1PETRUS 4:10-11

DAAR IS GEEN SPRAKE VAN EGTE CHRISTENSKAP SONDER DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES NIE. Hy is aktief oor die volle spektrum van ‘n Christen se geloof, lewe en belewing. Ewemin kan ons waarlik kerk wees sonder Hom. En wat dit betref, het die Nuwe Testament ‘n besondere klem op Sy werk om die gemeente soos ‘n liggaam te laat funksioneer. Elke lidmaat (=ledemaat) het ‘n funksie. En tot die mate wat lidmate passiewe passasiers is, tot daardie mate is die liggaam kreupel.

Kom ons praat dus oor die gawes van die Gees (Gr. charismata) deur stapsgewyse deur 1Pt 4:10-11 te werk.

“GENADEGAWE” (GR. CHARISMA)

Die Nuwe Testament gebruik die woord 17 maal. Dit dui op ‘n gawe of geskenk van genade vanuit God se onverdiende liefde.

Dikwels word dit soos hier in 1Pt 4:10 gebruik: die spesiale bekwaamhede wat die verheerlikte Here Jesus Christus (Ef 4:7-11) aan elke lid van Sy liggaam deur die werkinge van die Heilige Gees gee  –  sodat hulle Hom daarmee kan verheerlik deur Sy liggaam op te bou en uit te bou (Rm 12:6; 1Kor 12:4, 9, 28, 30, 31. Ook moontlik 1Kor 1:7; 7:7; 1Tm 4:14 en 2Tm 1:6).

Hierbenewens is daar hele Skrifgedeeltes wat oor die charismata handel: Rm 12:3-8; 1Kor 12-14; en Ef 4:7-16. Hierbenewens word op talle plekke beskryf hoe hierdie geestesgawes beoefen is  –  veral in Handelinge.

Ongeveer 18-20 verskillende charismata word in bogenoemde Skrifgedeeltes genoem. Maar ons moet nie dink in terme van ‘n volledige en afgeslote tegniese lys van gawes nie. Die Skrif noem bloot tipiese voorbeelde van wat destyds ervaar is.

Sonder om ‘n waarde-oordeel oor, of kondonering van al die hedendaagse strominge te impliseer, moet gesê word dat ‘n lewende gemeente per definisie charismaties van aard is. Die vrye, spontane en polsende beoefening van die priesterskap van alle gelowiges is eie aan ware Nuwe Testamentiese kerkwees.

Christus deel deur Sy Heilige Gees hierdie gawes soewerein uit  –  aan elkeen soos Hy wil (1Kor 12:11; 18).

“ELKEEN”

Die Skrif beklemtoon dat elkeen wat deel van die liggaam van Christus is, een of meer charismata ontvang (1Kor 7, 11, 18). Elkeen het ‘n plek en funksie in die gemeente. Elkeen is nodig; niemand is oortollig nie.

Hierdie waarheid plaas ‘n gewigtige verantwoordelikheid op sowel lidmaat as voorganger.

‘n Domineeskerk waar die voorganger min of meer ‘n betaalde amptenaar is en omtrent alles moet doen, is nie Bybels nie. Voorgangers se taak is om die lidmate vir húlle dienswerk toe te rus (Ef 4:12). Hulle moet die priesterskap van die gelowiges aktief aanmoedig, stimuleer en kanaliseer. Hulle moet hulleself so gou moontlik oortollig maak. Natuurlik kom dit nie oornag nie, maar leierskap wat nie uiteindelik hierin slaag nie, misluk. Daarom moet lidmate losgelaat word. Hulle moet vertrou word. En die Here moet met hulle vertrou word.

Bogemelde kan net ‘n werklikheid word in gemeentes wat uit ware gelowiges bestaan. Per slot van rekening kan slegs mense wat die Gees ontvang het, charismaties toegerus wees.

“NAMATE”

In die Grieks dui hierdie woord op ‘n kwalitatiewe en kwantitatiewe verskeidenheid.

Sommige mense is eenvoudig meer begaafd as ander. Party het meer gawes as ander; party se gawes is van ‘n meer uitstaande gehalte as die gewone.

Maar ewe belangrik is dit om te beklemtoon dat geen gawe meer verhewe of “geestelik” as ‘n ander is nie. In Christus se liggaam is niemand minderwaardig of meerderwaardig nie (1Kor 12:14-25).

