aan Hom kon straf. Só bevredig Hy die onkreukbare geregtigheid van God. Wat ons hier sien, is hoe Hy elke stukkie sondeskuld van elke uitverkorene deur die ganse geskiedenis betaal!
IMPLIKASIES VAN DIE VIERDE KRUISWOORD
Dit onderstreep die verskriklikheid van sonde.
Waar was daar ooit soveel haat saamgetrek op een plek soos daar op Golgota?
Waar sien jy die mens se weersin in God meer as hier? Die skepsel vermoor sy Skepper! En in hulle waansinnige haat en woede skreeu hulle: “Laat Sy bloed op ons en ons kinders kom!”
Ook is die Duiwel baie aktief op Golgota. Hierdie vierde kruiswoord is die mooiste woorde wat hy ooit gehoor het. Maar terwyl hy sy hande selfvoldaan vryf, word sy lot onomkeerbaar en finaal verseël!
Die volk en die duiwel se haat is egter niks in vergelyking met ‘n ander haat nie – ‘n haat wat die Golgota-gebeure van A tot Z beheers. Ons praat van Gód se haat vir sonde.
Só vasbeslote is die Vader dat geen, maar géén sonde ongestraf sal bly nie, dat Sy innig-geliefde Seun plaasvervangend moet instaan vir die uitverkorenes. Nie ‘n kriesel van hulle sondeskuld sal onder die mat ingevee word nie. God is ‘n God van volkome geregtigheid! Daarom is hierdie kruiswoord, by wyse van spreke, ‘n bloedstollende gil vanuit die diepste dieptes van die hel!
Verstaan dit – en haat die sonde!
Dit onderstreep die verskriklike lot van diegene wat op eie meriete die ewigheid binnegaan.
Dis duidelik soos daglig: As God Sy geliefde Seun nie gespaar het nie, sal hy jou en my mos nie laat wegkom as ons Sy genade-uitnodigings en bekeringsbevele in die wind slaan nie! As die Seun so volkome deur die Vader verlaat is toe Hy sonde vir ons geword het, sal ek en jy vir altyd kan voortgaan om in die sonskyn van God se genadeguns te bak terwyl ons hand om die lyf loop met gesindhede en praktyke wat God haat?
Dit onderstreep ons onontkombare roeping tot dankbaarheid en gehoorsaamheid.
Lees mens die Nuwe Testament, kom jy gou-gou onder die indruk dat niks vir Jesus belangriker was as Sy kruiswerk nie. Hy het gekom om verlossing vir dermiljoene te bewerkstellig. En dit kon net aan die kruis gebeur. Jesus het gelewe om te sterf!
Hoedanig moet óns erns dan nie wees om die implikasies van die kruis uit te leef nie? Dit roep ons op tot ‘n lewe van heilige toewyding.
Dit is die finale waarborg dat ons verlossing onomkeerbaar verseël is.
Kort na die Here Jesus se benoudheidskreet van verlatenheid, het Hy triomferend uitgeroep: “Dit is volbring!” (Jh 19:30).
Dit is die vertaling van ‘n enkele Griekse woord wat vir elke Christen onbeskryflik kosbaar is: tetelestai. Dis ‘n woord wat uit die handelswêreld gekom het. As iemand geld geskuld het, en uiteindelik sy verpligting finaal nagekom het, het die skuldeiser hierdie woord dwarsoor die rekeningstaat geskryf – met die betekenis: die skuld is ten volle vereffen! So ‘n gekanselleerde staat het dan as kwitasie gedien.
Al die sondeskuld van diegene vir wie Jesus hier plaasvervangend ly en sterf, is afbetaal. Daar is niks uitstaande nie! Daar is geen skuld meer nie!
Die God wat oor die eeue heers, se beloftes is algeheel betroubaar.
Kan ons peil trek op iets wat tweeduisend jaar gelede gebeur het? Het die Seun se smarte bewerkstellig wat dit moes, of was dit tevergeefs?
Mens sou sekerlik lank kon antwoord op hierdie kort, maar lewensbelangrike vraag. Maar kom ons sluit af met iets wat ons net weer herinner dat ons te doen het met die ewige God – die Een in wie se raadsplan een dag soos ‘n duisend jaar is en ‘n duisend jaar soos een dag, die Een wie se Woord ‘n geïntegreerde en algeheel betroubare eenheid is.
Die eeue-oue Psalm wat Jesus in Sy vierde kruiswoord aanhaal, sluit wonderlik vertroostend af. Psalm 22:23-32 beskryf die verlossingsvreugde en ewige sekuriteit van God se begenadiges. En dan eindig die Psalm, wat begin met “My God, my God, waarom het U my verlaat?”, met ‘n enkele Hebreeuse woord – vertaal met, “Hy het dit gedoen!” (OAV).
En dan kom die Septuaginta – die Griekse vertaling van die Ou Testament – eeue later, maar tog ook meer as twee eeue vóór die Here Jesus se kruisdood, en vertaal hierdie enkele Hebreeuse woord met ‘n enkele Griekse woord: “tetelestai!” (die sesde kruiswoord!).
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier