ROMEINE 10:9

AN KLEINS AF HET EK TWEE MAAL ‘N SONDAG SAAM MET MY OUERS KERK TOE GEGAAN. Daar was beswaarlik ‘n preek wat nie beklemtoon het dat Jesus Christus ons Verlosser is nie. En ek het dit regtig geglo  –  al was dit net op ‘n manier. Tog het ek eers op agt-en-twintig jarige ouderdom lewensveranderend tot bekering gekom. Ek dink nie ek was voor die tyd gered nie, en ek twyfel nie dat ek sedertdien ‘n ware Christen is nie.

Hoe het ek tot bekering gekom? Na agtien maande van intense worsteling en verset teen die roeping van die Here, het ek een middag my lewe ongekwalifiseerd en in absolute erns en opregtheid aan Christus as Koning toegewy. My lewe het onmiddellik verander  –  ingrypend en permanent.

Ek dink nie dat die inisiatief by my gelê het nie; inteendeel. En ek wil ook nie mý ervaring normatief maak nie. Maar vir seker het die verskil in my geval daarby ingekom dat ek opgehou het om ‘n huigelaar te wees, en dat ek my lewe onderwerp het aan die wil en saak van Koning Jesus. En, sowaar, ek het besigheid bedoel! Ons praat dus nie van ‘n formule of ‘n tegniek nie, maar van realiteit.

Ek kon gevolglik nog nooit aanvaar dat iemand gered is as sy lewe nie getuig van onderwerping en gehoorsaamheid aan Jesus Christus nie (ek praat van normale en tipiese omstandighede).

Maar natuurlik, my opinies tel niks nie. Die vraag is, leer God se Woord dit of nie?

JESUS AS “DIE HERE” IN DIE BYBEL

Die woord “Here” (Gr. Kurios) word 749 keer in die Nuwe Testament gebruik  –  met ‘n wye spektrum van betekenisse.

Soms word dit as ‘n aanspreekvorm van respek vir gewone mense gebruik, gewoon in die sin van “Meneer” (bv. Mt 13:27; 21:30; 27:63). Daarom kan Paulus in 1Kor 8:5 skryf dat daar baie “here” is. Benewens vir mense, was dit ook gebruik as ‘n titel vir al die afgode, sowel as vir die keisers.

Ander kere word dit vir God die Vader gebruik (bv. Mt 1:20; 11:25; 22:37; Hd 17:24).

Maar by verre die mees algemene gebruik van die woord is vir Jesus Christus.

In die Nuwe Testament word die titel “Here” op minstens drie maniere vir Jesus Christus gebruik.

Eerstens spreek Sy dissipels en andere Hom patykeer gewoon so aan, in die sin van Rabbi of leraar of Meester (bv. Mt 15:22, 27).

Tweedens word Hy so genoem  –  as die verheerlikte Seun, wat uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het, en nou aan die regterhand van die Vader heers (Hd 2:36; Rm 1:4; Fl 2:9-11). Soos laasgenoemde uitspraak dit stel: “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus … die knie sou buig en elke tong sou erken:Jesus Christus is Here! …”

Derdens, word Christus “Here” genoem wanneer daar oor Hom gepraat word as volkome en ewige God (Jh 20:28; 1Kor 2:8).

Trouens, meermale in die Nuwe Testament, wanneer die titel “Here” gebruik word, is dit onseker of daar van die Vader of die Seun gepraat word (bv. Hd 1:24; 8:39; 9:31; 16:14; 21:14).

Maar waarskynlik is die mees merkwaardige in hierdie verband ‘n paar Ou Testamentiese aanhalings wat in die Nuwe Testament op die Seun van toepassing gemaak word. In hierdie Ou Testamentiese uitsprake word gepraat van Jahweh(“HERE”  –  God se verbondsnaam), en van Adonai (“Here”  –  ‘n titel van God wat dui op Sy soewereine eienaarskap van en heerskappy oor alles).

Twee voorbeelde sal dit duidelik maak.

In Joël 2:32 word gesê: “Elkeen wat die Naam van Jahweh aanroep, sal gered word.” Hierdie uitspraak word dan in Hd 2:21 en Rm 10:13 aangehaal en sonder meer op Christus toegepas.

Nog sprekender is Ps 110:1, wat meer dikwels in die Nuwe Testament aangehaal word as enige ander Ou Testamentiese uitspraak (Mt 22:44; Mk 12:36; Lk 20:42,43; Hd 2:34,35). Die HERE (Jahweh) sê vir “my Here” (Adonai): “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” En in v.4 gaan Jahweh dan voort: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.”

Ongetwyfeld is dit die Seun wat hier deur die Vader (Jahweh) as Adonaiaangespreek word. Noem die Hebreërbrief Jesus Christus nie weer en weer ons Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek nie? (Hb 5:6, 10; 6:20; 7:17, 21). En in die Nuwe Testamentiese aanhalings word die Hebreeuse Adonaivervang met die Griekse Kurios.

Waarlik, Jesus Christus is die verheerlikte en verhoogde Seun van God, ons Middelaar aan die regterhand van die Vader  –  die Here. Nog meer, Hy is van ewigheid af ook waarlik God  –  ons Here.

“HERE” IS ‘N GESAGSTITEL

Afgesien daarvan dat die Griekse woord, Kurios, die koninklike gesag van Jesus Christus wil onderstreep, dui talle Skrifuitsprake ook uitdruklik daarop. Neem byvoorbeeld die reeds aangehaalde Ps 110:1 (en die ooreenstemmende Nuwe Testamentiese aanhalings). Die Seun word opdrag gegee om aan die regterhand van die Vader te gaan sit, sodat Sy vyande aan Hom onderwerp kan word.

Waarom die regterhand? Dit was nog altyd die posisie van uitvoerende volmag. In die dae toe ons nog ‘n Staatspresident en ‘n Eerste Minister gehad het, het laasgenoemde altyd aan die regterhand van die President gesit as ‘n kabinetsfoto geneem is. Die Eerste Minister was immers die man wat die sweep geklap het, terwyl die President by wyse van spreke net wette onderteken en linte geknip het.

Nêrens kom dit meer uitdruklik na vore as in Ef 1:20-22 nie: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy (God die Vader) mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.

Oor Jesus Christus se gesag as die Here, kan ons minstens 4 opmerkings maak.

Eerstens is dit universele gesag. Dit blyk baie duidelik uit Ef 1 wat ons so pas aangehaal het. Die apostel noem elke denkbare sfeer as hy beklemtoon dat niks, maar niks buite die Here Jesus se jurisdiksie val nie. 1Pt 3:22 sê dat Hy nou aan die regterhand van God is en “engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is” (OAV; vgl. ook NIV).

Tweedens is dit soewereine gesag. Niemand is bokant Hom nie, en daarom kan niemand Sy regering bevraagteken nie. Hy doen wat Hy goed ag. Hy is die Pottebakker, ons die klei.

Derdens is dit persoonlike gesag. Elkeen sal vir homself aan die Here Jesus verantwoording moet doen (Gl 6:5). Elkeen van ons is persoonlik aanspreeklik. En natuurlik is die Here persoonlik by elkeen van Sy dissipels as Koning betrokke.

Vierdens is dit ewige gesag. Die Here se heerskappy kan deur niemand bedreig of beëindig word nie. Vir altyd sal Hy die Here wees. Wanneer Hy terugkom sal dit asdie Here wees. Hy sal met absolute gesag beklee wees om vry te spreek en om te veroordeel. En niemand sal Sy beslissings kan bevraagteken nie. Daar sal geen moontlikheid van appèl wees nie. En so sal dit tot in alle ewigheid bly.

SENTRAAL IN DIE EVANGELIE

Waarskynlik is “Jesus is die Here” een van die heel vroegste Christelike belydenisse. Die openlike verklaring hiervan is beskou as ‘n eerste aanduiding dat iemand ‘n Christen is.

Daarom skryf die apostel: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rm 10:9). Ook die uitspraak in Fl 2:11 word vandag algemeen aanvaar as deel van ‘n baie vroeë belydenis: elke tong sal tot eer van die Vader erken: “Jesus Christus is die Here!” Voorts sê Paulus in 1Kor 12:3 dat ‘n mens slegs deur die Heilige Gees kan sê, “Jesus is die Here.”

Kyk mens na die inhoud van die vroeë kerk se prediking, besef jy dat hierdie belydenis ook aan die hart van hulle evangelistiese verkondiging was. So byvoorbeeld word die titel ongeveer ‘n honderd keer in die boek Handelinge vir die Here Jesus gebruik, terwyl die woord “Verlosser” net twee keer voorkom.

Luister na tipiese voorbeelde van die apostels se evangelistiese appèlle in Handelinge: “… elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (2:21);  “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak” (2:36); “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word …” (16:31).

GEHOORSAAM JESUS DIE HERE, OF VERSAAK DIE EWIGE SALIGHEID

Ek weet nie van vandag nie, maar vroeër jare was die CSV se leuse: “Maak Jesus Koning”. Nêrens in die Bybel kom hierdie opdrag voor nie. Geen mens kan Hom Koning maak nie. Nee, Hy ís die Koning, die soewereine Here, die allerhoogste Regeerder oor alles en almal.

‘n Dekade of twee gelede was daar veral in die VSA ‘n vurige debat in teologiese en kerklike kringe, bekend as die Lordship Salvation Controversy. Dit het gegaan oor die vraag of mens Jesus Christus kan aanneem en gered word, sonder om Hom as Koning te dien.

Die antwoord is so duidelik soos daglig.  Niemand durf homself ‘n Christen noem as sy lewe nie gekenmerk word deur toegewyde navolging van en gehoorsaamheid aan Jesus as Here nie. Sê die Hebreërskrywer nie dat niemand die Here sal sien sonder die najaging van ‘n heilige lewe nie (12:14)?

Dis nie dat gehoorsaamheid die grond van redding is nie  –  allermins. Maar redding gaan altyd gepaard met ‘n wedergebore hart. En so ‘n nuwe hart kan nie anders as om met hartstog die wil en eer van die Here na te jaag nie.

Ons kan die Here nie verdeel en Hom net as óf Profeet óf Priester óf Koning aanneem nie. Nee, Hy is én Profeet én Priester én Koning  –  en as jy Hom aanneem, neem jy Hom só aan. Dis alles of niks!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00