In die gemeente van die Here kom eenheid nie tot uitdrukking in eendersheid nie, maar in verskeidenheid wat in harmonie funksioneer. Dis die punt van 1Kor 12: verskeidenheid in harmonie!

Dis soos ‘n simfonie-orkes. Elke instrument het sy eie klank en “sy eie wysie”. Maar as almal in harmonie speel, is die gevolg grootser as enige instrument op sy eie.

“DIEN” (GR. DIAKONEO)

Die charismata is nie speelgoed of trofeë nie, maar gereedskap. Dit word vir ons gegee om ons broers en susters mee te dien. Dit is presies in lyn met die eenstemmige oproep van die Nuwe Testament, naamlik dat dissipels van Jesus geroep word tot ‘n lewe van diens  –  ‘n lewe in belang van ander, veral van medegelowiges.

Sonder onderlinge liefde is alles in die gemeente tevergeefs. Dan speel die orkes nie meer ‘n simfonie nie. Dan raas hulle net. Dit is presies die punt van 1Kor 13 (tussen 1Kor 12 en 14). Sonder liefde is die spreek in tale net die rumoer van klinkende metaal en ‘n galmende simbaal  –  wat gewoon aandag wil trek. Dan is die gawes van profesie, kennis en geloof ‘n ronde nul werd. Dan baat die gawe van uitdeling niks nie (1Kor 13:1).

“BEDIENAARS” (GR. OIKONOMOS)

Hierdie woord verwys na ‘n slaaf wat verantwoordelik was om sy baas se eiendom, huishouding en belange te bestuur. Die begrip sou ook met “rentmeesters” of “bestuurders” vertaal kon word.

Van ‘n rentmeester is altyd twee dinge waar: hy het ‘n bepaalde volmag, binne bepaalde grense; en hy is aanspreeklik vir hoe hy sy taak uitvoer. Hierdie twee dinge loop altyd hand aan hand; jy kan nie die een hê sonder die ander nie.

As ek ‘n plaas sou hê, maar vanweë ander verpligtinge nie daar kon woon nie, stel ek ‘n bestuurder aan. Ek sal binne bepaalde grense aan hom volmag gee om sekere besluite self te neem, maar hy sal dan aanspreeklikheid daarvoor moet aanvaar  –  en gereeld daaroor verslag doen aan my.

Netso het elke Christen baie vryheid oor die aanwending van sy gawes. Positief moet hy self besluit hoe, waar en wanneer hy dit beoefen. Hy moet daaroor bid, sy gawes ontwikkel en duidelikheid kry oor die Here se roepinge in sy lewe (1Tm 4:14; 2Tm 1:6). En negatief moet hy versigtig wees om nie die Gees se werk in sy lewe uit te blus nie.

Die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat elke Christen voor die Here verantwoording sal doen oor sy lewe  –  wat ook sy charismatiese rentmeesterskap insluit.

“VEELVOUDIGE GENADE VAN GOD”

Die woord “veelvoudige” dui op groot verskeidenheid, en veral op ‘n ryke en veelkleurige geskakeerdheid.

Dit help ons om hierdie waarheid te verstaan as ons aan die gemeente dink as ‘n prisma waarop God se genade vir Sy gemeente soos ‘n bundel wit lig val. As die hele gemeente dan ywerig hulle gawes oor en weer beoefen, word God se genade oop gepoustert tot ‘n veelkleurige spektrum  –  ‘n Godverheerlikende skouspel voor die oë van die wêreld.

Andersom gestel, tot die mate wat lidmate hulle gawes onder ‘n maatemmer wegsteek, tot daardie mate bly die realiteit van die Here se genadige betrokkenheid by Sy gemeente verskuild.

“SPREEK” EN “DIEN” TOT EER VAN GOD (11, OAV)

Die omvangryke verskeidenheid gawes word hier deur Petrus onderverdeel in twee groot kategorieë: spreek-gawes en doen-gawes. Hier en daar kry jy iemand wat in beide areas ewe sterk is, maar gewoonlik is ons eerder praters as doeners, of omgekeerd. Natuurlik moet die praters ook dikwels moue oprol. En die doeners moet ook soms hulle woord doen.

In beide areas word dit sterk beklemtoon dat ons daarop ingestel moet wees om Gód se woorde en handelinge te bedien. Dit moet dus inderdaad die Hére se genade wees wat deur ons vloei. Dit vereis gebed, asook ‘n puntenerige versigtigheid om ons dienswerk in harmonie met God se Woord, wil en karakter te beoefen.

Die doel van ons charismatiese aktiwiteit is dat ons “God in alles verheerlik deur Jesus Christus”. Té dikwels word met (sogenaamde) charismata gespog, en gaan dit oor vertoon, sensasie en  belewing.

Petrus sluit dan af met ‘n lofuiting: “aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid!” Hierdie lof kom God toe tot in die aione van die aione (Gr. lett.)  –  bedelinge maal bedelinge. Dis die oortreffende trap tot sy hoogste orde gevoer: vir ewig en vir ewig.

OPSOMMEND

‘n Deel van God se genade vir die gemeente en die wêreld is aan mý toevertrou. Hierdie genade moet ek as rentmeester soos ‘n goeie kelner op die regte bord neersit, of soos ‘n goeie posbesteller by die regte adres aflewer. Doen ek dit nie, ontneem ek ander ‘n deeltjie van God se genade. Ek is dan ‘n ontroue dienskneg. Is ek egter getrou, help ek om die skouspelagtige skoonheid van God se genade te vertoon  –  en die Here sal in en deur Sy gemeente verheerlik word.

Waaroor ons hier praat, is liggaamslewe in ‘n neutedop. Dit lê aan die hart van ware kerkwees. En dis grootliks die Here se manier om dinge hier op aarde gedoen te kry en om Homself te verheerlik.

Dikwels wonder Christene wat hulle gawes is. Wie onderstaande riglyne volg, sal nie lank hoef te twyfel nie:

Soos met alles in jou Christenskap, wees Godgesentreerd en Christusgefokus. Die charismata gaan oor die Here se eer. Fokus op die Gewer en nie op die gawe nie, en die res kom asof vanself.

Bid gereeld oor jou charismatiese begaafdheid, jou plek in die liggaam en jou roeping.

Staan dan van jou hande af op en begin beweeg.

Vra jouself die volgende vrae: Wat geniet ek die meeste? Watter soort dienswerk kom vir my amper vanself? Watter leemtes in die gemeente sien ek voor ander raak? Wat kry ek goed gedoen  –  beter as meeste? Wat is ander se opinie oor my begaafdheid?

Doen wat voorhande is; doen jou plig. Dien jou broers en susters voluit. Wees ‘n voetwasser. Eerder as om te vra wat jou gawes is, vra hoe, waar en wie jy kan dien.So vind jy vanself jou nis in die gemeente.

Mens sien die nood om jou raak deur die bril van jou begaafdheid. Indien die nodige vrymoedigheid en vryheid bestaan, vul mens die leemtes om jou amper spontaan volgens jou charismatiese bedrading.

Onthou: as jy die visie het, het jy die werk.

Plaas jouself as ‘t ware in die pad van die gawes. Gooi jou gewig dáár in waar jy die Heilige Gees sien werk. Raak betrokke waar jy meen die Here genade wil laat aflewer. Raak betrokke!

Moenie bang wees om in die geloof uit te stap nie. Ondernemingsgeloof word gespel: doen, waag, verwag! Petrus sou nooit op die water geloop het as hy dit nie buite die boot gewaag het nie. Sommige mense is so bang hulle maak foute, dat hulle liewers niks doen nie. Hulle begrawe hulle talente (Mt 25:24-30; Lk 19:20-27). Almal van ons maak soms foute, maar as ons wil sink, is die Here altyd byderhand.

Dit neem soms jare vir sekere gawes en bedieninge om wasdom te bereik. Ons groei deur oefening, studie, gebed, ondervinding  –  en deur flaters.

Wag op die Here! Sekere bedieninge kan nie sommer beoefen word nie. Mens moet deur die gemeente daarin gestel word  –  en voordat die gemeente jou nie roep nie, het jy nog nie die Here se groen lig nie.

Ken jou nie-gawes. Dít het ons almal  –  en baie!

As jy jou broers en susters liefhet soos jy moet, sal die charismata amper vanself uit jou vloei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00